Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
Die tyd stap aan, beteken die toemaak van die horlosie se glasdeur.
Kliks, sit sy die opwensleuteltjie neer agter die kap van die horlosie.
Tsjiek, is haar volgende geluid.
Dis die sideboard se donker deurtjie. Jy kan huil tot jy blou is, maar jou tyd het jy gehad, sê dit.
Oordenk dit, sê die toemaak. Tsjiek.
Elegante simmetrie, Agaat, daardie getoe- en oopmakery van jou daar in die voorhuis. Jy kan dit nie weerstaan nie. Die geleeg- en volmakery.
Tyd wat agtertoe wegstroom, tyd wat vorentoe aantik, tyd wat opgewen word vir die afloop.
Daar, agter die blou boekies, lê die kaarte wat ek wil sien.
En jy mag heers oor my ure wat jy daar aftel en indeel met jou skelm klein slanghandjie en jou wit helm voor die wysterplaat, Agaat. Maar daar is ook ruimte, gekartografeer, uitgestippel, onwegwensbaar, die berge, die valleie, die afstand van A tot B, bestendig in plekname, vir ’n eeu of twee of drie, Susverlore of Sogevonden.
Sou sy die kokers kan sien, daar waar sy nou buk? Hoeveel boekies sou daar nog wees wat haar uitsig versper? Daar was ’n derde pak. Daarvan het ons nog niks gelees nie. Sou dit hulle wees wat haar verblind?
Met ’n mond vol peperment lê ek.
Wat moet ek doen as ek nie mag huil nie? Om te huil is ’n laaste vermoë in my verskraalde bestek. Dis iets wat nog uit my kan uit, iets van my, iets anders as pie of poep of kondensasie. Hierdie drie. Sy sou hulle wou weeg en meet, my sweet aftrek in ’n dampdoek en opslaan in die koelhok. Ek kan dit sien op haar gesig as sy my ekskresies verwyder. Dat ek iets tasbaars afgee, het groot oortuigingskrag. Waarom is sy dan so onverskillig oor my trane? Vir hulle sou sy ’n unieke indeks kon ontwikkel. Soutgehalte, snikwaarde, soortlike gewig van verdriet. Sy sou kon proe, fynproewer wat sy is: Die smaak van skuld, die essens van amandel in my trane, en verbystering en verlange, aromas van bloekom, sweme van vinkel. Nou is die tyd dat sy eerder sou moes improviseer met my, in plaas van my nougeset te verpleeg, maar sy sien dit nie in nie. Eens op ’n tyd kon sy, maar sy het haarself dit afgeleer. Ek het haar afgeleer.
Ek luister hoe Agaat die res van die dag se take op gang kry. Sy deel bevele uit in die kombuis. Haar toon is gebiedend, sy praat stadig en met nadruk. As sy klaar is, is daar dadelik ’n versnelling in die bewegings. Die sifdeur klap. Dit sal Lietja wees wat die room en die huis se melk uit die melkkamer gaan haal, en Dawid-hulle se melk, om dit in bottels in die groot yskas te sit tot vanaand. Daar skuur die klein stoorkamertjie se deur oop.
Onthou ek die reuk van fyn hoendermeel? Kan ek die treë tel van die agterplaas tot by die hoenderhok?
Agaat gaan die kuikens kosgee, en dan sal sy terugkom en ’n paar bottels volmaak van die melk wat oorgeskiet het in die emmers. Sy sal die hanslammers laat drink, almal ’n beurt gee aan die tiet, vir die kleinstetjie die langste, terwyl sy alles saggies vir hom of haar vertel.
Agter die toegetrekte gordyne hoor ek die stoepmeubels geskuif raak. Dit is Saar. Tok, maak haar besem, tok, tok, soos sy in die stoep se hoeke uitvee. Tok, tok, tok. Hier kom haar gesig voor die skreef, ’n skuinssnit van Saar, kopdoek, bont voorskoot. Aan die spleet in die gordyne, as sy dit oplet, steur sy haar nie. Haar blik eindig teen die glasruitjies van die swaaideur. Ek kon netsowel nie hier gewees het nie.
*
Die grond is alles, het jy vir Jak gesê, gesonde grond gee gesonde diere en gesonde mense.
Julle was op die braakland waar OuKarel Okkenel en sy seun die vorige November geoes het. Dit was julle eerste Maartmaand saam op Grootmoedersdrift. 1948. Jy het op die graaf getrap, ’n stuk van die kors het losgekom, jy het ’n hand vol grond opgetel, dit gevryf, dit deur jou vingers laat loop. Dis fyn korrels wat effens kleierig word as dit natreën, jy het dit van kleins af geken, geweet hoe dit ruik as dit nat word.
