Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

bruin mense Britse onderdane was, was dit uiteraard ’n ander situasie.

      In die meerderheid gevalle, veral teen die einde van die oorlog, is swart en bruin gewapendes summier tereggestel. Geen juridiese regverdiging kon in die republikeinse reg gevind word vir sulke teregstellings nie en daar was ook geen morele regverdiging voor nie. Die burgers was by tye genadeloos met sulke summiere teregstellings en het in baie gevalle heeltemal oorboord gegaan. Daar is bewerings van swart en bruin aangehoudenes wat lootjies moes trek om te bepaal wie gefusilleer gaan word. Die gelukkiges is vrygelaat om die boodskap van hul kamerade se aaklige dood te gaan versprei. Daar is ook gevalle waar die terdoodveroordeeldes hul eie grafte moes grawe.29

      In sommige van die gevalle het die republikeinse magte wel behoorlike verhore gehou. Party teregstellings van swart en bruin mense het met sombere godsdienstige seremonie gepaard gegaan, waar burgers diepgaande mee­gevoel met die lot van die veroordeeldes getoon het.30 Vader Kestell het so ’n geval in sy herinneringe beskryf:

      Den volgenden dag viel mij een pijnlijke plichtsvervulling te beurt. Een kaffer was door den krijgsraad, wegens verkrachting van een blank meisje, ter dood veroor­deeld en ik werd geroepen om hem voor den dood voor te bereiden. In al de vervulling van mijn ambtsplichten had ik nog nooit de zielszorg van een ter dood veroordeelde gehad en nu . . . het was maar een kaffer! maar mijn hart ging tot hem uit. Hoewel hij zijn vonnis verdiende, meer nog in mijne beschouwing, dan één die aan doodslag schuldig was geweest, zag ik hem nu in zijn uitersten nood slechts als mensch aan. Alle gevoel van veroordeeling verdween in mij: alleen medelijden bleef over – medelijden met zijn volslagene hulpeloosheid.31

      Selfs al het die teregstellings met godsdienstige gebaar gepaard gegaan, het dit nie die afgryse daarvan verminder nie, soos uit dié vertelling van die veld­prediker R.D. McDonald blyk:

      Terwyl die graf van die twee spioene gedelf word, was dit my taak om hulle voor te berei vir hulle naderende einde. Nadat ek met hulle gepraat het, het ek hulle aan die genade van hulle Skepper opgedra. Die swart spioen se versoek was dat die Boere hom tog nie met ’n geweer moes doodskiet nie, maar met ’n sabel moes onthoof. Hy was bevrees dat hy nie onmiddellik dood sou wees nie. Ek het hom verseker dat hy baie gou in ’n ander wêreld sou wees. Hy moes maar aan sy siel dink en hom skik om sy God te ontmoet. Wonderlik om te sê, wat die swart spioen gevrees het, het werklik gebeur. Ek het hulle grafwaarts vergesel. Daar is hulle na gewoonte geblinddoek en met die aangesig na die graf gekeer en met voete daarin, het hulle by die een ent van die graf hulle plek ingeneem. Met ’n stok het die dokter die burgers wat die vonnis moes uitvoer, beduie waar hulle moes skiet om die harte te tref. Ek het ’n paar treë van hulle gestaan en die aaklige skouspel gadegeslaan. Toe die skote val, het hulle in die graf geval, dog tot ons verbasing het die swartman nog geleef en die manne wat geskiet het, moes sy half ontsielde liggaam die genadeslag toedien deur dit met nog ’n koeël te deurboor.32

      Afrikanerdenke waarin herinneringe van die oorlog lewendig gehou is, word dikwels oorheers deur die nalatenskap van sentimentele vertellinge van oud­stryders van hul getroue agterryers wat die burgers ten koste van hulself bygestaan het. Dit is nie noodwendig die volle waarheid nie. Die historikus prof. Fransjohan Pretorius meen: “Afrikanernasionaliste het dikwels in die 20ste eeu die verhouding tussen Boer en agterryer verheerlik met die gedagte dat daar reeds destyds ’n goeie verstandhouding tussen blank en swart was. Hulle besef egter nie dat die verhouding gebaseer was op ’n paternalisme en ’n meerderwaardigheid aan die kant van die Boer en in meeste gevalle ’n berustende onderdanigheid by die agterryer.”33 Sekere swart mense se gruwelike wandade teen die Boere en die genadelose ver­gelding van die burgers, het niks goeds vir naoorlogse rasseverhoudinge in Suid-Afrika ingehou nie.

      Die oorlog het bomenslike eise aan die vegtende burgers gestel. Terwyl hulle gedurig aan lewensgevaar, bloedvergieting en ander swaarkry blootgestel is, moes hulle boonop met die wete saamleef dat hul vrouens, kinders en ander geliefdes aan onmenslike behandeling in die konsentrasiekampe onderwerp is. Die strydende burgers moes die oorlog boonop op twee fronte, teen die Britte en vyandige swart mense, voer.

