Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

knipper ek, maar ek is nie ’n slagding nie.

      Sy knipper terug.

      Anders sal ons jou maar weer ’n Pink Lady moet injaag, sê sy, ’n Pink Lady vir die lady van Gdrift, dis vyf dae nou dat haar derms vassit. Miskien is dit wat haar so onrustig maak. Wat ingaan moet mos darem uitkom, allawêreld!

      Haal die pan weg, beduie ek.

      Nee, drup jy nou maar eers lekker droog. Dan kry ons jou eers bo reg.

      Dis ’n kwartlyf se was vanoggend. Halwe was is al om die twee dae en volle was is elke vierde dag. Vyfde dag is kwartwas. A lick and a promise, noem Agaat die kwartwas.

      Sy vee my nek en gesig met ’n lou lap af. Dan my hals. Sy werk die lap in onder my hospitaaljurk, oor my skouers. Sy borsel my hare met ’n droë sjampoe. Sy stut my kop met die klein handjie, dat hy nie knak of rol nie. Sy smeer room op my gesig en salf in my mondhoeke. Nou die nekstut. Grrrts, garrrts, trek sy die velcro los en vas tot hy reg sit. Hy raak al wyer. My nek voel los.

      Sy bring die handspieël nader. Ek maak my oë toe. Vat weg jou spieël. Ons kyk lankal nie meer in die spieël nie. Ek ken die bui. Sy wil my treiter. Sy is kapabel en grawe weer die lipstif en maskara êrens uit.

      Spieëltjie, spieëltjie, aan die wand, sê Agaat, wie is die mooiste in die land?

      Ek hou my oë toe. My gesig word warm soos ek haar trotseer. Ek weier om te kyk, ek wag tot sy wegbeweeg. Ek hoor hoe sy water bygooi in die waskom. Sy trek die pan onder my uit. Ek hoor hoe sy wegloop daarmee. Ek loer uit die hoek van my oog wat sy doen. Sy sit haar bril op, bestudeer die inhoud voor die venster. Sy sit dit neer op die bokkiestafel, gooi ’n lap oor. Sy skryf op die kalender met die potlood wat daar hang aan ’n toutjie, Leroux se urinerekord wat hy elke keer as hy my besoek, wil sien. My logboek. Die bewegings van my ingang en my uitgang. Vandag kyk Agaat oor en oor in die pan asof dit ’n boodskap moet bevat. Sy haal haar vergrootglas uit die spieëltafel se laai. Sy kyk daardeur en sy skryf en sy kyk weer. Wiggelaar van my elemente, wie sal haar verhoed om my pis te interpreteer? Miskien is daar paddavissies in.

      Heeltemal bevredigend onder die omstandighede, sê Agaat, ’n ligte ou wolkerigheidjie, maar niks om oor te kommer nie.

      Sy blaai die kalender terug, tik een keer met die potlood daarop voor sy dit terugsit in die gaatjie van November. Sy sit die vergrootglas terug in die laai. Tieng, gaan die spieëlkas se klinkerhandvatseltjie soos sy die laai toestamp met haar bobeen. Sy weet ek loer vir haar.

      Sy gooi die dekens van my af. Sy wring die waslap uit, gee my een vinnige vee tussen die bene met die lap. Dit is te warm. Sy weet goed dit is te warm.

      Ek hou my oë toe.

      Pie soos ’n merrieperd, sê Agaat, niks verkeerd met die pié nie.

      Ek wag dat sy die dekens weer oor my gooi, ek kry koud.

      Sy wag dat ek moet byt.

      Mooi liggeel. Helder behalwe vir die ou sleepseltjie. En glad nie te skerp op die neus nie, sê sy, so te sê perfekte pie.

      Wat kan ek daarop antwoord? Watter akrobatiek van ooglede om aan te gee: Jou sarkasme is gemors op my. As ek kon doodgaan om jou te verlos, sou ek dit doen, vandag nog. Gaan soek iemand anders om perfek vir jou te pie op jou bevel. Dis jy wat perfek wil wees. Jy wil hê ék moet perfek wees. Niks mag ons ontbreek nie. As jy kan klaarkom sonder, moet ek kan klaarkom sonder, dis wat jy dink.

      ’n Volmaakte verpleegster. ’n Volmaakte pasiënt.

      Soos ek jou geleer het.

      Volgens die boek.

