Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

glo haar nie. Vanaf die dag toe sy uit die boekies begin lees het, het sy hulle verbied hier. Asof sy self die hond wil wees.

      Sy kan nie ander lewe in my kamer voor haar oë verdra nie.

      Net so min as wat sy die idee kan verdra om in die spaarkamer in te trek en ordentlik in die huis te woon saam met my. Vir wat nie? Hier is meer as genoeg plek beduie ek, maar verniet of sy dit wil verstaan.

      Ek mis die honde. Altyd as hulle hier ingegalop het, het ek gevoel ek is nog iemand se baas. Eers met die voorpote op die bedrand, nat snoete ingedruk onder my hande, reuk van hondelyf in my neus, lagbekke en jaagasems, ’n hele warm bruin pelsbedekte lewe hier oor my wit dekens. Met hulle swaaisterte het hulle soggens die lug lewendig geroer hier in die kamer. Na ’n ruk sou hulle tot bedaring kom en gaan lê, op die matjie by die glasdeur langs Agaat se stoel. En ek sou kyk hoe hulle wenkbroue roer soos hulle my dophou vir ’n ruk en hoe hulle dan uiteindelik sug en aan die slaap raak. Ek kon hulle so dophou tot hulle aan die droom raak, tot die agterbene begin skop-skop, en die spiertjie begin spring in die voorpoot, en die lip begin tril van ’n binnensmondse knor. Hasejag.

      Nou is dit net Agaat se stoel daar voor die glasdeur. Daar sit sy en borduur bedags as sy tyd het, as sy my ter wille voel, en saans tot ek aan die slaap raak.

      Dis ’n groot lap. Vandat ek nie meer beweeg nie, werk sy al daaraan, elf maande al. Lankal begin daarmee lyk dit, want die een kant was al goed bewerk toe sy dit hier ingebring het die eerste keer. Ek beduie dikwels met my oë, wys ’n bietjie, maar sy maak of sy nie sien nie. Nou streep die eerste lig deur die spleet in die gordyne op die borduurlap waar sy dit neergesit het op haar stoel. Die versiering is dig en dik in wit satyndraad, ’n ingewikkelde kombinasie van saamtrek en skadu-steke. As ek op ’n sekere manier fokus, lyk die strook waarop die lig val soos ’n band wit marmer waarop ingewikkelde besonderhede in vlak reliëf gebeeldhou is.

      Sy het dit ver gebring met die borduuwerk, Agaat, sy sou teen dié tyd ’n paar hoofstukke kon byskryf in die borduurboek.

      Kwart oor vyf slaan dit. Sy is terug in die kombuis waar sy die ketel aangesit het op pad uit, sodat sy nou net kookwater by die sakkie en die verdikkingspoeier hoef te gooi. Hier kom sy nou gangaf. Eerste skinkbord, gisteraand al reggesit, tweede kwartier van die dag. Tee. Oggendmedisyne.

      Met haar reuk van Lifebuoy en Mum en Calamine kom sy die kamer binne.

      Prys die Heer met blye galme, sing sy. Sy hou op as sy sien ek is klaar wakker.

      Haar uniform kraak. Haar kep straal soos ’n baken. Sy het ’n skoon swart huisrok met kort moue aan, ’n wit gehekelde truitjie bo-oor. Ek kan die kouewater-Omo ruik. Die voorskoot is styf gestysel. Haar rubbersole maak suiggeluide soos sy laveer om my bed.

      Sy krink my op, sy skud my kussings, sy hys my nek uit my lyf, sy stut my kop, sy trek my reg.

      Alwieker alwakker al oor die akker, sê sy.

      Sy kom met ’n louwarm nat sponsie en vee my mond uit.

      Hond uit die mond, sê sy.

      Sy maak die doek tussen my bene los, sit dit eenkant in ’n bondeltjie en skuif die nommer eenpan onder my in.

      Sy sit my borslap aan.

      Sy klamp die beker met die lang tuit en die pypie aan die reling van die bed vas. Sy buig die drupstingel met die mondstuk tot bo my lippe. Sy stel die drupgaatjie. Sy sit die mondstuk in my mond.

      Tien tellings tussen elke sluk, sê sy. Ready steady go!

      Sy trek die klep oop. Die eerste druppel warm dikgemaakte vog sprei oor my tong. Rooibos.

      Een sluk tee en een sluk asem en tel tot tien, sê Agaat, dink aan die mndrbevoorrgts.

      ’n Mond vol medeklinkers. Nooit mag ek vergeet wat ek geskryf het nie.

      Ek probeer my bes. Die helfte loop by my ken af.

      Sy hou my fyn dop terwyl sy alles regkry. Sy druk die borslap dieper onder my ken in. Sy vee my ken af. Ek kry die ritme beet. Ek is dors. Ek tel tien. Ek sluk. Ek tel tien tiene en kry tien slukke in, ’n kwartmond vol op ’n keer. Hierdie beker.

