Название | Sêgoed met slaankrag |
---|---|
Автор произведения | George Claassen |
Жанр | Руководства |
Серия | |
Издательство | Руководства |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624063193 |
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
Afrikaans het homself nog altyd buite die werklike debat
in Suid-Afrika gehou.
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
As digter skryf ek ’n taal wat, gesien in die lig van wat alles aangespreek moet word, nie meer saak maak nie, binne ’n letterkunde waarvan die dak afgewaai het. Dit pla nie . . . Die wind is baie beter as die verstikkende noutes van die literêre politiek se gange. As joernalis kon ek uiteindelik net ’n oor vind in Engels, en die Afrikaanse deel van die nuwe, verfoeide sauk. Buite dié ghetto wat Afrikaans vir baie is, het jy met blydskap gespreksgenote gekry waarvan baie Afrikaans praat, waar ander weer ’n ma of ’n Afrikaanse oupa het. As Suid-Afrikaner het ek vir die eerste keer vry gevoel om nou ’n eerbare bedeling vir myself en my gesin te beding.
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
Daardie Afrikaanse ghetto, die plek waarvan jy sê die dak afgewaai het, het darem so ’n paar kamers gehad waar die dak ‘intact’ gebly het . . . Daar is ’n paar skeure in, maar . . . die affêre staan darem nog. Wanneer jy rondgegaan het in die huis het jy darem so ’n paar dinge wat waardevol is, opgetel, selfs in daardie dele waarvan die blêddie dak afgewaai het.
ADAM SMALL, digter en dramaturg, in antwoord op ANTJIE KROG, Stellenbosch,
30 November 1996
Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.
ADAM SMALL, in sy voorwoord tot die tweede uitgawe van Kitaar my Kruis, 1978
Ek sê ek praat met djou in Kaaps
Here some van my critics
het nog never in allie djare
my taal hierso geperform nie
ek sê ma net weer net soes lank gelede
die’s g’n Gamat-taal nie.
’n straight en diep taal vannie mense
waar hulle in gebore word en eerste kwyl
en dan allie transactions van hulle lewe in beklink
hulle bietjie maybe baie liefde soek, en haat
en dan, daa’ byrie final beacon vannie dood,
in sterwe
en, dja of course djy moet dit sing
ADAM SMALL, in antwoord op sy kritici oor die gebruik van “Kaapse” Afrikaans in sy gedigte in die eerste uitgawe van Kitaar my kruis (1961), 2013
Hulle het gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, ’n fokken coon-taal. Hulle het Kaaps ’n joke-taal gemaak.
NATHAN TRANTRAAL, digter, in kritiek op ADAM SMALL en PETER SNYDERS,
in gesprek met DANIE MARAIS in By, 3 Augustus 2013
Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, doenit!
Dis waarom mamma jou lat opleerit;
kritisaais skrywers wat skryf soes mamma praat,
maa moenie ve’wag
mamma moet nou change nie.
PETER SNYDERS, digter, “Moedertaal”, Versagtende omstandighede, 1995
As dit elders in die land aanvaarbaar is as leerders ‘pô’ en ‘mô’ gebruik in ’n mondelinge toets, waarom nie dieselfde ruimte vir sprekers van Kaaps gun nie?
MICHAEL LE CORDEUR, akademikus en voorsitter van die
Afrikaanse Taalraad, Beeld, 9 Augustus 2013
Jy weet die Afrikaner het gely. Maar dieselfde Afrikaner wat gely het, het oorgeneem en het vergeet hy het gely. Hy het net homself gesien.
OLGA SEMA, onderwyskundige, tydens die verkennende gesprek oor ’n saambindende Afrikaanse organisasie, Stellenbosch, 30 November 1996
Die Afrikaner het hierdie taal, Afrikaans, verkeerd gebruik in die verlede, want die Afrikaner het Afrikaans ’n vloektaal gemaak . . . Die Afrikaner het Afrikaans verkeerd gebruik as ’n regerende party om mense te onderdruk.
OLGA SEMA, Stellenbosch, 30 November 1996
Dit is opvallend dat heelwat van die pogings tot die herinstelling van Afrikaner-nasionalistiese aspekte oor spesifiek gender gaan. Intrinsiek aan Afrikaner-nasionalisme was ’n uiters ongelyke geslagshiërargie met Afrikanermans aan die steil bopunt. Dis ’n ver ent om te val, wat al die pogings om Afrikaner-manlikheid tot sy voormalige glorie te rehabiliteer, verstaanbaar maak. Met staatsgesanksioneerde Afrikaner-nasionalisme aan skerwe, blyk dit Afrikaners gryp na die volgende nuttige ideologie, naamlik godsdiens, om daardie ou bekendhede weer in plek te stel.
CHRISTI VAN DER WESTHUIZEN, politieke analis, God?, Claassen en Gaum, 2012
Ek het vergeet – nie geweet? – in die dae toe ons jonk was:
Afrikanerskap is nie heilig. Ons wóú dit heilig hê;
ons wou die volte van menslikheid daaraan gee.
N.P. VAN WYK LOUW, digter,
dramaturg en prosaïs, “Nuusberigte: 1956”, Tristia, 1962
Teelbere en -sôe (gedek en ongedek)
het elkeen ook ’n taak – nes Afrikaners.
N.P. VAN WYK LOUW, “Voorlopige dood van die jambiese vyfvoeter”, ibid.