Triomf. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Triomf
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780795801150



Скачать книгу

Benades het weer vir Triomf in die palms van hulle hande.

      Treppie gaan huil-huil op sy Heilandswysie voor by die voordeur uit, met Lambert agterna. Hy wienk vir Pop en Mol om te kom. Hulle gaan sit op die stoepie se rand. Dis sterk skemer.

      Lambert en Treppie staan op die lawn, met Toby en Gerty tussen hulle, almal met hulle neuse in die lug.

      Treppie en Lambert sit die revs op.

      “Wílde hónde!” sê Pop.

      “Jakkals en wolf!” sê Mol.

      Nou huil die honde blokke ver reg rondom hulle, grotes en kleintjies, lat dit ’n aardigheid is.

      Elke keer as Treppie en Lambert ’n paar lekker huile uitgekry het, dan hou hulle hulle koppe skuins om te luister.

      Hulle staan met hulle gesigte na mekaar toe en elke keer as hulle weer begin, dan haal hulle diep asem en buig hulle bolywe effens vooroor en sak ’n bietjie af en dan, soos hulle asem vat en weer ’n huil uitstoot, krink hulle hulle nekke agtertoe, met hulle monde op tuite in die lug in op. Net of hulle die klank uit hulle mage optrek boontoe, diep onder uit die grond uit, uit die spookholtes onder Triomf uit.

      Treppie het hierie by Oupop geleer toe hulle nog in Vrededorp gewoon het. Sies tog, Oupop het ok maar net sy bes probeer.

      Mol onthou, daar was net so baie honde daar.

      En dis hoe Oupop hulle ge-entertain het as hy in ’n jolly mood was die dag. En daar was maar min entertainment daai dae in Vrededorp, wat nog te sê by hulle in die huis in. “Jy leer die kinders verkeerde goed, Lambertus,” het Oumol altyd vir hulle pa gesê, maar sy kon ok nie help om te smile nie.

      Van hulle drie is dit net Treppie wat goed geleer het om die honde te lat huil.

      En nou leer Treppie vir Lambert.

      En so te sien, leer Lambert goed.

      Mol kry skielik ’n snaakse gevoel in haar binneste soos sy luister na die honde wat huil in die skemer, ver en naby.

      Hulle is nou goed op dreef, die honde, hulle het amper nie meer vir Treppie en Lambert nodig nie. Hulle het nou hulle eie voorhuilers wat die invalle maak en die note gee, hoës en laes en diés in die middel. En dan vat die ander dit verder, die hoë note en die lae note en diés in die middel.

      Verder en verder hoor hulle hoe trek die hondegehuil deur die strate. Weste se kant toe is daar skielik ’n geblaf wat anders en harder klink.

      “Seker die pit bull terriers daai,” sê Pop.

      “Onthou jy vir Oupop?” vra Mol vir Pop.

      “Jaaa,” sê Pop. Mol sien Pop kyk vir haar só. Hy kan seker hoor aan haar stem sy dink iets. Hy weet altyd wat sy dink, ou Pop.

      “Shame, Pop,” sê Mol, “vir wie sal Lambert eendag leer om die honde te laat huil?”

      Pop het nie ’n antwoord om te gee nie. Mol tel vir Gerty op en druk haar styf voor teen haar bors vas.

      “Vir wie, hè, Gertytjie?” vra sy. “Vir wie sal hy leer?”

      “Ie-ie,” sê Gerty net.

      2 Die Getuies

      Dis tienuur in die oggend. Lambert kry warm. Dit moet reën, maar dit wil nie. Die sonfiltergordyne wat hy gisteraand afgeruk het, hang in los flertse oor die pelmet waar Treppie dit ná die tyd gegooi het. Die gordyne roer nie, al is die venster oop. Gister wou dit reën, maar dit het nie. ’n Breë strip son val skuins in die kamer in. Stof en vlieë dwarrel daarin.

      Almal is in die voorhuis. Dis Sondag. Hulle luister na die Getuies van Triomf. ’n Boeing kom oor. Die huis tril. Die Getuie wat lees se lippe hou aan met roer, maar hulle kan haar nie hoor nie. Dan is hy verby en hulle hoor haar weer. Verder en verder dreun die vliegtuig. Hy gaan land seker nou op Jan Smuts.

