Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

is darem nou nie heeltemal ongebruiklik nie, kleinnooi, ek kan die jong manne die slag wys, ek kan nog hand bysit met die safte joppies, laat weet maar as die kleinnooi my nodig kry. En sê groete as die kleinnooi met die ounooi praat, as die ounooi hier kom, sê sy moet laat roep daar by die drif, ek sal kom groet, ek wil sien hoe maak die ounooi dit.

      Dit was nog ’n duidelike boodskap.

      Jy het beter geweet as om Jak te konfronteer, hy, die fikse gespierde baas van Grootmoedersdrift plat gestoei op ’n stalvloer en vasgehou deur ’n bruin man twintig jaar ouer as hy.

      Jy het gesorg dat sy ryklere gewas en gestryk kom en sy kamaste gepoets en sy rypet uitgeduik en afgestof en die pluis van die groen fluweel opgeborsel. Jy het dit alles mooi vir hom reggesit op ’n stapeltjie op die divan in sy stoepkantoor met die leerpeits wat Dawid saamgebring het, blink opgevryf en skuins teen die ronding van die pet aangeleun.

      Oplaas was dit die honde. Woedend was jy telkens as jy hom daarop betrap het.

      Maar hy het altyd sy hand omgedraai in ’n liefkosing, sy voet gerig op ’n bal of ’n stok. Hy het gesê jy is mal, hy speel net met die honde.

      Ma het nie gelyk of sy verbaas is toe sy dit die dag agterkom nie. Dit was die eerste naweek van Julie. Sy het oorgekom om te help met die laaste voorbereidings, darem gesê die nuwe kamers was ’n goeie idee. Na jou het sy gekyk met ’n mengsel van misprysing en gefassineerdheid en jammerte. Jy was swaar en stadig, jou knieë en enkels dik en rooi.

      Jak was plofbaar. Jy was bang op die Saterdagmiddag dat hy iets sou ontketen as hy by die huis kom, opgewerk na sy sportbyeenkoms. Dis waarom jy jou ma laat kom het.

      Jy was in die babakamer besig om ’n gaasgordyntjie op te sit. Jy het die venster oopgemaak om die verfreuk uit te kry. Ma was in die kombuis besig om koffie te maak na haar middagslapie. Die kombuisdeur was oop. Van waar jy was kon jy oor die agterplaas die geklingel van koppies hoor. Die bakkie het ingery en die honde het geblaf. Jak was terug van die rugbywedstryd, terug van die kroeg waar hy na die tyd gaan kuier het, jy kon dit hoor aan die manier waarop hy die werf binnegery het, die klap van die bakkie se deur. Hy sou agter inkom. ’n Beweging het jou aandag getrek. Die buitekamer se deur was nog oop van Ma wat vroeër die middag die plek geïnspekteer het. Het jy jou verbeel iets roer daar agter die gordyne? Die koppies het opgehou rinkel.

      Toe kom Jak om die hoek en swets en kyk onder sy sole. In ’n hondedrol getrap, en dadelik kwaad. Sy nuwe kalfsleerstewels. Salomo die rifrug en Sofietjie die halfom Skotse terriër was op hulle sye aan die kruip na hom toe. Hulle het al van beter geweet as om op te spring en te lek. Hand in die sy het hy hulle staan en betrag. Onder Sofietjie het die sement donker geword soos sy gepie het. Salomo se ore was agtertoe en sy lip was opgetrek. Sy hele lyf het gebewe.

      Jak het gegrinnik, die honde nadergepaai. Agter die sifdeur kon jy die wit vlek van jou ma se gesig uitmaak. Jy het teruggestaan agter die kantgordyn.

      Jy sou hom kon keer, jy sou die venster kon oopmaak, jy sou kon sê: Jak, die koffie is klaar in die kombuis, hoe was die rugby? Maar jy het niks gesê nie. Jy het geweet jou ma sou ook nie haar teenwoordigheid verklap nie. Sien, is wat julle wou doen, kyk, en mekaar se getuies wees. Weer ’n roering in die buitekamer. Hoeveel pare oë was daar die middag?

      Jak was met sy rug na jou toe, vlak voor die kombuisdeur. Jy kon alles hoor.

      Dink jy kan vir my knor, dink julle kan my uitblaf uit my eie agterplaas uit, dink julle kan die wêreld vol kak hier!

      Toe drie skoppe. Een na Sofietjie voordat sy kon wegkom, en twee in Salomo se lyf in waar hy op die grond gelê het.

      So siejy! het hy deur sy tande met Salomo gepraat, hangbal! Moet ’n onderbroek dra, jy, het hy gesnou. Meelpeester! Nikswerd, jy sal dat hulle ons rot en kaal besteel hier!

      Die hond het opgesukkel, omkyk-omkyk weggehink. Jak het sy skoensole afgeskraap met ’n stokkie, sy hande by die agterplaas se kraan gewas en hulle aan sy broek drooggemaak, op sy horlosie gekyk.

