Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

mekaar goed geken. Van die burgers het saam met hulle grootgeword. Die lede van die vuurpeloton moes uit die geledere van dieselfde kommando saamgestel word. Dit is te verstane dat sommige van die burgers nie gretig was om deel van die vuurpeloton te wees nie. Volgens oorlewering het twee swaers, Moolman en Storm, verlof gevra om na die buurplaas Balmoral te gaan om na hul boerderybelange te gaan omsien. Daardeur het hulle doelbewus die moontlikheid ontduik om as lede van die vuurpeloton aangewys te word.35

      Moerdijk vertel die vyf terdoodveroordeeldes was die oggend van die teregstelling kalm. Kort na 08:00 het landdros Bosman en Dirk Kemp vir hulle kom sê die teregstellings sou om 11:00 plaasvind. Werkers het reeds vroeg die oggend ’n graf langs die bestaande Groenewald-familiebegraafplaas teen ’n heuwel voor die plaashuis gegrawe. Kort na 11:00 is Gert, Pieter en Cornelius Brits na die oop graf geneem. Nadat hulle geblinddoek en hul hoede weggeneem is, moes hulle by die graf twee tot drie treë uit mekaar staan. Die aanwesige burgers het ’n psalm gesing, en toe klap die skote van ’n vuurpeloton bestaande uit 12 burgers onder bevel van vdkt. Lourens Badenhorst.36

      Die ander ses veroordeeldes het in daardie stadium buite die deur van die buitegeboutjie gestaan waar hulle aangehou is. Vandaar kon hulle die gebeure skaars 100 m verder sien afspeel. Marthinus Brits skryf later in sy verklaring: “Ekself kon nie daarna kyk nie.”37

      Vir die twee oorblywende terdoodveroordeeldes, Hendrik Koch en Okkert Brits, moes die aanskoue van die eerste teregstelling vreesaanjaend gewees het. Kort daarna was dit hul beurt. Volgens Marthinus Brits is die eerste drie tereggesteldes elk twee keer deur die hart geskiet, terwyl die laaste twee se liggame deur drie skote elk getref is. Dit dui daarop dat die helfte van die vuurpelotonlede se gewere waarskynlik met loskruit gelaai was sodat hulle nie moes weet wie die doodskoot gee nie.

      Beweringe dat die tereggesteldes hul eie grafte moes grawe en dat hulle geweier het om geblinddoek te word, is na alle waarskynlikheid versinsel. Só ook dat een van die veroordeeldes nog bly lewe het nadat die vuurpeloton gevuur het en daarna weer deur die bevelvoerder geskiet moes word.38

      Volgens die oorlewende afvalliges het genl. Chris Botha en Lourens Badenhorst hulle na die teregstelling besoek en gevra of hulle die skote gehoor het. Toe hulle bevestigend antwoord, het Botha volgens die Engelse vertaling van Marthinus Brits se verklaring vir hulle gesê: “Well, this will be a warning to you not to take up arms against the Boers again.”39

      Omstreeks 12:00 die volgende dag het die oorblywende vier gevangenes, met hul klere aan, hul lyfstraf ontvang. ’n Halfuur later is hulle met ’n trolliewa na Vaalpoort geneem waar hulle oornag het. Daarna is hulle te perd na Vlakpoort geneem, waar hulle op Sondag 28 Julie vrygelaat is om te voet na die Britse linies te loop. Vir die duur van die oorlog het hulle met hul families onder Britse beskerming in Volksrust gebly. Gert Oosthuizen, wat staatsgetuie geword het, is na Amersfoort gestuur.40

      Verskillende bronne meld een van die voorwaardes vir die vrylating van die oorlewende verraaiers was dat hulle voëlvry verklaar is. Volgens ’n republikeinse Oorlogsbericht van 29 en 30 Julie 1901 het die vonnis bepaal dat as die veroordeeldes die Boere se linies weer sou binnekom, dit “eenigen burger zal vrystaan ze als vijand te beschouen en dood te schoten”.41 Gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog het krygshowe beskuldigdes ook voëlvry verklaar, maar ander voorbeelde daarvan kon nie gevind word in vonnisse wat gedurende die oorlog van 1899 tot 1902 opgelê is nie.

      Die Boere-opperbevel het die nuus van die teregstellings versprei. Johanna Brandt haal op 17 Augustus 1901 ’n amptelike berig oor die gebeure wat Boerespioene na Pretoria gesmokkel het, in haar dagboek aan:

      Afloop onderzoek der gevangene ‘handsuppers’ door Veldcornet Badenhorst by Zandspruit. Op Donderdag laatsleden werden op de plaats van H. van Groeneveld naam onduidelyk geschreven ter dood veroordeeld G. Brits C. Brits P. Brits O. Brits vier zoons van G. B(rits). Hendrik Kock en Martiens Brits tot 20 gezel slagen en vogelvry verklaard F. Kock, L. Joubert, L. Kock elk 25 geeselslagen en vogelvry verklaard. Zekere D.G. Oosthuizen werd staatsgetuige gemaakt. In gevecht laatst leden Maandag sneuvelde F. Kock, zijn zoon Lodewyk werd gewond. De vonnissen zijn laastleden Vrydag voltrokken.42

      Hoewel die inligting sekere feitefoute bevat, toon dit nietemin dat die republikeinse leiers erns daarmee gemaak het om die teregstellings van Boere­verraaiers bekend te maak en die inligting daaroor te versprei.

