Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

geleenthede gehad het om te ontsnap, maar geweier het om dit te doen. Jare later het J.A.C. (Koos) Kriek, wat tydens die twee se aanhouding ’n jong telegrafis op Villiers was, vertel hy het by geleentheid opdrag ontvang om die twee te bewaak. Tydens so ’n bewaking het die bewaarder, Frans Kruger, hom gevra om hulle die kans te bied om te ontsnap. Hy moes dit doen wanneer Kruger nie daar was nie. Kriek moes selfs vir hulle ’n ontsnappingsroete aandui. Die twee het die geleentheid van die hand gewys omdat hulle bang was hulle sou in ’n vooropgestelde hinderlaag doodgeskiet word. Ander oorleweringe dat die veroordeeldes geweier het om te ontsnap omdat hulle hulle berus het in wat hul lot ook al sou wees, klink ietwat vergesog.26

      Bouwer se ouers, Petrus Frederick Bouwer en Jacoba Pieternella (gebore Jordaan), van die Kliprivier-omgewing in die distrik het nog ten tyde van hul seun se teregstelling geleef. Bouwer jr. en sy vrou, Nicolina Maria Magdalena (gebore Kruger) het ’n 17-maande oue dogtertjie gehad. Hul tweede kind, ’n seuntjie, is op 31 Julie 1901 gebore terwyl Bouwer in aanhouding was.27

      Van Emmenes is op die plaas Witpoort naby Heidelberg gebore. Sy ouers, Roelf Jacobus en Wilhelmina Magdalena (gebore Jonker), het ook nog gelewe toe hy gefusilleer is.28

      Met die uitbreek van die oorlog was al die Van Emmenes-broers en hul pa op kommando. Dolf van Emmenes is self deur kmdt. Buys vir opleiding in die staatsartillerie aanbeveel en hy het byna ’n jaar lank as Transvaalse artilleris diens gedoen. Daar word gemeld dat hy aanvanklik besonder trots op sy republikeinse uniform was.29 Tog gee al die broers en hul pa hulle in die tweede helfte van 1900 vrywillig op die plaas Witpoort aan ’n Britse kolonne oor. Die dag nadat hulle hul wapens neergelê het, het almal die eed van neutraliteit geneem. Daarna het Dolf tot November 1900 op die plaas aangebly. Die vegtende burgers het dit egter vir hom te warm gemaak om daar te vertoef. As die hendsoppers geweier het om weer op kommando te gaan, het die burgers hulle dikwels geteister en gestraf. Gevolglik het Dolf van Emmenes na die veiligheid van die Britse mag op Greylingstad gevlug. Vandaar is hy na die Britse kamp op Heidelberg oorgeplaas, waarna hy by die Vallentin’s Heidelberg Volunteers aangesluit het.30

      Alles dui daarop dat die ander Van Emmenes-broers die Britte ook aktief bygestaan het. Kamffer praat selfs van ’n “Emmenes Seksie” by die Heidelberg Volunteers.31 Bevestiging is gevind dat ’n 31-jarige broer, Roelf Jacobus van Emmenes, ook aan die Heidelberg Volunteers behoort het.32 Hul pa het in 1903 verklaar die burgers het hom die keuse gegee om weer op kommando te gaan of agter die Britse linies te gaan bly. Hy het die laaste opsie uitgeoefen. Omdat die Van Emmenes-familie ’n sukkelbestaan gevoer het, was finansiële gewin waarskynlik ’n belangrike motief vir hul ontrouheid.33 Hulle is nog ’n voorbeeld van ’n Afrikanerfamilie wat hulle as ’n eenheid by die Britte geskaar het en uiteindelik ’n joinerfamilie geword het.

      Waarskynlik het finansiële bevoordeling ook ’n belangrike rol gespeel in Piet Bouwer se besluit om by die Britse mag aan te sluit. ’n Ontleding van albei joiners se boedels wys hulle het ten tyde van hul dood niks van waarde besit nie.34

      Nadat die twee rapportryers met die bekragtiging van die doodsvonnis teruggekeer het, is die bewaarder van die gevangenis op Villiers in kennis gestel dat die veroordeeldes binne 24 uur tereggestel sou word. Die veldprediker Poelakker moes die tyding aan die ongelukkiges oordra. Hy was ’n Hollandse sendeling wat hom jare vantevore in Transvaal kom vestig het en ’n vurige patriot van sy aangenome land geword het. Nadat die tyding aan die veroordeeldes oorgedra is, het Poelakker pal by hulle gebly. Volgens Van den Heever moes hy daarin geslaag het om hul lyding ietwat te versag, want met die dag van die teregstelling was hulle betreklik kalm.35

      Die gedoemdes is op 24 Augustus 1901 met ’n perdekar van Villiers na die plek van teregstelling op die plaas Rietfontein, noord van die Vaalrivier, geneem. Oor die gebeure daarna ontstaan die mite dat die twee veroor­deeldes hul eie grafte moes grawe. Kamffer is bruusk daaroor: “Uiteindelik het ons hulle hulle eie grafte laat grawe, albei doodgeskiet en hulle toe­gegooi.”36 Louis Slabbert meld: “Nadat hulle hul eie grafte gegrawe het, is hulle deur ons kommando doodgeskiet.”37 Die twee oudstryders noem egter nie pertinent of hulle met die fusillering van die joiners by was nie.

