Название | Agaat |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068761 |
Mens dons nie sommer in ’n ding in nie, jy bekyk dit van alle kante en dan neem jy ’n ingeligte besluit en maak ’n behoorlike plan in duidelike fases, altyd op maat van die seisoene. En dan rond jy die fases een vir een af terwyl jy die hele tyd ’n oog op die geheel hou, die ritmes, die bewegings, net soos vir die inoefen van ’n stuk musiek.
So behou jy beheer, so voorkom jy lastige oponthoude in ’n later stadium.
Dit is die een beginsel van ’n ordentlike boer, veral vir ’n gemengde boerdery. So kry jy resultate. So bou jy jou eiendom op. Met ingeboude belonings op die lang en die kort termyn sodat jy moed kan hê om aan te gaan. Vastrapplek.
Maar my aanloop hier is nie myne nie. Hy is vir my uitgestippel op die oppervlaktes van die kamer soos Agaat dit ingerig het. Niks is aan die toeval oorgelaat nie. Die dood is haar doel. Sy het dit uitstekend voorberei. Self sou ek dit nie beter kon doen nie.
Eers het sy die kamer leeggemaak.
Alles oorbodigs het sy uitgedra. Kelder toe. Ek het gehoor hoe stamp en skuif sy, hier reg onder my bed, om plek te maak vir die goed. Die sitbank en voetstoele, die doilies en lappies op die spieëltafel, die ornamente en muurbehangsels. Die klerestaander, die hoedestaander, die kieriestaander, die loopraam, die rystoel, die sneeu van voorverlede jaar, die bossies gedroogde sewejaartjies.
Sodat sy vinnig kan beweeg en maklik kan skoonmaak, het sy gesê.
Want daar mag nie stof of hindernis wees nie. Dit sal die bes versorgde sterfte wees in die geskiedenis, jy sal sien, het haar oë gesê. Haar mond was op ’n streep.
Die mat is uitgehaal, die hangkaste met my jasse en rokke, die laaikaste met my truie en bloeses.
Dis ek wat dit begin het. Ek het die idee van die groot opruim in haar kop geplant.
Net die boekrak uit Jakkie se kamer het sy hier ekstra ingedra om die leesstof in te hou. Sy het al die boeke daarin uitgekies. En die televisie het sy uit die woonkamer ingebring en later weer weggevat omdat die inhoud my kwansuis sou ontstel.
Miskien is dit sy wat ontsteld was.
Daar gaan klaar te veel goed aan in hierdie kamer, het sy gesê, dat ons nog moet plek maak vir Die Nuwe Suid-Afrika en Noot vir Noot ook.
Nou stoot sy dit net in as sy dink ek wil na ’n video kyk. Maar ek wil nie meer Agaat se keuses sien nie. Ben Hur, Mary Poppins, My Fair Lady, A Day in the Life of Joe Egg.
Die radio mag gebly het. Vir die ledige uurtjies, het sy gesê. Die oggenddiens. Juig al wat leef. U eie keuse. Voortdurende beweging. In hierdie heilige tempel. Amper tyd vir Kersliedere. Hulle begin mos elke jaar vroeër. Dan sal Agaat weer hoog en laag hier met haar deskante en haar tweedestemme deur die huis loop en sing.
Jy hou mos van jou musiek, Ounooi.
Sy skakel die radio aan en af. Sy kies die stasie. Sy kies die melodie. Soms druk sy ’n bandjie in die gleuf. Nie altyd wat ek wil hoor nie. Indianegekrys van Jakkie as sy my wil irriteer.
Dat sy die driepaneelspieëltafel gelos het, is ’n wonder. Hy staan daar soos ’n museumstuk, sy donker hout opvallend teen al die ander strak voorwerpe in wit en chroom. Ek kan myself in sy middelste paneel sien, die een wat later ingesit is en blouer weerkaats as die ander twee. Sy het die spieëltafel presies so gedraai vir my.
Dat jy jouself geselskap kan hou as ek nie hier is nie, het sy gesê.
Die laaie is leeg nou. Maar dit was nie ek nie. Ek het nie die hart gehad om dit op te ruim nie. Die sweem van Chanel no.5 en lipstiffies wat in hulle gehang het, het seker lankal verslaan. Soms verlang ek na parfuum. Sou sy dit alles vir die meide gegee het?
Dis die laaste keer, het Agaat gesê, op die oggend van my verjaarsdag, geniet dit nou maar. ’n Vrou moet mos mooi lyk op haar verjaarsdag.
Sy het die datum afgemerk op die kalender. 11 Maart 1996. Sewentig jaar oud.
Toe het sy my opgemaak vir die gaste. Ek kon sien hoe skrik hulle toe hulle hier inkom.
