Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

maak maar het nie nou tyd nie)7 Voorskote (hoë bef rugbande oorkruis vgl. Royal Hotel)7 Wit keppe met rekke (probeer by Good Hope Kafee as Kriel & Kie nie het nie die meide dra dit daar vra Georgie se vrou)Haarnaalde (2 x 24 groot)Onderbroeke (sterk swart wolkatoen skoolafdeling)Skoolskoene (rubbersole)Wit sokkies (dosyn)Flennienagrokke (2)Nylonnagrokke (2)4 bra’s 32A (moet maar ingroei daarin ek sien die tetjies stoot vinnig)Handdoeke & waslappe (gordyne?) kan ek bymekaarsoek uit die onpaarlaai van die linnekas Beddegoed & kussings genoeg. Afvallap! – bel Oog v.d. Naald – moet gou vir haar ’n Sondagrok of twee aanmekaarslaan naaldwerk kan sy al genoeg sy sal maar net eenvoudig moet inspring self & opdons ek sal nie tyd hê niekan regtig nie alles klaar koop nieDr White’s 4 dosyn (Lewenspraatjie! Wat sal die goeie moment tog wees?) – skuif Dr afRek met lusseMum (smeersoort)Lacto Calamine LotionLifebuoy seep x 6Johnsons babapoeier (sal haar moet leer hoe mens toe skoene vars hou!)Pepsodent x 6Swart politoer (& borsel & poetslappe)Drie swart strykystertjies & strykplank (sy moenie soggens die huis s’n gebruik nie moet kraakvars uit die buitekmr kom klaar & reg vir die dag)VimSkoppie & besemOmoWasplankStysel (skryf resep op vir haar: kouwater en gewone)Blousel 2 Blikemmers Sunlightseep (x 4)SinkbadjieNog nie water in die buitekmr elektrisiteit een punt?(Tweeplaatstofie?)BlikketelGroot pot vir waswater warmmaakBekerRooibosteeFriscoPoeiermelkSuiker (blik)(NB vir haar naaldwerkmandjie: ekstra knope vir die uniform & stopwol & stopskulp naalde spelde skêr hekelpen hekeldraad oorskietwol vir nog van die truitjies wat sy dra sy sal hulle nou self moet begin hekel)BybelFAK (ou een)Kook & Geniet?Hulpboek vir boere (Pa se ou kopie, A. moet die beginsels leer ou & nuwe metodes mens weet nooit & dis goeie dissipline) BorduurboekOpsioneel:Blik gemmerkoekiesBlik beskuitMariebeskuitjiesSuurklontjiesPeppermint Humbugs

      Darem ’n ou ietsie om aan te suig & iets om by hr tee te geniet in die aand voor sy gaan slaap. So baie om te doen nog. Skoon naar van daaraan dink. Ek vra vir J. voel hy dan niks oor alles wat nou gebeur nie hy sê nee dis nie nodig dat hy iets voel nie ek het genoeg gevoelens vir twee. Toe ek weer sien het hy vir homself ’n hele boks vol nuwe klere gaan koop. ’n Nuwe geluid op Gdrift sê hy & hy kan darem nie sonder kostuum vir die volgende bedryf verskyn nie. Ek sê gaan lees liewer iets om jou te stig jou snedigheid beïndruk my nie meer nie. Vandat ek swanger is, is hy ten minste versigtiger. Lyk nie asof hy hoegenaamd aan my wil raak nie, wat nog te sê slaan. Maar die taal wat hy besig. Kom gryp netnou die dagboek hier onder my uit. Salig is die maker van lyste skepper van hemel en aarde roep hy. Heil die leser kap ek terug. Wat moet van ons word?

      13 Mei 1960

      Alles werk uit of dit so beskik is. Drie kamers tegelykertyd gemeubileer babakamer & A. se kamer & die wolfendkamer van die linkervleuel vir J. se kantoor. Hy slaap tog nou meestal daar & met die baba sal dit beslis beter wees hy sê dit self.

      Nou skoon moeg na die hele dag se organisasie. Heeltyd bang ek vergeet iets belangriks. Angstig. Wat ’n omwenteling tog! Weet dis reg maar ek hou tog my hart vas oor alles.

      Wieg & waskassie laat insit in babakmr met gat in die blad waarin die badkomme pas & genoeg plek langsaan om die kindjie te versorg. Onder die badjie plek vir doeke & badgoedjies. Enkelbedjie daar ingedra & ’n leunstoel sodat ek daar kan lê as dit nodig is & ’n plek om te sit vir voedings & laaikassie met genoeg laaie sodat ek in een oogopslag my hand op alles kan lê.

      Gordynmateriaal gekoop met halfmane & sterre die vensters maak oop op die agterplaas sodat A. kan help luister in die nag.

