Короткие любовные романы

Различные книги в жанре Короткие любовные романы

Louisa du Toit Omnibus 6

Louisa du Toit

Dryfhout is die aangrypende verhaal van 'n jong onderwyseres wat in 'n maalstroom van emosies beland. Petro en Danie het reeds op laerskool gekys geraak. Aan haar gevoel vir hom twyfel sy nie, en hulle brand om te trou. Daar ontstaan egter 'n sterk, wedersydse aanvoeling tussen haar en haar nuwe skoolhoof, Louis Paulter. In Gesig van die lewe word liefde, eensaamheid en wanaanpassing op eienaardige maniere openbaar in die losieshuis van Sarah Bird. Want waar kom sulke dinge beter aan die lig as wanneer ’n groep mense onder een dak saamgegooi word? En in Uur van die pêrel keer Brenda en Nico terug na Suid-Afrika nadat hulle op ’n oorsese toer ontmoet en verlief geraak het. Haar nuwe tuiste is Nico se mielieplaas, Mooifontein. Maar nou begin hulle mekaar eers wérklik ken . . . en probleme begin toenemend in die verhouding opduik.

Ena Murray Omnibus 34

Ena Murray

’n Heerlike tweeluik. In Appelbloeisels en jasmyn hou Erika Hough stoksielalleen wittebrood aan die suidkus. Wanneer ’n mosbevlekte bottel uitspoel op die strand – met die adres van ’n wildvreemdeling daarin – huiwer sy nie om haar siel op papier bloot te lê nie. Die gevolge van dié brief sou sy in haar wildste drome nie verwag het nie. Sy word byvoorbeeld ’n gratis vakansie op die Comore aangebied, en dan word dinge éérs interessant. En in Erf dan my drome wil Erika die rolstoelgekluisterde hotelbestuurder Jean-Paul bystaan wanneer sy sekretaresse bedank. Erika se man, Philippe, is daarteen gekant, en die kloof tussen die egpaar raak al hoe groter – veral toe Philippe saam met ’n beeldskone blondine begin rondrits.

Schalkie van Wyk Keur 9

Schalkie van Wyk

Die verhale in hierdie omnibus is: Drome van liefde: Rondom die verbreking van Sanet se verlowing met Nardus is daar ’n donker geheim wat sy tot elke prys wil bewaar. Sy sal nooit weer ’n ernstige verhouding met enige man aanknoop nie. Toe sy dus agterkom dat haar baas en beste vriend, Tertius, ernstig voel oor haar, besluit sy om te vlug. Êrens is daar liefde: Lara en Wiehahn se paaie kruis keer op keer. Maar waarom wil hy nie vir haar sê wat sy van is nie? En wat wil hy van haar hê as hy so seker is dat die liefde en die huwelik net ’n bedrogspul is? Vlam van verlange: Carli van Eeden is op twee-en-twintig die enigste erfgenaam van die Van Eeden-miljoene. Maar moet sy met buurseun Vincent trou of sal sy by Meyer, ’n eenvoudige motorwerktuigkundige, haar sprokiesliefde vind? Dit blyk egter dat Meyer geheime met hom saamdra.

Ena Murray Omnibus 33

Ena Murray

Ena Murray se “Paradys-sage” is ’n familieverhaal wat oor vier geslagte strek en enige hedendaagse TV-sepie die loef afsteek wat betref rykheid aan intrige. Die verhale in hierdie omnibus is Die dieper droom, Huise van klei, Soekers na die son en Terug na Eden. Die gemene deler in al vier heerlike verhale is die Karooplaas genaamd Paradys.

Liefde in die skemering

Lizet Engelbrecht

Monique se passie is verpleging en haar pasiënt, die ryk ou Matty Olsen, se welsyn is haar enigste prioriteit – of dit wás totdat sy vir Joseph ontmoet het. Hy is ’n man met geheime en ’n misterieuse geskiedenis. Hy’s net moeilikheid, en sy probeer holderstebolder om die emosies dood te druk wat sy onsekere bruin oë in haar aanwakker. Maar Joseph is ’n gas in oom Matty se huis en toe hy oornag “kleinkindstatus” verkry, kom Monique se handskoene af – sy duld nie fortuinsoekers nie! Sy weet Joseph wil oom Matty net gebruik om agter die kap van die byl te kom wat sy eie geskiedenis betref, terwyl sy tot die dood vir oom Matty sal veg.Vonke spat tussen die twee uiterstes: Joseph wat op soek is na ’n verlede en sy wat hare probeer vergeet. Hulle is gewikkel in ’n wedloop teen die waarheid, en Monique moet byna met haar lewe boet . . .