      Wat meer kan enigiemand verwag? dink jy. En wat jou dwars in die krop steek, is my surplus behoeftigheid, en dat jy nie meer weet wie ek is nie, en dat jy nie verstaan ek het verander nie, dat ek nog elke dag dat ek hier lê, verander. En dat ek iets spesifieks van jou verlang.

      Ek maak my oë oop. Sy staan langs my bed met haar een hand toegevou in die ander.

      Dis alles reg, Agaat, sein ek, moet jou nie so opwen oor niks nie, ek is so tevrede soos ’n slakkie in kropslaai.

      Maar dis te maklik. Sy soek nie ’n maklike oorwinning nie. Sy wil my kwaad sien. Sy wil opstand sien. Sy wil sien hoe opstand lyk in die rug van ’n verlamde. In my bors voel ek ’n sug. Ek het te min asem om te sug. Daar kom ’n kreun uit my. Ek voel trane. Ek hou hulle terug, maar dis te laat, sy het my klaar betrap.

      Tyd vir jou oefeninge, sê sy, die ken ver vooruit. Niks soos beweging om die gemoed te lig nie, sê sy, en die ou derms van jou aan die gang te kry nie.

      Jou gat, sein ek.

      Pluk die dag, sê Agaat. Sy trek die gordyne oop, die lig stroom die kamer binne.

      Die beddekens word heeltemal van die bed afgetrek, uitgeruk uit die voetenent, die matras skud onder my, my bedsokkies word afgetrek van my voete.

      Nee, beduie ek, asseblief nie nou nie, ek is moeg. Ek sluit my oë weer, stadig. Laaste verweer, speel dood, speel oorsomering. Wilde ertjie.

      Wat wou móég! Dokter se orders is dokter se orders! sê Agaat.

      Kont.

      Haai! sê Agaat, moenie so lelik praat nie! Kóm nou, hándjies klap.

      Sy buig oor my en tel my arms aan die polse op en bring my hande in ’n langsame applousbeweging.

      Een, twee, drie, een, twee, drie, ons groet, ons groet die grote son!

      Mooi diep asemhaal, sê sy.

      Sy bring my polse tot langs my sye, laat hulle skielik die laaste entjie val.

      Oeps, sê sy.

      Sy is aan die voetenent. Vinnig. Dit is nog net opwarming. Sy druk haar vuiste teen die onderkante van my voete in ’n kniebeweging, ’n mimiek van pedale onder my sole. Die een pedaal is swakker as die ander een.

      Vóétjies trap, sê sy.

      Hou op, hou op, hou op!

      Enige klagtes sover, mevrou DeWet? Sy kyk nie op van my voete nie.

      Sy beweeg vinnig om na die kant van die bed, kyk my vol aan. Haar stem ’n nabootsing van sagte oorreding.

      Jy word seer, jy word styf, jou bloed loop nie lekker nie, jy word koud, jou voete word blou, kyk hoe blou is hulle klaar, jy raak hardlywig, jou algemene kondisie gaan agteruit as jy nie toelaat dat ek jou oefen nie.

      Tóélaat, sê ek met my oë, tóélaat!

      Sy pak my een arm by die pols, hou die elmboog reguit met die klein handjie. Wye sirkelbewegings maak sy, eers die een kant om en dan die ander kant om.

      Windpomp in die suidoos, sê sy, windpomp in die noordwes. Iksjee, iksjee, iksjee. Water in die dam, modder in die sloot, trap op haar kop, dan is sy dood.

      My arm met sy stywe klou aan die punt swaai deur die lug. Agaat se asem kom vinniger, haar oë blink.

      Nou knák, sê sy. Sy werk die elmbooggewrig.

      Knákkerteknák, sê sy. Búig die boompie, knák die riet.

      My ander arm is ’n vuurtoringlig. Hy swaai oor woeste bare. Agaat blaas op die horing. Twee basnote.

      Wat sê jy, missus? Nou speel ons lekker, nè? Nou werk ons hierdie ou lyf van jou se sake.

      Skipskop toe, Skipskop toe, sing sy, kyk hoe hol die bokkie na die water toe.

      Agaat se kleur is hoog. Haar asem jaag. Ek vang haar oog.

      Agaat, jy maak my seer!

      Moet nét nie pieperig wees nie, sê sy.

      Stádig, flikker ek, stádig met wat oor is van my.

      Sjaddap, nou die bene, sê Agaat, maar daar kom niks klank uit haar nie, net haar lippe roer.

      Met dapper en stapper, sê sy hardop, sy maak met my bene ’n hoek van neëntig grade bo my romp. Sy buig my hangvoete op en