Nols Retief se kleinkinders kry swaar: Nols junior, wat die pad gevat het ’n week na sy oupa se testament gelees is, kruip nou – vier jaar later – steeds in Midas Hammond se dobbelstad weg. Janneman, wat met Nols se verloofde getroud is toe hulle ontdek dié is swanger, sit nou opgesaal met ’n terminaal siek kind en ’n vrou wat haar hele lewe wy aan die versorging van dié arme mensie. Isabé, wat ’n uiters belowende verpleegloopbaan in die stad gehad het, plak nou pleisters op die kinderhuiskinders se nerfaf knieë . . . En soos hulle op Paradys wag op die reën, wag elkeen ook op uitkoms vir hul persoonlike probleme, en hoop hulle dat die liefde sterk genoeg sal wees om te oorwin . . .
Toe ou Nols Retief, die patriarg van Paradys, op rype ouderdom sterf, is almal hartseer maar geensins verbaas nie, want hy het ’n vol en regverdige lewe agter die rug – daarvan kan sy seuns Helgard en Arnold, en sy skoondogters Elise en Rita en ook hulle kinders getuig. Maar op die dag dat sy testament gelees word, bars die bom. Heeltemal onverwags word die sondes van die vaders (en die moeders!) geopenbaar, en moet elkeen van die kinders – Nols junior, Isabé en Janneman – skielik bitterlik swaar dra aan die gevolge van hul ouers se dade – gevolge wat ook tot in die volgende geslag gevoel sal word . . .
Elise, ’n Kaapse hawehoer wat tot inkeer gekom het, vertrek na Paradys, die Karooplaas waar sy grootgeword het, maar keer kort voor lank weer terug. Sy het die fout gemaak om teenoor Helgard, die jong man wat op haar verlief geraak het, te bieg oor haar verlede . . . Sy begin studeer en vorder goed – tot die dag dat ta’ Vroeteltjie, Paradys se huishoudster, laat weet sy móét huis toe kom, want haar pa is siek en het haar nodig. Die eerste mens in wie Elise haar op Paradys vasloop, is Helgard. Helgard wat haar uit sy lewe verban het omdat sy eerlik was oor haar verlede, maar dit nou baie duidelik maak dat hy Elise hoegenaamd nie vergeet het nie . . . al is hy deesdae ’n getroude man met twee kinders.
Toe Midas Hammond, die geldkoning van die dobbelstad Babel, deur ’n hartaanval platgeslaan word, besef hy dat sy lewe bitter arm is aan liefde. So eensaam voel hy, dat hy ’n landwye soektog loods na die kinders uit sy jeughuwelik – kinders wat hy skaars kan onthou, maar wat hy nou met ’n allesverterende passie wíl vind, ongeag wie of wat hulle geword het in die twintig jaar sedert hy hulle laas gesien het. Hy vind hulle wel, maar wonder of dit nie tevergeefs is nie, want sy dogter Zia is sterwend en sy seun Sean, alias Vegter, is vasgevang in ’n skemerwêreld van bendes, gesellinklubs, foonsnolle en hawehoere – ’n wêreld waar slegs die straatwerkers dapper genoeg is om dit saans ná donker te waag . . .
“Ons Portugese se liefde is net so fel en onblusbaar soos ons haat.” Aan Ricardo Mendoca se waarskuwing, reeds met hul eerste ontmoeting, steur Marina Neser haar min. Want dié blonde vlinder glo geen man kan haar vlerkies kneus nie. Maar dit was voordat sy Ricardo se neef, die aantreklike marquês De Conna, ontmoet het – ’n streng aristokraat wat nog nooit die lokstem van die liefde gehoor het nie.
Sy lippe eis hare op in ’n soen wat haar hoog op die wolke deur die lug laat sweef. Verena gee haar volkome oor aan die oomblik. Maar die wete dat sy nooit weer sy stem sal hoor nie, ruk soos ’n tornado aan haar hart. As sy tog maar net weer kan sien . . . Want ’n man kan die stem van ’n engel hê en nogtans ’n duiwel wees. Hoe kan sy die hooghartige, ongeduldige, onweerstaanbare Duarte, hertog van San di Rago, peil of vertrou terwyl sy in ’n stikduister doolhof rondtas?
