Triomf. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Triomf
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780795801150



Скачать книгу

in one,” sê sy ma toe.

      Nou, toe droog daai garageman se lag net daar op en as hy nou weer terugdink, is dit seker wat Treppie wou gehad het met sy vuilpraatjies. Want daai dealer het ’n baie breë liewe jesus-smile op sy gevreet gehad by al sy sales talk en hy’t al die karre in sy jaart se bumpers vol visse geplak, visse, visse, visse net waar jy kyk, grotes en kleintjies, lat dit onder daai awnings lyk soos die See van Galilea. Dis wat Treppie gesê het en wat sy ma agterna gesê het. En nog voor hy en Pop die deposit betaal het, toe sê Treppie vir die ou wat bekaf daar staan en rondtrap lat as daar nou een ding is wat vir hom wat Treppie is ’n pyn in die gat gee, is dit second-hand car dealers wat vir hom wil kom staan en wysmaak lat die evangelie ry op ninety-three en visse loop op Firestones.

      “Firestones,” sê sy ma toe.

      Maar die heeltyd lat Treppie en die “echo machine” so daai goody two-shoes se smile vir hom staan en wegwerk, kyk Pop net doer in die lug en dis net Treppie wat lag en toe sien hy Pop gee skelm sy ma se hand so ’n drukkie, of hy wil sê sy moenie worry nie, hy weet sy speel maar saam ter wille van die vrede.

      En toe kom Treppie weer met ’n ander angle en hy sing so ’n classic tune in ’n ander taal, something “-line”, something “-line” en iets anders “-line”, hy weet nie watse lines nie, en toe vra die garageman wat sing die meneer dan nou, en toe sê Treppie die meneer dink hy sing ’n famous Duitse hallelujasong van die SS en dit kom uit die Rosekavalier en dit beteken bloed kruip waar dit nie kan loop nie, straight down the line.

      “Rosekavalier,” sê sy ma toe en sy druk Pop se hand terug.

      Hoe dit sy, die kar se naam is toe Molletjie. En partykeer as sy nie lekker wil vat nie, dan sê Treppie: Kom nou, sustertjie, of hy sing vir haar die halleluja van die SS. Hy sê hy’s net bly dis weer ’n Volla, presies dieselfde model as Flossie, want anders as wat die spreekwoord sê, it’s the familiar that makes the heart grow fonder.

      Dis Elvis wat nou oorvat met die lees. Sy hande is wit en glad soos hy daar sy Bybel sit en vashou. Die vroumens sit terug in Pop se stoel en haar onderrok trek nog stywer oor haar bobeen. Sy kyk in haar eie Bybel waar Elvis lees. Sy stem is net so glad soos sy gesig.

      “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin wat sê: Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ’n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Efese en Smirna en Pergamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfia en Laodicéa.”

      Triomf. Dis waar hulle nog altyd gebly het. Ten minste dis hoe dit vir hom voel, want hy was so ses, sewe toe hulle hiernatoe getrek het, en dit was ’n groot ding wat helder in sy kop is, al die fridges op die treiler agter die ou Austin-lorretjie. Maar hy’s gebore in Vrededorp, en daarvan weet hy niks nie, behalwe lat sy ma haar gesig so snaaks trek as sy sê “gebore”, en verder hoor hy net stories van hoe hy was toe hy klein was en hy weet nie meer wat stories is en wat hy self onthou nie, want almal lieg of hulle lewe daarvan afhang in hierie huis.

      Sy ma ok, oor sy geboorte. Sy sê dit was ’n “erge” geboorte. Hy was ’n “knewel”, en hy wou nie uit nie. Toe kom hulle met die tang. Toe trek hulle hom aan sy kop uit. Sy kop, ja. Toe “skeur” sy, sê sy. En “nie weer nie”, sê sy, was haar woorde toe hy uit en af is en die nurste hom daar wegdra met sy ingeduikte, skewe kop. “Van nou af moet julle die tertjie ophou eet voorlat julle by die jam kom,” sê sy ma, het sy toe gesê vir dié “wat ore het om te hoor”. Hy weet nie wie “dié” is nie en watse tertjie sy van praat nie. Hy weet net as sy ma die stuk van sy geboorte vertel, dan sing Treppie altyd “Saai die waatlemoen” en Pop kyk anderpad. Hy scheme sy ma is lekker mal. Sy’t nie meer al haar varkies nie.

      Pop-hulle het vroeër in Fietas gehuur. Toe sy ma nog ’n kleremaakster was in die fabriek in Fordsburg. Maar toe raak die fabriek vol goedkoop hotnotvrouens. Baie goedkoper as wit vrouens. Toe moet sy weg by die fabriek. En ’n ruk daarna, toe stoot hulle die kaffers se neste hier in Sophiatown plat. Pop en Treppie het kom kyk, sê hulle. Party huise het hulle met goed en al platgestoot, lat jy net hoor glase breek en houte kraak, sê hulle. Toe begin hulle hier bou, bo-op die kaffers se gemors, ordentlike huise vir wit mense. Treppie het toe nog by die railways gewerk en hy’t sy pensioengeld vroegtydig opgevra en dit neergesit vir ’n deposit. So, “kaplaks!” wys hy altyd, ín Pop se hand, “met ’n rekkie om”.

