Короткие любовные романы

Различные книги в жанре Короткие любовные романы

Sonnet sonder woorde

Ettie Bierman

Valdi en haar niggie Fiela het lank gespaar vir hul Europese vakansie. Hulle kom op die ingewing van die oomblik ook na Capri, maar binne minute van hul aankoms, sien Valdi al in haar geestesoog hoe die hele vakansie in ’n opperste nagmerrie ontaard. Want wie tref sy op dié idilliese eiland aan? Niemand anders nie as haar groot skoolliefde, Duard, die een wat haar hart gebreek het, haar in die afgrond in verneder het, haar stoksielalleen met die gebakte patats gelos het . . .Van vlug terug vasteland toe kom daar boonop nie veel nie. Daarvoor sorg ’n beseerde Fiela, nou wel per ongeluk, maar sy’s ook nie juis spyt nie – daar’s immers meer as een aantreklike Afrikanerman op die eiland. Hoe gaan Valdi se seer hart Duard se nabyheid oorleef? Al het dinge tussen hulle reeds nege jaar gelede skeefgeloop, moet sy uiteindelik aan haarself erken dat sy nog nooit oor hom gekom het nie . . .

Ettie Bierman Keur 7

Ettie Bierman

Koue water en kaviaar: Carina is gelukkig getroud, maar Tinus se prokureursklerk-salaris hou kwalik die pot aan die kook. Wanneer sy egter uitspring en werk kry by ’n uitgewery, voel Tinus in sy eer gekrenk. En boonop is die uitgewery se hoofbestuurder ’n sjarmante, aantreklike duiwel . . . Marietjie, Maraia, Maryne: Lugwaardin Maryne Landman kry dit hotagter. Sy het pas haar kêrel afgesê, en dan word sy byna deur ’n besope passasier verwurg. Nou vrees sy boonop dat sy deur kaptein Wessel Raubenheimer afgedank gaan word, want hulle was uit die staanspoor haaks met mekaar. Onrus op Rustfontein: Wat gebeur wanneer drie pragtige niggies saamgegooi word op die ewe lieflike Laeveldplaas van hul ouma, met ’n uiters aantreklike boer op die buurplaas? Dit lei mos net tot moeilikheid . . .

Kronkelpad

Irma Joubert

Kronkelpad is die derde boek in die trilogie waarvan Anderkant Pontenilo en Pérsomi die eerste twee is. Die verhaal speel af in die jare 1938–1960, met die slot in 1986.Lettie Louw (Klara se slim vriendin uit Pontenilo en die dokter wat in Pérsomi in die hofsaak getuig) en Marco Romanelli (Antonio se aantreklike broer wat in Italië in ’n Joodse kamp beland het in Pontenilo) is in hierdie boek die hoofkarakters.Lettie se vriendinne raak almal verlief op aantreklike mans en trou die een na die ander – niemand sien vir Lettie raak nie. Maar sy besluit nietemin om die beste dokter vir haar mense te word. Sy gaan in 1947 terug na die Bosveld-dorpie en neem haar pa se praktyk oor.Nadat hy die konsentrasiekamp oorleef het, is Marco ’n baie siek, verswakte man wanneer hy teen die einde van 1945 na sy ouerhuis in Noord-Italië terugkeer. Antonio, wat na Suid-Afrika terugkeer om met Klara Fourie te trou, oorreed hom egter om na Suid-Afrika se warm, droë Bosveld te verhuis. So beland Marco in 1948 op dieselfde Bosvelddorpie as Lettie, wat sy dokter word.Die liefde blom tussen hulle, maar dan breek die polio-epidemie van die jare vyftig uit – met tragiese gevolge.Die trilogie word op boeiende wyse afgesluit dáár waar dit begin het – in die Italiaanse dorpie hoog bo in die Alpe.

Tuiskoms

Irma Joubert

In hierdie boek word ’n baie gewilde skrywer se lekkerlees-kortverhale vir die eerste keer byeengebring. Hier is ’n ryke verskeidenheid stories, onder meer oor geleenthede soos Kersfees, Vadersdag, ensovoorts, en liefde – in sy vele fasette uitgebeeld – is die gemene deler. In al die verhale is Irma Joubert se fyn waarnemingsvermoë merkbaar, asook haar intieme kennis van en deernis met haar karakters.

Annelize Morgan Omnibus 2

Annelize Morgan

Pad na die skavot is ’n spanningsvolle Kaapse verhaal. Vir Celèste du Toit is Armand de Bordeaux meer as ’n werkgewer – hy is haar droomheld. Sy weet egter dat haar drome oor hom drome sal bly, want hy is ’n graaf, ’n skatryk edelman, en sy ’n gewone bediende. Maar dan bevind sy haar in ’n avontuur wat haar hele lewe omverwerp.In Erfenis van liefde is Camille Rambart ’n pragtige negentienjarige meisie wat in ’n krot grootword nadat goewerneur Willem Adriaan van der Stel haar pa sy inkomste uit ruilhandel ontneem het. Op ’n dag daag ’n aantreklike, ryk jong man op met ’n aanbod wat Camille voor ’n pynlike keuse stel: As sy dit aanvaar, is daar uitkoms vir haar familie, maar dit sal ’n opoffering verg wat haar lewe kan verwoes.Die vergete era van die gouddelwers – ’n goue era vol verdriet en ekstase – word in Goud in die skemer weer lewendig gemaak. Mitzi Brandt is ’n tenger meisie, maar taai – haar toekoms moet gebou word op ’n kis goud wat sy met haar eie hande help delf het. Dié goud raak die spil waarom al haar geliefdes se lewens draai.

