Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

aan & die kamer lyk bietjie kaler as wat ek gedink het die peertjie gooi ’n donker kol op die linoleum & die bed lyk te hoog (onthou môre nog ’n appelkissie kry om voor die bed te sit).

      Dis nou jou kamer A. sê ek net joune alleen vir jou gerief dis vir jou eie beswil jy is mooi groot mos al. En ek trek die gordyntjie weg tateratá-á-á! & ek wys die swart uniformrokke. Dis al wat jy dra ses dae van die week dan spaar jy jou huisklere sê ek & ek wys almal het lekker ekstra lang regtermoue soos sy daarvan hou & ek wys ek het spesiaal vir hr breë wit omslae aangewerk.

      Het verduidelik van die voorskote een vir elke dag van die week. Sorg dat hulle altyd skoon & styf gestysel & gestryk is. Hr gewys waar al die skoonmaakgd. & strykplank & die strykystertjies is & die boraks & die terpentyn vir die stysel & die blousel vir die witmaak. Het onderstreep ek wil nooit niks vlekke & kreukels op hr uniform sien as sy in die huis werk nie & gewys hoe sy die strykystertjies om die beurt moet warm maak op die elektriese plaat maar nie rooiwarm dat hulle die strykgoed skroei nie & hoe sy die voorskote onder ’n klam stryklap moet stryk. Die keppe was die moeilikste. Ek sê ek weet jy hou nie van goed op jou kop nie maar dit moet jy nou maar op jou maag skryf. Mooi gevra sy moet elke dag ’n skoon ene opsit & dit mooi regop vassteek. Verstaan jy? vra ek want sy staan net daar & kyk voor haar. Ek dag ek wys haar hoe sy die kep moet opsit & ek sê ek wil niks van jou hare sien nie.

      Daar’s niks om voor skaam of bang te wees nie. Dis hoe dit hoort. Jy sal my spesiale hulp wees hier op Gdrift sê ek. My regterhand in jou geval my linkerhand & ek steek die kep vas sy hou hr nek stokstyf. Die gesiggie lyk skoon klein so onder die wit strook. Ek wou hr in die spieël laat kyk maar die spieël is te hoog & ek was bang hy kraak verder as ek hom daar afhaal toe sê ek kyk in my oë hoe lyk jy vir jouself? – soos ’n deftige Hollandse huis maar sy kyk dwarsdeur my & sy soek nie hr weerkaatsing nie.

      Maak toe jou oë sê ek want ek voel toe skoon arig maar sy bly my so aankyk toe druk ek maar 5 pond in hr hand. Dis meer as wat die ander meide saam in ’n hele maand verdien sê ek & dit sal jou dagloon wees & as dit goed gaan sal ek dit opskuif elke ses maande bewaar elke splinter vir die vuur in die winter sê ek. Het die spaarboek gewys. Sal hr leer hoe om self daarmee te werk sê ek maar niks maak haar opgewonde of bly nie. Hr eerste noot daarin gebêre. Sit dit weer weg op sy plek sê ek maar sy versit nie. Is jou tong af? vra ek & ek sit die ketel op die stoof ek wys die beskuit & alles.

      Moenie ondankbaar wees nie sê ek & as jy iets het om te sê sê dit nou mens maak nie ’n moordkuil van jou hart nie maar die mond is op ’n streep. Drink nou lekker tee voor jy gaan slaap sê ek & laat my maar weet as jy nog iets nodig het. Sê jy dan nie dankie nie? Watse maniere is dit? Was nie lus vir verder sukkel nie toe gee ek maar die orders. 6-uur soggens moet sy op hr pos in die kombuis wees & ’n lekker koppie koffie vir my uit die blou koffiekan met die mooigooituit en vir die baas in sy kamer op die stoep & melk & suiker & beskuit op die skinkbord en ek wil nie ’n lang gesig sien nie.

      Uit die bloute skielik vra sy: Waar is my goed wat het van my goed geword? Ek wys vir hr die koffer onder haar wastafel. Dink jy ek wil jou goed steel? vra ek. Maar toe’s ek erg naar kon nie betyds in die huis kom nie het vreeslik opgegooi in die drein daar langs die kombuis my maag in oproer ek vat ’n emmer in die kombuis & ek sê by haar deur gooi water in die drein & spoel die kots af want daar kom die honde ruik daaraan & toe ek loop sê ek sluit jou deur in die nag onthou jy’s ’n groot meisie nou daar loop skelms.

      Nou ja meer kan ek nie aan haar saligheid doen nie & my pen is amper leeg. Moet onthou om nuwe botteltjie Quink te koop.