      “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en dié wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”

      Lambert probeer om nie te kyk vir die Getuie wat lees nie. Hy kyk vir sy hand, vir die lyne binne-in, vir sy vingers, die drie af vingertoppe. In die roltrap gewees toe hy ses was. Hy’t hom nie gesien nie, maar hy het altyd geweet dis Treppie wat hom gestamp het. Aspris. Hy kyk op, by die Getuie in die pienk rok verby, vir Treppie. Treppie sit op ’n bierkrat met sy oë op skrefies. Hy kyk vir die groot lugfoto van Johannesburg teen die muur bokant Mol se kop. Dit was op ’n almanak waarmee hy eendag by die huis aangesit gekom het. Van die Chinese gekry, seker.

      “Dis dan laas jaar s’n,” het sy ma gesê. “Watse rubbish al weer.”

      “Dis vir die foto,” het Treppie gesê, “lat ons góéd kan sien waar ons is,” en ’n hamer uit die toolboks gehaal en ’n spyker hard in die muur gekap.

      “Jy sal die pleister bars,” het Pop gesê.

      “Dan bars dit maar,” het Treppie gesê en die almanak opgehang, aan sy harde plastieklussie. Sy ma het later die stuk met die datums afgeknip. Nou krul die onderste punte effens op.

      Lambert trek sy oë op skrefies om die kruisies te sien wat Treppie daarop gemaak het. Één vir Triomf waar hulle nou woon. Één vir Vrededorp waar hulle vandaan gekom het. Nee, hý’t hulle getrek, met ’n rooi ball-point, hy wat Lambert is. Treppie het net gewys, met die puntjie van sy knipmes: “Hiér!” en “Dáár!”

      Want Vrededorp het nie meer bestaan nie, nie die stuk waar hulle gewoon het nie. En waar Vrededorp opgehou en Triomf begin het, tussen Westdene en Pageview en Newlands en Bosmont in, kon hy wat Lambert is, nie van bo af op so ’n klein foto uitmaak nie. Alles het voor sy oë begin swem.

      Treppie roer op sy krat. Hy haal sy knipmes uit sy broeksak en vou hom stadig oop. Hy check die Getuie, sien Lambert. Hý kan haar ok nie miskyk nie al wil hy. Sy’t ’n gladde, blink, pienk onderrok aan wat deurskyn onder haar bo-rok. Die bo-rok is vol plat pers en rooi rose. Hulle skyn deur. Hy kan die onderrok sien, vóór, waar haar knieë bymekaarkom, en ok langs die kant waar die rose opgeskuif het toe sy gaan sit het op Pop se stoel. Die onderrok trek styf om haar bobene.

      Hy lat sak sy oë, kyk deur sy knieë grond toe. Daar is ’n los mier. Heen en weer mik hy. Verdwaald. Hy soek die ander, maar hulle is doer teen die muur in ’n strepie. As die miere so verdwaal, kom dit reën. Hy bak sy hande voor sy mik. Hy trek sy tone hol en lig die balle van sy voete stadig op; die los blokkies van die blokkiesvloer sit vas aan sy voete. “Kliks” maak hulle soos hulle oplig. Hy kon darem sy voete gewas het. Kyk hoe vuil is hulle. Maar dit help nie. Vuil voete ofte not. Los miere of miere in ’n ry. It cuts no ice, soos Treppie sal sê. Hy’s klaar styf. As hy sy kop oplig, sien hy hoe kyk sy ma vir hom.

      Die Getuie lees: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het, en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf, ja amen.”

      Treppie sê die een wat hulle vir hóm sal kry, sal nie ’n onderrok aanhê nie. Hulle drá nie onderrokke nie. Of liewer, hy sê hulle dra nét onderrokke. Hy moet onthou om vir Treppie te sê hy mind nie onderrokke nie. Of rokke mét onderrokke nie. Nét nie overalls nie, of ’n “housecoat”, soos sy ma dit noem nie. Housecoats kan hy nie vat nie.

      Hy steek ’n vuurhoutjie in sy mond en trek sy gesig soos die cowboys op die video’s wat hulle perde op die hoogte omruk om te check waar kom die Indiane aan, vér oor die vlakte.

      Hy bekyk die voorhuis en wat daarin is.

      Pop sit op ’n krat met sy rug teen die muur. Toby lê voor tussen sy voete. Hy roer sy ore en sy wenkbroue soos hy luister vir die Getuie. Pop se kruisbande hang oor sy knieë. Sy wit hare staan pieke op sy kop en sy mond hang oop. Hy gaan nóú weer slaap. Pop is al naby die tagtig, en hoe nader aan die tagtig, hoe meer slaap hy. Treppie sê dis anders as ander ou mense wat hy ken; hulle lê wawyd wakker en wag vir die dood.

      Sy ma sê Pop is moeg, hulle moet hom uitlos. Langs Pop staan die sideboard op sy bakbeentjies: drie bakbeentjies en een baksteen.