      Enkele dae na die teregstelling het Chris Botha die Britse bevelvoerder op Wakkerstroom amptelik van die teregstellings in kennis gestel. Kontant­geld, asook persoonlike items en vier briewe van die oorledenes aan hul vrouens, is na die Britse linies gestuur met die versoek dat dit aan die oorledenes se naasbestaandes oorhandig word. Van die Britse militêre kant is gemeen die afvalliges is oorhaastig en onnodig tereggestel. “The whole thing was a ruse on the part of Chris Botha.”43 Behalwe die jong Cornelius Johannes Brits het al die ander tereggesteldes plase en weduwees met kinders nagelaat.44

      Na die oorlog is beweer een van die verraaiers het vir Botha omkoopgeld van £80 000 aangebied as dié sy lewe sou spaar. Hoewel die Koch- en Brits-families welvarend was, toon die likwidasie- en distribusierekenings van die gestorwenes se boedels selfs hulle het nie soveel geld gehad nie. Dit is natuurlik nie onwaarskynlik dat so ’n aanbod in paniek gemaak kon gewees het nie. As so ’n voorstel wel gemaak is, het Botha hom nie daaraan gesteur nie.45

      Die twee families is in totale verdriet gedompel. Susanna Brits het haar vier seuns en ’n skoonseun verloor. Haar dogter Lea Sofia Koch verloor haar man, Hendrik, vier broers en haar skoonpa, Frederick. Elizabeth Koch verloor haar man en seun.

      Grafstene, of eerder smartstene, met boodskappe wat diepe verbittering toon, is op die grafte aangebring. Die grafsteen wat Lea Koch vir Hendrik laat oprig het, lui: “Ter gedachtenis van myn teder geliefde echenoot H.J.S. Koch, geb. 7 Nov. 1868, en zyn dood geschoten door gen. C Botha en zyn officieren, op de 26 July 1901.”46 Sy oorskot is uit die tereggesteldes se gesamentlike graf op Baltrasna opgegrawe en in die familiekerkhof op die plaas Driefontein naby Wakkerstroom herbegrawe.

      Hendrik se pa, Frederick, is op ’n buurplaas, ook ’n deel van Driefontein naby die huidige Daggakraal, begrawe. Sy vrou laat dié woorde op die praal­grafsteen aanbring: “Ter gedachtenis van mijn geliefde echenoot F.W.C. Koch, geb. 12 April 1842, en onschuldig dood geschoten te Roodepoort op 22st Juli 1901 door L. Badenhorst en van zyne manschappen.”47

      Die obelisk van sandsteen wat op die Brits-broers se gesamentlike graf op Baltrasna aangebring is, het deur die jare verweer en later in stukke gebreek toe ’n boom daarop geval het. Op elke kant daarvan word die naam van ’n broer gedenk. Vaagweg kan die woorde “Doodgeschoten door de Boeren” ook daarop onderskei word.48

      Teen Desember 1901 kla die eens welgestelde Elizabeth Koch by die Britse owerhede dat alles op hul plase vernietig is en dat sy en haar familie hulle in ’n benarde finansiële posisie bevind.49 Die familie was klaarblyklik nie meer selfonderhoudend nie weens ’n gebrek aan kontantvloei. Met die Brits-familie het dit nie beter gegaan nie. Die geboue en ander roerende eiendom op die familieplaas Schurvepoort is vernietig of weggevoer. Weens die voortslepende oorlog kon die tereggesteldes se boedels nie afgehandel word nie. Daar is nog tot 1906 gesukkel om dit te finaliseer.

      Die Britse magistraat op Volksrust het uit sy pad gegaan om die tereggesteldes se naasbestaandes te help. Ook die Britse offisier kapt. W.R. Digby wat met die verwerking van die weduwees se kompensasie-eise vir oor­log­skade belas was, het besonder simpatiekgesind teenoor hulle gestaan. Hy het die eis van Susanna Brits, die tereggestelde broers se ma, so gemotiveer: “A most exceptional case & recommended for special treatment.”50 Sy het daarna £1 200 van die Protected Burgher Fund ontvang.51 Digby het die eis van Pieter Mathys Koch se weduwee ook gunstig gemotiveer: “This claimant’s case is an exceptional one. Her husband was murdered by the Boers in July 1901 for having surrendered.”52

      Van die ander weduwees het ook aansienlike bedrae van die Britse ower­heid ontvang as vergoeding vir oorlogskade wat hulle gely het. Lea Koch het byvoorbeeld £1 907 en Maria Brits £800 uit een fonds alleen ontvang.53 Dit was heelwat meer as die gemiddelde bedrae wat die bittereinders of terugkerende bona fide-krygsgevangenes na die oorlog ontvang het. Daar kon nie vasgestel word wat die naasbestaandes uit die ander fondse ontvang het nie. Die bevoordeling van verraaiers en hendsoppers