Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

optrede van die joiners probeer regverdig, is in die menings van enkele direkte nasate van die afvalliges gevind. In 2010 het ek onderhoude gevoer met ’n kleindogter en agterkleinseun van Piet de Wet wat hul voorouer se optrede met argumente soortgelyk aan Du Preez s’n probeer regverdig het.47 Dit herinner aan Johan Schoeman se poging om sy pa, genl. Hendrik Schoeman, in sy boek Genl. Hendrik Schoeman: was hy ’n verraaier? te verontskuldig. Die individuele opinies verteenwoordig egter nie ’n algemeen aanvaarde mening nie.

      In die lig van bostaande word verraad in hierdie werk beskou as optrede deur persone wat, terwyl hulle veronderstel was om lojaal aan die republi­keinse oorlogspoging te wees, dit op een of ander manier doelbewus probeer ondermyn het en gevolglik deur die bittereinders as verraaiers beskou is. Die verraad tydens die oorlog het ’n diepe verdeeldheid onder Afrikaners veroorsaak. Dit was nie vreemd dat familielede die wapen teenoor mekaar opgeneem het nie. Asof die brutaliteit van die oorlog nie genoeg was nie, het verraad so ’n impak op die stryd gehad dat dit amper elemente van ’n burgeroorlog begin toon het. Op die lange duur sou die verraaierverskynsel boonop bepaalde gevolge vir die ontwikkeling van die Afrikaners se politieke psige inhou.

      5

      G’n “Gentlemen’s war”

      “A brave race can forget the victims of the field of battle,

      but never those of the scaffold. The making of

      political martyrs is the last sanity of statemanship.”

      – Arthur Conan Doyle

      Die Boereverraaiers was nie die enigstes wat voor vuurpelotonne gesterf het nie. Teen die einde van die oorlog was teregstellings ’n byna alledaagse verskynsel.

      Honderde swart en bruin mense is byvoorbeeld summier of na ’n verhoor deur republikeinse burgers of Kaapse rebelle genadeloos tereggestel. Soortgelyke teregstellings deur die Britse magte het ook nie in die geskied­skrywing veel aandag gekry nie. Baie van die teregstellings, deur al die strydende partye, het met onmenslikhede gepaard gegaan. Dit maak ’n verdere bespotting van die aanspraak dat die Anglo-Boereoorlog ’n sogenaamde “gentlemen’s war” was.1

      Hoewel oorlog in sy aard wreed is, is teregstellings in ’n klas van hul eie wat gruwelikheid betref. In die abnormale omstandighede van die oorlog was die regspleging dikwels nie so ewewigtig soos in vredestyd nie. Dié uiterste straf is boonop nie altyd net toegepas om onregte te straf nie, maar ook om bepaalde militêre en politieke doelwitte te bereik. In dié opsig is die afskrikwaarde van teregstellings vooropgestel.

      Daar was dikwels in die oorlog ’n dun skeidslyn tussen ’n wettige teregstelling en moord. Die strydende partye het mekaar deurlopend van gruwels op die slagveld beskuldig. Daar was wedersydse beskuldigings dat gevange soldate en gewondes op die slagveld summier tereggestel is sonder ’n verhoor. Die regsgeldigheid van summiere teregstellings was hoogs twyfel­agtig. Gevolglik is die teregstellings, naas die konsentrasiekampbeleid en miskien die verskroeideaardebeleid, sekerlik die mees omstrede aspek van die oorlog.

      Die langtermyngevolge van sekere teregstellings was ingrypend. Dit was die ideale teelaarde vir martelaars en helde. Die emosionele nalatenskap van die teregstellings van Kaapse rebelle en republikeinse burgers deur die Britse magte het byvoorbeeld die oorspronklike militêre oogmerke daarvan heeltemal oorskadu. Daarteenoor is die teregstellings van honderde swart en bruin mense en die Boereverraaiers grootliks vergete.

      Teregstellings deur die Britse magte

      Die Britte se twyfelagtige regspleging en die gevoellose wyse waarop hulle Kaapse rebelle en republikeinse burgers tereggestel het, het in baie gevalle blywende bitterheid onder Afrikaners veroorsaak. Die tereggesteldes is na hul dood deur hul volksgenote tot helde- en martelaarstatus verhef. Reeds in 1904 het G. Jordaan die nagedagtenis van Kaapse rebelle en ander Afrikaners wat in die Kaapkolonie tereggestel is in Hoe zij stierven verewig.2 In die gedenkalbums van latere dekades is die tereggestelde republikeinsgesin­des vereer as helde wat die hoogste offer vir hul volk gebring het.3 Ook in die Afrikaanse letterkunde en veral in die digkuns is daardie slagoffers as martelaars besing.4

      Meer as honderd bevestigde gevalle is gevind van Kaapse rebelle en republikeinse burgers wat met of sonder verhoor deur die Britse magte tereg­gestel is, terwyl daar aanduidings is dat die getal selfs hoër mag wees.5

      Daar bestaan geen twyfel dat die Britse militêre oppergesag uiters gefrustreerd was met die oorlog wat nie met ’n beslissende oorwinning tot ’n einde gebring kon word nie. Saam met ander stappe was die teregstellings maar net een van die instrumente om die republikeinse magte tot oorgawe te dwing. Die Britse militêre howe het byna onbeperkte magte gehad om die doodstraf oor republikeinsgesindes vir sogenaamde oorlogsoortredings uit te spreek. Die Britse opperbevelhebber, Kitchener, moes dit net bekragtig.

