Anderkant môre wag geluk: ‘n Vakansie op haar oom se wynplaas is net wat Nicky le Riche nodig het om van haar hartseer te vergeet en helderheid te kry oor dr Erich de Lange, wat al so lank met haar wil trou. Sy aanvaar ‘n pos as privaatverpleegster vir tant Monica Volkema en wanneer Reinder haar kom oplaai plaas toe, ontketen sy onwetend ‘n hele kettingreaksie van afguns, konkelary en misverstand. Lise Kirsten se geaardheid bring sonskyn aan al die inwoners van Heimat – almal behalwe die hovaardige en verwaande Herman Raubenheimer. Terwyl Lise die verpleegster vir tant Renate is, en Deidré se kameraad, is sy vir Herman niks meer as ‘n arm verpleegster wat haar suster se foute moet regmaak nie. Dis net oom Jopie wat sien dat die Son van liefde wil-wil deurbreek in hulle verhouding. In ‘n Bruid vir Eduard lyk Liesel Botha se toekoms rooskleurig wanneer Martin Eloff haar vir ‘n naweek Durban toe nooi. Maar gou kom sy agter dat hy minder edele bedoelings het. Gelukkig is daar ’n lang, donker vreemdeling daar wat tot haar redding sal kom – of gáán hy?
In Bloeisels in die wind ontmoet Sonja die aantreklike Arno Landman. Maar hoe ken haar ouma Hannah dié man, en hoekom reageer sy so geskok op die blote noem van sy naam? Spoedig leer Sonja dat dit nie net jong mense is wat gekasty word deur die pyn van die liefde nie. In Winter van heimwee word Hermien du Preez verwyt vir die dood van haar kleinboet Jacques. Dié las kan Hermien nog dra, maar dan betrap sy haar stiefma in ’n warm omhelsing met ’n onbekende vreemdeling, terwyl haar vader weg is op ’n sakebesoek. Hermien ontdek dat die lewe oor jou kan loop… maar steeds veg jy vir dit wat jy wil hê. En in Ongetemde hart spat Tanya se liefdesdroom aan skerwe toe dokter Johan Neethling sy verlowing aan Ansunette Raath bekend maak, terwyl Tanya altyd oortuig was hy is aan háár getrou. Sy vlug na Silwersee om van die skok te herstel. Hier ontmoet sy die welvarende sakeman Bernard Zandberg, ’n vriend van Johan. Net toe dit lyk of hulle mekaar begin vind, verskyn die beeldskone Zania de Necker, Bernard se jeugliefde, op die toneel. Dan daag Johan ook op, vasbeslote om Tanya terug te wen…
Kayla maak abrup kennis met haar bure se kuiergas Briand en sy fiets in Om joune te wees. Haar hart werk dadelik oortyd, maar daar is die een drama ná die ander. Maryna moet Christiaan se hulp aanvaar in Maryna se liefdeslied. Bitter onwillig vat sy weer die pad – maar niemand anders nie as Christiaan vind sy in Durban. Hulle moet egter ’n onaangename taak uitsorteer en dit blyk dat die uitdaging ’n verhouding in die kiem kan smoor.
Lani Taljaard en haar beste vriendin besluit dis tyd om op hul eie voete te staan. Hulle is jong, gekwalifiseerde joernaliste en benodig lewenservaring en genoeg geld om die pot aan die kook te hou. Die skilderagtige kusdorpie Silwersee is net die regte plek om dit te doen. Lani wens haarself nou al jare lank geluk omdat geen man nog daarin kon slag om haar gedissiplineerde emosies te versteur nie. Dokter Jan-Erik van Eeden met sy onbetwisbare selfversekerdheid is egter die oorsaak van onbekende sensasies. Dié donkerkopman met die silwergrys oë laat haar siel nie met rus nie en Lani hou nie daarvan om nie in beheer te voel nie. Hoekom beveel tant Marcia boonop vir Lani om nie vir haar ma van Jan-Erik se teenwoordigheid te vertel nie? Wat het jare gelede tussen die Van Eedens en die Taljaards skeefgeloop?
