Vir Isabelle de Neuve verander die lewe in ’n oogwink toe haar vader verongeluk en sy wees gelaat word. Sy laaste versoek is dat sy Frankryk moet verlaat, na die Kaap de Goede Hoop moet gaan en met Etienne le Riche moet trou. Maar op pad word hulle skip deur seerowers oorval en word sy saam met ’n paar ander meisies weggevoer na Arabië waar hulle as slavinne verkoop word aan sjeik Salem Khidr. Wanneer sy aartsvyand, sjeik Xavier Jahrad, haar voor sy neus wegraap, vergeet Isabelle van Frankryk en die Kaap de Goede Hoop. Sy verander in Shahira, ’n blouoog meisie wat die verbeelding van die Bedoeïene aangryp, iemand wat ook aan die woestyn behoort en wat weet dat sy iewers tussen hierdie harde mense ’n plek het. Net jammer dat die oorlogswolke saampak – ook op die liefdesfront, want die beeldskone Beryl word so te sê aan Xavier beloof en dit kan die skaal enige kant toe laat kantel.
In Katryn Müller se ouerhuis was swaarkry of die aanvaarding van verantwoordelikheid nie hoog op die agenda nie en godsdiens het geen rol gespeel nie. Maar kort voor Katryn as vennoot in haar ouers se verslankingsmiddel-sakeryk opgeneem kan word, verander die lewe en die atmosfeer in Müllerhof onherroeplik. Eggert en Frieda Müller roep die landskap van die maer lywe vaarwel toe en gooi die deure van ’n ou plaashuis oop vir mense wat ’n tweede kans in die lewe nodig het. Teen haar sin begin Katryn betrokke raak by haar ouers se nuwe lewe en ontmoet vir Dawid Pretorius, die maatskaplike werker met die groot hande wat so sag aan mense raak. Wanneer haar pa ’n dodelike siekte plaas toe bring en kwarantyn afgedwing word, ontdek sy Dawid Pretorius is nie ’n engel wat op aarde diens doen nie . . .
Met die begrafnis van Sonja Britz se pa verander haar gerieflike, beskutte lewe oornag wanneer sy uitvind van sy ware lewe. Soos die een bedrogspul na die ander aan die lig kom, word Sonja toenemend deur die pers gejag en die polisie wantrou. Met rolle en rolle note in haar sportsak vlug sy na bykans vergete dele van Suid-Afrika. Hier ontmoet sy vir Burger Vollgraaff en die mense van Koppie-alleen. Kan sy dit waag om haar werklike identiteit bekend te maak? En hoe lank sal dit neem vir Burger om haar gesig wat op soveel advertensies pryk, te eien? Sonja is desperaat vir ‘n ander lewe, maar sal Burger haar ooit kan vergewe vir die vernederende finansiële verknorsing waarin hy – en soveel ander boere langs die rivier – hulle bevind?
Die jong fisioterapeut Michelle Judson beseer haar hande in ’n ernstige ongeluk wat haar vriendin, Sunette, in ’n koma laat. Met elke operasie wat sy ondergaan, word Michelle meer depressief, want dit was sý wat die motor bestuur het. Gelukkig het dokter Douw Hefer, haar chirurg, verbasende empatie met haar. Hy het immers self tragedie ervaar. Teen haar sin raak Michelle aangetrokke tot die aantreklike chirurg. Maar Douw blyk klaar ‘n vrou in sy lewe te hê: Annette – die sielkundige wat Michelle vir depressie behandel. En dan gooi Michelle se beeldskone, bedorwe stiefsuster, Nicci, ook nog haar flikkers vir hom. . .
Beeldskone en vurige Miranda Almas de la Montara, dogter van een van die groot estancia-eienaars in Argentinië, verloor haar hart op die eienaar van die aangrensende estancia San Felipe de Oragon. Sy vind egter tot haar konsternasie uit dat die Conde Alejandro Semillano de Oragon verloof gaan raak. Sy bloubloed Spaanse familie het vir hom ‘n vrou uit een van die voorste Spaanse aristokratiese families gekies en hulle verlowing word met ‘n groot party gevier. In dié tyd van politieke onrus bedreig die bandito Pablo Ramirez egter al die ryk estancias en mik om president Branco uit die kussings te lig. Wanneer Ramirez Miranda ontvoer met die doel om met haar te trou, spring Alejandro en sy gauchos in om die regeringstroepe te help. Sal Miranda dit regkry om Alejandro se liefde te wen? Of is sy vir hom slegs maar die dogter van sy buurman? Hertog van die Pampas speel af in negentiende eeuse Argentinië.
Lucinda O’Neill het destyds in die weeshuis al geweet sy wil pediater word. Toe sy ’n pos by die Wynland Kliniek vir Aansteeklike Siektes aangebied word, bring dit ’n algehele ommekeer in haar lewe mee – en nie slegs op professionele gebied nie. Want hier ontmoet sy vir Werner Huber, ’n siviele ingenieur, wie se seun tydens ‘n werkskontrak in Afrika ’n tropiese siekte opdoen het. Wanneer hy die seuntjie na die kliniek bring, maak dit ’n groter impak op Lucinda se lewe as wat sy ooit kon voorsien het. En intussen maak die resiesjaer Edwin van Reenen, wat haar ken sedert hulle kinderdae in die weeshuis, aanspraak op haar vriendskap en liefde. Lucinda het haar nog altyd van liefdesverbintenisse weerhou; haar werk was haar erns. Maar in Wynland kliniek word sy verplig om keuses te maak – en meteens lyk haar pad vorentoe baie gekompliseerd.
