Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
Nie te diep insny nie sê ek hier is les 6: Ons wil nie mis & pis oor alles hê nie & sy sny vlak & vinnig op die penslyn langs dat ek my skoon verbaas.
Toe vat D. hr twee hande in syne & sy trek die binnegoed los daar val die dermklomp uit toe word ek naar & gaan in huis toe maar ek kots & kry klaar want toe’s ons in die middel ek kon nie vir A. alleen daar los nie toe sorteer hulle die binnegoed dat sy kan sien die vuiles & die skones die peester & die blaas & die maag & die gal & die kleinderms & die grootderm eenkant & hartlongenierelewer apart.
A. se regtermou teen daardie tyd vol bloed of sy seergekry het & ek die hele tyd naar op my maag & geïrriteerd met die omstand & die toeskouers.
Les 7: Die een plek waar mens gou kan agterkom of ’n skaap gesond is is die binnegoed. Kyk vir wurms in die derm & parasiete in die longe hulle moet mooi sponsig & rooi wees & die lewer sag & donker & die hart die regte grootte soos die vuis van jou goeie hand. Klein hardverpit of waterig opgesit beteken daar’s fout met die hart bes moontlik met die hele skaap die hart is die bloed se windpomp leer ek hr as hy nie gooi nie verdor die dier.
Het A. aan alles laat voel & alles laat identifiseer. Kon net naderhand nie die bloedmou wat aanmekaar deur alles sleep meer vat nie óf jy trek daardie trui uit sê ek óf ons stroop daardie mou op maar A. klem die bloedmou met haar duim vas. Dawid hang die skaap onder die bloekoms aan bloudraadhake aan die hakskene toe kan A. nie bykom nie. Hy bring ’n appelkis nee sê ek dis nie stewig nie knip langer hake daar sing die meide: Oi oi oi die mou v.d. aap verhoog die meid of laat sak die skaap.
Hou julle bekke sê ek maar hulle dans met die boude in die lug al om A. haar lip die bewe & ek sê dis net kombuismeide moet jou nie aan hulle steur nie hulle kry net kop & derms & vanaand kry jy tjops.
Daar hang die skaap sny af die kop sê ek dit drup op haar voete. Daar sien ek D. sny eers die oor af & druk dit in A. se roksak sonder kepe nog nie gemerk vir slag soos ons maak met die hansgoed nie. Sien hy sê iets vir A. wat ek nie kan hoor nie & ek wil nie voor almal vra nie (moet keer vir intieme kontak tussen A. & die mansvolk).
Toe wys D. vir A. hoe sy die vel moet losmaak & die vleis wegdruk van die vlies & ek hou vas & eers gaan dit moeilik dan te diep dan te vlak sny sy. Ek sê vat jou vuis knie die vleis los van die vel terwyl jy die lem voer & eers toe gaan dit bietjie beter die regtervuis in die wit gehekelde truitjie ’n bloedknoets lyk of dit geamputeer is maar sy’t mooi uitgehou al het dit drie keer langer gevat as normaal maar toe ken sy al die snitstukke ook van die nek tot die lende & die lies & waarvoor mens dit die beste kan gebruik, vir braai, vir bak in die oond of vir stowe.
Goedso my meidjie nou ken jy jou vleis. Volgende keer slag ons bees jy sal nog ’n voorslagter word hier op Gdrift sê ek ons sal net vir daardie armpie van jou ’n plan moet uitdink ’n slagtersmou.
5
Twaalfuurstilte. Die planke kraak in die gang. Is dit iemand wat by die telefoontafeltjie staan, die gewig van die een been na die ander verplaas? Of ’n foto teen die muur bestudeer, of huiwer, oorval deur ’n gedagte, ’n nagedagte? Wik en weeg?Vorentoe en agtertoe? Die planke kraak vanself.
Daar is niemand nie. Dit is die geluide van ’n ou huis.
My huis kan meer geluide maak as ek.
Ek verbeel my soms ek hoor voetstappe, vlugtig van voor na agter dwarsdeur die huis, ’n haastige, saaklike tred in die oggende. In die nag, in die middagure tussen twee en drie, ’n moeisame gang, ’n sleepvoet, ’n kierie.
Asof daar êrens ’n opname gemaak is van al die kere dat ek in die gange en die kamers van my huis geloop het, asof dit nou vir my teruggespeel word op ’n verweerde geluidsband, ’n rekord sonder duidelike mededeling.
Wat moet ek daaruit opmaak? Wat is die boodskap? Ek was bedoel om ’n regop dier te wees? Bedoel om my ledemate te strek, vier kwartiere in die lug te markeer, ’n goue snede, my reikwydte die bestek van my intensies? Gemaak om te swem, te stap, te klim, hoopvol genoeg om te probeer vlieg?
