Triomf. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Triomf
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780795801150



Скачать книгу

Pop se stoel. Was weer Treppie wat geneuk het. Oor goed wat hy nie mag sien nie en goed wat hy nie mag weet nie in die boonste laai. En sy ma se biblioteekboeke van Newlands se biblioteek. En langsaan sit die porseleinkat sonder kop. Sy ma het een geel plasticroos uit die bos op haar dressing table gaan haal en in die kat se hol nek gesteek.

      “So, dis ’n bietjie beter,” het sy gesê. Dit was ’n jaar gelede.

      Sy pa mag oud wees, maar sy ma is oor die wal. Heeltemal. Haar bene hang wyd oop onder haar housecoat. In-uit, in-uit maak sy met haar valstand. Sy sit met Gerty op haar skoot. Gerty se bek hang oop. Bokant hulle koppe hang die ingekleurde foto van haar en Pop en Treppie. Sy hou ’n bos rose vas. Geel opgetouchde rose. Hulle smile al drie lat jy net tande sien. Sy was ’n roosverkoopster op haar dag, toe sy opgehou het by die klerefabriek. By restaurante en bioskope het sy verkoop.

      “Beter dae,” sê sy elke keer as sy die portret regskuif ná ’n trilling.

      Nou sluk-sluk sy aanmekaar en haar keelvelle lyk los. Sy kyk vir die stukke gordyn wat afhang.

      Treppie sit skielik vooroor op sy bierkrat en begin sy naels skoonmaak met sy knipmes. “Grr-grr,” hoor ’n mens hoe skraap die mes onder die nael. Treppie is blou van die baard en hy lyk lewendig soos ’n oop draad. Sy skouer ruk. Lambert weet nie of dit hy self is of Treppie wat die Klipdriftdampe afgee nie. Dis van gisteraand. Toe die gordyne losgekom het. Toe Treppie weer begin sukkel het oor sy verjaarsdag. Hulle moenie met hom sukkel nie. Daar kom ’n geneuk van.

      Die ander Getuie is ’n man. Hy skraap sy keel. Maak hom reg om oor te vat met die lees. Sy wange lyk geskaaf. Sy hare is geolie. Hy is glad soos Elvis. Sy pak is bruin met ’n vaalblou skynsel. Hy ruik na motbolle en peppermints en skeerseep.

      Lambert voel naar op sy maag van die ruik. Dis ’n arige gevoel so met die styfte en die hitte saam. Hy probeer by die venster uitsien skuins verby die afdak waar die Volla staan; hy wil sien of sy posbus wat hy gister op die hekpaal vasgesweis het nog sit. Maar hy sien net die molshope op die lawn. Die twee Getuies se koppe is in die pad. Die punte van die sonfiltergordyne hang agter hulle koppe en skouers af. Van voor af lyk dit of daar vaal, slap, gaterige vlerke uit hulle uit groei. Groei en groei soos stowwerige lappe wat bly uitryg en opstyg op die warm lug. Op, uit die binneste van hulle binnestes uit.

      Pienkrok kyk vir Elvis. Sy lees haar laaste sin.

      “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

      Lambert vat sy knieë voor vas en trek sy boude bymekaar. Lat hy nou net mooi hou, mooi in die middel, lat hy net dink aan sy posbus wat hy self gemaak het. Van die plate wat Pop vir hom gaan haal het by Roodepoort Steel se scrap-yard. Dit was ná hulle bankrot gespeel het met die yskaste. Ná Guy Fawkes. Die dag voor Guy Fawkes. Toe’t Pop die plate gaan haal, want sy ma het gesê: “Pop, jy moet vir Lambert besig hou, hy maak vir my klaar.” Hy was toe al twee jaar uit die skool uit. Agtien.

      En in elk geval lyk ’n huis met ’n posbus voor beter. Dit sê: Hier woon mense en hulle het ’n adres. Dis hier waar jy hulle kan kry as jy hulle soek! Want al die huise lyk maar eenders hier.

      Toe’t hy die plate gemeet en geknip en aanmekaargelas – ’n silwer huisie met ’n staandakkie en ’n gleuf en ’n ronde gat voor. Mooi het hy hom gemaak, met ’n dubbele ry ewe groot sweisdruppels al op die rande langs. En hulle nommer voor op, 127, in loodletters. Mooi swart en goed sigbaar. En hom opgehang vlak teen die sykantse prefabmuur aan ’n spyker, net binnekant die hek solat die poskaffer net kan oorleun en die pos insit, want hulle sluit altyd die hek voor. Elke keer van toe af, as Treppie aan die end van die maand met Molletjie by die hek indraai, dan ry hy die posbus van die muur af. Sy is voos gepanelbeat en oorgespuit van in daai posbus vasry. Toe’t hy die posbus gevat en agter in sy den gaan gooi. Daar was in elk geval net altyd junk in, advertensies en goed en die Western Telegraph. En dié’t nie ’n posbus nodig nie. Dié tel jy sommer met die hand van die lawn af op. Nie veel aan in elk geval nie, behalwe vir die Flying Squad se emergency-nommers, en die ekstra goed in die by-laws. Oor geraas, “rusverstoring”, soos Treppie sê.

