Короткие любовные романы

Различные книги в жанре Короткие любовные романы

Margot en die meerman

Anita du Preez

Margot Lombard is ʼn “koue vis”, of so het sy al self begin glo. Nadat sy haar M.A. in Musikologie voltooi het, gaan hou sy vakansie in Zanzibar – stoksielalleen. Daar is niemand wat haar ken nie. En ook niemand om dit saam met haar te vier wanneer sy uitvind dat sy haar graad cum laude verwerf het nie. Dan verskyn Konrad Lemmer op die toneel: diepseeduiker, donker, eksoties, atleties. En jonger as sy. Konrad neem haar na plekke – nie net op die eiland nie – waarvan sy niks geweet het nie. Maar sy weet voor haar siel dat sy nie kop moet verloor met so ’n vakansieromanse nie. Want Konrad met sy goue lyf kan per slot van sake enige vrou wat hy ontmoet om sy pinkie draai. Hy is die tipe man wat harte kan breek. En Margot is definitief nie van plan om een van sy slagoffers te word nie. . .

Liefde in fokus

Zoë Gouws

Xante Knobel is ’n fotograaf wat dit haat dat mense na haar kyk. En sy sukkel regtig om die Kaapse mense te verstaan. Hulle is so ánders as die Namibiërs. Faan Viljoen is ’n argitek met ‘n passie vir bekostigbare behuising. Hy is ook die pa van ’n dogtertjie wat graag ‘n model wil word – iets wat vir hom heeltemal onaanvaarbaar is. Die dogtertjie se ma, sy eks, was immers ’n model, en kyk waarop het dít uitgeloop…In ’n Kaapse township, tydens ’n fotosessie van Faan Viljoen se behuisingsprojek, ontmoet hy vir Xante. Dit lyk asof hulle op professionele vlak goed sal saamwerk, maar toe Faan Viljoen ’n paar weke later sien hoedat Xante sy dogtertjie afneem met die oog op modelwerk, is die gort gaar!

Iemand soos jy

Schalkie van Wyk

Elzeri Odendaal het by haar oupa Gideon en ouma Beth grootgeword omdat haar ma haar as baba aan haar grootouers gegee het en haar pa kort voor haar geboorte in ’n ski-ongeluk gesterf het. Haar ma is skaars ’n jaar later weer getroud, en het haar dogter deur die jare nooit opgesoek nie. Elzeri het egter nie daarin belang gestel om haar ma te probeer opspoor nie, want sy het kleintyd al aanvaar dat haar ma haar verwerp het. Maar toe sy by haar vriendin Sonette in die Karoo gaan kuier en uitvind dat dié haar ma goed ken, word sy onverwags met haar verlede gekonfronteer. Om nie te praat van Sonette se aantreklike broer, Arendt, wat haar emosies behoorlik deurmekaarkrap nie.

Die engele staar

Marie Reyneke

Nina Joubert verloor haar pos in die SAPD en sit boonop met die nadraai van ’n mislukte verhouding wat sy moet verwerk. Toe sy ’n pos as polisie-informant in Zambië aangebied word, huiwer sy g’n oomblik om dit te aanvaar nie. Op Nyati Lodge word daar klaarblyklik onwettig gesmokkel met die swartwang-parkiet, ’n uiters bedreigde spesie wat slegs in die gebied van die Victoriavalle voorkom. Gunther Becker, die eienaar van die lodge, is die vernaamste verdagte. Die enigste probleem is dat Nina van die man hóú – en baie ook. Tussen haar eintlike missie en haar verraderlike hart word Nina so amper in twee geskeur.