      Toe het jy die venster van die babakamer oopgestoot.

      Jak, het jy gesê, die koffie staan klaar in die kombuis, Ma het gemaak.

      Hy het jou aangekyk, toe ’n blik na die sifdeur gewerp. Hy het vinnig weggeloop, na die skure se kant.

      Jy het op die stoel in die kinderkamer gaan sit en gewag. Jy het die speelgoedlampkap wat jy nog moes opsit, oopgevou. ’n Geel gesig met ’n wye laggende mond. Oop en toe het jy dit gevou, die son ’n waaier in jou hand.

      Jou ma het ingekom met ’n skinkbord en drie koppies. Sy het die skinkbord op die wastafeltjie neergesit, die oop venster toegemaak, die gordyne toegetrek en jou aangekyk tot jy gaan sit het.

      Sy het niks gesê nie, gewag dat jy praat.

      Jak is gefrustreerd, het jy gesê.

      Jy het jou stem lig gehou. Dit het gevoel of dit jy was wat die honde geskop het. Jy het opgestaan en begin vroetel aan die babagoedjies op die wastafel.

      Hy is nie eintlik ’n boer nie, Ma weet dit tog self, het jy gesê.

      Sy het geswyg. Sy het gewag. Jy het ’n blik na haar gesteel. Sy het elke woord wat jy sou sê, reeds geweet.

      Hy voel waardeloos, dan haal hy dit op die honde uit.

      Sy het ’n geluid gemaak.

      Hy voel ek sit op sy kop. En nou is ek swanger, uiteindelik na al die jare, die middelpunt van die aandag. Hy voel seker afgeskeep.

      Jou stem het opgedroog. Jy het begin kwaad word. Ou vleer wat op my aas, het jy gedink, eers is hy nie goed om op jou grond te boer nie, dan skyn die son uit hom uit twaalf jaar lank terwyl hy my sleg behandel, en jy maak of dit niks is nie, en noudat ek swanger is, is hy skielik ’n skurk as hy ’n paar honde skop. Hou jou neus uit my sake, het jy gedink. Jou wange het gebrand.

      Jy het opgestaan, die gordyne weer oopgetrek. Die buitekamer se deur was nou wyd oop. Êrens in die huis het jy ’n deur hoor oopgaan en toeslaan. Iets het op die vloer in die agterkamer geval. Jy het vuil gevoel. Jou huis het vuil gevoel.

      Jou ma se stem was soos ’n dipstok in jou nek, ondertoe moes jy, af in die wit melkerige gif.

      Milla, kyk vir my, het sy gesê, sit daar op die stoel dat ek kan praat met jou. Ek is oud, ek weet meer, en ek verstaan meer as wat jy dink. My lewe is amper verby, ek kan maar praat nou, ek moet praat sodat jy nie eendag kan sê jou ma het tot haar dood toe ’n front voorgehou nie.

      Ma, los dit net! Jy het met jou hande om jou kop gewaai.

      Jy sal luister, Kamilla. En die mure sal luister.

      Die gangplanke het gekraak. Jy het beduie met jou vinger voor jou lippe.

      Maar sy het net harder gepraat.

      Te veel begrip vir die boosdoener en te min verontwaardiging oor die boosheid, het sy gesê, dit is hoe die vroue ’n deug maak van hulle eie lyding en hoe die mans wegkom met moord. Jy hoef nie meer vir my te kom mooi storietjies vertel nie. Hy ook nie. En moenie jouself hier uit die skuld probeer hou nie. Jak de Wet skop sy honde oor twee redes: Omdat hulle hom nie in volsinne kan vlei nie en omdat hulle vir niemand kan vertel wat ’n verraderlike misbaksel hy is nie.

      Jy het geprotesteer, sy het haar hande opgehou in die lug om jou te keer.

      Laat ek klaar praat, het sy gesê.

      Wil jy aanhou sy hond wees? Jy is nou die moeder van sy kind. Jy weet jy kan hom van jou afhou met dieselfde kunsies waarmee jy hom gevang het. Moenie dink ek het nie opgelet hoe jy hom bewerk nie. Maar jy kan meer doen. Jy is nou ’n volwaardige vrou. Mense sal na jou luister nou. Jy kan mense vertel wat aangaan, jou vriendinne, jou ma. Ons vrouens mag die swakkere vat wees, maar ons is eintlik die baas, dit weet jy net so goed soos ek. Ons werk net op ander maniere. Ons hoef nie bang te wees nie. Ons het hulle beet waar dit die seerste maak.

      Sy het haar hand uitgesteek. Die elmboog was stram. Dit was net half gebuig, ’n kort entjie voor haar uitgehou. Jy wou wegkyk, maar jy kon nie. Die hand het iets denkbeeldigs omvou,