Triomf. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Triomf
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780795801150



Скачать книгу

Treppie, los haar uit, dis ok al lekker ding wat sy het om te onthou.”

      Dan sê Treppie: “Orraait, orraait,” en hy lyk of botter nie in sy mond kan smelt nie; en hy sê: “Orraait, ou Mol, vertel dan weer vir ons ’n slag van republiekwording, jong.”

      Republiekwording was weer vir jou ’n ander storie. Te moeilik om te vertel, eintlik. Maar Treppie wil hê wat hy wil hê.

      Pop het gesê hulle moet ’n dag maak daarvan. 31 Mei 1961. Dit was net nalat hulle ingetrek het hier in Triomf. Die gras was nog nie eers geplant nie en dit was stof oralster, maar Pop was nie te keer nie. Hy’t nog altyd gehou van groot dae, arme ou Pop.

      En was dit ’n gedoente, want dit was nie net ’n piekniek in Pretoria nie, dit was besigheid ok. Alles Pop se plan. Om mee te begin, ten minste. Sy’s seker hy’t ’n baie beter oog vir besigheid as Treppie. Hy kort net die wil. Maar toe was hy nog jonk, Lambert was toe net sewe. En Pop het gesê hy kan twee dae uit die skool uit bly om te help. By die skool sou dit tog net ’n gevlaggieswaai wees. Op die ou end was die hel toe tog los, want Lambert het nie ’n republiekmedalje gekry nie. Hulle het dit by die skool uitgedeel die dag. Sulke goue medaljes met doktor Verwoerd se kop op. Pop moes later een gaan bestel by Lambert se juffrou. Anyhow, Pop se plan was om rose te verkoop op Republiekdag. Nie rooies nie, nee, hulle het mark toe gegaan ’n dag vantevore en oránje rose gekoop. Vier gros. Veertig bosse. Las Vegas Supreme was hulle naam. Dit sal sy nooit vergeet nie. So ’n fancy oranje roos wat na niks geruik het nie. Maar sy kleur het opgemaak daarvoor. Hy was oranje soos ’n lemoensucker. En tien bosse wit Baby’s Breath, en tien bosse fynvaring, en ’n hele spoel blou lint en ’n hele spoel wit lint. Vir oranje-blanje-blou skouerruikers. En klein goue haakspeldjies en ’n rol groen bloemiste-tape. En rolle watte om nat te maak om hulle in te pak en vars te hou. En plat persketrays vir die ry.

      Pop se plan. Bleddie oulik. Hulle het deur die nag gewerk. Sy’t later skoon oorkruis gekyk. Oranje roos, steel afknip, takkie Baby’s Breath, takkie varing, stukkie groen tape om al die steeltjies bymekaar te hou. Dan ’n wit lintjie om en dan ’n blou lintjie om, speldjie deur, en klaar. Eenkant. Hulle het in ’n kring gesit agter in die jaart op die kaal grond op kratte onder ’n lig wat Treppie aan ’n extension vasgemaak het en buite aan die geut opgehang het vir hulle.

      “Check die Benades se assembly line!” sê Treppie.

      “Ons assemble die nuwe republiek,” sê Pop. Hy was baie in sy skik met sy plan.

      “Ons assemble hom en hy gaan betáál! Wat sal ons vra per stuk?” Treppie, natuurlik. Dan hou hy so ’n klaar ruikertjie op in die lug en hy staan op en steek dit vir homself aan en hy stoot sy bors uit. Pronk hy daar rond, dywelskind.

      “Nie te duur nie, dis vir ’n sáák, onthou,” sê Pop.

      Toe sê Treppie sy moet die Coke en die brandewyn loop haal, en ys en glase, lat hulle ’n bietjie kan práát oor hierie “sáák”. Elke saak het sy prys.

      Nou nog, as dit oor geld gaan, dan wil hy drink.

      “Nou kom ons kyk, wat het julle uitgegee, julle twee? Dis mos wat julle goed kan doen, geld uitgee.” Treppie was aan ’t moeilikheid soek. Dit het sy toe al geweet.

      “Vyf en twintig rand,” sê Pop, maar dit was eintlik vyf en dertig, met al die ekstras. En hulle het anyhow nog in ponde en pennies en sjielings gedink.

      “Hmmm,” sê Treppie, “en hoeveel persent wins, sal jy sê, mag ’n mens maak uit ’n pasgebore republiek?”

      “Wel, e, seker nie meer as vyf persent nie, soos ek sê, dis vir ’n saak.”

