Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
’n Storie, het sy gesê, is ’n maklike ding om te versprei.
Jy kon nie wegkyk van die hand nie. Jy het gedink, los my uit, ek is klaar geïnfekteer, jy kan my nie sieker maak as wat ek klaar is nie. Jy het nie geweet waarom jy dit gedink het nie. Die hele tyd daar in die klein kamertjie het jy tegelyk ondermyn en ondersteun gevoel. Gevoer en terselfdertyd aan gevreet. Jy het jou skouers gerol en jou oë geknip om van die gevoel ontslae te raak, jy het haar probeer sien soos sy was, probeer hoor wat sy sê, want sy het vir die eerste keer in ’n baie lang tyd werklik met jou probeer praat.
As die storie nie al kláár versprei het nie, het sy aangehou. Daar is mos niks soos ’n goeie huismeid om die waarheid die wêreld in te stuur nie. Jy hoef net die woord te spreek. Dis vroumense. Hulle weet van. Hulle leef vir hulle miesiese, wat het hulle anders om voor te leef? Hulle mans miskien? Jy hoef so ene net ’n bietjie aan te moedig en daar trek dit, ’n veldbrand. Kombuis, koöperasie, konsistorie. Jy het mos ’n hele paar hier op wie se nommer jy kan druk. Die jongetjie lyk my ekstra geskik vir die doel. ’n Gerug in hierdie streke, sê ek vandag vir jou, is die beste manier om die man van jou op sy plek te hou. As die mense weet, sal hulle hom snaaks aankyk, verbyhou, hom uitstoot uit plekke waar dit saak maak om gesien te wees, om by te hoort. Dan sal hy kom huil by jou. Hy sal kom vra jy moet hom help. Dan kan jy jou voorwaardes stel. Hy sal alles en enigiets doen om weer in die guns te kom. Hy sal ophou, ek ken die soort, dan sal hy ophou.
Ma, stop, het jy gesê, dis nie jou besigheid nie.
Ek ken die soort man, Milla, jy kan maar luister vir my. Ek is jou ma, en ek ken jou ook. Hulle vind sterk slim vrouens aantreklik, mans soos Jak, hulle kan nie sonder goedkeuring bestaan nie. Hulle leef van bevestiging en bewondering soos van lug. Hulle is soos kinders. So bang soos wat kinders is vir die donker, so bang is hulle dat mense nie van hulle gaan hou nie.
Haar mondhoeke het na onder gebuig, sy het haar lippe vorentoe gestoot asof sy iets aan die sluk was.
So, besluit jy wat hy van nou af aan vir jou werd is en gebruik hom dienooreenkomstig.
Jy wou skree, ek weet dit! Lankal! Maar dit wou jy haar nie toegee nie. Dit was ’n strik. Sy was jou aan die uitlok, sy was jaloers, sy wou oorlede Pa sleg maak by jou, jou pa wat jou liefgehad het net soos jy was, onvoorwaardelik, sy wou uitvind hoe ver dinge gegaan het met jou en Jak. Sy sou jou reaksie, wat dit ook al was, teen jou gebruik. Sy het opsetlik hard gepraat. Sy het jou veelbetekenend aangekyk, met elke woord haar oë gerol na die agterplaas en die deur en die gang. Daar was sagte voetstappe in die gang.
Watse ouvroustories sit julle hier en praat?
Jak het in die deur verskyn, teen die kosyn aangeleun, hand in die broeksak om homself ’n houding te gee. Hy was op sy sokkies.
Jy het hom jammer gekry. Hy het klein gelyk. Sy gesig was deurmekaar. Jou ma het opgestaan en langs hom verbygeskuur. In die gang het sy teruggedraai en van agter sy rug na jou gekyk.
Die dierebeskermingsvereniging, Milla, het hulle ’n nommer in die boek?
Die gids is daar in die gang, Ma, kyk self, het jy gesê.
Jak het jou aangekyk, hulpeloos.
Jy het opgestaan en na hom toe gegaan en jou hand deur sy hare gevryf.
Toemaar, het jy gesê, sy is oud. Haar blaf is erger as haar byt.
Jy het gefluister sodat sy nie moes hoor nie. Maar jy kon nie sag genoeg praat nie. Sy het met harde voetstappe weggestap van die tafeltjie in die gang waar die telefoon was sonder om die nommer in die boek na te slaan. Sy het ’n verskoning gehad om nie te bel nie. Jy het dit verskaf.
