Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
Uber allen Gipfeln - sit umlaut op U - Über
1st Ruh’,
In allen Wipfeln
Spürest du
Kaum einen Hauch;
Die Vögelein schweigen im Walde.
Warte nur, balde
Ruhest du auch.
Waarom dink ek nou daaraan? Die ou gediggie uit die hoof geleer by Herr Doktor Blumer toe ek ’n student was?
Dit is nog nie my tyd nie, nog ver van voëltjiedood.
Sy dink sy besit my tyd.
Sy dink dit.
Ek maak my oë wyd oop, vinnig. Ek is nie ’n kákkeling nie! Ek wil ’n kaart sien van my plaas! Hierdie bestek binne chroomrelings, hierdie steriele kamer waar jy my aan die strot beethet, ek is méér as dit! Ek is meer as ’n konyn in ’n hok!
Agaat vat haar hand vinnig weg.
Wat nou? Is daar iets in jou mond wat jou hinder? Laat ek kyk.
Dit is ’n logiese tweede, ’n bekende probleem, kos wat nie gesluk kan kom nie en teen die verhemelte plak. Dit is die dril.
Agaat druk my tong plat met ’n roomysstokkie. Sy kyk in my mond. Ek probeer weer om my k uit te kry, miskien is dit makliker noudat die voorste gedeelte van my tong nie aan my verhemelte kleef nie.
So lank as die lepel in die pappot staan, sê Agaat.
Ek hou my oë wyd oop om haar aandag te hou. Sy kyk. Soos een wat staan in die helder sonlig voor die bek van ’n grot, kyk sy in my in.
Ek knip my oë stadig, reëlmatig, as aanmoediging.
Vind dit, Agaat, vind die woord in my mond, kry die roersel waaruit dit moet ontspruit, vis dit uit as bedoeling, as verlange. Die omtrekke van Grootmoedersdrift, sy bakens, sy hoogtes, sy laagtes. Jy kan my dit nie ontsê nie.
K, probeer ek weer. Agaat se mond gaan oop. Ek knipper vinnig. Nou is jy warm, sê dit, nou is jy op die regte spoor. Sy knipper terug. My hart klop vinniger. Nou is daar verstandhouding. In mekaar se kele kyk is die naam van die speletjie, twee kele op soek na ’n woord.
Goed, goed, Agaat, kyk of jy my kleintongetjie kan sien afsak, dan boots jy dit na, dan klank jy dit vir my, dan sê jy “k”, dan sê jy “kaart”, dan bring jy die kokers daar uit die sideboard, daar waar jy elke oggend nog ’n blou boekie gaan uitgrawe, en dan haal jy die rolle uit en vou dit vir my oop dat ek kan sien waar ek is tussen hemel en aarde, want my bed hier is vir my te klein.
My mond is oop, haar mond is oop. Nog ’n keer probeer. Ek sien jou sagte verhemelte, Agaat, en ek sal sein as jy dit reg beweeg.
Skielik ruik ek Agaat se asem. Na soet rooibostee ruik dit, ’n uur gelede s’n, die enemmelbeker s’n.
Agaat maak haar mond toe. Haar hande druk op myne.
Moet nou nie vir jou staan en opwen onnodig nie, sê sy. Sy staan terug. Behoedsaam.
Kom ons gaan deur ons lysie, sê sy, dan kyk ons wat dit is wat jy wil hê.
*
12 Desember 1947. Die dag voor jou troue, dis toe dit die eerste keer gebeur het. Daarna, die dae daarna, die eerste weke, het jy na musiek geluister om jouself te kalmeer. Jy het jouself vertel Jak was maar net paniekerig oor die trouery, senuagtig oor al die nuwe verantwoordelikhede, bang vir sy skoonma.
En dan het jy nog in sy ore gestaan en neul ook. Dis hoe jy dit vir jouself probeer goedpraat het. Die gedagte om dit vir Beatrice te vertel het jy uit jou kop gedruk. Jou pa was die ander moontlikheid. Hy het die aand voor jou troue by jou kom staan en sy hand op jou skouer gesit. Ek maak my sorge oor jou, my kind, het hy gesê, is iets verkeerd? Jy het in sy gesig gekyk, gegroef en uitgeteer van sy siekte. Wat sou gebeur as jy hom sou vertel? Hy sou werk maak daarvan, dadelik. Hy sou Jak reguit ’n paar dinge meedeel. En jy kon dit nie bekostig om Jak te verloor nie.
