Название | Triomf |
---|---|
Автор произведения | Marlene van Niekerk |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780795801150 |
Treppie hou nie van kuiergaste nie.
Sy ma trek glad haar overall vir hulle uit. Haar housecoat. Sy’t ’n bloue en ’n pienke en watter een dit ok al is, as die NP’s kom, dan trek sy dit uit. Hang dit agter die kombuisdeur aan die spyker op. En dan vat-vat sy so aan haar bolla om te sien of hy nog sit. Hy wens die NP’s wil hier intrek, lat sy ma nooit die overall hoef te dra nie. Sy sê mos sy hou dit aan oor sy nie haar klere wil bemors nie. Dit het sy gesê toe hy nog klein was en sy sê dit nou nog. “Bemors,” sê sy en dan trek haar gesig snaaks. Maar hy’t al gesien, toe Pop nog wou, lat sy dit vir hóm uittrek.
En die enigste ander kere lat sy dit uittrek, is wanneer sy en Treppie in die agterste kamer ingaan om familiesake te bespreek. Watse sake, wil hy altyd weet, en dan wienk Treppie altyd daai dywelse wienk van hom. “Family secrets,” sê hy. En dan klap hy haar altyd so op die boud as hulle by die deur ingaan.
Nie lat hy eintlik ooit veel bespreking agter daai deur hoor uitkom nie. Maar nou ja, family secrets is seker nie goed wat jy van die dakke af verkondig nie. Soos lat sy ma nie ’n broek dra nie. Dis so ’n secret. Treppie het dit vir hom vertel. Hy sê dit kom al van kleintyd af al toe daar nie geld in hulle huis was vir vroumensbroeke nie. Hulle het mos rokke. En niemand hoef te weet nie.
En hy mind ok nie. Dis net daai housecoat van haar wat hom hinder. Dit ruik suur soos die lappe in die kombuis.
Lambert staan op. Hy trek sy shorts agter oor sy boude op en sit die fan op die sideboard aan. Dit maak ’n fyn zoemgeluid, maar dit begin nie beweeg nie. Hy kyk die kamer in voor hy dit ’n harde klap agter die kop gee. Dit begin dadelik draai, die skroef en die kop, heen en weer. Pop word halfwakker. Amper val hy van sy krat af.
“Lambert,” mompel hy half deur die slaap. Lambert skuif die fan solat die Getuie met die pienk rok die meeste wind kry. Haar hare warrel, haar bo-rok waai teen haar lyf vas. Sy vat weer oor met die lees. Haar stem is ’n bietjie hoër as netnou. Haar skouers lig op soos sy asemhaal tussen sinne. Sy vat gees. Lambert vat voor aan sy gulp. Jirre, as dié voël van hom tog nou net nie so wil néúk nie. Hy loop buk-buk voor die Getuie verby na sy sitplek toe. As hy sy sit gekry het, probeer hy op die inhoud konsentreer, op die Seun van die Mens tussen die sewe kandelare, met ’n kleed wat op sy voete hang en ’n goue belt om die bors. Snaakse plek om ’n belt te dra, dink hy. Dis seker so iets soos ’n president se oranje-blanje-blou strik wat hy so skuins om die lyf dra. Hoe, wonder hy, gaan hulle nou al daai strepe van die nuwe vlag op die president se nuwe strik kry. Hulle sal die strik breër moet maak, of die strepies dunner. Treppie sal sê: It’s all in the mind. Dis omtrent al wat hy deesdae sê, maak nie saak waaroor mens praat nie.
Die fan het Treppie ok by die Chinese gekry, die kop was vasgeroes, die drade binne-in aan mekaar vasgebrand. Toe fix hy hom. Nou’t hy net so ’n klappie nodig, dan loop hy. Hy ken van masjiene en gadgets en goete, hy wat Lambert is. Hy kan hulle lat wérk. Want ’n ding wat nie wil werk nie kan hy nie vát nie. ’n Ding wat nie wil wérk nie is amper so erg soos ’n ding wat wég is, wat hy nie kan kry nie.
Dit maak hom de moer in. Hy maak hulle rég, hy sóék hulle tot hy hulle kry, al moet hy ok die hele huis omkeer of afbreek. Pop sê dis sy kruis in die lewe. Lat stukkende goed so op sy tiete werk: fans, tape recorders, videomasjiene, alles. Dis hoekom hy sorg lat die lawn-mower getúne bly, en die gras kórt, en lat Molletjie se tyd gestél is en haar olie getáp word. Daai ander Volla wat hier agter op blokke staan, is sy donnerse end, maar hy sal hom ok nog in sy moer in reg moer. En hy sukkel lat hy kak met die Tedelex en die Fuchs. En die Kneff is heeltemal opgeseize, maar hy sal die héle lot nog gefix kry. Vóór sy verjaarsdag, en vóór die verkiesing. En al word die verkiesing tien jaar lank uitgestel soos party sê, dan gaan hy hóm nie van stryk af lat bring nie. Want sy verjáársdag kan nie uitgestel word nie.