Dit was tienuur in die oggend. Die son het op jou kop gebrand. Jy het Jak met moeite sover gekry om saam met jou te kom. Die vorige dag moes jy onderhandel met OuKarel.
Jy en jou trek kan aanbly op die plaas, Karel, het jy gesê, ek sal jou ’n loon betaal, maar ons gaan nou self saai.
Ai, kleinnooi, het OuKarel gesê. Jy het gesien hoe vol plooie hy was. Hy het sy hoed voor hom staan en frommel.
Ek het gedog my Dawidklong …
Jy het hom in die rede geval. Dawid kan aanbly as hy wil werk, oudste, het jy gesê, maar ek sê die deel op, ons gaan nou professioneel boer hier, julle ploeg verkeerd, die grond spoel weg, ons gaan met skeurploeë op die kontoer begin ploeg.
Jy het die idee van die grondkombers vir hom probeer verduidelik, maar hy het jou net staan en aankyk.
Julle sal julle rantsoen kry soos altyd, end van die maand, het jy gesê. Hy het net geknik, sy hoed weer opgesit.
Jak was die volgende een wat moes leer hoe dinge gaan werk.
Ek wil jou iets gaan wys, het jy gesê.
Dit beter iets groots wees, het hy gesê vanagter sy motortydskrif.
Dit is, het jy gesê. Dit is die begin en die einde van alles.
Jy het ’n graaf en ’n pik en ’n sif in die bakkie gelaai. Jy wou hom leer van grond, maar hy het net staan en kluite skop daar langs jou op die land. Jy het gedink: Hoe moet ek jou beweeg? Moet ek jóú nou eers hier tusssen die stoppels bewerk? Sal dit maak dat jy na my luister?
Dit is wat jy gedink het, maar wat jy gesê het was: Hier moet jy my tog net help dink, my man. Sonder jou kan ek nie hierdie saak aanpak nie.
Moenie dink jy kan my omkoop met vleitaal nie, het Jak gebrom.
Jy het hom op sy mond gesoen. Hy het effens weggetrek. Hy het nie gehou van soen nie.
Kyk, het jy gesê, dis nou die een tipe droëland wat mens hier kry, vlak grond op skalie. Aan die suur kant. Arm aan fosfor.
Jak het sy skouers opgetrek. En?
En dus kalktoevoegings en superfosfaat. En soutlek vir die diere.
Jy het die grondkaart met illustrasies saamgebring. Jy het ’n deeglike studie gemaak, jy het gemeen hy moet op hoogte kom van die sake. Hy wou niks weet van die nuwe publikasies oor landbouontwikkeling vir die distrik nie, wat nog te sê luister na die voorligtingsbeampte. Daar op die land onder die helder Maartse son het jy weer probeer. Jy het digby hom gestaan. Jy het gesorg dat jou heup teen sy kruis druk. Jy het vir hom die foto’s van die afgrawings gewys.
Nege duim diep op die rûens en dan klip, het jy verduidelik, dis maar ’n skraal hulpbron.
Jy het agtergekom hoe swak sy kennis is. Sy kamtige diploma, hy het net gesorg dat hy inskryf, een of twee klasse bygewoon, nooit eers die prakties gedoen nie. Jy moes hom op ’n trekker leer sit. Hy het gegril vir ’n koei se uier.
Mens kry gelerige en rooierige vlak grond op die koppe langs, het jy probeer. Mispah en Glenrosa. Soms raak dit ’n bietjie dieper. Onder aan die hellings in die ongeploegde veld is dit anders, Hutton- en Clovellygronde, mediumdiep rooi en geel gronde wat goed dreineer. Maar hier bo waar mens kan ploeg, spoel dit maklik weg, hier moet ons goeie kontoere en aflope maak.
Jy het liggies teen sy lyf gewieg, die pas aangemaak soos wat jy die inligting doseer het.
Jak het agter jou gestaan. Hy het sy lyf teen jou gedruk.
Hy het oor jou skouer gewys na die weivelde onder na die rivier se kant toe.
So hier is dit droog en daar onder is dit nat, het hy met ’n laggie gesê.
Juis, Jakop, het jy gesê. Jy het gelag vir sy toespeling terwyl jy eintlik geïrriteerd was, jy het agtertoe teen hom gedruk met jou boude.
By die rivier langs is die watertafel hoog in die winter en daar kry jy dat die grond toeslaan en versuip, daar moet ons sugslote grawe.
Regtig?