Jy wou so graag die huis heeltemal reg hê voor die groot dag, want die resepsie sou op Grootmoedersdrift wees. Die tuin was ’n ander saak. Dit was deurmekaar en toegegroei. Daar het jy groot drome voor gehad, maar dit sou moes wag. Daar was belangriker dinge. En jy was in elk geval sentimenteel oor die ouderwetse plante wat daarin gegroei het. Jy sou hulle altyd daar wou hê. Die Maartlelies en die purperwinde en die kappertjies om die voet van die watertenk, die woeste jasmynheining wat in die ou koejawelbome opgerank was en die blackeyed Susan, die ouderwetse pers bougainvillea wat die systoep oorwoeker het, die vilette en die geurige rooi kleinkop-angeliere, die soetemaling. As jy mooi gekyk het, was dit reeds die paradys.
Pa se trougeskenk aan julle was ruim, ’n splinternuwe rietdak vir die ou opstal, gedek deur die voorste dekkers van Suurbraak, en ’n nuwe vloer op ’n ruim ondervloerse met ordentlike luggate in die fondamente ingebreek. Vir die sitkamer het Pa op sy laaste bene nog geelhoutplanke in die hande gekry van ’n ou huis wat hulle aan die restoureer was op Swellendam. Die ouderwetse smal gekwaste dennehoutplankies het hy oor die jare bymekaargemaak sodat daar genoeg was toe die vloere gelê moes word in die res van die huis. Ma het ’n hele span Maleiers uit die Hermityk gekry om die werk te doen. Dit was in hulle bloed, het sy gesê, messelwerk en skrynwerk. ’n Stuk van die stoeptrap wat verbrokkel het, het hulle netjies opgebou en luggate in die wolfendgewels aangebring sodat die nuwe dak goed sou lug. Die twee duifies onder die oorhang van elke gewel, die geheime versierinkie waarvoor jy van kleins af so lief was, is bygewerk, sodat as die namiddaglig skuins genoeg was, mens hulle daar kon sien, die koppies na mekaar, koerend in wit gipssement. Die voordeur het hulle afgeskuur en groen geverf, en ’n ou koperdeurknop en -klopper met ’n rooikatkop aangebring wat nog in Ma se erftrommel was. Hulle het al die rommel uit die kelders gedra en die ruimtes dieper uitgewerk vir stoorplek. Van opslag kon mens nooit genoeg hê op ’n plaas nie, het Ma gesê. En Jak sal tog seker sy wyn êrens wil bêre. Sy het self kom toesig hou by die werk aan die kelders en die goed gesorteer vir wegmaak en stoor in die pakkamers agter die huis. Daar was baie ou meubels wat jy met die tyd wou laat regmaak, sy het die waardevolste stukke vir jou uitgewys en etikette aan die pote vasgemaak. Die boeke wou sy en Jak almal wegmaak, maar jy het gekeer. Moenie dink oordat Pa siek is julle kan maak met sy goed wat julle wil nie, het jy gesê. Baie van die ou boeke was mooi gebind in leerkafte; ensiklopedieë en naslaanwerke oor insekte en dieregedrag en gesteentes; ook nog gedateerde populêr-wetenskaplike werke wat aan jou pa behoort het. Hulle sal mooi lyk in die sitkamer se rakke, het jy gesê en mens weet nooit wanneer jy inligting nodig het oor onwaarskynlike sake nie. Jy het hulle langs die digbundels, die romans en dramas wat jy op universiteit gelees het, langs Wuthering Heights en Northanger Abbey en Belydenis in die skemering en Die kersieboord en Die heks van Leipoldt en Kringloop van die winde en Die siel van die mier in die rakke gepak. Die ou naslaanwerke waarmee jy grootgeword het, jy sou ook hulle bestudeer en joune maak. Jou pa het vir jou daaruit lesgegee toe jy klein was, oor die aardvlooi Collembolla met sy springveer onder sy stert wat ’n lusernlandjie oornag kon verwoes. Dit was deel van jou boerderytoerusting, het jy gesê terwyl jy stapels van die ou volumes na binne gedra het.
Verder het jy binne en buite laat verf en al die houtwerk laat afskuur en vernis. Jy het ’n paar gekraakte glasruitjies laat vervang en matte en spreie en gordyne op hulle plek gekry. Al die belangrikste was gedoen voor die troudatum. Jou nes was geveer.
Dit was meer as goed genoeg vir ’n begin, maar jy het ’n ertjie gehad. Jy het aan Jak gesit om jou op die laaste minuut nog te help om die kombuiskassies te verf.
Dit lyk sleg, het jy gesê, wat sal die ander vrouens van jou dink met sulke kombuiskassies? Dit lyk vuil. Wat sal jou ma van julle dink dat julle nie self ’n bietjie julle arms uit julle moue kon steek nie? Dis wat hy nie kon vat nie. Dat jy hom dreig met ander se opinies. Nie wat jy van hom gedink het nie, maar hoe ander hom sou oordeel.