Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

nie? Omdat daar net ’n gat is daar waar jy is, ’n swyende gat in die grond? Wel, ek is iéts, Ma, het jy gesis, ek is nie niks nie, ek is iémand en ek weet wat ek wil hê in die lewe en ek wéét wat om te doen om dit te kry. Ek sal voorsiening maak vir myself.

      Dit was die enigste keer dat jy haar ooit in jou lewe bang gesien het. Haar pupille het groot geword en haar mond het oopgegaan, maar sy het niks gesê nie. Jy het verby haar gedruk. Dit was sy wat alleen in die spens agtergebly het.

      Dit was die eerste en die enigste keer. Daarna was sy anders met jou tot aan haar dood.

      Ek trek my hande van jou af, het sy later daardie aand in jou kamerdeur vir jou kom sê. Net dit, en haar slaapkamerdeur toegemaak.

      Jy was alleen met die plan wat jou lewe sou verander.

      Die hele storie van hoe alles begin het, het niemand behalwe jy en Ma geweet nie. Jy het dit self nie eers goed verstaan nie. Jy wou dit jou hele lewe lank nog altyd opskryf, net vir jouself, om helderheid te probeer kry daaroor. Maar jy het nooit sover gekom nie. Dit was ’n oorgeslaande hoofstuk. Jy kon jouself nie daartoe bring nie.

      *

      drumpel randsteen trap oordink hulle hierdie barrikades draal talm halt kamoefleer die tred die struikelgang snags van venster na bed die voet wat haper aan die fraiings van matte die oneffenheid in die tuinpad hoe het dit begin? was dit al die kom en die gaan van my jare dwarsoor die klippie in die skoen dwarsoor die hakskeenvrat ongeag die toonnael wat ingroei en bloei was dit die warm sand? daardie hardloop met een sandaal? daardie agternaduik en vang aan die nek van die asvoethaas? was dit waar die kiem gekom het in my hiel die boei om my enkel die swart pondgewig wat swaai aan die brug van my voet? hangvoet sleepvoet slaapvoet buite loop ’n skaap

      *

      12 Julie 1960 8-uur (na aandete)

      Wat ’n dag! Half onrustig. Dis al of ek iets vergéét maar wat? Het nou net gaan loer of die buitekamer se lig al af is maar dit brand nog. J. sê dis die eerste keer dat hy hoor van ’n meidekamer met elektrisiteit is dit nou my interpretasie van die Lig wat ons aan die Suidpunt van Afrika moet laat skyn. Het my voet eenvoudig neergesit. Sy moet kan sien om te lees & te borduur hoe anders moet sy hrself daar agter besighou saans? J. kyk my aan of ek van lotjie getik is.

      Die deur staan nog altyd oop op ’n skrefie soos ek dit agter my gelos het sy drink seker hr tee dis ook seker maar nuut vir hr alles miskien was sy hr klere. Weet nie hoe sy die bloed uit die wit truitjie gaan kry nie.

      Het eerlik gedink dit sal goed wees as sy hrself pootuit werk voordat sy hr kamer betrek. Het die bruin koffer met hr goed in vnggnd solank op die dwarsskot onder die tafel in hr kamer gaan sit. Eers in die verleiding om hr te verras en alles vir hr uit te pak soos tafeltjie dek jou maar het my bedink. Sy moet selfstandig wees. Mens moet in elk geval self nes skrop in ’n nuwe plek miskien sien sy nou self hr ou goed pas nie by hr nuwe goed nie & miskien pak sy dit glad nie uit nie & vergeet daarvan dit sal die beste wees.

      En ek moet ook vergeet. Anders sal ek mal word. Of siek. Kan dit nie nou bekostig met die kind in my nie.

      Het gister al ’n hele lys take uitgewerk wat ons moet afhandel vandag dat sy kan besig bly mens moenie te veel tyd hê om te dink op so ’n dag nie. Eers roetinewerkies om hr mee op te warm stoep vee skottelgoed was wasgoed was & stryk & opvou & wegpak dan skaapslag.

      Ek reken ek sal met die kind nie tyd hê om persoonlik toesig te hou nie A. moet die slaghand word op Gdrift. Het laat weet strooise toe gisteraand Dawid moet hr touwys maak & ek sal bystaan dat hy vir hom kan reghou. Tienuur vnggnd staan hy in die kombuisdeur nee die slagding is klaar uitgesoek wil ek hom eers sien vra hy nee sê ek maak die skaap vas in die koelte & gee water want ek wou nie te ver van A. af gaan nie sy was nog besig met hemde & lakens stryk in die spaarkamer & ek moes hr wys hoe jy die kraag glad sonder kreukels kry & hoe jy die laken vou.

