Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
Sal eerlik nie kan klaarkom sonder ’n goeie oppasster nie. A. kan goed lees en skryf & kook kan hr 100% vertrou baie pligsgetrou baie konsensieus behoort regtig nie te veel van ’n probleem te wees nie & sy sal nog mooi ontwikkel vorentoe.
Oorweeg salaris, spaarrekening poskantoor. Moet J. nog daarvan oortuig hy sê sy kry kos & klere & onderdak van begin tot einde dis beter as lewensversekering by Sanlam. Voorlopig is hy tevrede met sy nuwe stoepkantoor.
Moet die hele tyd ’n gesig opsit. Voel naar. Flou. Sien swart & moet gaan sit. Alles wat so vinnig verander. Moet net besig bly & aan niks dink nie. Of musiek luister. Bach. Bach help altyd. Moet wag tot J. uit is anders hoor ek weer sit af die konsistorienaaimasjien.
2
Halfnege op die wekker. Ontbyt. Stiptelik op tyd. Aan haar voetval kan ek hoor ek het weer iets ontketen hier. Tsjie, tsjie, tsjie, maak haar sole op die vloer soos sy in die gang afkom, ekstra nadruk in die hakke. Liggeraak as ek iets buite die normale roetine verlang. Beter om dan nie in haar oë te kyk nie. Ek hou my blik op die wit papier waarop my hand lê in sy spalk.
Sy sit die skinkbord op die spieëltafel neer. Sy tel die pen op wat uit my hand geval het. Sy steun met die regopkom.
Ai, ai, sê sy, ai ai ai, watse bogtery is dit nou tog weer?
Sy trek die klapbord onder my hand uit, draai dit onderstebo, kyk daarna en draai dit weer terug na my. Sy hou die papier met die bewerige strepie na my toe uit en tik daarop met die agterkant van die pen.
L, klank sy, l, dat ek haar tong kan sien voor in haar mond.
L staan vir lê, sê sy. Ek weet jy lê.
Sy verstel drie van die bed se rugpanele sodat ek effens kantel, ’n bietjie skuinser, my kop hoër, maar nog steeds op my rug. So kan ek die beste asemhaal.
Daar lê die ding, singpraat Agaat deur haar tande op die inasem, daar lê die ding, terwyl sy die penne instoot en die skroewe weer vasdraai.
’n Verandering, sê sy, is so goed soos ’n vakansie. Lê jy nou beter, Ounooi?
Ek knip my oë een keer baie stadig. Dit beteken ek lê nou beter, dankie, maar jy mis die punt, gebruik jou verstand, sê vir my al die letters wat ’n afstrepie bevat, sê hulle: p, h, f, m, n, l, t, i, j, k.
Ons telepatie werk nie vandag nie. Ek knip my oë nog ’n keer, effens vinniger. Dit beteken, los my dan maar uit, vat dit weg.
Sy trek die spalk van my hand af. Sy hoef dit nie los te maak nie, dit is wyd, die hele mou en hand, na die armskut van ’n valkenier lyk dit. As my woord maar daarop wou kom sit, mak en gehoorsaam, as ek dit ’n kap met klokkies oor die kop kon trek. Klein rooi valk met stippe op die bors, met die gekurfde vlerkpunte, wat sweef oor die land, wat hang in die lugstrome, kantelend tussen die horisonne, Potberg in die suide en Twaalfuurkop in die noorde, hier op my handrug, ’n getuie.
Dit sal tyd vat om duidelik te maak dat die afstrepie die begin van ’n k is en dat k staan vir kaart, dat ek die kaarte van Grootmoedersdrift wil sien, die kaarte van die streek, van my plek. Vaste punte, waaragtige plekke, die ligging van my grond tussen die Korenlandrivier en die Buffeljagsrivier, ’n laaste oorsig in voëlvlug, op stippellyne, op die asse tussen die lengte- en breedtegrade. Opgeteken en gewaarmerk wil ek die afstande sien, tussen die grootpad en die voetheuwels, vanaf die stalle tot by die ouboord, my oog wil ek heg aan die blou aartjie met die rooi hakie wat die drif, die brug oor die drif aandui, die pyltjie waar die drif se water ontspring, die vertakking in die rivier. ’n Plattegrond van die werfuitleg, die planne van die buitegeboue, die mure, die dakkappe, die val van die geute, die syfers en woorde in drukskrif. Ek sal langs ’n grensdraad afstap en die klein karkassies tel wat die laksman opgehang het, ek sal ’n eiland vind in die rivier, toegegroei van wilde braambosse, ek sal onder die balke van ’n solder deurkoes en my sit kry op ’n goiingsak en my verkneukel daarin dat niemand weet waar ek is nie. Plekke om my aan vas te klamp, ’n ruimte buite hierdie binnekamerse sisteme van vergelding, iets om my verbeelding, my herinneringe, op te ent, ’n snit, ’n inkerwing, ’n okulering wat weglei van hierdie steriele oppervlaktes.