      Halfeen

      Het tog nog gou net weer gaan loer deur die babakamer se venster in die jaart in & haar lig brand nog die deur is darem nou toe maar die emmer staan nog net waar ek hom neergesit het & daar hang ’n kotslug in die agterplaas. Dit moet nou maar wees soos dit wil wees. Te moeg om nog ’n keer te praat. Moet nou in die bed kom anders is môre te swaar. Die kind voel of hy ondertoe druk in my.

      6

      Agaat kom in met my middagkos. Sy praat met kaneel. Dit trek agter haar aan, ’n wimpel van welsprekendheid.

      Sy gun my my neus vandag.

      Ek moet my verbly in my voorregte.

      Ek moet vasbyt en agter my sit die tandepoets en die draadspan, die windpomp en die boorgat, ek moet onthou sy is ook maar net ’n mens en sy het haar beperkings.

      Asof dit my oortuig!

      Ek moet nou maar net berus daarby dat sy my alleen gelos het vir ure aaneen die laaste paar dae.

      Ek moet dit haar nie toereken dat sy net haar plig gedoen het nie, deeglik en op die regte tyd, maar sonder sagtheid, sonder woorde.

      Ek moet weet ek het gesoek daarvoor.

      Ek moenie moeilik wees nie.

      Ek moenie goed staan en beduie wat niemand op God se aarde kan raai wat dit is nie. Ek moet dit eenvoudig hou asseblief sy het haar hande vol soos dit is dankie.

      Ek moet haar nie beskuldig nie.

      Sy doen alles so goed as wat sy kan.

      Sy doen haar heel beste vir my.

      Dit is die argumentasie, die pleidooi van speserye soos sy dit vir my gesprinkel het en ingewerk het met ’n vurk: Die kaneel, die kardemom, saam met die botter, die suiker, tot perfekte pampoenmoes.

      Ek ruik so al wat ek kan om al die boodskappe te kry. As ek kon, sou ek hard gesnuif het om te sê: Ek verstaan, Agaat, jou bedoeling is vir my glashelder. Kapokaartappel met vleissous, soet pampoen met kaneel, rooi jellie met vla. Wat wil ’n mens meer hê? Dit is ’n hele storie op sy eie. Sondagkos op Grootmoedersdrift.

      Maar dis nie Sondag nie.

      Watter dag is dit? vra ek met my oë op die kalender, ek kan nie so ver meer sien nie.

      Agaat sit die skinkbord op die trollie neer. Sy tel die klokkie van die vloer af op waar dit al drie dae lank lê, dit lyk vreemd in haar klein handjie, die gebaar waarmee sy dit in haar voorskootsak steek, bevat iets selfbetigtigends.

      Maandag elf November, die jaar van ons Here negentien ses en negentig, sê sy, die koring staan wit op die lande.

      Wat sou sy wou hê ek moet sê as ek kon praat? Sou sy ooit so iets vir my gesê het toe ek nog kon praat? Sy sê soms sulke dinge met haar reguit blufgesig en gelykmatige stem asof dit die gewoonste ding is, asof sy met haarself praat. Die koring staan wit op die lande. Moet ek iets word wat ek nog nie is nie?

      Dawid het seergekry, sê sy, sy kyk nie vir my nie, sy steriliseer my teelepel in ’n glas kookwater.

      Hy het ’n sny aan die hand van ’n combinelem wat gebreek het en ek moes dit eers verbind, dis hoekom alles laat is vandag. Jy is seker honger al.

      Klienk, sit sy die teelepel in die piering, toets die hitte van die aartappel met die agterkant van haar linkerhand se pinkie. Te warm nog.

      Sy praat met haar rug na my toe terwyl sy die gordyne en die netvoerings verder ooptrek. Haar bewegings is minder kortaf, sy oefen haar stem in sagtheid in. Die pers gloed van die bougainvillea val die kamer binne.

      Hooi is sterk vanjaar, sê sy.

      Daar is oneffenheid in haar stem, sy maak keel skoon.

      Pitte is dikgeswel, ons wen meer as vyf sak Sterling op ’n morg. Ek het laat Dawid ’n proef maal en ’n broodjie gebak en hy’t, hy’t, bó by die pan … uitgerys.

      Haar stem raak weg na die einde toe.

      Het jy dit geruik? kry sy nog uit.

      Ek sien haar helder staan by die aanmaak van die spons in die prille môre, by die sprinkel van die tafel met wit meel, sprinkel-sprinkel met die klein vink van die regterhand wat weet om met die bymekaar vingerpunte bietjies-bietjies te gryp in die meelsakkie, ek sien haar meng en knie, knie en terugdruk met die sterk hand se palm, omvou met die klein handjie, knie en knie tot