Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

het?

      Dit was nie vir jou aanvanklik duidelik wat gebeur het nie. En jy kon niks uit Jak self kry nie. Koponderstebo, sy ryklere vol stof en perdemis en sy rypet ingeduik het hy in die middel van die middag by die huis aangekom om te kom bad en toe is hy sonder ’n woord weg met die bakkie.

      Makkelwyn was ’n stewige, netjiese man van in die vyftig wat Jak spesiaal gehuur het om sy stalperde te versorg. Hy was ’n hoefsmid en ’n inbreker van wilde perde en hy het soggens vroeg ewe spoggerig op ’n skimmel-gangloper van The Glen af gekom waar hy stalmeester was. Sy mense, die McCalvins, was van altyd af al perdebeslaners in die streek.

      Jy het vir Dawid laat roep toe Jak weg is. Toe bring hy sy pa saam.

      Jy sien hulle nog staan, die ouman in die sewentig, en sy seun, al twee met die Okkenels se skewe monde en liggroen oë, en met hulle olierige kakiehoedens in hulle hande in die kombuis. In Dawid se ander hand die blink rypeits, onvanpas het dit gelyk teen die vuil broek, die afgetrapte skoene.

      Wat het in die perdestal gebeur, Dawid? Uit daarmee!

      Jy was geïrriteerd. Waarom het die ouman saamgekom? As OuKarel in die kombuis verskyn het, dit het jy van kleins af geweet, dan is daar moeilikheid. Jy was moeg. Jy was nie lus vir moeilikheid nie.

      Dawid het vir sy pa gekyk.

      Praat, het die ouman vir hom gesê, ek is hier as jou getuie.

      Dawid het jou reguit in die oë gekyk. Jy het nie gehou daarvan nie.

      Mister Makkelwyn het die baas gekapittel, het Dawid gesê. Hy het teen sy broekspyp gevryf met die peits.

      Oor wat?

      Oor die baas sy perde deur die pis ry en dan moet mister Makkelwyn dae lank sukkel met bevange perde.

      En toe?

      Toe stamp die baas hom voor die bors en sê hy moet sy donnerse bek hou.

      En toe?

      Toe sê mister Makkelwyn hy sal nie sy bek hou nie en hy sal nie vir hom laat vloek en rondstamp deur ’n bogsnuiter wat nie respek het vir ’n edeldier nie.

      Dawid het sy gewig versit.

      Gaan aan, het OuKarel gesê.

      Toe raps die baas vir mister Makkelwyn met sy peits deur die gesig en toe gryp mister Makkelwyn die peits se punt en toe ruk die baas vir mister Makkelwyn teen die grond en wil hom skop en toe gryp mister Makkelwyn die baas aan die been en toe val hy en toe’s hulle nou al twee plat aan die rol daar in die strooi en die perdemis en die baas kan nie vir mister Makkelwyn kleinkry nie, want mister Makkelwyn hou vir hom kort dat hy niks kan maak nie.

      En toe?

      Toe skel die baas op my en sê vir wat staan ek net daar kan ek nie sien die verdomde geutbaster het hom aan die strot beet nie ek moet help ek moet die hooivurk vat.

      Die Aga se deurtjie het geklap en die vuur het uit die plaatgate gespring want die aandkos was aan die opsit om warm te word.

      Dawid het weggekyk.

      Nooi, het hy gesê, ek is jammer …

      Waaroor Dawid?

      Weer het Dawid na sy pa gekyk.

      Die ouman was saaklik, maar jy kon sien hy het iets anders op die brein, daar was ’n trek op sy gesig asof hy homself oefen om pateties te lyk.

      My heup is seer, my klong, praat jou praat en kry klaar, het Karel gesê, die mense wil hulle aandkosse maak hier.

      Jy het gesien hoe kyk OuKarel vir die potte soos die deksels afkom en daar geroer word met die potlepels. Vleis met kluitjies en soetpatats en vinkelbolle met witsous was dit. Die beetslaai was aan die rasper saam met uie. Daar was ’n spek-en-spinasiesop. Baie kos vir drie mense. Die ou se oë het begin traan daarvan.

      En toe, Dawid?

      Toe sê ek, baas, soos ek die saak sien is die hooivurk bedoel vir hooi skep en ek word nie betaal om die baas se vuilwerk vir hom te doen nie, ek is die voorman, en al wat ek toe doen is die staldeur toemaak dat niemand verder kan sien wat daar aangaan nie want toe rol hulle heen en weer daar en mister Makkelwyn pen die baas se arms vas dat hy nie kan slaan nie.