      Om dié oorlogbeleid uit te voer, het die Britse militêre howe hulle aan drakoniese regspleging skuldig gemaak. Aanvaarde regverdigheidsbeginsels is ondergeskik gestel aan militêre oorwegings. Afrikanerseuns van so jonk as 16 en 17 jaar is op ’n arbitrêre wyse skuldig bevind en op ’n skandelike wyse ten aanskoue van hul mense tereggestel. In baie gevalle is die tereggesteldes skuldig bevind aan sogenaamde oorlogsmisdade wat inderwaarheid standaard oorlogspraktyk was. Hulle is byvoorbeeld aangekla vir die aanval en ontsporing van treine, die buit van voorrade en perde (wat in die klagstate diefstal en roof genoem is), asook dat hulle Britse soldate vermoor het wat in werklikheid op die slagveld gesneuwel het, en dan vir die gebruik van dum-dum-patrone. In die lig van die Britse beleid van verskroeide aarde het die skuldigbevinding en latere teregstelling van Boere weens byvoorbeeld brandstigting, die Britse regspleging in ’n klugspel laat ontaard.6

      Die Britse militêre howe was wel by magte om die Kaapse rebelle aan hoogverraad skuldig te bevind en die doodstraf op te lê omdat hulle Britse burgers was. Die toepassing van die doodstraf op die rebelle was nietemin om verskeie redes omstrede. Die militêre owerhede het op ’n partydige en geselekteerde wyse te werk gegaan. Veral gevange rebelle wat gesagsposisies in hul kommando’s beklee het, is ter dood veroordeel. Deur die topstruktuur van die kommando’s te teiken, is van die tereggesteldes ’n voorbeeld gemaak. Van die bekendste gevalle was die fusillering van kommandante Hans Lötter en Gideon Scheepers, wat ironies genoeg nie Kaapse rebelle was nie. Veral die teregstelling van die befaamde 22-jarige Scheepers het hom tot held en legende verhef.7

      Om die afskrikwaarde van die teregstellings te optimaliseer, is dit oor ’n wye gebied uitgevoer – op minstens 16 Karoo- en ander Kaapse dorpe. Die fusillering van die Kaapse rebelle het met ’n besondere genadeloosheid gepaard gegaan. Die vonnisopleggings en sekere teregstellings is in die openbaar uitgevoer. Die wreedheid daarvan is vererger deurdat plaaslike inwo­ners wat daarvan verdink is dat hulle die republikeinse saak goedgesind was, dit moes bywoon, anders is hulle gestraf. Selfs ’n pa moes die onmenslike foltering verduur om sy seun se teregstelling te beleef.

      Die geestelike marteling van aanwesige republikeinsgesindes is vererger deur die feestelike skouspel waarmee die verrigtinge gepaard gegaan het. Dikwels is winkels toegemaak terwyl die veroordeeldes te midde van ’n skare toeskouers na die dorpsplein gebring is om die vonnis aan te hoor. Daar is ’n militêre parade gehou met ’n orkes wat gespeel het. Die militêre spektakel is met die teregstelling herhaal. Daar was gevalle waar die terdood­veroordeeldes aan verdere vernederings onderwerp is met ’n gekoggel van­uit die skare. Soms het die orkes met ’n triomfmars “More work for the undertaker” gespeel. Die meeste veroordeeldes is deur ’n vuurpeloton gefusilleer, terwyl ander gehang is. By geleentheid het die Britte ’n windpomptoring gebruik toe ’n galg nie beskikbaar was nie.8

      Die teregstellings en drakoniese bepalings daarrondom is amptelik deur die Britse owerhede gekondoneer. Dit het heftige kritiek in die buiteland en veral van die pro-Boere-beweging in Brittanje uitgelok.9 In die Kaapkolonie het dit eens lojale Afrikaners vervreem en vooraanstaandes het openlik hul misnoeë daaroor te kenne gegee. Die skryfster Olive Schreiner het haar die gramskap van die Britse owerhede op die hals gehaal toe sy haar ontsteltenis uitgespreek het oor die ernstige afwyking van beskaafde beginsels wat veronderstel was om die ruggraat van die Britse regstelsel te wees.10

      Die jingopers in Brittanje en in die twee kolonies was verheug oor die genadelose optrede teen veral die Kaapse