Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

hande die vrou. Kan sy nie verstaan ek is besig nie? Tog nie lus vir skynheilige praatjies nie.

      Na middagete

      Vanoggend lank in die buitekamer. Alles weer gekontroleer of ek niks vergeet het nie.

      Sewe onderbroeke miskien nog twee? vir geval ’n ongeluk & toe nog ’n idee gekry onderlaken opgesit & die bed weer oor opgemaak onthou hoe hewig mens kan bloei as jy jonk is.

      Gordyntjie voor die klerereling trek nie lekker glad oor die bloudraad nie het kerswas gesmeer dat ringetjies nie meer die skuurgeluid maak nie het die kerswas op rak bo wastafel gesit dat A. dit kan bywerk sal gou afslyt gordyn moet maar toe wees daar altyd. Ek moes keer J. wou die venster glad toespyker sê hy wil nie elke keer as hy by die kombuisdeur uitkom in ’n meidebed vaskyk nie dis ook nie ’n goeie idee dat die ander volk sien hoe luuks A. dit het hier by die witmense nie sê hy.

      Het maar niks gesê dat dit lankal my plan is om vir die volk nuwe huise te bou nie. Eerste vir Dawid-hulle die krot waarin hulle woon is nog uit Ma se tyd & die mure sleg aan die verbrokkel dak lek & daar is ’n hele string kleintjies by van D. se newe wat bygekom het na OuKarel se dood. Alle dinge met verdrag D. moet maar self solank ’n plan maak sal ’n paar sinkplate van die skeerders se kookkaias gee. Weet nie wat dan as hulle weer kom volgende seisoen nie tyd bring raad.

      Almal moet nou net eers gewoond raak aan die toestand met A. in die agterplaas.

      Voor aandete

      Vreemde gevoel kan nie ophou skryf oor die buitekamer nie ek dink aanmekaar aan nog iets om by te voeg. Het vnggnd die Sionsbybel op die krat langs die bed oopgeslaan & toe nog ’n idee gekry & die gehekelde boekmerkie van Ma uit my Bybel gaan haal dit ingesit by Ps 23 die Here is my herder niks sal my ontbreek nie.

      Kon nie ophou vroetel daar nie nes ’n broeis hen ai. ’n Takkie vinkel in die blompotjie gesteek toe laat die reuk my skielik huil seker maar die hormone wat deurmekaar is.

      Het die ketel uitgespoel & bietjie water op die tweeplaatstofie gekook. Het skielik gevoel ek wil ’n koppie tee drink daar. Wou A. se beker uittoets & die beskuit wat ek vir haar gebak het proe ek het die rooibos soet gemaak soos sy daarvan sal hou & die beskuit gedoop goeie baksel lekker ryk karringmelk. Blikbeker te warm om vas te hou my vingers verbrand gewag dat dit afkoel & al A. se ander leesstof uit die krat gehaal waar ek dit gebêre het lees toe die inleiding deur Haar Edele Mevr. Dr. Verwrd in die borduurboek & dis toe heel inspirerend: Die boek uit liefde gebore vir die ontwikkeling van die volk & die huislike atmosfeer wat borduurwerk skep want dis die merkteken van ’n kultuurbewuste nasie het die woorde onderstreep & voorin geskryf: Mag hierdie boek jou nog veel plesier verskaf in die leë uurtjies op Gdrift. Dit lyk so droog maar wat anders kon ek nou skryf? Toe nog ’n plan gekry. ’n Potlood & mes om dit mee skerp te maak binne gaan kry & leë notaboekie uit J. se kantoor in hoofletters voorop geskryf: My eie Patrone & Ontwerpe moes hard druk want die buiteblad was van gladde papier en die potlood wou nie lekker vat nie & toe die borduurboek weer gebêre in die krat met die notaboekie daar bo-op.

      Die ou FAK het my bietjie opgebeur. Het saggies dat niemand my hoor nie daar agter vir myself sit en liedjies sing. Die brug op ons plaas Op die dood van die uil Op my ou ramkietjie By die ou meulstroom. Sal dit haar ook troos? Die idee dat sy daar agter alleen sal sit en sing. Toe sit ek die sangbundel weer weg want toe wil ek weer net huil.

      Toe drink ek die soet tee & ek lees die hoofstuk oor velle in die ou Hulpboek vir boere die afmaak van hare in semels & in mis & brei v.d. rieme tot gaar & die koor spierwit (“core”? ou boek = vol snaakse woorde & spelfoute moet vir A. attent maak daarop) & looi van klein & groot velle met vitrioel & bergbas. Metodes waarvan min mense nog weet.

      Pa’t my die belang van hierdie ou kennis geleer hy’t gesê die wiel draai altyd my kind daar kom weer ’n tyd van armoe & nood & die boer wat dan nie weet van die ou weë nie sal in sy glorie wees toe huil ek daar oor Pa se onderstrepings by die stukke oor die veldverval in ons land & die uitputting & verniel van die grond. Dis wat A. ook moet leer die ou weë & die sorg vir die weerlose aarde, die pannetjies & die vleie & die “skulpaaie” & hoe ons dit moet beskerm teen die aanslae v.d. sg. beskawing want hoeveel eeue vat dit nie vir die moederrots om te verbrokkel & te ontbind tot grond nie & dan kom die mens & verwoes dit deur gierigheid & onverskilligheid.