      Linoleum op hr skroptafel laat spyker waarop hr ketel kan staan. OuKarel het tussenplanke tussen die bene van die tafel ingesit vir hr sinkbad & hr koffer. Bokant die tafel ’n plank laat vasskroef op ysterarms waarop sy hr koffie & tee & bekers & seep & skoonmaakgoed kan bêre & spyker ingekap vir spieël een hoek gekraak maar heeltemal goed bruikbaar. ’n Koperpyp in die muur tussen die twee halfskotte laat insit waar die rakke van die stoorkamer was om hr uniforms & rokke op te hang (soek ou draadhangers NB) ’n tweepantgordyntjie aan ’n koord geprakseer dat hr goed nie so oop & bloot hoef te hang nie langs die bed ’n krat met ’n lap oor die oopkant vir hr Bybel & hr glas water vir die nag & hr kers amper van die kers vergeet sit by op lys 2 (Binne-in die krat kan sy hr ander leesgoed hou.) Vir Dawid 4 appelkissies op mekaar laat vasspyker & twee lae wit geverf & twee hakies bo ingedraai & daar ook ’n gordyntjie voor gemaak vir hr skoene & skoenpoets onderin & onderklere & hr wol & lappe & hr naaldwerkmandjie.

      Ou geel blompotjie vir bietjie huislikheid met kappertjies in sal dit mooi lyk daar. Mure nog kaal & gloeilamp sonder kap maar sy moet nou ook nie dink dis ’n hotel nie ou badmatjie voor die bed gesit dat sy nie met die opstaanslag so op die koue linoleum hoef te staan nie & ou kombuisgordyne gehang bietjie skraps moes die plooie uitryg maar heel skaflik nog.

      Wat sal sy van dit alles dink? Moet maar net goed genoeg wees. Gelukkig mooi verstandig.

      J. se kantoor nou in stoepkmr. Lessenaar & liasseerkabinet & plaaspapiere wat in die tweede spens was oorgedra & sy oefenapparate uit die slaapkamer dank Vader. Foto’s & bekers & goed wat die hele huis volgehang & gestaan het. Die meid in haar klein hoekie die baas in syn sing J. Herre die man. Hy sal nou ten minste weer die mense in die oë kan kyk sê hy. En in een oogopslag sien wat op die werf aan die gang is. Asof die werf hom een jota kan skeel. Solank hy nou net tevrede is het nie nou nog tyd vir sy nonsens ook nie. Verwag dat Beatrice Kansellap ook die een of ander tyd sal wil kom inspeksie hou. Kort ’n kopwieletjie soos Pa sou sê.

      3

      Die oggendson skyn van agter af deur Agaat se kep. Vol borduurgaatjies is dit, dig omgewerk met blink wit garedraad. Die ligpunte in die inslag flikker soos sy naderkom. Sy huiwer oor my bed, neig haar kop, tas met al twee hande die hoë spits af, raak aan die basis weerskante, of dit goed vasgesteek is, of dit reg sit. As die kep goed op is, sal sy deur die vuur kan loop. Haar kroon van verheerlikte katoen, haar myter, haar konka vol ligstippels, dit maak haar bestand teen die doderyk. Sy raak met opset so daaraan dat daar vir my geen twyfel mag bestaan oor haar voorneme nie. Sy is aangetree, sy is paraat, ek moenie verder sukkel nie, sy sal my regsien hier, sy is die aanvoerder van my moontlikhede.

      Sy gaan hulle vir my opnoem, die opsies wat vir my oorgebly het, sonder om iets oor te slaan. Soos die Gees haar lei, met verwysings na my onvermoë.

      Die lys word al korter.

      Sy hersien dit steeds meer gereeld.

      Snags op haar kampbed in die gang dink sy uit wat sy moet skrap.

      Drie jaar terug se lys was vol interessante variasies.

      Sal ons saam met Dawid lande toe ry?

      Sal jy hou van ’n piekniek in jou rystoel by die dam?

      Moet ek gaan roei met jou op die drif? Grappie.

      Wil jy in jou loopraam op en af op die stoep loop?

      Wil jy skryf met die spalk aan jou hand?

      Wil jy oefeninge doen?

      Wil jy alleen stil sit in die tuin, by die laventelheining, by die rankroos oor die traliewerk, onder die johannesbroodboom?

      Wil jy note lees en hum?

      Wil jy gaan swem in die reservoirdam?

      Sal ek vir jou vla maak met appelkooskonfyt en piesangs?

      Maar dit is alles verby nou.

      Ek maak my oë toe.

      Ek het ’n lewe buite jou lys, wil dit sê. Ek het behoeftes wat jy jou nie kan verbeel nie, al giet jy jou kep in brons.

      Dit maak haar rasend. Dat sy my behoeftes nie volledig kan tegemoetkom nie, dat sy nie alles weet wat ek dink nie, dit frustreer haar verby alle grense.

      Om in my kop te kyk na wat daar speel, is wat sy begeer. Daar is protes in haar stem as sy praat, maar ek weet dis net die boonste laag, dis wat sy kan bekostig om te laat hoor.

      Sal ek die gordyne ’n bietjie toetrek?

      Wil jy na die oggenddiens luister?