      Agaat maak die plastiekkom vol warm water uit die ketel wat sy saamgebring het uit die kombuis. Sy kry die handdoeke, die waslappe, die seep en die sponse, alles netjies op ’n ry op die groot hospitaaltrollie wat Leroux hier aangebring het.

      Ek drink nog drie tiene.

      Lekker drink sy vanmôre, sê Agaat. Het jy al gepie, Ounooi?

      Ek sein, nee, jy kan mos sien die doek is droog. Sy kyk nie.

      Ek vrá, het jy al gepié?

      Nou kyk sy. Ek sein weer nee, ek het nog nie en moenie so brutaal wees so vroeg in die oggend nie.

      Nou toe pie, Ounooi, ek het nie heeldag tyd nie.

      Moenie vir my kyk nie, beduie ek, kyk anderpad.

      Agaat maak fluitgeluidjies tussen haar tande om my aan te moedig.

      Dit wil nie kom nie.

      Ek hoor niks, sê sy. Sy sit haar hand agter haar oor.

      Sit die kraantjie vas vanoggend, hmmm? Wel, miskien kan jy nie drink en pie gelyk nie. Kom ons draai die boonste kraan toe, dan gaan die onderste een miskien oop.

      Sy hou haar gesig reguit. Sy draai die teedrup toe en haal die tuit uit my mond. Haar rubbersole suig hard aan die vloer, dit klink asof daar ekstra wringkrag, ekstra gewig in haar tred is. Ek ken dit. Dis wat sy doen as ek nie kan nie. Dis wat sy doen as sy agterkom sy kan my nie máák nie. Sy draai haar rug op my. Ek weet wat sy gaan doen. Sy spoel die water in die waskom rond. Sy draai die lap uit dat hy drup in die water. Nog niks. Ek weet sy luister. Haar ore is agtertoe. Sy vat ’n glas, sy gooi die water, oor en oor, van ’n hoogte af.

      Ek probeer aan iets anders dink. My blaas is vol. Ek wil. Ek wou nie in die doek nie, dan is daar weer allerhande kommentaar. En ek wil nie ekstra probleme maak nie, ek wil nie haar aandag aflei nie.

      Pie en teedrink is nie die probleem nie. Agaat is die probleem. Sy hou haar dom. Dis nou al vyf dae dat ek beduie daar is iets, daar voor, in die sideboard, in die voorhuis, by die fotoalbums.

      Sy hou nie van die idee dat ek afskeid wil neem nie. Miskien kan ek twee vlieë met een klap kry. Miskien werk telepatie beter deur pis in die pan as met golfies gesein deur die lug tot deur die klipsteenharde kopbeen van Agaat.

      Strome van seën, sing Agaat, dit het die liefde beloof, heerlike bron van verkwikking, vloei uit ons Heiland en Hoof.

      Ek dink aan die waterkaart. Ek dink aan die ondergrondse waterkamers in die berg, aan die are wat uit hulle vertak, aan die oë in die klowe, aan die fonteine van Grootmoedersdrift, die watervalle in die klowe. Ek dink aan die drif as hy in vloed is, die skuimende watermassa, die drif in die reën, as die druppels silwer ringetjies op die donker water val. En as dit net opgeklaar het, as die swart watteltakke swaar en druipend oor die sloot hang en die paddas opklink uit die kletsnat grasruigtes op die wal. Herinneringe in my en ek ’n spoeling tussen hemel en aarde. Wat is vas en waar? Wat werklik? As ek net weer die plekke gemerk kan sien op die kaart, die rooi hakies wat hekke, motorhekke, sluise aangee, die rooi is-gelyk-aan-teken van die brug oor die drif, eerste en laaste poort waaroor die lewende hawe van Grootmoedersdrift beweeg en sal aanhou beweeg as ek weg is. Skape, beeste, motors, vragmotors, draadkarre, water, modder en tyd. Glippende, soepel, skelm, silwerige tyd.

      Kaarte gelei leeftye. Wat is ’n eeu daarsonder? Ek sien dit, sale vol ledige melankoliese kartograwe in die tydlose hiernamaals. Heuwels sal daar tog moet wees in die hemel, maar ewiges, Ewige Rûens, en Ewige Mooiweer. Ledige melankoliese metereoloë. Wat is ’n regte mens? ’n Afloop. ’n Geut van minute vir God die Spoeler. Hy wat met mense flodder.

      Miskien het ek aangesteek by Agaat. Sy laster lankal.

      Dit kom. Hier kom dit, deur my heilige pissfinkter, eerste afslaan van die dag.

      Soet kind, sê Agaat. Jy wil nie dalk die nommer tweepan ook hê nie, siende dat jy nou aan die gang is? Les