      Dit alles moes ’n ingrypende impak op die burgers se emosionele welstand gehad het. ’n Burger, D.S. van Warmelo, het in sy herinneringe wat voor die einde van die oorlog gepubliseer is, opgemerk: “An inclination to cruelty became one of the predominant traits in the character of the burghers.”34 Hoewel dié uitspraak uiteraard nie op al die burgers van toepas­sing was nie, wys dit tog watter sielkundige uitwerking die oorlog op die gewone burger kon gehad het en hoe dit individue se medemenslikheid kon beïnvloed.

      In dié omstandighede het daar as’t ware ’n derde front ontstaan – die stryd teen hul eie mense wat verraad gepleeg het. Dié verraad het diep gesny en die vegtende burgers tot die uiterste beproef. In die lig van dié omstandighede lê die verduideliking waarom burgers tot so ’n ekstreme stap sou oorgaan om volksgenote wat dislojaal was aan die republikeinse stryd te fusilleer.

      6

      Bloedfamilie

      P.B. BOUWER, A.J. VAN EMMENES

      † 24 Augustus 1901, Hartbeesfontein/Rietfontein, distrik Heidelberg

      ’n Verraaierbroer brand sy suster se huis af en laat haar en haar dogtertjie byna verkluim, ’n joiner spog oor hoe hy sy neef geskiet het, vriend ontdek vriend as dooie vyand, en van die vuurpelotonlede en die tereggesteldes is familie, terwyl een van die tereggesteldes vir amper die helfte van die vuur­pelotonlede skool gehou het.

      In die winter van 1901 het joiners in die omgewing van Heidelberg in Trans­vaal hulle aan verskeie gruweldade skuldig gemaak. Daar is talle voorbeelde van ’n joinerkommando wat saam met swart gewapendes nagtelike aanvalle op weerlose Boerefamilies uitgevoer het wat nog op hul plase gewoon het. Die een plaas na die ander is beroof en geplunder, waarna die aanvallers vroeg die volgende oggend na die veiligheid van hul basis op die dorp terug­gekeer het. Boerefamilies van die omgewing wat die konsentrasiekampe probeer ontduik het, moes gedurig voor die Britse kolonnes uitvlug. Hulle is dikwels deur daardie joiners verraai.1

      Die joiners van die omgewing het aan ’n Britse korps bekend as die Vallentin’s Heidelberg Volunteers behoort. Die korps van sowat 200 man is deur die bevelvoerder van die Britse mag op Heidelberg, maj. John Vallentin, uit Engelse en Afrikaanse vrywilligers op die been gebring. Hulle was meestal voormalige burgers van die distrik wat hul wapens neergelê en daarna toenadering by die Britte gesoek het. Die burgers het na lede van daardie korps as die Witkoppe verwys na aanleiding van ’n kenmerkende wit band wat hulle om hul hoede gedra het.2

      Op die plaas Witkleifontein het die joiners een nag ’n Afrikaner, P. du Preez, vermoor. Hy is koelbloedig in sy huis doodgeskiet, al was hy ’n afgeleefde ou man wat nie krygsdiens kon verrig nie. Jare later het Jack van den Heever, ’n burger van die Heidelberg-kommando, oor die joiners se optrede opgemerk: “So ’n hemeltergende daad kon nooit ongestraf bly nie, daarom was dit vir ons nie ’n wonder dat hulle kort ná die moord een môre vroeg hul rieme styfgeloop het nie.”3

      Op 24 Julie 1901 bevind Vallentin hom met ’n Britse kolonne, wat ’n groep Witkoppe ingesluit het, suid van Heidelberg. Sy doel was om met sy troepe ’n voortvlugtende vrouelaer op die plaas Beerlaagte, sowat 30 km suid van Heidelberg, aan te keer. Die Boerevroue het dié laers gevorm en voor die Britse kolonnes uitgevlug om gevangeneming en gevolglike opsluiting in die konsentrasiekampe vry te spring. Bejaarde mans en jong seuns wat nie kon veg nie, het by die vroue gebly.

      Vallentin het egter nie geweet ’n afdeling Boere het tussen die Britse kolonne en die vrouelaer op die plaas Malanskraal inbeweeg nie. Anders as by die Britse kolonne het verkenners daardie afdeling van die Heidelberg-kommando deurentyd op die hoogte gehou van vyandelike bewegings. Die burgers het die vrouelaer opdrag gegee om nog verder suid in die rigting van die Vaalrivier uit te wyk. Met dagbreek val burgers onder leiding van veldkornette Org Meyer4 en Hendrik Kamffer5 die Britse kolonne op die plaas Braklaagte aan. Die verrassing van die Boereaanval is grootliks deur digte mis getemper, wat baie Britse soldate die geleentheid gegee het om te ontsnap.6

      Onder Vallentin se troepe het die groep Witkoppe vreesbevange geraak, waarskynlik weens die noodlottige gevolge wat moontlike gevangeneming deur die republikeinse burgers vir hulle ingehou het. Dit het paniek onder die Britse soldate aangehelp