Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
En die eet, Agaat? Die sny en die botter en die appelkooskonfyt en die proe alleen by jou gedekte plek as jy klaar is met my hier voor in die regtervleuel?
Van brood word vir my vertel.
Honger word vir my verbeel.
Lig word my gegun.
Tyd.
Kleur.
Lewe vloei in my in soos deur ’n transfuus gehang tussen my en haar. Sy beheer die tempo van die deurvloei.
Die bougainvillea brand my oë. Agaat staan voor die deur en kyk uit, sy hang daar, sy haak haar daar vas vir krag.
Hy blom of hy betáál word, sê sy, lank gevat, maar nou’t hy koers gekry uiteindelik.
Ek kyk na haar rug met die kruis van die voorskootbande.
Draai om, wil ek sê, kyk na my, vergeet nou daarvan, dis verby nou. Jy doen alles wat jy kan. Daar is niks wat my ontbreek nie. Dis nie jou skuld nie. Jy is die beste verpleegster wat ’n mens kan wens. Ons sal langs ’n ander weg probeer. Hoe moet jy nou ook kan raai wat ek wil hê? Die dag sal kom dat jy self daaraan sal dink, uit jou eie. Dan sal jy hier inkom met die kaarte onder jou arm en met triomf op jou gesig.
En ek weet hoe daardie bakkies van jou dan sal lyk, jou kennebak sal dáár staan, jy sal jou glimlag inhou maar die moesie op jou wang sal ’n uitroepteken wees. So kom nou maar weg van die deur, dis nie so erg alles nie.
Soms as ek hard genoeg na haar rug kyk, voel sy dit, dan draai sy om. Braaf, so oop as moontlik om op te vang wat na haar toe kom.
Vandag kan ek sien aan die skouer wat effens hoog staan sy is nog nie gereed nie. Maar hy is al laer as wat hy gister was, as wat hy vanoggend was. En sy praat oor brood.
Ek moenie kyk nie, ek moet haar los.
Agaat se pratende skouer.
Ek wag, ek kyk in die spieël. Groen van stukkies boom, die verskillende groene van die siersipresse en die waterbessie en die johannesbroodboom, rooi vlekkies daartussen van die weeping bottlebrush wat weer uitgeloop het ná sy dit laat snoei het aan die einde van die winter. ’n Blink skerf van die skuur se dak, ’n sweem van heuwels verder aan, alles geraam in die donkerpers van die bougainvillea wat rank oor die stoep se prieel. En in die een hoek, mens sou dit maklik kon mis, Agaat se profiel. Sy weet nie ek kan haar voorkant sien nie, van die kant af net, maar genoeg om dit te lees. Daar is ’n frons op haar gesig, of sy die bougainvillea nie kan verstaan nie, of sy die brood probeer peil.
Of hy verjáár, blom hy, sê Agaat weer.
Sy lig haar hande op, druk-druk aan haar kep.
Bo by die pan uit …
Ek maak plek, ek gee haar ’n kans. Ek kyk na die beeld in die spieël, kyk saam met Agaat wat nie weet ek kyk saam met haar nie. Sy sal die hele tuin sien, omraam deur die pers. Vir my is dit opgekerf en in stukke bymekaargegooi in die drie panele, stukkies van die blombeddings. Die middelste paneel is helderder as die ander twee. Die een wat gebreek het lank gelede. Elf maande lank reeds staan die spieël op dieselfde plek met sy panele op dieselfde stand. Ek ken die inhoud van die weerkaatsing, ek probeer my die stukke wat weggelaat is voorstel, die lanings agapante wat nou vol in die blom moet wees, die randakkers vilette en leeubekkies en grasangeliere en pers en wit petunias soos Agaat gesaai en laat plant het in die laatlente, in die vroegsomer, dat ek dit mag beleef nog, en die mense wat sal kom vir my begrafnis.
Sy het die pakkies somerbolle en saad voor my kom hou in September.
Kies, het sy gesê, ek het tien pakkies van alles gekoop en vyfhonderd bolle bestel van Starke Ayres.
Álles, saai álles, het ek beduie, plant alles, dis my laaste tuin.