Ramiro de Gouveia, trotse miljoenêr-hertog, is vasbeslote om die wilde Janet Hartman te tem. Maar dié goue vlinder is allermins van plan om haar te laat vang en toespin in ’n kokon van adellike Portugese tradisies. Op die tropiese Mosambiekse paradys Espiño raak hartstog egter ’n vlam wat ’n vlinder se vlerkies kan skroei . . .
Rondom die verbreking van Sanet Grové se verlowing met Nardus van den Berg is daar ’n donker geheim wat sy tot elke prys wil bewaar. Sy sou nooit weer, met enige man, ’n ernstige verhouding aanknoop nie. Toe sy dus agterkom dat haar baas en beste vriend, Tertius Lindeque, ernstig oor haar begin voel, besluit sy om te vlug. Sy moet haar oorlede broer se twee weeskinders versorg en dit gee haar die ideale verskoning om Bothasrus toe te verhuis. Dat haar oom Lukas ’n huishoudster nodig het, gee haar meer rede om vinnig die pad te vat . . . maar weer kom ’n man se liefde ongevraagd Sanet se kant toe. Sy ontmoet die prokureur Jean-Pierre du Pont, wat dadelik op haar verlief raak, terwyl sy weet sy mag nie aan haar hart vrye teuels gee nie. Maar langs oom Lukas woon tant Ellie van Duuren en haar bedorwe dogter, Elrina, wat self ’n ogie op Jean-Pierre het. Sy gaan uit haar pad om ’n verhouding tussen Sanet en Jean-Pierre in die kiem te smoor. Alles werk in haar guns terwyl tant Ellie se giftige tong onmin saai so ver as wat sy gaan. Maar toe begin dinge verander . . .
In Masker van die verlede raak Angélique de Busset in die Kaap onder dwang verloof aan die markies van Touraine. Swaardgevegte, liefdesdriehoeke en vele intriges lê in haar toekoms, en eindelik sal Angélique moet besluit of sy gaan trou met die selfversekerde markies en of sy haar eie kop gaan volg. In Kring van wraak spoel ’n bittere vyandskap tussen drie Franse gesinne oor na die Kaap van Goeie Hoop wanneer hulle daarheen verhuis. Die pragtige Constance Tourain wil hê dat haar ouers die strydbyl moet begrawe, veral wanneer sy liefde vind, maar ou vetes kom nie maklik tot rus nie. En in Swerwers op die goudpad is Amy altyd aan die vlug, wég van die bedrogspul waardeur sy van haar erfplaas beroof is. Nou droom sy van Pelgrimsrus se spoelgoud . . . én van liefde.
In Raaisel van die liefde is Brian die mooiste man wat Pikkie nog gesien het. Sjarmant en wêreldwys – en boonop ken hy nie die einde van sy geld nie. Maar kan sy hom vertrou? Is hy wat hy voorgee om te wees – of het hy ook maar voete van klei, soos al die ander . . .? In Klippie in die skoen wil Tobie ’n ouerige dame aanstel om sy kinders op te pas. Maar dan daag die bloedjong, ongekunstelde Jantjie – kwansuis sy niggie – op om dié pos te vul. En in Verlange na Brandersbaai gaan hou Lizette en Wanda vakansie by die see. Daar leer ken Lizette vir Tom. Ook ontmoet sy die aantreklike Hennie. Ná die vakansie ontdek Lizette sy is swanger met Hennie se kind. Sy vertel hom nie daarvan nie, aangesien hy verloof is aan Riana. Ná die bevalling word die vriendskap tussen Lizette en Tom hegter. Tom vra haar om met hom te trou. Hulle moet egter rekening hou met die moedswillige en jaloerse Maria, suster van Tom se eertydse verloofde.