      “Jy’s lekker mal! Ek sal sê hónderd of twééhonderd persent. Of nog dúbbeld dit. Vierhonderd persent. Ek sê jou wat,” sê Treppie met daai hoë dywelstemmetjie van hom, “ons lieg vir daai boggers. Ons sê dis ten bate van ’n hospitaal. Die H.F. Verwoerd-gestig. Ons vat skoon papiere en ons skryf mooi boaan: Republiekwordingskouerruikerfonds. Een woord, dubbelpunt: H.F. Verwoerd-, e, instituut, dis grander, vir die Geestelik Versteurdes.” En Treppie maak sy stem diep en praat soos die man wat nuus lees, in hoge Afrikaans. “Met ’n kolom vir u handtekening, meneer, en ’n kolom vir u donasie, mevrou. Ons sê vir hulle die prys is vier en veertig sent. Dan sien jy hoe werk ons hulle gal vir hulle. Hulle vroetel vir kleingeld in die gedrang en vat die eerste die beste halfkroon raak. Maar wie sign nou op so ’n dag sy naam by ’n donasie van ses sent! Nee, dan vroetel hulle verder en kom uit met ’n sjieling, of twee, of drie. Of méér. Báie meer. Op so ’n dag wil mense mos graag brag. Hulle sal lekker diep vat in hulle gatsakke. Op so ’n dag wil hulle sign vir ’n saak. In klinkende munt!”

      Hulle was skoon stil. Treppie se oë het geblink. Dit was darem te bleddie vergesog vir woorde. Hulle het net daar gesit met hulle bekke wat oophang.

      “En die cherry op die koek,” en Treppie sit weer daai hoë sagte stemmetjie van hom aan, “die cherry op die koek, is ons mascot.” En hy draai sy kop so stadig, en hy kyk vir Lambert. Soos die satang selwers, kyk hy vir hom. Jirre, dag sy, hier kom ’n geneuk.

      “Lambert,” sê Treppie, “kom hier na jou, e, óóm toe.” En Lambert kom staan vlak by Treppie en Treppie begin vir hom voorsê. “Lambert, lat hang oop jou mond,” sê Treppie. “Nee, nie so reguit oop nie, trek jou onderlip ’n bietjie diékant toe. So ja, reg. Nou: draai jou oë binnetoe na mekaar toe, nou boontoe, ja so, nie te erg nie, net so halfmas. So ja, en dan kyk jy so twee jaarts voor jou uit, kniehoogte, so ja. Net reg. Net reg. En nou, kyk nou goed hoe maak jou oom Treppie.”

      En Treppie gee so ’n paar treë terug in die donker, uit die lig uit, en hy wag ’n rukkie, en hulle wag, sy en Pop, en Lambert ok, met ’n oophangbek en skeel oë, net of hy gehipnotiseer is, en hier kom Treppie uit die nag uit aan. Gôts, nes die malle van Gadara. Waggel-waggel, met een been wat ’n streep deur die stof sleep en een sleephandjie en ’n opgetrekte skouer wat so ruk-ruk. En ’n mond wat skeef oophang met spoeg wat uitloop.

      En daai oë! Dit was die ergste. Dit sal sy nooit vergeet nie. Halfmas omgedop na boontoe met ooglede wat so flikker-flikker nes ’n gloeilamp wat wil blaas.

      “Komaan, ou Lambert,” sê Treppie vir hom met ’n sleeptong, “komaan, kom oom wys vir jou hoe speel ons môre op daai volksmoeders se snare. Kyk, af en toe, dan smile jy so ’n slag met jou ou spoegbek, en dan bewe jy so met jou ou kop. Skeef is hy al skeef genoeg.”

      En daar loop hulle al in die rondte in die stofjaart in en Treppie wys vir Lambert hoe om mal te speel. Dit was baie arig. Maar hulle kon nie help om te lag nie. Pop ok nie. Toe Treppie en Lambert voor hom kom staan, swaai-swaai, met die kwyl wat oor hulle kenne loop, en Treppie sê: “Uit die blou van onse hemel, ons vir jou, Suid-Afrika,” toe lág Pop. En toe trek hy ok ’n skewe bek en dop sy oë om en speel mal saam met hulle. Toe’s hulle naand almal mal, sy met een uitskopbeen en ’n uithangtong en Pop met sy boude uit en sy lyf op ’n krop getrek soos ’n hoenderhen, en hulle maak vir jou sports in daai kaal jaart in.

      “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra!” skree Treppie lat die spoeg spat.

      “Oupa het ’n vark gery,” sê Pop.

      “Taraboemdery,” sê Lambert, “afgeval en weer gery.”

      En sy klim op ’n wasmasjien en sy sing: “Witter as sneeu, ja witter as sneeu, o was my en witter as sneeu sal ek wees.”

      Wanneer sy hier kom in die storie, dan lê hulle op die vloer soos hulle lag. Dan kan sy nie aangaan nie. Wat ok maar goed is. Want dit het ’n bietjie rof begin gaan daai aand, ’n bietjie baie rof. En Lambert sê hy weet nie, dis seker die drank wat Treppie in sy keel afgegooi het, maar hy kan niks onthou van daai hele aand of die volgende dag nie.

      Die volgende dag, toe hulle Pretoria toe is, vertel sy dan maar vir almal se onthalwe. In die Austintjie. Met die skouerruikers. En hoe baie geld hulle toe gemaak het, vertel sy. Om almal se onthalwe, maar veral om Lambert s’n. Sakke vol. By die Voortrekkermonument. Sy kan dit nog so voor haar sien, vertel sy, hoe staan die mense se oë styf in hulle koppe soos hulle luister vir die speeches, en hoe, sonder om eers te kyk,