Skoonlief en die dirigent

Marijke Greeff

Nina O'Neill se troetelnaam is dalk Skoonlief, maar sy’s nie ’n meisie wat jy sonder handskoene aanpak nie. Sy is 'n inspekteur van Georganiseerde Misdaad in die Polisiediens en het ses ouer broers. Na 'n voorval waar Nina op invloedryke mense se tone trap, kry sy opdrag om deel uit te maak van Quinn Chauncey se sekuriteitspan tydens sy optrede in Suid-Afrika. Quinn mag dalk ’n wêreldberoemde Ierse dirigent en violis wees, maar Nina beskou sy uitverkoopte konserte as tydmors en onbelangrik. Quinn hoor Nina by 'n troue sing en toe een van sy soliste siek word, vra hy Nina om in te staan. Maar die vonke spat behoorlik tussen Skoonlief en die dirigent!

'n Reënboog vir Aralie

Ettie Bierman

Wanneer Aralie se eksman, Niel, haar smeek om in sy plek as veearts op ’n wildplaas in Namibië te gaan waarneem, stem sy teësinnig in. Want na haar egskeiding het Aralie dringend geld nodig. Maar op Belelapa is dinge beslis nie wat sy verwag het nie. Daar is geen fasiliteite nie aangesien alles nog in aanbou is. En boonop behoort die plek aan Franco Conradie, “olifant fluisteraar”, TV-man en bekende natuurkenner – en hy is glad nie seker of die tenger rooikop veearts die werk sal kan doen nie. Asof dit nie genoeg is nie, besluit Neil dat hy Aralie ten alle koste wil terugwen. Moet Aralie Niel nog ’n kans gee, of sal Belelapa se aantrekkingskrag sterker wees?

Sondag van die silwersee

Maretha Maartens

Farah Olivier aanvaar ’n pos as kuns- en dansonderwyseres by ’n privaatskool in Somerset-Wes, maar wanneer sy aanmeld, is daar nie ’n mens in sig nie. Want die skool was net ‘n verneukspul. Vyf dae later weet die 22-jarige Farah hoe dit voel om die ma van twee tieners en ’n laatlam te wees. Sy moes noodgedwonge die pos as au pair vat. Maar Farah voel self nog kind. Padgee is egter nie ’n opsie nie. As dit nie vir haar buurman se seun, Alexander Meiring was nie, sou sy verlore wees. Sy is heel tevrede met die stand van sake – tot die Sondag saam met Alexander en die kinders teen ’n silwer see . . .

Roep van die woestynwind

Malene Breytenbach

Doktor Denise Barry, dosent in Ou Nabye Oosterse Studie, se verhouding met die argeoloog Dale Peters was nog altyd besonder ingewikkeld. Met sy vertrek na die Midde Ooste het hy hulle verhouding summier verbreek. Maar toe Denise die geleentheid kry om die antieke Nabatese stad Petra, waar Dale is, te besoek, het hy heel opgewonde geklink om haar weer te sien. Wanneer Denise egter in Petra aankom, het Dale spoorloos verdwyn. Wou hy haar net vermy, of is hy ontvoer? Wie is die groep wat hulself die Arabiere vir Vryheid noem, en watter geheime bewaar hulle? Denise besluit om Dale te soek – want as hy nie meer deel van haar lewe wil wees nie, kan hy ten minste reguit en in lewende lywe vir haar sê!

Melktert en kaviaar

Annelize Morgan

Liedjieskrywer Emma Steyn se grootste droom is om eendag haar eie liedjies te sing. Sy raak egter heeltemal té gespanne – so erg dat sy nie eers ’n piep kan uitkry nie. En haar vriend, die sanger Ingo, maak dit nie makliker nie. Wanneer Ingo vir Emma met ’n ander meisie verneuk en boonop een van haar liedjies steel, nooi vriende haar na Xander Vermeulen se wildsplaas om van Ingo te vergeet.Xander het self ’n platemaatskappy en besef gou hoe talentvol Emma is. Maar Xander is ’n moeilike man en het geen tyd vir Ingo nie. Net toe Emma dink haar loopbaan tel spoed op, beduiwel Ingo wéér die spul. Emma word in hegtenis geneem vir die besit van dwelms. En Xander se geduld is hierdie keer min. . .