Tóé was ek reg, kon ek sien, sy wóú alles saai, haar oë het geblink. Sy het hulle vinnig geknip en omgedraai en drie dae lank saadjies gesaai en bolle geplant en geloop en sing en fluit om die huis dat ek kan hoor waar sy besig is, en met etenstye vir my kom sê drie beddings vol wit swaardlelies agter en pers dahlias in die middel en heel voor pers en wit heuningblommetjies. En tussenin vinkel vir die lekkerruik en vir die fyn veertjies loof en vir die geel blomkoppe wat die strakheid van dahlias en swaardlelies sal teëwerk en die wit en pers sal breek.
Tabaksblom, kaliforniese papawers, en boerepapawers, en kantblom vir fynigheid, en in die droër beddings sonneblomme en jakobregop en afrikaners hoog en laag. Sou sy nie ’n plan geteken het nie? Sou sy dit hierdie keer uit die losse hand gedoen het? Ietwat meer argeloos, oordadig, deurmekaarder as gewoonlik? Vir die musiek? Vir die uitgeleide?
Dit moet ’n spogtuin wees wat blom daar buite.
’n Lushof.
Sy laat natmaak elke dag. Van vroeg af elke oggend kan ek die sproeiers hoor tsjiep-tsjiep-tirrrr oor die grasperke. Tot die son begin warm skyn negeuur en dan weer saans as die plante tot bedaring gekom het na die branding van die dag.
Agaat weet hoe om met ’n tuin te werk.
Vanaand as dit windstil is, as ek gelukkig is, as haar bui aanhou vermurwe, sal sy die stoepdeure oopmaak. Vir my om te ruik wat alles blom. Miskien sal ek deur háár bewegings te volg, op háár bedoelings te konsentreer, my sin kan kry. Miskien sal ek skelmpies haar wil kan kaap en dit in my warmhou, sonder dat sy eers agterkom ek besit dit, dit insmelt in myne sodat ons één wil kan hê vir hierdie laaste dae.
Rúik die wêreld! Vát die spoor, ál met die beddings af en verder met die grensdrade langs! Wys my die buitelyne! Kry die kaarte uit die sideboard!
Sy vang my blik in die spieël, betrap my op berekening, op ’n wensdroom. Ek sien die verontwaardiging in haar gesig spring, haar oë vernou. Ek moes my oë toegehou het. As sy omdraai is haar blik neutraal, maar die oorlog duur voort, ek hoor dit aan haar hakke.
Ek het dit nie so bedoel nie! Asseblief!
Sy stel die bed dat ek regop sit, sy sit die nekstut aan. Haar hande is koud en vinnig. Sy sit die skinkbord hard neer op die brug.
Ek knip my oë om te sê: Jy’s te liggeraak! Mens kan niks doen nie of jy vererg jou. Ek wil nie eet nie. Ek is nie gereed vir jou geurige weldade nie.
Sy ignoreer my. Ek knip my oë.
Ek sê weer: Ek wil nie! Ek is nie reg nie!
Sy maak of sy dit nie sien nie. Sy sit die borslap op my bors, sy trek en pluk daaraan. Sy buig haar kop.
Seën Here wat ons eet, bid sy.
Sy skep die eerste teelepel halfvol pampoen.
Nou sal sy my asemhaling dophou, die lepeltjie in my mond bring, agtertoe kantel waar my slukrefleks dit kan beetkry. Ek kyk haar net, ek kyk die lepel, ek kyk die spieël.
Wat kyk jy tog so, Ounooi?
Ounooi. Om brood en blomme se ontwil!
Sy kyk waar ek kyk in die spieël wat lyk of sy rande gaan uitbars van bougainvillea, wat lyk of hy opgehang is in ’n landskap vol bome. Daar is ’n flits. Voëls, klein voëltjies, meelogies wat wegvlieg uit die vyeboom wat ek nie kan sien nie, wat net om die hoek staan. Wat ek, Here, nie kan sien nie. Die voorvye in die top ryp klokke. Die eerste liggroen vye op ’n bord gerangskik met ’n takkie pers bougainvillea, so het ek dit voorgesit, vir die seisoen, om dit te merk, om dit te vier, midsomer op Grootmoedersdrift. My vye.
Hmm, sê Agaat, ons moet ’n bietjie kyk of daar al vye is, die boom hier om die draai se takke hang op die grond vanjaar.
Sy het snuf in die neus, sy krink haar nek, sy bly kyk saam met my in die spieël. Vasbeslote om my arm te draai om te eet. Die windpomp moet draai, die vuurtoring moet swaai. Die pampoen moet in.
En