Beminde vreemdeling: Wiandri Rosseau is twee-en-twintig en pas gekwalifiseer as hospitaalsuster. Sy keer terug na haar geliefde plattelandse Huis Groeneweide, waar haar bejaarde tant Lerina en dié se geliefde huishoudster, tant Grietjie, haar gretig inwag. Nou kan sy haar tante versorg en die swierige huis van haar kleintyd geniet. Maar daar aangekom, ontdek Wiandri ’n vreemdeling bly ook nou op Groeneweide – die stroewe, dommerige nutsman Floors, van wie sy dadelik net mooi niks hou nie . . . maar tog ook só vreeslik baie! Wanneer Wiandri verder agterkom dat haar peetma, die matrone in die dorpshospitaal, uiters wantrouig staan teenoor Floors, is haar verlangde vakansie by die tannies glad nie meer ’n rustige tydjie nie. Waarom dink Christelle Floors is so gevaarlik? En wie ís hy nou eintlik? Ruiter van my drome: Zandri was sewe jaar lank weg van Wyedraai, waar sy as kind salige vakansies by haar grootoom op sy perdeplaas deurgebring het. Die dorpie gons nou behoorlik: Hier kom sy aangery in ’n gekrokte viertrekvoertuig, en ’n gesiene familie van die dorp het haar in Londen, waar sy die afgelope jare gebly het, aangetref met ’n kind . . . háár kind buite die eg, het sy kwansuis vir hulle gesê. Ou vriende kyk Zandri nou met afkeer aan en Ferdinand, haar tienerliefde, het baie verander. Maar dis niks, sy is lankal oor hom. En tog . . . waarom is haar lewe skynbaar verstrengel met syne? Kan sy hoop om mee te ding met die vrou uit sy verlede, die een wat volgens sy tant Ragie Ferdinand se hart gebreek het en hom vir ander vroue ruïneer het? En wat tog van die kind?
Erika Strauss het klaar studeer en wil begin om sielkunde te praktiseer, maar skielik is haar eie psige vir haar ’n raaisel. Dis die aantreklike donkerkopman wat sy in die bure se tuin aangetref het wat haar kop so deurmekaarkrap. Wat sou haar besiel het om die wildvreemde man te soen en dit boonop te geniet? Hy was geklee in ’n oorpak en het beweer hy is ’n tuinier en sy naam is Moos, maar sy weet sommer dit is nie waar nie. Wie is hy? En waarheen het hy verdwyn? Sy verbeel haar nou selfs dat sy hom, geklee in ’n aandpak, in ’n deftige restaurant gewaar het . . . Sy moet haar regruk, want ’n ou vriend het haar hulp nodig om sy vrou se irrasionele vrese te help besweer. Maar Erika weet sy sal ook met haar eie emosionele bagasie moet vrede maak as daar enigsins vir haar ’n kans op liefde is . . .
In Môre bring ’n nuwe daeraad kry Lelani Wessels ’n uitnodiging na Huis Daeraad op Stadlerheim wat bewoon word deur Roland Stadler – die donker man met die geletselde gelaat wat hom voorgeneem het om nooit weer lief te hê nie. Maar op ’n dag raak hy aan Lelani se hand en hulle besef albei dat niks ooit weer dieselfde kan wees nie . . . In Gevangene van gister is Elfie se pa en Yolande se ma skielik getroud en oorsee vir hulle wittebroodsdae. Elfie en Yolande gaan intussen op Helderwater vertoef. Maar Elfie tref ’n deurmekaarspul op Helderwater aan: Daar is ’n man in die huis wat ewe op sy gemak in die badkamer sing! En in Iemand soos jy het Elzeri Odendaal by haar oupa en ouma grootgeword. Toe sy by haar vriendin Sonette in die Karoo gaan kuier en uitvind dat dié haar ma goed ken, word sy met haar verlede gekonfronteer. Om nie te praat van Sonette se aantreklike broer, Arendt, wat haar emosies deurmekaarkrap nie.
As hoof van die Blanchet-meisieskool word daar van Sandri Blanchet verwag om haar waardig te gedra. Maar toe sakeman Marko Waalstra by haar kantoor inbars en haar van allerhande dinge beskuldig, kap Sandri besonder ónwaardig terug. Die vent weet hoe om haar verkeerd op te vryf. En tog kan sy nie ontken dat sy hul rusie so ’n bietjie geniet nie. Vir ’n rukkie vergeet sy van protokol terwyl die vonke spat. Dit blyk dat Marko besorg is oor sy susterskind, Christiane, wat met Sandri se halfbroer, Jean-Pierre, ’n verhouding het. Toe Marko voorstel dat hy en Sandri mekaar beter leer ken ter wille van dié twee se jong liefde, skop Sandri teë. Maar haar familie nooi Marko om op hul landgoed te kom kuier. Daar sien Sandri ’n sjarmante sy van Marko. Maar hoe kan sy iemand vertrou wat so ’n bedrewe flankeerder blyk te wees? Toe daar ’n anonieme brief by die Blanchets afgelewer word wat Marko en Christiane se identiteit in twyfel trek, is Sandri nog meer onseker oor haar gevoelens vir hom . . .