      Toe’t hulle van voor af met die yskaste begin. Wasmasjiene en yskaste, maar meestal yskaste. Hulle het hulle gaan oplaai met die ou Austintjie, en hier agter in die jaart staangemaak en gefix en weer teruggevat na die mense toe. En sy ma het weer haar rose opgevat. Een ding wat hy nog onthou uit Vrededorp uit was lat hy grootgeword het met yskaste en plastic-emmers vol rose agter in die jaart. Sy ma het hom kleintyd al by Treppie gelos as sy gaan werk het. Al is Treppie sy ma se broer, sê sy sy vertrou hom net so ver soos sy hom kan sien. Maar wat kon sy doen, sê sy. Sy moes help geld inbring, en nog meer toe hulle eers in Triomf kom woon het. Pop het haar dan in die Austintjie rondgery, na al die grand hotels en die bioscopes en die eetplekke, die hele nag lank. Hulle het altyd eers laat by die huis gekom. Dan was Treppie lankal poepdronk. Dit was ’n geneuk. Hy’t nou nog die kolle op sy boude waar hulle sê Treppie hom met cigarettes gebrand het. “Lat hy kan sjaddap,” sê Treppie altyd as hy van daai dae vertel. Treppie sê hy was baie vol stront toe hy klein was. Dan lag hy so vermakerig na Pop en sy ma se kant toe en sê hy wónder tog na wié Lambert dan aard. Aard ofte not, hy was sy sout werd, hy’t goed gehelp lateraan met die yskaste. In standerd sewe was hy al twee koppe langer as Pop. Hy’t ’n paar stewige arms aan hom gekry. “Soos boomstompe,” het Pop altyd gesê. Hy kon ’n yskas manalleen optel en in die Austintjie se bak skuif. Dié’s ok lankal opgery en weg. Die yskaste en wasmasjiene ok. Met Guy Fawkes destyds. Die dag net voor Guy Fawkes. Toe hy nie sy spanners in die gras kon kry nie. Nou is dit nog net die ou Fuchs en die ou Tedelex wat daar agter staan. Sulke ou heavies. Mens kry hulle nie weer nie, sê Treppie. Jy kan ’n heel bees in hulle stop. En die wasmasjien uit die oorlogstyd. Die Industrial Kneff. Dis ’n antique, sê Treppie. As hy getrek is, vertel hy altyd hoe Hitler die Jode in die Kneffs gewas het voor hulle kampe toe is. Hele laundries vol Kneffs vol Jode. Klere en al. Hulle moes deur die hele cycle van prewash tot spindry toe. Jode is vuilgoed, sê Treppie. Selfs ’n spotless Jood is goed net vir een ding en dit is die gaskamer.

      Hy kon nog nooit die ding van die gaskamer lekker gefigure het nie. Moet ’n helse kontrepsie gewees het.

      As Treppie die storie klaar vertel het, sug hy altyd so ’n suggie en dan sê hy: It’s all in the mind. En dan sê hy partykeer ok nog: Ons moes vir Hitler hier gehad het, hy sou die spulletjie lekker opgefix het. Maar hy klink nie of hy homself glo nie, dan string hy nog ’n hele klomp woorde agteraan wat hy wat Lambert is, regtig nie kop of stert van kan uitmaak nie. Holocaust, caustic soda, cream soda, Auschwitz.

      Treppie is al een wat nog werk, of dis wat hy sê. Pop is op pensioen, al jare al, en hy wat Lambert is, kry disability. Oor sy vingers. En als.

      Treppie gaan meestal in die week uit op jobs. Sy ma sê watwou, hy sit en suip by die Chinese in Commissionerstraat. Treppie sê sy lieg, hy drink nie daai vrot Chinese wyn nie. Hy sê hy’s al expert wat hulle kan bekostig. Chinese is nie van die rykste nie. En hulle yskaste is oud. Hy kry ok nie altyd cash by hulle nie. Hulle gee vir hom take-aways of van hulle ou goed. Soos die videomasjien. Wat hy wat Lambert is, reggemaak het. Nog nooit so ’n ding in sy lewe aan gevat nie. Toe fix hy hom wragtag. Met sy eie twee hande. Hy kyk vir sy hande. Dan kyk hy vir Elvis.

      Elvis lees van die sewe kandelare. Hy haal ’n wit sakdoek uit en vee sy voorkop af.

      Triomf sweet maar so. Want hulle lê in ’n duik hier, tussen twee rante. Dit ruik na teer op sulke dae. Teer en tyres. En as daar ’n luggie is, ok nog die kerriereuk van Industria se kant af. Pop sê dis nie kerrie nie, dis batteries. Maar dis nog lank nie so erg soos op Bosmont se rant by die hotnots nie. As hy op ’n Saterdag in die rubbish-hope gaan krap vir wynbokse, dan stink dit vreeslik. Na pis en na vrot vis. Treppie sê dis meidepoese wat so ruik. En as hy wat Lambert is, dan vir hom sê it’s all in the mind, dan lag Treppie hom dood. Waaroor weet hy nie. Treppie het ok ’n skroef los.