*
ter helle neergedaal my regterhand ’n sterreval dit reën die gemekker op die velde naglank lê ek wakker spasmas klop my teen die ringe duim en indeks teen mekaar gedruk maak die ogie van ’n haas daar spring verkeerde skaduwee my duim verknak pen papier glip uit my hand ’n ritseling in struikgewas ’n akkedis ’n muis ’n keiservlinder in die blaredak hoe hou ’n mens ’n eier vas die stingel van ’n roos ’n deurknop ’n vensterknip alles laat ek oop is jy in ’n kerk gebore? gemaak en gelaat staan? knoop en knoopsgat bly apart wat hang jy daar jou glorie uit? dit is die vraag agaat
*
12/13 Julie 1960 na middernag
Het nou hier in die sitkamer kom sit sjaal oor my nagrok. Wakker geword v.d. klimop ’n snaakse skaduhandjie teen die venster & kon nie weer aan die slaap raak nie.
Helder volmaan buite. Koud nogal. Lus vir iets maar ek weet nie wat nie. Tee & gemmerkoekies? ’n Glas warm wyn sou help maar dis buite die kwessie nou dis ál of ek wag vir iets ál of ek iets mis. Dis die kind waarskynlik ek voel hom skop gewoonlik roer hy vroegaand & dan word hy rustig in die nag.
Volk se honde sou geblaf het eende sou geraas het by die dam as iets fout was maar dis stil. Krieke. Paddas. Miskien moet ek ’n draai op die werf gaan stap vir vars lug. Halwe naar gevoel wil nie weggaan nie.
1-uur
Werf stil maar iets is nie reg nie. Wil nie vir J. wakker maak nie hy sal sê dis my verbeelding hy sal sê ek loop weer in my slaap maar ek is wakker & ek was wakker nou net al voel ek heeltyd of ek ’n entjie bokant die grond loop op iemand anders se plaas in ’n droom in iemand anders se kop. Maar dit is my plaas. Dit is Grootmoedersdrift. Myself al geknyp glad.
Daar was niks buite wat ek nie geken het & nie verwag het nie die werf in die maanlig & alles versorg alles die toonbeeld van orde en rus. Wit gewels van die skure hekpale by die ingang v.d. rivierland swart & regop brandwagte die swart skaduwees van die afdakke waaronder ek weet die hout & bale & rolle draad & hangpaaltjies alles netjies gestapel is. Die sweetsoet ruik van gevlegte uie uit die uiestoor. ’n Sweem van die yesterday-today-and-tomorrow wat altyd buitenstyds blom? Kan mens so ’n reuk droom? Sal mens beter onraad kan ruik in maanlig?
Het doodseker gemaak aan al die slotte gaan voel die werf se hekke nagegaan & gekyk of die sluis v.d. leivoortjie toe is of die hanslammers teenaan mekaar lê in die slaapskuurtjie agter die groentetuin. Hulle is altyd ’n bietjie onrustig nadat een van hulle geslag is & die reling van die sleepwa vol pampoene deurgevoel gekyk of al die pype goed diep in die gate gesteek is sodat hulle nie sal lostrek as die vrag miskien skuif op die pas nie.
Nie ’n enkele ding uit plek uit nie. Het selfs die hek v.d. voeropslag oopgestoot & aan die bale lusern gevoel louerig soos dit hoort sou nie warmer word nie.
By die sydeur v.d. implementeskuur ingegaan & daar in die donker gestaan tot ek die buitelyne v.d. masjinerie kon sien in die donker kon ek die neus v.d. Massey Ferguson uitmaak die reliëf v.d. chroomletters. Onwerklike gevoel. Maar wie sal nou droom hulle vingerlees in die donker?
By die hoenderhok slaapgeluide van henne op hulle stellasie & die reuk van mis en vere. Langs die blindekant van die huis opgestap om te kyk of die sifhok waar die vars vleis te kuur hang op knip was teen die jakkalse. Oorkant die drif se klein jakkalsies. Dié staan mos deesdae op mekaar se skouers om ’n skaapboud te bekom of die honde se skenkels. Verbeel ek my of is hulle meer waagmoedig vanaf die dag dat ek die buitekamer begin regmaak het die vader weet hoe hulle dit so gou agtergekom het seker Saar wat geklik het miskien dink hulle hulle het nou ’n vooruitgeskowe stelling in A. miskien is A. lankal aan die konkel met hulle. Ai skaam jou Milla dis mos nou gans en al onwaarskynlik.
Twintig voor twee
Wou net weer in my bed inkruip toe weet ek skielik wat verkeerd is dis Agaat! Daardie buitekamerdeur was nog altyd oop toe ek daar verby is van die vleishok af. Op ’n skreef! Het aan die venster geklop. Sal sy regtig weg wees? Moet weer gaan kyk!
Twee-uur
A. is weg! Godasseblief sy’t nie in haar bed geslaap nie die koffer is weg twee Sondagrokkies vort baie klere weg het getel tot 8 haarnaalde & ’n kep here help! een paar skoene & een paar sokkies is ook weg & die pak DrWhite’s was oop een doekie is uitgehaal & bruin koffer met al hr eie goedjies