Louisa du Toit Omnibus 5

Louisa du Toit

In ’n poging om te ontsnap uit die knellende bestaan van armoede en sosiale isolasie wat haar ouerhuis kenmerk, kom Elna Osman in Skepe in die nag voor brandende kwessies te staan. In Die huis langsaan verhuis Luther Luyten na Beukendal om veral die beeldskone Rhoda Baird vanuit Kaapstad agterna te lok sodat sy onder haar skatryk ouers se invloed kan uitkom. Dan ontmoet hy die ewe mooi Trix wat bedags verpleeguniform dra en in die nag kitaar speel. In Soetendal se mense beskou Duif hom as immuun teen vroue – sy voete word egter onder sy lyf uit geslaan deur 'n nuwe hoewel verbode liefde. Juis in hierdie tyd word hy opgespoor deur iemand uit sy verlede. En in Die goue vuur aanvaar Bien Rademan 'n onderwyspos op Kloofdal. Maar wat vir haar 'n toevlug moes wees, word 'n situasie van misverstand en verstrengelde verhoudinge. Het sy 'n fout gemaak om hierheen te kom? En hoe lank sal sy nog haar hart se diepste hunkering kan verloën?

Ena Murray Omnibus 30

Ena Murray

Hierdie opeenvolgende romans gaan oor die aangrypende ervarings van ’n jong meisie uit die onderdorp wat uiteindelik die vrou van ’n vooraanstaande politikus word. In As die wind daaroor gaan ontdek die agtienjarige Nickey dat sy swanger is . . . pas nadat haar skoolkys, Terence, vertrek het om grensdiens te gaan verrig. Ramp volg op ramp . . . en ná die nuus dat Terence gesterf het in ’n landmynontploffing, willig Nickey eindelik in om te trou met sy pa, Christian Basson.In Die wind het gaan lê volg ons die onstuimige verloop van Nickey en Christian se huweliklewe ná dit aan die lig kom dat Terence steeds lewendig is . . .

Elza Rademeyer Omnibus 4

Elza Rademeyer

n Kronkelpad na geluk werk Jessica op Biesiesdal in oom Josie se slaghuis en loseer sy by tant Mart – vir hulle is sy amper net soos ’n dogter. Maar haar liefdeslewe is ’n warboel. Jessica se verhouding met twee aantreklike broers en ’n oudsenator se boheemse dogter sorg dat dié verhaal ’n pad loop wat nooit ’n vervelige oomblik het nie.In Jy behoort aan my lei Sura se ontmoeting met Hennie op Komslaagte tot groot ontberings. Verkragting en ’n afgryslike ongeluk is maar twee van die enorme struikelblokke wat sy moet oorkom voordat sy ware geluk kan vind.En in Hamerkopnes is Caroline Bester doodgelukkig in haar werk én haar verhouding met Darius. Daarom is sy nie voorbereid op die uitwerking wat die skatryk Mark Johnson op haar lewe sal hê wanneer hul paaie kruis nie.

Susanna M Lingua-keur 15

Susanna M Lingua

In Rista ontmoet die hoofkarakter vir Pieter, ’n prokureur wat op haar verlief raak. Sy voel egter nie dieselfde oor hom nie, en hy probeer selfmoord pleeg. Pieter se broer Chris sweer dadelik wraak teen die meisie wat vir sy broer se ongeluk verantwoordelik is. Maar dan raak ook hý verlief op Rista.In Die eerste skakel raak Tobie verlief op die skone Amanda. Daar is net een groot probleem, en dis dat die pragtige Amanda verlief en verloof is aan Vic, ’n aspirant-predikant . . . En in Die Rooikop van Sonnerus raak Elise Veldman, vurige rooikoponderwyseres, se liefde vir Armand van Rijn, aantreklike nuwe eienaar van haar ouers se buurplaas, allesoorheersend. Sy word egter getreiter deur sy reputasie as ’n Don Juan wat met al wat meisie is flankeer.

Schalkie van Wyk Keur 8

Schalkie van Wyk

In Eiland van geheime beland kinderoppasser Marné op Flaminke-eiland. Dis ’n eiland vol tergende geheime, maar ook liefdesmoontlikhede, want sy moet kies tussen twee interessante mans.In Reënboog van jou hart is Lanja ontnugter deur die liefde. Dan ontmoet sy die skugter argitek Rosseau, en hulle word dadelik vriende. Maar wat voer sy besonder aantreklike broer, Benno, in die mou? Is hy die gewetenlose rokjagter wat almal sê hy is? En in Bittersoet verlange dring Leandri se ryk ouma daarop aan dat sy verloof moet raak aan hul huisvriend Mauritz. Maar Leandri vermoed hy’s eintlik verlief op haar vriendin Anina. Net toe kom ’n geheimsinnige vreemdeling by hul huis aan .