Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
Iemand moet die klein skaal voor my bring en dit ophou in die lug totdat die wyster ophou bewe.
’n Skepel Daeraad wil ek sien weeg, ’n skepel Kleintrou, ’n skepel Sterling.
En iemand moet voor my staan en ’n mond vol Vondeling neem en dit kou vir my en in my oë kyk en ek wil die pupil sien kleiner word as die pitte kraak, en saggies hoor sing terwyl die kake maal, hei hou, span die wa maar in. En as die kousel bind, wil ek sien hoe die oog begin te blink.
En iemand moet ’n fuik vol kuikens bring en weerskante my hande in hulle hande hou en kuikens in my hande sit en hulle voer met die wilde deeg waarin spoeg en semel gestippel sit. Ek wil weer in my palms die tjilp en klop voel van ’n kuikenlyf.
En iemand moet my trane afvee en iemand moet keer dat ek nie verstik nie.
Want die kaart moet ek nog sien.
Hulle moet hom ooprol in die stof en klippe op sy hoeke sit dat hy nie toerol nie. Vier rooiblou skalieskerwe.
Hulle moet die stut afhaal sodat my nek kan buig.
Hulle moet my kop in hulle hande neem sodat dit nie te swaar word nie, en dit oplig en laat sak soos die stok wys op die kaart en die hand wys oor my wêreld, sodat ek die plan van Grootmoedersdrift kan sien en sy eindeloosheid. Die blou kronkelings op papier van die Korenlandrivier aan die westekant, van die Duivenhoks en die Buffeljags aan die oostekant, die digte kontoere, vingerafdrukagtig, van die Langeberg in die noorde en die Potberg in die suide. Die vierkantige stippe van die plekke ringsom: Suurbraak, Heidelberg, Witsand, Infanta, Struisbaai, Port Beaufort, Skipskop, Malgas, Swellendam, Stormsvlei, Riviersonderend, Caledon, Bredasdorp en Barrydale vlak agter die Tradouw en Montagu en Robertson en Worcester.
En tussen die berge en dorpe en riviere, met die reguit rooi streep van die verbypad deur sy lyf, die bestek van my plaas. Die stippellyn van die grense, die wit punte van bakens, die groen van bosse en boorde en die tuine op sy werf, die silwer damme, die aantal suipings en opgegaarde waters op die droëland, die stalle en die skure en die krale. Die grasweidings langs die Kliprivier en die landerye, die kampe vir die lam en die oorsomering, die stukkies driesland, die slaaplandjies en die swart skaduwees van bloekom.
Tussen die grond en die kaart moet ek kyk, op en af, ver en naby tot ek genoeg gehad het, tot ek versadig is van wat ek hier beset het.
En dan moet hulle dit oprol in ’n pasmaat en my nekstut weer aansit soos die mond van ’n koker. En ek sal my oë sluit en my voorberei sodat hulle my kop kan afskroef en die kaart in my leemtes kan laat ingly.
Sodat ek gevul kan wees en gestut van binne en sterk gemaak vir die vaart.
Want sonder my wêreld in my sal ek toeslaan en dig word nog meer as wat ek nou is, sonder spraak en sonder dade en sonder vashou in die tyd.
Ek stapel drie asems. Met my bors maak ek ’n helling. Die klokkie wat Agaat onder my hand gesit het, rol met ’n tinkel uit onder my palm. Dit val eers teen die ysterreling en dan verder tot op die vloer.
*
Die boere van die omgewing het jou en Jak graag uitgenooi na hulle partytjies, die blink byderwetse, kinderlose paar van Grootmoedersdrift. En hulle het oor hulle voete geval om te kom as jy hulle teruggenooi het. Daar was oesfeeste, wolfeeste, waterfeeste op Grootmoedersdrift, ’n fees van die drielinge as dit lamtyd was, ’n fees vir die nuwe kuilvoertoring met geoutomatiseerde snytrommel en aanvoerband. En jou partytjies was altyd die spoggerigste in die streek.
Jak was wellewend en spraaksaam by hierdie geleenthede, soos altyd waarderend na jou toe voor die mense. Die feesfeetjie het hy jou genoem. Nie dat hy ooit ’n vinger gelig het om te help nie. Trouens, niemand het geweet hoeseer die sukses van daardie etes in die laat 50’s op Grootmoedersdrift te danke was aan iemand op wie jy te alle tye kon reken nie. Almal het aangeneem dat dit Jak was wat jou ondersteun het. Niemand sou kon raai dat die boerdery hom nie veel geïnteresseer het nie. En niemand het geweet dat dit in die agterkamer was dat jy gaan troos soek het as hy jou alleen gelos het nie.
