Carmia Basson moet noodgedwonge bedank as junior verslaggewer en word spoedig aangestel as assistent van die bekende skrywer Margo Vermeulen. Margo het dringend iemand nodig wat sal inwoon by haar en haar kleinseun op Skamanga, hul spoglandgoed aan die KwaZulu-Natalse kus. Dit klink idillies, maar spoedig begin dinge krap. Deneys Vermeulen wil Carmia glad nie op sy plaas hê nie. En Tasha, wulpse buurdogter en bekende perderuiter, wil Deneys tot elke prys aankeer. Carmia self moet ook kliphard teen haar wederstrewige hart baklei – totdat Deneys haar van die landgoed af wegjaag . . .
Marian Sinclair en haar niggie Morag hou vakansie op die Skotse eiland Mull en gaan met groot vooroordele tuis by Kasteel Glenbogan, die setel van die aristokratiese familie wat hulle veronderstel is om te verfoei weens ’n eeue oue familievete.Op Glenbogan leer hulle die MacLean-broers ken as mense wat vriendelik en gasvry is. Veral sir Roderick, die oudste broer en laird van Glenbogan, slaan Marian se voete (teen haar wil en beterwete) onder haar uit. Marian kan haar aangetrokkenheid tot Roderick nie verklaar nie; hy het immers ’n paar duisterhede in sy verlede. Spoedig begin vreemde ongelukke en teespoed die Kasteel ry. En dit wil selfs lyk asof iemand probeer om van Marian ontslae te raak. . .
Ebbie Basson se hart is gebreek; haar jarelange verhouding het pas verbrokkel. Daarom gryp sy die geleentheid aan om ’n gholflandgoed wat op Kransbaai aan die Weskus ontwikkel gaan word, te bemark en te verkoop. Want Eddie is ’n eiendomsagent wat sterk voel oor bewaring.Die ontwikkelaar is die charismatiese Liam Murray en kort voor lank voel Eddie aangetrokke tot hom. Hy het egter ’n reputasie as hartebreker. As Liam van moord aangekla word en Eddie die kontrak verloor om die Kransbaai-ontwikkeling te verkoop, begin dinge lelik skeefloop. En spoedig kom Eddie agter dat sy óók in hartebreker Liam se strik getrap het. Wat ís dit dan met haar dat sy aanmekaar die verkeerde man kies?
Fisioterapeut Isabelle van der Walt kry die kans van ’n leeftyd wanneer die sakereus Ernst Joubert haar nader om saam met haar kêrel, Dolf Dreyer, by sy nuwe hotel in Zanzibar te gaan werk. Isabelle moet die terapeute by ’n spa oplei en Dolf moet die nuwe hotel se rolstoelgeriewe kom ondersoek. Maar die idilliese eilandlewe is nie al wat met Isabelle se kop smokkel nie. Isabelle het ernstige bedenkinge oor haar verhouding met Dolf en wanneer een van die opleidingsbeamptes haar boonop die hof begin maak, gryp Ernst in. Min weet Ernst egter dat ook hý blykbaar nie bestand is teen die romantiese uitwerking van Zanzibar se palmbome en asuurblou see nie. . .
Dr Wilmari Neveling se lewe stort ineen wanneer haar verloofde aan leukemie sterf. Alhoewel sy ’n passie vir pediatrie het, besluit sy om in onkologie te spesialiseer. Sy aanvaar ’n pos by die Nasionale Onkologie-navorsingseenheid aan die bekende Môreson-kliniek. Daar ontmoet sy Môreson se direkteur, Jonatan de Klerk van Jaarsveld. Jonatan is uit die staanspoor gefassineer deur die koel afgetrokke Wilmari wat niks met mans te doen wil hê nie en hom, ten spyte van sy gewildheid onder die vrouegeslag, as “te oud en bekrompe” afmaak. Wilmari se seer oorheers alles in haar lewe en sy begrawe haarself in haar werk. Sal Jonatan se passie vir dié hardekop langbeendokter die verlede kan heel?
Victoria Serfontein se eerste ontmoeting met die aantreklike plastiese sjirurg Paul Venter vind plaas toe sy hom besoek en vra of hy iets aan haar Barbra Streisand-neus kan doen. Dié ontmoeting verloop rampspoedig; boonop stamp sy kort daarna sy Lamborghini. Sy sal nie maklik vir die skade kan betaal nie en is totaal uit die veld geslaan toe dokter Venter haar werk aanbied. Sy aanvaar die aanbod, maar dis nie lank voor sy besluit om eerder te bedank nie. Paul Venter mag aantreklik wees, maar daar was – en is dalk steeds – hope vroue in sy lewe, veral as ’n mens die koerante en tydskrifte se skinderkolomme moet glo. . .
Ná meer as twintig jaar kom Dorothea de Waal se huwelik tot ’n einde. Dit bring vir haar ’n oorheersende gevoel van verligting en bevryding, want Werner was ’n koue, selfsugtige man wat weinig belangstelling in haar óf hulle twee kinders getoon het. Gelukkig is die kinders reeds uit die huis, en vir Dorothea is dit in alle opsigte ’n nuwe begin. Een middag is sy in ’n ligte motorongeluk betrokke, en die oortreder is ’n seun van skaars twaalf. Toe sy sy pa ontmoet – die afsydige doktor Theuns Steyn, fisikadosent aan die universiteit – kan sy goed verstaan hoekom. Teen haar sin voel sy aangetrokke tot Theuns, maar sal hy ná sy vrou se dood bereid wees om weer ’n verhouding aan te knoop?
Toe die beeldskone Minette Faber se professor, Paul, haar vra om met hom te trou, slaan hy haar voete onder haar uit. Ten spyte van waarskuwings van alle kante, gaan die troureëlings voort. Die uitnodigings is gepos, die troukoek bestel . . . en dan daag Pierre Hagen, Paul se seun, uit Londen op. Tussen Minette en Pierre spat die vonke van die eerste oomblik toe hy haar met intens begerige oë aankyk en prontuit verklaar dat sy gans te jonk is om sy oorlede ma se plek in te neem. Is dit bloot fisieke aantrekkingskrag, of is Minette besig om trou aan die verkeerde man te sweer?
Toe groentjie-joernalis Michaela Beekman agter ’n storie aan gestuur is, het sy nooit kon raai dat sy die storie sou word nie!Haar hele lewe lank het sy die gemis aan ’n pa ervaar, maar dit probeer wegsteek, en nou ontdek sy dat die vrou wat haar grootgemaak het nie haar ma is nie. Dat sy eintlik ’n ander naam en van het, en dat haar ware ouers geskei is as gevolg van die tragedie wat die gesin getref het.Voor al die drade egter ontrafel kan word, word die geskiedenis byna herhaal. Maar die ramp word afgeweer deur Kayne Richardson, ’n man na wie ’n vrou sommer sonder ophou wil kyk, haar beste vriendin se amperse verloofde, en doring in Michaela se vlees. . .
Op die partytjie van haar baas se bedorwe dogter, Nicolette, ontmoet Petri Auckamp een aand ‘n man wat so vas en sterk soos ‘n boom blyk te wees. Hougard Reyneke red haar meer as een maal uit ‘n moeilike situasie en laat haar hart beslis vinniger klop. Maar hy is klaarblyklik verloof aan Nicolette. En boonop is daar Ian Olivier, die jong prokureursklerk wat vlerksleep by Petri. Houghard is ‘n man van lig en skadu vir Petri. Een oomblik skerts hy met die sorgvryheid van die jeug en dan vlug die lig uit sy oë en word hy ‘n man van donker geheime. . .