En ok nie sy verjaarsdagpresent nie.
Pop en Treppie sal om die blok stilhou en haar stilletjies agterom bring lat sy ma nie sien nie. Sy sê mos hy’s nie gemaak om met vroumense te lol nie, hy moet hom “berus by sy lot”. Hy wonder wat dink sy is sý dan kastag. Anneline Kriel miskien? Hy sal haar wys. Hy sal hom by fokken niks “berus” nie. En hy sal lol suffel soos hy wil.
Dan sal hulle saggies klop aan sy buitedeur en sê: “Lambert, sy’s hier.” En as hy oopmaak, sal nét sy daar staan. Met blonde krulle tot op haar skouers en ’n pienk onderrok en make-up en high polfaais en als. En dit sal dan einde April wees, miskien sal sy ’n jas oor haar skouers dra. Dan sal hy opsy staan, en nes sy verbystap, sal hy sê: “Allow me,” en die jas van haar skouers af vat en agter die deur ophang. Sy rooi lig sal aan wees. En dan sal hy sê: “Take a seat. Would you like something to drink?”
Net so. En dan sal hy die ys uit die Tedelex se icebox kry en die Coke, lekker koud uit die Fuchs se binnedeur, en hy sal hulle deure stadig oop- en toemaak lat sy kan sien. Sién, ja. Want tót hulle binneliggies sal werk. Sién sal sy, hoe vol gestack hulle is van die Castles en die polonies. En die Spar se fancy dips, visdip en kaasdip, miskien ok nog ’n boks dooswyn. Genoeg vir ’n week. En hy sal sy boerewors-chips van Simba en sy kaas-en-uie-crinkle cuts van Willards reg hê. En sy suurlemoene vir die Coke. Daar op sy werkbank. En peanuts!
En later as dit lekker gaan, dan sit hy vir haar die ou Kneff aan, met niks in nie, net water en seeppoeier vir die snaaksigheid. En dan vertel hy haar van Hitler se vuil Jode en hulle staan op ’n bierkrat en kyk bo by die deksel in hoe skuim dit. Die Industrial Kneff uit die oorlogstyd. En hulle sit hulle hande op hom en voel hoe lekker skommel hy, “soefse-soefse-soefse”, eenstryk deur, sonder ’n hitch.
Lambert kyk stip vir die Getuie in die pienk rok. Sy’t ok krulhare. Maar hulle is bruin, nie blond nie. As hulle blond was, dan was sy net reg. Net ’n bietjie meer make-up. Hy voel hoe word hy warm en koud, maar hy hou vas. Hy probeer na iets anders kyk. Hy kyk af grond toe. Skielik hardloop ’n muis oor die vloer.
Muis, wys sy ma. Haar mond gaan oop, maar sy maak nie ’n geluid nie.
Net die Getuie se mond maak geluide. “Soos wol”, “soos ’n vuurvlam”, “soos blink koper”, “soos die stem van baie waters”, “die Seun van die Mens”.
Elvis se lippe roer saam met Pienkrok se lippe, maar mens hoor hom nie. Sy oë is op die Getuie wat lees se mond. Hy vryf liggies met sy hande oor sy bene.
Skielik kliek Lambert lat hierie twee Getuies naai mekaar. Dis wat. Hulle naai mekaar lat dit klap en as hulle hier klaar gelees het, is dit wat hulle gaan doen. Naai. Sy gaan nie eers uittrek nie. Sy gaan net daai pienk rok met onderrok en al optrek, en hy ok, hy gaan niks uittrek nie, net sy zip aftrek en sy ding uitkry. En insteek. Lekker diep tot sy skree soos ’n maer vark. Hulle skree mos so. Op die video’s ok. Sy ma ok, maar sy skree te hard, hy moet haar mond toedruk.
Kyk net hoe staan Toby se rughare. Sy lippe trek-trek so weg oor sy tande. As mense so jags begin raak, dan rys sy hare mos. Come to think of it, Toby se hare staan nog regopper as daai twee van die NP hier is. Die ou met sy blazer en die girltjie met die strepse. Van RAU. Sy sê sy studeer “regte”. En hy’t klaar “regte” gestudeer, sê hy. Watse “regte”, watse “studeer”! Hulle náái mekaar heeltyd, dis wat. Mens hoef nie geleerd te wees in “regte” om te weet wat’s wat met ’n genaaiery nie.
Daar hoes