Bosveldliefde vir Jemma

Amelia Strydom

Jemma het niks lus om haar vakansie op te offer om vroedvrou vir die sterre te speel nie en sy weier volstrek toe dokter Reuben Stiller haar nader om pop-ikoon Kaydee se eersteling op haar bosveldplaas te vang. Jemma is geen dokter se handlanger nie, dankie, daarvoor is sy gans te onafhanklik. Sy het egter nie rekening gehou met die mooie Reuben se oorredingsvermoë nie. Teen haar beterwete stem sy in om Kaydee se tuisbevalling te hanteer en om vir ’n maand lank nou saam met Reuben te werk en te leef. Dit word ’n maand vol verrassings, waarin Jemma haar innerlike staal sowel as gevoelens vir Reuben ontdek.Maar wat voel hy vir haar? Waarom is hul verhouding so ’n wipplank-affêre, een oomblik op en die volgende af? Behoort sy hart dalk nog aan sy oorlede vrou? Of steek hy ander, meer duistere, geheime weg?

Ruiter van my drome

Schalkie van Wyk

Zandri was sewe jaar lank weg van Wyedraai, waar sy as kind salige vakansies by haar grootoom op sy perdeplaas deurgebring het. Die dorpie gons nou behoorlik: Hier kom sy aangery in ’n gekrokte viertrekvoertuig, en ’n gesiene familie van die dorp het haar in Londen, waar sy die afgelope jare gebly het, aangetref met ’n kind . . . háár kind, buite die eg, het sy kwansuis vir hulle gesê. Ou vriende kyk haar nou met afkeer aan en Ferdinand, haar tienerliefde, het baie verander. Maar dis niks, sy is lankal oor hom. En tog . . . waarom is haar lewe skynbaar verstrengel met syne? Kan sy hoop om mee te ding met die vrou uit sy verlede, die een wat volgens sy tant Ragie sy hart gebreek het en hom vir ander vroue ruïneer het? En wat tog van die kind?

Mieke rock uit

Jana du Plessis

Geskei op 25, en dít met net ’n BA-graad op haar naam. Wat op aarde gaan Mieke met haarself maak? Vir die wêreld lyk sy soos net nog ’n blonde Pretoria-poppie met geen werkservaring nie. In haar ouerhuis kan sy nie ’n oomblik langer bly nie, en sy vat impulsief die pad saam met haar band groupie van ’n sussie, Kayla, en dié se vriendin Darling (hulle verkies die term “band bitches”) waar hulle die band Siek se toer deur die binneland volg.Mieke is hierdie lewenstyl nie gewoond nie, dis vir seker! Al die rockster-onderstrominge en die slaap in benoude tente en die hot kitaarspelers is vir haar een te veel. Tog word Siek en hul dinge die sleutel tot Mieke se deur na die toekoms – ook al kom niks sonder swaarkry nie.

Hartstog op see

Malene Breytenbach

Nuweling-skeepsverpleegster Justine was allermins op ’n manvang-missie toe sy die pos op die luukseskip die Moon Goddess aanvaar het. Sy wil ’n bietjie die wêreld sien en interessante mense ontmoet – en, as sy eerlik is, ontsnap van haar dokter-eks, Jacques. Maar wat gebeur sodra sy aan boord stap? Dis net mans oral: die sexy Griekse eerste-offisier George Klopas, vrolike offisier Jim Sylvester, wat dadelik ’n ogie op haar het, die gladde Ierse dobbelaar Pat O’Neil, en haar belangrikste pasiënt, sir Geoffrey Percy en sy snobistiese familie wat saam reis. Natuurlik is daar ook die onweerstaanbare hoofdokter, Ruben Barnard, maar hy is heeltemal onbeskikbaar. Al is dit ook juis hý wat Justine bevriend en haar hart so vinnig laat klop . . . Spoedig is Justine betrokke in die mengelmoes verhoudings wat op so ’n vakansieskip kan ontstaan. Daar’s mans wat vra om met haar te trou, skimme uit haar verlede wat hoogs onverwags opdaag, en boonop lastige passasiers wat links en regs verlief raak op mediese personeel. Dit alles teen die romantiese agtergrond van ’n Mediterreense skeepsvaart. Hoe gaan Justine se hart dit hou?

Liefde onder die sterre

Susan Pienaar

Lisa het Karoo toe gekom om haar vriendin Tillie deur ’n moeilike swangerskap by te staan. Dis al. Sy hou niks van die stowwerige Karoo nie, en sy’t allermins hierheen gekom op soek na ’n man – sy’t immers onlangs eers ontslae geraak van haar vatterige verloofde. Tillie se buurman en haar man se groot vriend, Kallie, is ’n buffel en glad nie haar tipe nie. En tog . . . Wanneer Kallie ’n krisis deurmaak en baie buitengewone hulp van Lisa nodig het, stem sy in, suiwer ter wille van sy skatlike dogtertjie. Dié het sommer vinnig diep in Lisa se hart gekruip. Maar buiten dit, gaan Lisa haar hart beskerm. Niks en niemand gaan haar lank in die Karoo hou, weg van haar swierige boetieks nie, so belowe sy haarself. Ook en veral nie Kallie nie . . .