      Alles het redelik glad verloop met die slagtery behalwe ekself wat daar by die slaggeut onwel geword het. D. & twee handlangers het die skapie nadergebring dik hameltjie, half lammer nog uit die kampie hansgoed wat ons moes uitdun. Vat hom aan sy oor sê ek vir A. moenie beskimmeld wees nie daar vat A. die oor met hr klein handjie & die hameltjie kyk vir hr vat met jou sterk hand sê ek hy sal losruk daar trap die hameltjie woes agteruit ek gee vir A. die mes in hr goeie hand & ek sê hou vas hr hand wys die slag sê ek daar’s D. skoon giggelrig van so naby aan die meisiekind se lyf wees & hr verkeerde hand vashou daar ruk die hameltjie met die kop saam & blêr & trap agtertoe & tjorts ’n groen blerts oor D. se skoene & teen A. se rok & oor hr been die volk lê soos hulle lag & toe’s die hele werf se kleingoed daar sie-a skree D. nee hy weet nie so mooi of dit gaan werk nie nooi A. is te klein nog vir skaapslag. Hy moet sy mond hou & sy moet alles leer sê ek sy is slim.

      Eerste les van skaapslag leer ek vir haar mooi die slagding moet 3 dae lank niks vreet nie sodat die derm mooi skoon kan kom & die laaste dag gee jy semels dit absorbeer alles wat nog in die pens kan wees & dit spoel maklik uit maar nou met al die gepratery was die skapie skoon woes maak lê druk vas sê ek. Daar sê D. meestal loop ek so ’n skapie van agter af by in die kamp voor hy weet wat met hom gebeur is sy keel af wyl hy nog staan & verjaar in die lusernblommetjies dan as jy hom eet is sy vleisies soet want hy was nooit bang nie.

      Dis die tweede les leer ek hr: Skape wat dit benoud het voor hulle geslag word se vleis is bitter hulle skei iets af uit die bynier v.d. angs so moet nooit draal met die doodmaak nie toe trek hulle die skaap oor op sy sy & hou sy nek oor die rand v.d. sementgeut & die hameltjie spartel toe nou allerverskrikliks so kan dit nie aangaan nie dag ek nou tel ons drie sê ek vir A. dié se oge stokstyf in hulle kasse staan nader sê D. almal wat die Here liefhet staan nou nader sing die kombuismeide buk sê D. vir A. hy druk hr hand vas in syne vinnig trek hulle die lem oor die hameltjie se keel daar spuit die bloed. A. staan terug & die mes val uit hr hand & rol af op die skuinste v.d. slagbodem a nee a sê ek mens gooi nie jou mes so weg nie klim daar in haal hom uit die volk lag hulle dood daar’s hy Asgat kyk net so ’n plaasmeid skree hulle. Bly stil sê ek die honde lek die bloed van A. se skoene sy staan doodstil D. gaan tel haar mes op & druk dit in haar hand. Saar kom met die wit enemmelkom die volk jil vang die bloed vang die bloed die wol is wit & die vleis is soet skei uit raas ek dis hr eerste slagbeurt & die hameltjie se oë dop om & die bolip sak terug & die riffels op die neus stryk uit & die ore gaan lê plat wys ek die tekens vir A. daar trek die hamel se lyf op ’n knop & hy gee ’n allemintige skop teen hr skene ruk al die hande los nog ’n blerts mis oor die voete.

      Let op les 3: Mens los nie die pote te vinnig nie dis ’n stuipskop dis ’n dodekramp & die dier is halfvrek maar dit maak die seerste.

      Daar sien ek Jak staan hand in die sy & betrag die saak. Nou dit lyk vir my mos nou na besigheid Milla sê hy: Slagter bakster skinkster dan maak jy hr jou hoofmeid oor honderd. Pleks dat hy hom bepaal by sy eie sake dis tog alles op sy aandrang.

      Nou eers weer gaan loer of die buitekamer se lig al af is hoop tog alles werk reg uit met hr daar agter ek voel die hele tyd of ek iets vergeet het.

      10-uur

      Alles stil vensters styf toe daar agter slaap seker ek kry nie die slagtery uit my kop nie dis tog net gewone skaapslag. Hoekom wil ek dit alles opskryf? Het ek iets nagelaat? Alles tog mooi vir haar geleer, stap vir stap. Nie maklik nie maar almal moet maar die eerste keer daardeur.

      Les 4: Mooi leegbloei anders is die vleis sponserig.

      Les 5: Higiëne. Sorg vir ’n lap & water mens kan nie slag as mens toe is onder die skaapmis nie kyk hoe pak die vlieë. Buk daar met my dik lyf & al & ek was die skaapmis van hr bene & skoene af & daar gaan hr knieë aan’t rukke stuipe stuipe skree die klonkies bly stil sê ek dis die laaste keer of julle kry niks long nie.

      Ek vat hr hand met die mes & ek buk agter hr & ek begin oopsny vanaf die gat in die keel. Kon nie lekker deur die borsbeen kom nie nou jy & D. alleen verder sê ek vir A. & ek druk die mes in hr hand sing sê ek vir D. dat sy kan krag vat sikketir sikketir sikketir sikketreis sing D. die skapie kom blok toe met sy wol en sy vleis sing saam A. sê ek dat jy