Sy het nooit gehou daarvan om my te grimeer nie. Dit moes sy al heel vroeg doen, toe net my hande nog lam was, toe ons nog saam dorp toe gegaan het.
Maar verjaarsdae werk mos altyd op haar naarheid.
Toe lyk ek soos ’n bloukopkoggelman, wit kol tussen my oë, die een wat ek altyd daar kry vandat sy my grimeer, om my te waarsku teen afloer, om my te herinner aan wat ek nie moes gesien het daar met my kop teen die buitekamer se gekalkte vensterbank nie. Maskara. Blazing Bat op my kwylende mond. Ses soorte parfuum aan my nekstut gesmeer en die poeierkwas wat wolke maak om my kop. Byna verstik ek die dag in die poeier. Toe het sy ’n verskoning. Toe dop sy die spieëltafel se laaie uit in swart plastieksakke.
Kamtig haar adviese van Leroux gevat, maar sy was hom altyd een voor.
Daar mag niks wees wat die neus irriteer nie, het hy kwansuis vir haar gesê.
Ons het reeds daaraan gedink, het sy gesê. Geen honde, geen plante, geen stowwerige skoene of vuil goed kom ooit hier in nie. En van nou af aan geen gesigpoeier, geen parfuum, geen onderarmspuitkannetjies wat haar kan laat nies of proes nie.
Sy moes haarself stop. Dit was een van daardie dae.
Nou moet sy maar blink en stink, was op haar lippe om te sê. Maar Mum en kalamyn sou dit word.
Hou goed boek van alles, het Leroux gesê, en Agaat het hom beduie na die plaaskalender waarop sy lankal alles begin aanteken het in die oop kolomme. Met haar hande voor haar vasgehou het sy geluister hoe hy haar lys aflees. Urine, ontlasting, slaap, eet, hoofpyne, slym, temperatuur, asemhaling, gemoedstoestand, slukkrag, medisyne, oefening.
Sy sal my in soveel kategorieë wil beoordeel as wat sy kan uitdink, dis vir seker. Sfinkterdruk, smeltpunt, skaarsuiging, saaidigtheid, roesbestandheid, hewelhoogte, stertwind, afloopval, kartelindeks, omgekeerde eweredigheid, Sphaeropsis malorum, skimmel van die klokkehuis.
Ek kan sien jy is ’n baie goeie verpleegster, Agaat, het Leroux gesê nadat hy die kalender bestudeer het. Uitstekende rekords. Doe so voort.
En sy het. Onstuitbaar was sy. Sy het die binnedeur van my kamer afgeskroef want my nuwe bed kon nie daar in nie.
Moenie dom wees nie, wou ek sê, bring dit stoeplangs by die swaaideur in. Maar toe kon ek al nie meer goed praat nie.
Miskien is dit beter so. Nou kan ek alles hoor wat aangaan in die huis. Ek kan Agaat hoor aankom. Ek kan hoor hoe klink haar voetstappe. Ek kan my instel.
My slaapkamer se deur is die laaste deur wat sy afgeskroef het. Die ander deure in die huis het een vir een verdwyn.
Sodat Ounooi niks deurknoppe hoef te draai nie, sodat Ounooi met haar kieries en haar loopraam en haar rystoel maklik kan in en uit, het sy gesê.
Maar dit was net die een helfte van die rede. Die ander helfte is haar eie probleem. Agaat hou nie van toe deure nie. En sy hou nie van deurmekaar oppervlaktes nie.
Sy het ’n melamienblad op bokkies ingedra en daarop lê in rye en hopies gestapel teen die muur alles wat ons nodig het. Pakke deppers, nekstutte vir elke geleentheid, sneldrooglakens, matrasbeskermers, skoon hospitaaljurke, bedpanne. Onder die bokkietafel staan drie enemmel-emmers met deksels.
Daar is ’n drievlakvlekvrye hospitaaltrollie met waskom en skoon lappe en handdoeke en ontsmettingsmiddel en medisinale seep.
En ’n kleiner trollie van harde plastiek met uithaalbare mandjies met my medisynes en pille in botteltjies en dosies. Skoon water in ’n kraf. Sponsies, wattetjies, oorpluisies, salf vir my lippe wat droog word, papierhanddoeke vir ongelukke, sneesdoekies vir kwyl, vir trane. Alles raak gou deurmekaar in die trollie. Agaat pak hom elke dag reg, sorg dat al die botteltjies en buisies styf toegemaak is.
En dan is daar die brug, ’n breë plat skouer op een staalbeen wat oor my bed pas waarop my bakkies kos en my tuitbekers vol dikgemaakte