Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

Kaapse burgers nie, maar ook van republikeinse burgers begin propageer het. Op 17 Oktober 1900 het die Daily Telegraph daarop aangedring dat die Britse magte weldra moes begin om alle Boere wat voortveg sonder genade tereg te stel wanneer hulle gevang word. Op 16 Oktober 1900 het The Standard aanbeveel dat elke Boere-krygsgevangene tereggestel word. Dié koe­rant het die voorstel op 2 Januarie 1901 herhaal. Dié radikale standpunt is ook in ander Britse koerante herhaal.11 Daar was oor ’n betreklike breë front gerugte dat ’n beleid van “take no prisoners” van Britse militêre kant gepropageer is. Op 6 Februarie 1901 het ’n berig in die Cape Times verskyn waarluidens die hoogste Britse militêre gesag opdrag sou gegee het dat Boere nie meer as krygsgevangenes geneem moes word nie. Nadat die redakteur, Albert Cartwright, geweier het om sy bron oor dié inligting te openbaar, is hy tot ’n jaar gevangenisstraf gevonnis.12

      Hoewel die bestaan van so ’n amptelike beleid sterk te betwyfel is en sulke voorvalle in die praktyk in elk geval nie algemeen voorgekom het nie, het dit ’n klimaat geskep wat summiere teregstellings aangemoedig het. Die bekendste geval is sekerlik dié van die twee Australiese offisiere, Harry (“Breaker”) Morant en Peter Handcock, wat daarvan beskuldig is dat hulle minstens 22 burgers en ander burgerlikes koelbloedig in Noord-Transvaal vermoor het. Hulle het aangevoer die Britse owerhede het die summiere teregstelling van Boere amptelik goedgekeur. Albei is egter deur ’n Britse krygshof skuldig bevind aan moord en in 1902 in Pretoria tereggestel.13

      Teregstellings het ook in eie geledere binne die Britse leër in Suid-Afrika plaasgevind. Benewens die geval van Handcock en Morant is daar enkele ander gevalle waar Britse soldate weens drostery en ander oortre­dinge tydens die oorlog deur hul eie magte gefusilleer is.14

      Die Britse militêre owerhede het die Boeremagte voorts daarvan beskuldig dat hulle swart en bruin mense wederregtelik tereggestel het. Minstens 15 republikeinsgesindes is in dié verband op aanklagte van moord of poging tot moord skuldig bevind en daarna deur Britse militêre owerhede tereggestel.15 Wat die Britse militêre owerhede gerieflikerwys verswyg het, is dat hulle hulle self ook daaraan skuldig gemaak het. Die Britse magte het ’n onbekende aantal swart en bruin mense tereggestel wat van verraad verdink is of dat hulle vir die Boere gewerk het. Dié skynheilige houding van die Britse owerhede het ’n moderne Britse historikus laat opmerk: “It made a mockery of Britain’s tough stance on Boers who mistreated or killed natives.”16 Tog het die Britse teregstellings van swart en bruin mense nie naas­tenby dieselfde omvang aangeneem as sulke teregstellings deur die republikeinse magte nie. Min navorsing is nog daaroor gedoen.

      ’n Donker wolk hang oor die Britse magte se hantering van die tereg­stellings van Afrikaners wat na verhore ter dood veroordeel is. In die Kaapkolonie het hul drastiese optrede in dié verband wel die gewenste uitwer­king gehad deur ’n groter opstand deur Kaapse rebelle aan bande te lê, maar dit het pynlike letsels onder Afrikaners gelaat wat moeilik uitgewis is. Selfs na die einde van die oorlog is ’n burger, Salmon van As, op Heidelberg in Transvaal na ’n omstrede verhoor tereggestel. Hy was een van drie burgers wat nie onder die algemene amnestie van die vredesvoorwaardes geval het nie.17

      Teregstellings deur republikeinse magte

      Al het die Britse magte burgers tereggestel, het die republikeinse magte nie dieselfde met hul vyand se soldate gedoen nie. Die enigste uitsondering wat gevind kon word, was die teregstelling van ’n Britse offisier, lt. Boyle, wat met genl. De Wet se verowering van Dewetsdorp op 20 November 1900 gevange geneem is en later summier tereggestel is weens wandade wat hy teenoor vroue en kinders gepleeg het. Dit het aanleiding gegee tot een van die drie uitsonderings op die algemene amnestie wat na die oorlog aan republikeinse burgers toegestaan is vir dade wat tydens die oorlog gepleeg is. Niemand is egter skuldig bevind nie omdat die Boereoffisier wat Boyle laat teregstel het, in die oorlog gesneuwel het.18

      Nadat genl. Koos de la Rey se burgers lord Methuen met die slag van Tweebosch teen die einde van die oorlog gevange geneem het, het baie van die burgers daarop aangedring dat hy gefusilleer word weens sy ongenaakbare optrede teenoor veral burgerlikes. De la Rey het die gewonde Methuen egter vrygelaat en na Klerksdorp gestuur om mediese behandeling te ontvang. Ontstigte burgers het daarop aangedring dat hy teruggebring word en vir sy dade verantwoording doen. Hy is toe inderdaad na die Boere­kommando teruggebring, maar De la Rey het ingegryp, die burgers tot kalmte gemaan en Methuen onbelemmerd na Klerksdorp teruggestuur. De la Rey se humanitêre daad het op die lange duur ongetwyfeld meer voor­dele vir die Boeresaak ingehou.19

