Название | Triomf |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780795801150 |
So why rhyme? vra hy vir Treppie, as dit dan so ’n moeite is?
En dan het Treppie nie ’n antwoord nie. Partykeer trek hy sy skouers op en hy sê dit hou hom aan die gang, ander kere wienk by daai dywelse wienk van hom en dan sê hy dis ’n family secret.
Nog ’n hotrod kom verby. ’n Bloue met ’n gat wat te hoog sit en harde musiek. Lambert voel hoe tril die bass van die discobeat laag onder in sy lyf. Hy loop hoeka al heeldag met ’n horing van kyk na die Scope se girl op die pin-up in die middel. So ’n blonde met groot kanne wat sy uitstoot. Deesdae sonder eers sterretjies op die nipples. Raai, hy’t nogal gelike van die sterretjies. Nipplecaps. Hy burp. Dit brand in sy keel. Sooibrand. Van polonie en witbrood. Hy wens sy ma wil ’n slag iets kook, lat hy ordentlik kan eet. Aartappels en vleis en soetpampoen. Maar sy het sleg geword. Vrótsleg. Kyk hoe lyk daai kombuis van haar. Hy’t al eendag al die prentjies van die kombuise uit die Homemaker wat hulle hier in sy posbus kom stop, op die fridge se deur vasgeplak met sticky tape. Pop het dit afgehaal voor sy dit kon raaksien.
Lambert kyk vir die maan. Hy’s ’n ent hoër al, liggeel. Daai fokken maan werk op sy tiete. En hoor net hoe gaan die ambulanse en die Flying Squad te kere, sirenes net waar jy hoor, verder en naby tussen die gedruis van die Saterdagaandse traffic.
Langsaan speel Cat Stevens. Hulle speel dit al die hele aand. “Oh it’s a Saturday night and I ain’t got nobody.” Kliphard. Dink hulle is al mense in die straat. Dink Marthastraat behoort aan hulle.
Nou net het hy van agter af deur die huis gestap en gesien hoe sit sy mense. Lyk nie of hulle gepla is nie. Sy ma is in die agterkamer. Sy brei Gerty se penspant. Treppie is in sy kamer met die Saturday Star se classifieds. Wat Treppie alewig in die smalls soek, weet hy nie. Pop sit in die sitkamer, aan die slaap in sy stoel voor die televisie wat hard aan is.
Hy voel gedruk. Van fokken onder en van fokken bo. Weer terug by die voordeur in. Hy loer by Treppie om die deur.
“So, what’s new?” vra hy en steek ’n cigarette op. Miskien het Treppie ’n storie. Of ’n plan.
“So, wat sê daai Jodekoerant vanaand?” probeer hy weer.
Treppie kyk op, hy kyk hom vol in sy mik. Hier kom kak.
“Kyk hoe lyk jy al weer, sies, gôt! Gaan trek jou draad lat jy kan rus kry!” sê Treppie met sy oë op skrefies.
“Jou moer, man!” sê hy. Wat anders kan hy sê? Hy wens hy’t iets anders om te sê. Iets wat Treppie in sy hele fokken lewe nog nooit gehoor het nie. Wat hom sal laat regop sit en cool wees op ’n Saterdagaand. Hier wat fokken rym! Hoe kan hy nou help as hy ’n horing skiet? Hy burp. Fokken hel! Waarnatoe?
Hy kyk by die sitkamer in en sien vir Pop wat sit en slaap. Daar hang ’n druppel aan sy neus en daar kom kwyl uit sy mond uit. Dit drup van sy ken af tot op sy bors. Toby lê onder die TV. Hy wikkel sy ore en wenkbroue vir Lambert. Pop roer in sy slaap.
Hy sit nog so, dan vrek hy, dink Lambert. Nee, hy wil nie dit dink nie. Fok dit. “Kliks-kliks” met kaal voete stap hy oor die blokkies agtertoe na sy ma toe, agterkamer toe. Dis ’n ander plek. Hy weet wanneer hy daar kan ingaan. Nou is nie eintlik die tyd nie. Dis sy ma se kamer. Sy ma en sy pa s’n, maar meer sy ma s’n. Hy steek sy kop om die deur.
“Amper klaar?” vra hy. “La’k sien?”
Sy ma ignoreer hom. Soos die heeltyd nog ná die laaste keer. Dit was rof. Hy kon voel hoe goeters padgee. As sy hom soek, sal sy hom kry. Maar nou soek hy gesels.
“Het sy al aangepas?” vra hy. Sy kyk nie op nie. Hy gee ’n tree die kamer in.
“Gerty,” sê hy vir die hond wat styf langs sy ma op die matras sit, “Gerty, het jy al jou nuwe trui aangepas, hè, oubaas se honne?”
Sy ma versit effens. Dit beteken hy moet nou net nie begin neuk nie. Dis rus en vrede vanaand. Lambert trek diep aan sy cigarette. Dis meer as neuk wat hy in sy lyf het.
“Wat sê die ou honne van haar ounooi, hè? Ok maar sonder spraak, nè? Ok maar fokken ongesellig so op die Saterdagaand, of wat praat ek alles!”