Hier lê ek. Gevierendeel deur perde sou beter wees.
Soms klop dit in die nok, een, twee, drie, vier keer hard as die dakpanne afkoel in die nag. Dan word ek wakker en ek wonder wie het gekom?
Wie wil inkom? wil ek roep, wie is daar?
Maar daar is niemand. As Agaat my alleen los, soos vandag, is ek niemand. Tussen my en my geen spleet van verskil.
Soggens as die dak opwarm, tiks-tiks dit vir ’n uur bokant my kop. Asof daar ’n gangmaker is wat my wil help dink, ’n gedagte wat ek nie alleen gedink kan kry nie.
Ek is minder as ’n dak.
Ek is ’n geut.
Ek hoor geritsel soms in die kosyne. Boorwurms moet dit wees, muise dalk, of kakkerlakke. Knaagsels wat afsif in die holtes tussen die hout en die muur, muise seker, insekte.
Ek sou vir Agaat aan die verstand kan bring om vir my ’n kakkerlak in ’n bottel te bring dat ek kan kyk hoe hy roer met sy plat vaal lyf, hoe hy roei met sy pote teen die glas. Sy sal haar kan verlekker in hoe jaloers ek is op ’n kakkerlak.
My bed waarin ek gekantel word, maak my gewig vir my voelbaar. My los gewig binne-in my vaste gewig. Elke keer voel ek hoe my binnegoed in my skuif. My hart in ’n mandjie, my derms ’n hoop roltwak wat eenkant toe val in ’n krat. Dit is al wat sy gedoen het vandag. My kom kantel hier. Sonder ’n woord.
My vleis is onregverdig verdeel oor my bene. Die gewig van my geraamte is my enigste eerlikheid. My vleis laat my huil.
Ek sien die kontoer van my voete onder die deken. My voete is stompe. Die spanning is uit my tone. My voete lyk soos knieë, my knieë lyk soos hompe, soos katkoppe, my heupbene maak rante en tussenin is ’n holte. My borskas loop skuins na my op, weerskante van my borsbeen is lankal niks behalwe velle. Ek onthou die gewig van my borste, die skaduwee van my borste.
Nou speel die lig om my, ’n kluit op die land, ’n vlak kontoer. Dit gradeer sigself oor my hoogtes en my laagtes, ’n geslepe boetseerder. Die deken is wit, die skaduwees blou. Die lig teken my bed se relings om my soos ’n traliehok. Ek is ’n geraamte in ’n geraamte, ’n krat in ’n trok, maar ek het nog tyd, in my is my tyd, my kwynende vleis hou my tyd in my.
’n Mens behoort net van been te wees as die sterfte begin. Maar ’n geanimeerde gebeente. ’n Skedel vol flitse, ’n hand wat kan skarnier soos ’n sinjaal. Een gebaar moet jou gegun wees bo die skepsels wat in onskuld mag doodgaan. En dan moet jy terugtree in gelid.
Donkertes glip langs die vloerlyste, lig kring oor die vloerplanke, oor die chroom, oor die stapels wit linne, oor die potjies en buisies en lap. Stippe en strepe en kolle. Hoe laat is dit? Ek wil nie weet nie. In die voorhuis tik die staanhorlosie.
My kamer skilder homself van uur tot uur, voltooi homself elke dag. My kamer is ’n perverse kunstenaar. Ek is die stillewe. Die vou in die lap, die oopgeblaaide boek.
Ek blaai myself na buite. Die geluide van die laaste oestyd kom skryf in my.
Dit moet net voor middag wees, tyd om die oggend se oes af te laai en herstelwerk te doen en asem te skep, die jeukerige kaf en die strooi uit die oë te was. Die stroper wat vanoggend uitgegaan het, kom teruggedreun werfop. Die drywer roep: Maak oop! Die deur skuif skurend op sy rollers oop, op sy spoor van staal geset in die drumpel, die enjin galm donkerder met die inrol onder die dak in. Hier kom die eerste trekker nou. Ek kan hoor hy trek ’n wa vol bale. Die tweede trekker trek ’n wa vol sakke, hy trek swaarder. So te hoor is dit ’n jaar van sterk gewigte.
Hulle roep op die werf. Hulle roep: Dra in, dra in! Vat voor! Dis Dawid en Kadys en die nuwe man, Kitaartjie. Ek hoor ’n bakkie. Dit moet Thys wees wat kom kyk. Agterlangs in die holtes van die skuur is daar ’n getieng-tieng van rondekophamertjies. Ek ken die geluid. Hulle klink nuwe lemmetjies in die rooi stroper se snystange vir môre. Die hooi moet sterk wees want die lemme spring, die lemme slyt.
Miskien