      ’n Moontlike verklaring vir hoekom die Boere gevange Britse soldate wat moontlik aan wandade skuldig was nie ekstreem behandel het nie, lê daarin dat die Britse mag in ’n magsposisie was teenoor die burgerlikes in die konsentrasiekampe en gevange Kaapse rebelle. Die republikeine was op dié terreine besonder kwesbaar vir vergelding. Nietemin het republikeinse krygshowe die doodstraf aan enkele Britse onderdane opgelê, maar hulle was burgerlikes en nie Britse soldate nie. Dié gevalle word later bespreek.

      Honderde swart en bruin mense wat by die Britse magte aangesluit het of die wapen teen die Boeremagte opgeneem het, is egter tydens die oorlog deur republikeinse burgers gefusilleer.20 Die omvang van daardie tereg­stellings het sulke afmetings aangeneem dat dit teen die einde van die oorlog ’n byna alledaagse verskynsel was. Ds. R.D. McDonald het in sy herinne­ringe opgemerk: “Teen die einde van die oorlog was daar min kans vir ’n nie-blanke spioen om sy lewe te behou. Sonder onderskeid is die doodsvonnis op sulke spioene toegepas.”21

      In die loop van die oorlog het misdadige gewapende swart en bruin mense misdrywe soos moord, roof en verkragting teen geïsoleerde Boere­kommando’s en weerlose Boerefamilies gepleeg. Soms is die wandade onder leierskap van Britse offisiere of Afrikanerverraaiers gepleeg. Die burgers het lede van sulke bendes waarskynlik uit vergelding tereggestel. Daar is ook om strategiese redes genadeloos teen gewapende swart en bruin mense opge­tree. Namate die Britte radeloos geword het met die volgehoue verset van die Boere het hulle al meer swart en bruin helpers gebruik. Onlangse navorsing het getoon ondanks lord Kitchener se doelbewuste “amptelike” onderspeling van hul deelname aan die oorlogspoging het tot 120 000 swart en bruin mense in die oorlog in een of ander hoedanigheid aan Britse kant diens gedoen, 50 000 daarvan as gewapendes. Daardie getal moet by die 448 725 Britse soldate getel word wat amptelik in die loop van die oorlog teen die Boere geveg het.22 As in ag geneem word dat die aantal bittereinders aan die einde van die oorlog op tussen 17 000 en 20 000 beraam word, het hulle teen ’n oorweldigende getalle-oormag te staan gekom.

      Daar was so baie aanvalle deur swart mense dat dit in sekere streke van die republieke ’n wesenlike gevaar was en die republikeinse magte gedwing het om die stryd op twee fronte te voer. Daar was later in die oorlog veral baie sulke aanvalle in die geografiese hoefyster wat van Wes- oor Noordwes- en Noord-Transvaal en van daar na Oos-Transvaal en die suidoostelike hoek van Transvaal asook die Oos-Vrystaat strek.23 Grepe uit oorlogdagboeke van burgers wek die indruk dat die stryd in dele van daardie gebiede hoofsaaklik teen gewapende swart mense eerder as teen die Britse magte gevoer is.24 Dit het sommige republikeinse burgers genoop om die Britte daarvan te beskuldig dat hulle ’n rasse-oorlog ontketen het.25 Die Britte is daarvan beskuldig dat hulle die swart en bruin mense met beloftes van gunste tot gewapende optrede teen die burgers aangespoor het. Die historikus Peter Warwick meen egter daar was ook ’n sterk rasse-ondertoon as motief om die Britte te ondersteun omdat die verhouding tussen die burgers en sommige swart inwoners van sekere streke reeds voor die oorlog sleg was.26

      Van republikeinse kant is sterk optrede teen swart en bruin mense wat in ’n gewapende hoedanigheid by die Britte diens gedoen het, as geregverdig en noodsaaklik beskou. Die Boere-veldprediker, R.D. McDonald het hul sentimente so verwoord: “Oppervlakkig beskou mag hierdie handelswyse wreed en onregverdig voorkom, maar as daar onthou word dat die oorlog nie teen hulle verklaar is nie, en ook dat ons eenvoudig die teenstand van al die inboorlinge sou uitgelok het as ons hulle net soos die Engelse soldate behandel het, dan was dit nie so wreed en onregverdig nie. Ons was verplig om drasties op te tree om die inboorlinge te laat besef dat hulle nie erkende deelnemers aan die oorlog was nie en gevolglik nie aanspraak kon maak op die voorregte van die deelnemers nie.”27

      Bruin en swart inwoners was onderdane van die twee republieke en al het hulle geen stemreg gehad nie, kon hulle kragtens republikeinse wetgewing aan hoogverraad skuldig bevind word en die doodstraf kry. Die Boereleiers het dit