Jy het gesien hoe val hulle vir hom, die swerms vroutjies en die varsgeskropte jong boere. Hy was die pièce de résistance by elke geleentheid. Jy het jouself in hulle herken, in die manier waarop hulle nie genoeg kon kry van hom nie. Jy kon sien hoe hulle dink: Hoe het sy dit reggekry? Hoe kan ’n vrou so gelukkig wees?
Hulle ooglede het geflikker by die aanskoue van Jak se nuwe karre en vragmotors en implemente en nuutjies, sy ingevoerde stoetbulle en ramme. Hulle het geloer vir sy fyn Italiaanse skoene en die snit van sy broek, en gebloos vir die argelose manier waarop hy sy hempsmoue een slag opgerol het oor sy bruin polse. Dit alles terwyl jy ligweg oor boeke en musiek gepraat het, net genoeg om die geselskap rondom die etenstafel te bind en almal tog vry te laat in hulle verbeeldingsvlugte rondom MooiJak de Wet.
Dit het jou goed gepas. Jy wou nie Jak se swakhede opwys nie. Jy wou self goed vertoon. Jou werk was om hom te kamoefleer. Want behalwe vir sy Toastmastersgrappe het hy nie veel diskoers gehad nie. Spog kon hy, en spitsvondige kommentaar lewer op wat hy in die koerante gelees het, die planne van die Party kon hy uitlê, en die meganiek van sy implemente, maar hy was te lig vir jou. Dikwels in daardie voorhuis vol gelag, het jy op jou lip gebyt. Jy wou hom sterker hê, selfstandiger, minder deursigtig, jy wou hê dat hy meer van homself, van sy eie substansie moes bevat.
Wat moes hy wees? ’n Ankerpaal? ’n Voorloper? ’n Bron van insig? Hoe kon jy verwag dat hy dit moes verstaan?
Jy het dit self nie verstaan nie. Jy kon net skimp en kriewel. Jy was in die skaduwees. Dit is wat hom kwaad gemaak het sonder dat hy geweet het wat hom pla, dit: Dat jy sy binnegoed verplaas het met jou eie planne.
Maar wanneer het jy dit so begin insien? Nie met soveel duidelikheid in daardie eerste twaalf jare nie.
Jy wou ’n kind hê.
En daarvoor was hy goed genoeg.
Want dit was iets wat jy nie gehad het nie. Dit was in hom. Sy saad.
1 Januarie 1960. Die dag dat jy gehoor het jy is swanger was julle genooi na ’n Nuwejaarspartytjie op die buurplaas Frambooskop vir die verwelkoming van een van die Scottbroers wat teruggekom het uit Rhodesië om sy pa se plaas oor te vat.
Jy wou dit nie dadelik vir Jak vertel nie. Jy was ene fladdering. Jy het jou mooiste rok aangetrek, ’n swarte met ’n lae hals en oop skouers, met moue wat oopgeval het as jy jou arms oplig. Jy het dit laas die aand van jou verlowing aangehad. Dit het jou nog uitstekend gepas. Jy het gebloos daarvan.
Jy het oë op jou gevoel, oë wat jou ondervra het, ’n gesig wat onseker was oor hierdie nuwe bui van jou. Maar jy het die geheim weerhou.
Wie het ’n hand gelê teen jou arm asof jou temperatuur haar sou verwarm? Wie het gevoel aan die soom van jou rok? Wie die buisies en die potjies en die stiffies wat jy uitgehaal het om jou mooi te maak oor en oor in haar hande rondgedraai? Was daar iemand wat iets kon raai en wou deel in jou opwinding?
Nee, jy was alleen. Jy wou alleen wees. Jy het ’n ander mens geword. Alles het van belang en van skaal verander.
Twaalf jaar het jy gewag, twaalf maal drie honderd vyf en sestig dae. So het jy oor en oor vir jouself die som gemaak terwyl jy aangetrek het. Hoekom sou dit nóú uiteindelik gebeur?
Die dokter het ’n uur vantevore gebel met die nuus.
Goeie nuus vir die nuwe jaar, het hy gesê, ek moes iets by die spreekkamer gaan haal en toe is die uitslag daar van die Kaap af. Wees nou net versigtig, mevroutjie, het hy gesê, jy is al ’n paar weke ver, onthou geen ontsteltenisse, nie te veel beweging in