      Twee vars brode was aan die uitkeer uit die panne, ’n pond botter is uitgehaal. Die geluide in die kombuis was hard in jou ore.

      En toe?

      Toe staan ek daar want toe wil ek sien dat mister Makkelwyn oukei daar uitkom. Maar ek hoef nie te gekommer het nie want die baas is toe lankal flou gespook en toe staan mister Makkelwyn op en stof sy gat af en hy steek sy hand uit om die baas op te help en toe klap die baas die hand weg en toe sê mister Makkelwyn dan moet die baas nou maar verder self sien en kom klaar met sy royal rossies en die baas moet sy geld wat hy hom nog skuld asseblief na sy broer se huis op Suurbraak vat vanaand nog hy sal hom die verleentheid spaar om op The Glen aan te kom om die stalmeester om verskoning te kom vra, dit sal suffel en suffel wees en as die baas versuim sal hy vir hom gaan aangee vir aanranding al is dit net vir die saak se nommer in die boek en al is dit net vir die waarsku van die sersant oor wat hier aangaan op Grootmoedersdrift.

      Daar was ’n stilte waarin net die swiep van die peits teen die broek hoorbaar was. Jy het gedink wat jy volgende moes sê.

      OuKarel het die gaping gevat.

      Grootmoedersdrift, ai ai ai … ek kom nou al van altyd af al saam …

      Hy het sy kop geskud.

      Hier, het jy geweet, het die eintlike storie gekom.

      Ek is moeg gewerk, kleinnooi, ek soek ’n pensioentjie, kleinnooi, ek moet medisyne koop vir my rumatiek en ek wil nou rus by die huis en darem af en toe ’n stukkie vleis eet en ’n blik perskes koop.

      Jy was verstom. Asof dit niks was nie, nie een woord kommentaar op die gebeure in die stalle nie, ’n klip in die stroom, om op oor te trap.

      Ek sal kyk wat ek kan doen, Karel, het jy gesê.

      Jy het van beter geweet as om te vra: Maar wat het dit met die prys van eiers te doen en hoekom nou?

      Dit was ’n oerou onderhandeling en dit was ewe effektief as wat dit subtiel was.

      Dawid het nie op hom laat wag nie.

      Ons is honger, nooi, ons kinders loop agter die baas aan en tel die tarentale op wat hy vrekskiet maar dan jaag hy hulle weg, ons kan nie van melk en askoek alleen lewe nie, nooi …

      Daar was ’n pouse. Hy het die peits op die kombuistafel neergesit.

      Van melk en askoek en … pámpóén nie, nooi, kan die nooi dan nie onse rantsoene aanvul met bietjie varkvleis en vet en bone nie?

      Ek sal kyk wat ek kan doen, Dawid, het jy gesê.

      Pámpóén. Die woord is vir jou opgesteek soos ’n rooi vlaggie, ’n rooi speldekop waarmee ’n mens ’n kritieke punt merk op ’n kaart.

      Jy het laat inskep twee groot enemmelbakke kos, en ’n emmertjie sop en al twee die brode en die pond botter laat inpak en ’n bottel ingemaakte perskes uit die spens laat haal.

      Jak, het jy geweet, sou tog nie terugkom vir aandete nie en jy was nie eintlik honger nie.

      Ai, nooi, ek het nou nie bedoel … het OuKarel gesê, en jy het sy verontskuldiging geglo, maar Dawid se gesig, dit was ’n speeltoneel toe hy die mandjies met die kos by jou aanvat, oormoedig geword van sy eie woorde oor wat daar in die perdestal gebeur het, gestut deur sy pa se versoek. Al het die versoek uit ’n vroeër tyd se lojaliteite gekom en al was dit geënt op ou verstandhoudings.

      Ái, maar dit sal nou vir jou vórentoe smaak, het hy gesê, en, baie dankie, nooi, ek is bly ons verstaan mekaar hier.

      Kom Dawid, het OuKarel gesê en sy hoed opgesit. Jy kon aan die ou man se rug sien hy dink die seun gaan te ver.

      Wat jy moes verstaan, wat as verstaande geïmpliseer is, was meer as wat jy in ’n dag se tyd sou kon opskryf.

      In