Louise Barnard is in die wolke wanneer haar vriend, die aantreklike, skatryk Eben Griesel vir haar die woonstel wat hy vir hulle uitgesoek het gaan wys. Mevrou Louise Griesel, mymer sy, drome wasig in haar oë terwyl sy opkyk na Eben wat langs haar in die hysbak staan. Sy glimlag met hom. Hy het reeds hulle woonstel gekies, hoewel hulle nog nie op 'n troudatum besluit het nie. Maar só het sy Eben die afgelope maande leer ken. Hy dink aan die praktiese dinge en 'n woonplek sal beslis vir hom van groter belang wees as al die beplanning en gepraat en bespiegelinge oor 'n geskikte troudatum en hoe groot die huweliksonthaal gaan wees. Net 'n paar minute later, in dieselfde woonstel waaroor Louise so baie drome gedroom het, spat haar hele wêreld erger aan skerwe. Eben het beslis nie aan die beplanning óf 'n geskikte datum vir hulle huwelik gedink nie. Tewens, niks was verder uit sy gedagtes verwyder as juis ‘n huwelik met Louise nie. Sy idee was suiwer dat hy en sy moes saambly – soos sy antwoord op haar weersin dan ook getuig – “Genugtig, Louise, trou is so uit die mode soos Kersvader en Kerskabouters!” het hy gesmaal terwyl sy so vinnig moontlik van hom af probeer wegvlug het. Met haar vertroue in mans geheel en al vernietig, besluit Louise om uit Johannesburg pad te gee. Sy moet wegkom van Eben af . . . van die smet wat sy idees in haar binneste gelos het, en die huis wat haar moeder kort gelede van haar tant Ragie de la Rey op Rheedershoop geërf het, bied aan haar ‘n salige heenkome. Maar Louise het nie rekening gehou met die ander De la Reys van Rheedershoop nie. Met Lafras, die breedgekouerde padbou-ingenieur met die gesig wat lyk of dit uit graniet gebeitel is nie. Ook nie met Theresa Hattingh, die skatryk, suksesvolle, talentvolle, aantreklike vrou, soos iemand haar aan Louise beskryf het, wat Lafras de la Rey vir haarself toegeëien het, of met Belinda, die agtienjarige prikkelpop op wie Lafras ooglopend op sý beurt verlief is nie. Wanneer, o wanneer, so het Louise se hart telkens geweeklaag, sou die lokstem van die liefde háár weer roep. Wanneer . . .?
Toe die pragtige Ilse Brink universiteit toe gaan, het sy nie die spreekwoordelike sterre in haar oë en die wêreld aan haar voete nie. Sy besef dat sy hard sal moet werk – en boonop gou klaarkry – sodat sy kan help om vir haar behoeftige ouers op die plaas te sorg. En toe vat 'n nuwe idee by haar pos: as sy met 'n ryk man kan trou, 'n ryk man met baie geld, sodat sy en haar ouers nooit weer aan hulle armoede hoef te dink nie . . . Ilse is 'n gelukkige meisie, want sy loop vir Bruce Reyneke raak. Hier en daar hoor sy wel 'n storietjie oor Bruce, maar wat maak dit saak? Hy het mos baie geld en hy is beleef teenoor haar. Ilse se boesemvriend, Henk Retief, hou haar egter met 'n arendsoog dop, en hy weet: eendag sal Ilse se oë wel oopgaan. Maar dit was voordat sy ingewillig het dat die beroemde Tobias Meiring haar skilder. Tobias het ook geld, en boonop is hy aantreklik, sjarmant en die antwoord op enige mooi meisie se drome – al is hy oud genoeg om Ilse se vader te wees. Die liefde oorwin is 'n pakkende, eg-menslike verhaal wat end-uit boei.