Mol laat sak haar breiwerk in haar skoot en kyk vir Lambert.
“En?” vra Lambert. Sy sê niks. Tel net weer haar breiwerk op en gaan aan.
Hy gee nog ’n tree nader. Sy versit weer. Hy hurk by die bed en vryf vir Gerty oor die kop. Gerty kyk op na Mol en maak ’n klein tjankgeluidjie.
“Wat sê jou ou vrotpoes van ’n ounooi vanaand, hè? Wat sê sy vir jou met haar ou poesgevreet sonder tande, hè?” Hy fluister baie saggies vir Gerty. Hy krap haar tussen die ore.
Mol staan skielik vinnig op en loop oor die matras uit by die deur met Gerty agterna. Hy bly net daar op sy hurke sit. Hy hoor hoe sy in die sitkamer gaan sit en hoe Pop wakker word en vra: “Wat nou? Wassit, Mol?” Floutjies vra hy dit, met slym in sy keel.
Hy hoor hoe sy stilbly, en dan sê sy: “Lambert.” Net “Lambert”. Dis al. Haar moer ok.
Hy krap sy kop met altwee hande en dan sy gat. Sy gat jeuk. Alles aan hom fokken jeuk. Hy staan op. Hy’s meer as net “Lambert”. Dis vir fokken seker. Hy loop by die deur van die gang uit na sy den toe. Daar sien hy sy bed voor hom. Die ding se bene staan skeef. Die matras lê skuins oor die bed, sy binnegoed peul eenkant uit. Hy’s voos gelê. Hy wat Lambert is, het nie eers ’n ordentlike béd om op te slaap nie. Fók dit. Hy gryp die matras en moer dit met Scope en kussings en komberse en al bo-oor die lawn-mower teen die oop Tedelex vas solat die leë Coke-bottel wat bo-op gestaan het, afbliksem en stukkend val op die vloer. Fok dit ok. Met sy plathand slaan hy ’n hou teen die staalkabinet. Hy kan ok ’n fokken geraas maak as hy wil! Die hele aand al moet hy luister na ánder mense se geraas. “Oh it’s a Saturday night and I ain’t got nobody” oor en fokken oor in sy ore. Nee, gôt! Hy skop ’n leë Coke-krat met sy kaal voet lat hy trek. Die krat rol teen die muur waar die scrapyster staan. ’n Lang stuk pyp kom los en kantel stadig skuins oor die kamer en skuur teen sy painting verby voor dit op die grond val. Daar kom silwer paint van sy mermaid se stert af. Hierie Saterdagaand wil nie wérk nie. Hierie Saterdagaand is ’n fókóp.
Hy loop by die den se buitedeur uit. Lat hy kan sien wat maak die bliksems langsaan. Hy staan in die lang gras aan hulle kant en loer oor die prefabmuur in langsaan se agterjaart in. Die maan sit nou hoog en dit skyn witblou om hom. Langsaan is die lug geel en rooi van die paartiebulbs wat aan ’n draad aan die geut en in die lukwartboom hang. Hulle fokken braai al weer. Hulle fokken vleis.
Dis tjops. Nee, dis nie tjops nie, dis T-bone steaks. Hy tel agt. Hulle lê die hele rooster vol. Op ’n halwe drom met pote. En dan is daar nóg ’n rooster. Ok op ’n halwe drom met pote. Vol wors opgedraai in kringe. Dit sis en drup oor die kole lat die vlamme kort-kort uitskiet en doodgegooi moet word.
Hy kan nie sien wie gooi die vuur dood nie. Hy sien net ’n harige hangpens en ’n hand wat dit doen. Want hy loer óór die prefabmuur en dan óór langsaan se smouskarre. Langsaan is mos almal smouse wat smous met ice cream en hotdogs en hamburgers. Onderdeur die rand van die tentseil wat oor die karre gespan is, loer hy. Hy sien net ’n strip geel lig met braaivleis en middellywe. Af en toe sak ’n hand met ’n blik bier af en hang langs ’n lyf. Daar is sewe lywe wat hy kan sien. Dis manslywe en vroumenslywe, vettes en maeres. Twee vrouens het bikini’s aan, ’n pienke en ’n bloue. Nie te sleg nie, al lyk hulle nie so glad en bruin soos die girls van Tuxedo Tyres nie. Hieries is vol dimples op hulle bobene agter. Pienkbikini staan hand om die lyf met ’n ou met blou jeans aan. Die jeans is styf en staan met ’n knop voor. Bloubikini staan hand om die lyf met Speedo. Dis ’n swart Speedo wat nog groter knopstaan, sommer so ’n skuins knop diékant toe. Speedo het ’n paar moerse bobene en ’n bodybuilder-maag. Hangpens braai die vleis. Daar’s hare op die pens wat grys is. Dit het ’n handdoek omgedraai wat wil afval. Dan is daar nog ’n pens, ’n bietjie kleiner een in kakieshorts. ’n Dunnetjie met deurskyn-maermerries