Liana Louw is ’n rykmansdogter met ’n passie vir armes en mense in nood. Haar ouers verstaan hierdie eiewyse enigste dogter van hulle maar alte goed en maak geen beswaar toe sy haar as verpleegsuster bekwaam en in die hartjie van die bedenklike middestad tussen haar pasiënte gaan woon nie. Hulle hoop dat die suksesvolle ginekoloog dr Pierre Bosman, wat al met Liana bevriend is sedert hulle skooldae, daarin sal slaag om haar hand en haar hart te wen. Wanneer die sjirurg Brink Fouche, self uit ’n arm agtergrond, haar lewe binnestap, is daar vir die eerste keer iemand wat werklik haar passie vir die mense van die middestad verstaan. Brink laat haar knieë lam word, maar vir hom is mooi vroue bloot afleiding. En daar is dr Ellen Dupisanie, sy vennoot, wat reeds haar kleim om Brink afgepen het. Liana word moet haar nie net uit die intriges van die middestad losmaak nie, maar ook van ’n mooi dokter wat steeds na sy vrou hunker. . .
Mia Bindemann skryf vir ’n lewe. Maar anders as wat sy graag wil, skryf sy nie artikels of nuusberigte nie. Sy skryf sepie-opsomminkies vir Nuusweek se TV-gids. Dan kry sy haar kans: Nuusweek stuur haar na Bahrein, ’n eksotiese woestyneiland in die Midde-Ooste, ’n plek bekend as die Tuin van Eden. Sy moet ’n artikel gaan skryf oor ’n bomontploffing op ’n veerboot waarin baie Suid-Afrikaners dood is. Maar dit kan nie sommer enige artikel wees nie, waarsku Grethe haar vooraf. Sy moet ’n scoop kry – eksklusief vir Nuusweek. ’n Boheemse duiker genaamd Eric voer haar weg op ’n Midde-Oosterse towertapyt van geure, genot en gevaar. Met die son in sy blonde krulhare, is Eric vir Mia ’n onweerstaanbare engel – al val daar soms skadus oor sy seeblou oë. Deur Eric leer ken sy die wonders van Bahrein, maar ook die eiland se donker kant. En dan is daar die ambisieuse Malan Retief, hoofverslaggewer van Verslag, wat met Mia meeding om die scoop. Met sy ontwerperskoene, stoppelbaard en geamuseerde glimlag maak hy Mia se lewe ondraaglik. En tog gaan haar hart aan die klop elke keer as ’n e-pos van hom met ’n pieng in haar inboks land…
Danielle Malan is ‘n vurige vegter vir vroueregte, bekwame egskeidingsprokureur en vennoot van Marais, Malan en Boshof. Niemand sê haar voor nie en sy haat veral ontroue mans. Alles omtrent haar is strek onder beheer. Of so het sy gedink, totdat vervlakste Naudé Boshof sy lang lyf in die kantoor langs hare kom neerplak het en haar kop kom omkrap het. Laat een aand kap hy haar byna katswink met sy kantoordeur en die vonke spat, maar daar blom ook iets tussen hulle. Danielle laat haar emosies effe skietgee, net om uit te vind dat Naudé ook maar soos al die ander iemand anders op tou het. Wanneer sy noodgedwone ‘n kamer met hom moet deel tydens ‘n kongres in Johannesburg, kom haar hart nie ongedeerd daarvan af nie. Die wet van die liefde, het mevrou Dhlamini op die kongres gesê, is: “Dit reken die kwaad nie toe noe.” Sal Danielle kan vergewe en die kwaad begrawe? En wat van die saggeaarde André Marais, senior vennot en jare lange beskermheer? Hy maak dit duidelik dat hy ‘n sagte plek vir haar het. In Die wet van die liefde sal Danielle tussen al die kinkels en kabels mooi moet kies.
Dokter Emesia, wat pas haar eie praktyk gekoop het, maak teensinnig ’n belofte aan haar sterwende vriendin om vir drie maande as verpleegster by die Rhodes-Inn in Livingstone, Zambië te gaan werk. Emesia het egter haar eie plan: sy wil die Fransman, Rex, wat op haar elfde verjaarsdag aan haar belowe is, ontmoet en hopelik terugbring Suid-Afrika toe. Wanneer sy in Livingstone kom, is dit egter nie Rex wat haar hart laat vinniger klop nie, maar Deon, sy buite-egtelike broer. Dit wil net lyk asof Deon aangetrokke is tot haar. Maar dan begin die vonke spat, want Rex probeer alles in sy vermoë om die hotel te verkoop en Deon, wat weer sy erfenis ten alle koste wil behou, glo vas Emesia konkel saam met Rex . . .