Agaat skuif die brug nader oor die bed en sit die skinkbord daarop neer.
Sy sit die nekstut aan.
Kopklem, sê sy, anders swaai die ou bees.
Sy vat die bordjie pap in die goeie hand, die teelepel in die vingerpuntjies van die ander hand wat uitsteek by haar mou. Sy skep die pap om dit koeler te maak, sy blaas daarop.
Wat ingaan ontheilig nie, sê sy.
Sy kom met die eerste teelepel, hou dit naby, wag tot sy die ritme van my asemhaling kan sien en sit dit tussen die in- en die uitasem in my mond. Ek hou die klein bietjie lou pap op my tong tot ek dit kan sluk. Ek kan voel dat dit nie meer lank is voordat ek die sluktoestel sal moet begin gebruik nie.
Maar ek stel uit. Dit is ’n waagstuk, glo. Wat kan ek verloor? Hierdie dwangvoeding? Hierdie geforseerde lewe? Hierdie drukgang na die einde toe?
En dan, as ek die slukpypie nie meer kan hou nie, sê Leroux, sal hy ’n trageotomie doen as ek wil en ’n voedingsbuis onderkant my sluk insit. Die volgende stap is die ventilator plus ’n ander pyp in my maag. Daarmee sal ek dan in die hospitaal op die dorp moet gaan lê.
Maar ek wil nie. Ek wil hier bly, by Agaat, hier op my plek wat ek ken. Ek het geteken. Sy het geteken. Niemand kan ons dwing nie. Dis ons twee wat aan mekaar gewaag is.
Ek voel die pap weerskant teen my tong afsypel voor ek reg is daarvoor. Ek sluit my oë en stel my voor die sluis in die leisloot, die water wat opdam, ’n hand wat die sluitpen uittrek en die plaat optrek in sy gleuwe, die water laat deurloop, en weer laat sak, sodat dit digstamp onder in die spoor van die sluiskosyn. So probeer ek my sluk aktiveer.
Elke keer ’n waagstuk, ’n verswakte refleks van verbeelding voorsien.
Dis hoe Leroux dit aan ons gestel het. Elke sluk ’n sprong in die duister.
Hieroor sou daar volgens hom by ons geen misverstand moes wees nie.
Misverstand.
Hy weet nie wat hy sê nie, die man.
Ek sluk nog ’n keer.
Daar’s hy, sê Agaat, wie nie waag nie wen nie. Konsentreer, Ounooi, hier kom nog een. Drie maal is skeepsreg.
Die derde sluk put my uit. Ek maak my oë toe, bietjies-bietjies kry ek dit deurgesluk. As ek dit uiteindelik inhet, maak ek my oë oop, ek maak my mond oop en ek probeer k sê. Ek weet goed hoe dit moet. Ek moet die voorste gedeelte van my sagte verhemelte vinnig ondertoe laat sak, teen die agterste plat afdraande van my tong, daar waar die lou pap so pas langs afgeloop het. ’n Kort vinnige sluitslag moet dit wees met asem daaragter. ’n Sagte stemlose plofgeluid, ’n tik so kort soos ’n sekonde. Die klik van ’n deur in sy knip. K vir kaart.
Agaat is vinnig by.
Verstik jy, Ounooi? Wag, wag ek help jou. Rustig maar. Nou net ’n klein asempie en dan sluk en dan uitblaas. Sluk, Ounooi, sluk, ek sal vryf, kom nou, sluk ’n slaggie.
Ek voel haar vingerpunte op my keel. Liggies masseer sy, soos Leroux haar dit voorgedoen het, net beter, omdat sy al ontelbaar veel klein sterwende diertjies in haar lewe gevoer het.
Voëltjies. Niemand wat hulle kon grootmaak soos Agaat nie. Met brood, met rou koringdeeg uit haar mond, gekou met haar spoeg. Van duif tot lammervanger. Almal deurgehaal het sy. Altyd. En laat vlieg uiteindelik. Uit die hand, die wye lugte in. Soms het die aanhankliker soorte bly terugkom vir ’n rukkie. Sy sou gevlei wees, sou die eerste paar dae nog kos uitsit, elke oggend minder, om hulle af te leer. Later het sy hulle verjaag by die enemmelborde wat sy nie meer vol brood en saad gemaak het nie.
Vlieg! Word wild weer! Sorg vir julleself nou! het sy geroep en haar arms in die lug gegooi, die kragtige linker wat streng wegjaag, die dun fladderarmpie agterna.
Vat die