      Tot gister toe het die posbus daar in sy den gelê, toe kliek hy skielik, maar mens moet deesdae sorg lat jy ’n ordentlike posbus het in Triomf. Goed sigbaar en bereikbaar van die sypaadjie af, solat jy die pamflette kan kry, solat jy kan bybly met wat aangaan, solat jy kan voor wees, solat jy nie een oggend jou oë uitvee en die kaffers het oornag onder jou neus oorgevat nie. Solat hulle kan reg wees – Molletjie se points gegrind en haar neus en roof-rack vol sakke gelaai met genoeg petrol vir die grootpad Noorde toe.

      “Ek gaan daai posbus vir ons op die hekpaal vassweis, nóú,” het hy gesê. Dit was gister.

      “Maar dit gaan reën, Lambert,” het sy ma gesê.

      “As ek dit nie nóú doen nie, doen ek dit nóóit,” het hy gesê en onder die blou weerlig vir hulle gestuur om sy tools te bring. Die weldingboks, sy helmet, sy hamers en sy tange en sy level. Reën ofte not, as ’n ding gedoen moet word, moet hy gedoen word. Anders is daar ’n geneuk. As hy wat Lambert is, wil hê ’n ding moet wérk, dan moet hy wérk. Come hell or high water.

      Sy ma se kop wou weer nie so lekker vat nie. Sy raak partykeer so. Hy moes vir haar drié kéér terugstuur na sy den toe vir die level. Eers kom sy met ’n bobbejaanspanner uit, toe met ’n koevoet. Tot hy daaraan dink om vir haar te sê dis daai fokken plankie met die fokken bubble in!

      Sy gee hom grys hare.

      En toe loer die fokkers van langsaan nog vir hulle oor die prefabmuur waar hulle op die lawn staan en sukkel met die donnerse posbus, hy moer ál van die pyp af. Tot hy figure, maar hy moet mos ’n plaat op die pyp vassweis vir ’n voetstuk. Tóé sit hy. Hy weet van aanhou, hy wat Lambert is. Hy kry alles gefix. Posbusse, lawn-mowers, krane, overflowpype, geysers, you name it. Yskaste, wasmasjiene. En Molletjie. Hy service haar gereeld. Tap haar olie af, smeer haar lekker, grind haar points, die works.

      Net sy ma kry hy nie gefix nie. Vir Pop kan jy nog ore aansit. En Treppie het net so dan en wan ’n klap of twee nodig, dan’s hy weer okay. Maar sy ma is sy fokken end.

      Treppie is sy ma se broer, maar hý’t ok nie raad met haar nie. Hy kan aangaan met haar soos hy wil, sy loop lê net altyd soos ’n bang hond. Sonder om terug te praat. En as sy die dag iets terug sê, is dit dieselfde wat jy gesê het, nes ’n echo machine.

      Sy’s hulle ou “valley of echoes”, sê Treppie. En as hý onder sy suster inspring, dan tuit jou ore, want Treppie kan baie mean goed sê.

      Soos die dag by die second-hand garage toe hulle die kar gaan koop het. Hulle wou eers vir Flossie inruil, maar toe sê die man nee, sy’s te vrot, hulle moet haar maar hou vir spare parts. Toe wienk Treppie mos. Met daai spleetjies-ogies van hom. Daai dywelse wienk van hom, lat jy moet weet jy moet jou reghou, hier kom nou weer ’n ding.

      Toe sê Treppie mos vir Pop in sy gesig daar waar die garageman bystaan, hulle moet nou die nuwe Volla van hulle vernoem na sy swaer se “liewe ou vroutjie”.

      “Mol,” sê hy, moet die karretjie se naam wees, en hy stamp-stamp so aan Pop, vir wat weet hy nie.

      “Oud maar dárem!” sê Treppie toe, en Pop wys vir hom vinger, hy moet nou stadig, maar Treppie hou net áán.

      “Vir ’n man om mee te kóm, waar hy moet kóm!” sê hy.

      En toe’s dit nog nie genoeg nie, toe gaan haal Treppie vir sy ma daar waar sy tussen die scraphope staan, tussen die write-offs, en hy sit sy arm so snaaks om haar, halfsag, halfhard, en hy sê, nog áltyd voor die ou van die garage, sy sal mos nie mínd nie, wat, hulle ry haar mos ok maar al drie.

      Well, hy kan nie dink lat Treppie weet van hom en sy ma se goed nie, hy’s dan amper heeldag in die week by die Chinese. Odd jobs, sê hy, doen hy daar. Maar hy sweer Treppie het ’n los stukkie daar. Smeer mos sy kop glad van die Brylcreem voor hy Chinese toe gaan, lat die hele kar stink daarvan as hulle hom busstop toe vat. En Pop slaap dagin, daguit, so hy weet van niks . . . En dit maak in any case nog net twee, dit wil sê, ás Pop nog kan, wat te betwyfel is . . . Verder is Treppie