      ’n Meer aanvaarbare weergawe is Van den Heever s’n wat vertel die grafte is reeds die vorige dag vir die veroordeeldes gegrawe. Hy gee ook ’n meer omvattende beskrywing van die gebeure. Die perdekar het ’n ent van die grafte stilgehou. Daar is die twee geblinddoek, juis sodat hulle nie die oop grafte moes sien nie. Naby die grafte is hulle van die perdekar gehelp en deur die bewaarders na die kopent van die grafte gelei, waar hul moes staan.

      Die vuurpeloton het uit 12 man bestaan. Deur die trek van lootjies is ses vir elke veroordeelde aangewys. Volgens Van den Heever is net die helfte van die gewere met dodelike ammunisie gelaai, sodat daar vir elke veroor­deelde drie gewere met ammunisie was. (Dit strook nie met die Britse ondersoek na die voorval nie, wat daarop dui dat vyf koeëls Van Emmenes se liggaam getref het.) Die offisiere het die gewere gelaai en dit sowat tien treë van die grafte op die grond neergesit. Die lede van die vuurpeloton moes dus nie weet wie die doodskote gaan gee nie. Na ’n teken het die burgers in gelid na die gewere gestap en dit na ’n tweede teken opgeneem. Van den Heever beskryf hoe die gebeure daarna met ’n sterk godsdienstige aanslag deurgevoer is: “Toe het mnr Poelakker ’n paar verse voorgelees uit die Bybel en in ’n kort toespraak gewys op die kortstondige lewe van die mens hier op aarde, asook op die ewige lewe hiernamaals, wat vir hulle wag en wat vir hulle oop is deur die soenverdienste van Christus. Daarna het hy ’n kort gebed gedoen en elkeen van die twee ’n vaste handdruk gegee, terwyl hy hulle die volgende opdrag gegee het: ‘Gee my hartlike groete aan my dierbare ouers. Julle sal hulle daar vind. Sê aan hulle dat ek hulle eersdaags sal volg.’ ”

      Nadat Poelakker eenkant toe gestaan het, is die vuurpeloton aangesê om aan te lê. Die leier van die peloton het volgens ’n voorafbepaalde teken met ’n klip op ’n graafblad gestamp, waarna die skote afgevuur is. Dit was omstreeks 09:30 die oggend.38

      Daarna ontstaan die hardnekkige en grusame oorlewering dat een van die tereggesteldes nog in die graf bly leef het. Sy slagaar is daarna afgesny sodat hy hom moes doodbloei.39

      Dit spreek vanself dat dié soort legendes met uiterste versigtigheid be­oor­deel moet word voordat enige waarheid daaraan geheg kan word. Ge­volg­lik is die bewerings tydens die navorsing vir hierdie werk aanvanklik met skeptisisme bejeën. ’n Bevestiging van ’n soortgelyke weergawe is egter in die Britse ondersoek van 1902 oor die teregstelling gevind.

      Die Britse getuienis is gebaseer op mededelings van asst.vdkt. Andries Jacobus Greyling van die Heidelberg-kommando wat op 3 Mei 1902 ge­vange geneem is en wat met die teregstelling teenwoordig was, asook op sekere ander hoorsêgetuienis. Uit die Britse ondersoek blyk dit dat Van Emmenes nie onmiddellik gesterf het nadat vyf koeëls sy liggaam deurboor het nie.40 ’n Duitser, Otto Schnitter, wat die Boere as veldgeneesheer bygestaan het, moes bevestig dat die tereggesteldes dood is voordat die grafte toegegooi kon word. Klaarblyklik het hy Van Emmenes se slagaar oopgesny om vas te stel of hy dood is. Sy beweegrede was moontlik om na die bloed­vloei te kyk om vas te stel of die man se hart nog pomp. Moderne medici het sy metode as uiters vreemd beskryf. Schnitter was nie ’n behoorlik gekwalifiseerde geneesheer nie.41 Of Van Emmenes inderdaad nog gelewe het voordat die aar oopgesny is, kon nie vasgestel word nie. Schnitter se optrede is ’n waarskynlike verduideliking vir die ontstaan van die mite.

      ’n Sersant Fowlds van die 2nd National Scouts het dié hoorsêgetuienis op 11 Mei 1902 tydens die Britse ondersoek na die teregstelling gegee, wat die mite waarskynlik versterk het: “I have heard it stated that the opening of the artery was for the purpose of allowing Emmenes to bleed to death.”42 Van die Britse ondersoek het klaarblyklik niks gekom nie en geen bevin­ding van ’n moontlike vervolging van enige republikeinse burgers is gemaak nie.

      Die teregstelling moes duidelik vir die aanwesige burgers traumaties gewees het. Volgens Van den Heever was die twee tereggesteldes nie net goed aan die burgers bekend nie, maar ook bloedfamilie van sekere lede van die vuurpeloton. Hy gee egter nie detail oor die presiese verwantskap nie. Dan meld hy ook Bouwer het in een of ander stadium vir sowat die helfte van die aanwesige jong burgers skoolgehou. “Dit is te begrype dat dit ’n plig was wat loodswaar op die arme jong burgers gedruk het, maar die beslis­sing onherroeplik.”43 Dié jong burgers moes blywende