      J. is eintlik die een wat dit alles moet lees maar hy steur hom tog nie aan my nie het destyds ook gelag oor ek gesê het ek verkoop nie die donkies wat Ma aangehou het nie wat is ’n plaas sonder ’n donkie. As die ploeg gebreek of die trekker gaan staan het in daardie eerste jare & die parte kon nie dadelik van die dorp af kom nie dan kon mens aangaan met die diere & handploeg sodat die werk nie te veel agter geraak het nie. Dan het mens sommer weer ’n slaggie respek gekry vir die bloedsweet waarmee Gdrift uit die aarde gekerwe was.

      Het met die potlood die sin in die Voorwoord vir A. onderstreep wat sê dat die Hulpboek die boer sal help in sy materiële groei net soos wat die Bybel hom help in sy geestelike groei & toe gaan lê ek op haar bed want toe’s ek skielik baie moeg & maak my oë toe & ek bid vir my kind wat in hierdie wêreld gebore moet word. Het seker ’n rukkie weggedommel want toe ek weer kyk was die son ’n streep oor die linoleum. Binne was die middagkos al aan die opdra J. was aan tafel daar frons hy toe hy my sien & wys met sy vurk na my kop daar’s dit een van A. se keppe wat ek uitprobeer het daar agter in haar kamer voor haar spieël so lig is dit mens kom nie eers agter jy dra dit nie. Wat is dit? vra J. is dit jou moederskappie? Gelukkig kon ek dit afhaal voor Iemand Anders dit gesien het.

      4

      Agaat roer op haar bed in die gang. Ek sien die eerste gloor deur ’n spleet in die gordyne. Dis vyfuur op die fosforwysters van die wekker op die nagkassie.

      Agaat het nie ’n wekker nodig nie. Elke oggend net voor die staanhorlosie die uur slaan, ontwaak sy. Dan lê ek lankal wakker. Partykeer maak ek of ek slaap sodat sy kan sing. Agaat sing my wakker.

      Daar is net een kraak soos sy regop sit op die kampbedjie. Terwyl die slae in die voorhuis galm, roer sy nie. Waaraan sal sy dink tussen die vyf slae deur? Sal sy haarself staal daar op haar bed, afkyk in die donker gang met die eerste lig wat uit die kamers val, van deuropening tot deuropening? Sal sy haar skedule vir die dag vinnig in oënskou neem? Bid miskien? Nee, Agaat bid nie, sy bid net namens my, sê sy, dit moet maar genoeg wees.

      Aan die begin van die winter het sy vir die eerste keer die kampbedjie uit die stoorkamer ingedra. Te skraps vir haar as ek moet oordeel, sy het dik geword die laaste jare. Vandat sy my versorg, werk sy nie meer so baie self om die huis en die tuin nie. Spit hier, skrop daar, hoor ek sy gee orders.

      In die nag hoor ek haar nie roer nie. Sy slaap soos ’n laaistok op daardie baar. Ek sien dit voor my. Op haar rug met die hande op die bors. Die slaap van die waaksames. Twee keer per nag, een keer in die voornag en een keer in die nanag kom staan sy in die donker by my bed op kaal voete. Sy is nie amptelik wakker nie. Ek ook nie, ek hou my aan die slaap. Soms die laaste tyd gaan sy dan agter uit en bly ’n uur of langer weg. Ek hoor nie dat sy by die buitekamer ingaan nie. Waar sou sy tog ronddool?

      Daar is nou die eerste beweging. Die kampbed kraak soos sy strek om die ganglig se skakelaar by te kom. Sy vat een sluk water uit haar beker. Die enemmel maak grrts op die vloer toe sy dit neersit. Nog ’n kraak soos sy haar bene van die bedjie afswaai. ’n Swiepgeluid soos sy haar oorjas aantrek oor haar nagrok. ’n Piep en ’n klap soos sy die kampbed toevou, ’n gestommel soos sy dit inskuif in die tweede besemkas langs die badkamer.

      Sy loop in die gang af. Doef, doef, doef, gaan haar kaal voete op die planke. Sy sluit die kombuisdeur oop, praat met die honde, maak die onderdeur weer toe agter haar. Die sifdeur kraak, die sifdeur klap, sewe treë, die buitekamer se deur word oopgemaak, die slot, die skuifknip, die onderdeur wat skuur op die linoleum. Was en aantrek is wat sy gaan doen. Gebruik die badkamer in die huis, probeer ek aan haar verstand bring, maar sy maak of sy my nie verstaan nie.

      Koffie en Boela maak tjankgeluidjies. Ek hoor hulle krap aan die kombuis se onderdeur. Sy laat hulle nie meer in my kamer kom nie. Op aanbeveling