Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

Daarvolgens het hy half agter sy vrou Elizabeth op die stoep geskuil, terwyl hy gedreig het om die burgers te skiet. Twee burgers het hom gelyktydig geskiet toe hy vir ’n oomblik agter haar uitbeweeg het. Volgens Koch se kleinseun Jan Fick was sy oupa so naby aan sy ouma dat sy bloed op haar gespat het. Oorlewering wil dit verder hê dat die verraaiers daarna die wit vlag gehys het, maar toe die burgers nader aan die huis beweeg, het die verraaiers weer op hulle begin skiet, gevolg deur ’n onafwendbare geveg.24 Dié aspek word ook nie in die destydse verklarings genoem nie.

      Die verraaiers moes geweet het hulle kon genadelose behandeling te wagte wees as die burgers hulle vang en het hulle hardnekkig verset. Die burgers het hulle herhaaldelik gewaarsku om oor te gee, maar hulle wou nie. Volgens die ongepubliseerde dagboek van Jan Leendert Moerdijk, ’n lid van die Boere se Edwards Verkennerscorps en pa van die bekende argitek Gerhard Moerdijk (Moerdyk), het die geveg sowat ’n uur en ’n half lank voortgewoed. Deur hulle so te verset, het die verraaiers hul uiteindelike lot waarskynlik vererger.

      Die verraaiers was gedoem omdat die Britse mag op Volksrust hulle nie te hulp gesnel het nie. Die ligging van die opstal is van so ’n aard dat dit moeilik verdedigbaar is. Voor die huis is ’n laagte en aan die noorde- en oostekant is hoogtes, van waar die opstal maklik bestook kon word. Die burgers kon boonop onder dekking van die donkerte onophoudelik deur die vensters en voordeur skiet.

      Intussen het van die burgers die huis aan die agterkant aan die brand begin steek. Nie net die afvallige mans nie, maar ook hul vroue en kinders het in lewensgevaar verkeer. Dié het histeries begin gil en huil. Intussen het die mans aan die voorkant van die huis in ’n stoepkamer saamgedrom waar die burgers hulle vasgekeer het. Die burgers het hul geweervuur gestaak en die verraaiers weer tot oorgawe geroep. Die verraaiers se situasie was uiters desperaat. Daar is toe uiteindelik besluit om oor te gee. ’n Ongewapende Frederick Koch jr. het na die deur beweeg en hul oorgawe aangebied, waarna die burgers die afvalliges se wapens afgeneem het.

      Die verraaiers is nie sagkens gehanteer nie. Die twee gewondes, Gert Brits en Lodewyk Koch, asook die beseerde Cornelius Brits, is saam met die ander verraaiers weggeneem voordat enige Britse versterkings kon opdaag. Later het Marthinus Brits verklaar dat die burgers aggressief was en hulle onder meer toegesnou het dat Koch sr. sy dood verdien het en dat hulle spyt was die gewonde Gert Brits het nie dieselfde weg gegaan nie omdat hulle sy bloed lankal gesoek het. Moerdijk praat van ’n aandoenlike toneel waar die vroue en kinders buite gestaan en die gebeure aanskou het.25 Koch sr. se dood was net die begin van die families se tragedie.

      Nog dieselfde nag het die burgers met die nege gevange verraaiers (om ’n onbekende rede was Gert Brink nie onder hulle nie), gebuite perde, heelwat beeste en ander los goed na Alfred Robertson se plaas, Elandsberg, ver­trek waar hulle die volgende oggend aangekom het.26 Daarna is die gevangenes op ’n trolliewa met agt muile gelaai en na die laer op Goedehoop geneem. Teen vroegmiddag op Woensdag 24 Julie 1901 is hulle na die plaas Baltrasna, oos van Amersfoort, geneem waar verskeie Boereleiers reeds vergader het.

      Op Baltrasna het ’n krygshof op die verraaiers gewag. Die volgende dag is hulle op aanklag van hoogverraad verhoor. In die klagstaat is hulle daarvan beskuldig dat hulle hul eerstens aan die Britse magte oorgegee het en tweedens wapens teen die republikeinse magte opgeneem het. Volgens Moer­dijk is daar ook beweer hulle het by die Britse magte aangesluit. Al die beskuldigdes het op die eerste aanklag skuldig gepleit, maar onskuldig op die tweede. Hul verweer was dat hulle bloot hul vee teen strooptogte verdedig het, ongeag wie dit uitgevoer het. Daar was heel waarskynlik ’n verdere aanklag teen Gert Brits – dat hy medeburgers probeer omhaal het om hulle aan die Britte oor te gee. Spesifieke getuienis in dié verband is tydens die verhoor aangebied.

      Uit die aard van sy rang as assistent-kommandant-generaal het Chris Botha die bevoegdheid gehad om die doodsvonnis te bekragtig en het hy daarom nie deel uitgemaak van die krygshof nie. Die hof het uit sewe lede bestaan met kmdt. Izak J. Greylingh27 as voorsittende beampte en Adriaan Badenhorst28 as ondervoorsitter. Die ander lede was asst.vdkt. Piet Badenhorst29 en Dirk Kemp (almal van Wakkerstroom) en Willem Buhrman van Ermelo. Landdros Bosman was die aanklaer en lt. Jordaan die klerk van die hof.30

      Die verhoor het in die voorhuis van die plaasopstal op Baltrasna plaasgevind. Die vervolging het minstens sewe getuies geroep. Die beskikbare bronne is vaag oor die presiese aard van die getuienis teen die afvalliges. Benewens die getuienis oor die skietgeveg is Gert Brits daarvan beskuldig dat hy vroeër ’n leidende rol in die aanhitsing tot die oorgawe van burgers gespeel het. Dit het ook teen hom getel dat hy ’n voormalige assistent-veldkornet van die Wakkerstroom-kommando was. Later het sy broer Mar­thinus verklaar die getuies was “baie bitter” teenoor sy oudste broer.

      Hy het ook beweer hulle is geen kans gegun om hulself te verdedig nie, maar te oordeel aan die weergawes van die ander beskuldigdes wat die gebeure oorleef het, was dit nie die geval nie. Die krygshof het wel geweier dat die saak op versoek van Gert Brits vir die roep van ’n verdedigingsgetuie uitgestel word. Volgens die hof kon dié getuie niks tot voordeel van die beskuldigdes getuig nie en ’n vermorsing van tyd wees. Hoewel die beskuldigdes nie regsverteenwoordiging gehad het nie, is daar aanduidings dat hulle die geleentheid gehad het om hul saak te stel. Moerdijk, wat teenwoordig was, beskryf die verhoor as deeglik (in die Engelse vertaling van sy dagboek word van “thorough” gepraat). Marthinus Brits het in sy latere verklaring aan die Britse militêre owerhede gesê die aanklaer het vir minstens twee van die beskuldigdes, Frederick Koch en Louw Joubert, om versagting gepleit. Dit is nie duidelik waarom hulle uitgesonder is nie.

      Nadat al die getuienis dieselfde dag aangehoor is, het die hof na sowat tien minute se verdaging uitspraak gelewer. Al die beskuldigdes is aan hoog­verraad skuldig bevind, met die uitsondering van Gert Oosthuizen wat staatsgetuie geword en daardeur vrywaring ontvang het. Hendrik Koch en vier van die Brits-broers het die doodstraf ontvang. Daar is gelas dat die vonnis die volgende oggend voltrek moes word. Die ander beskuldigdes (dus ook die gewonde Lodewyk Christiaan Koch) het ’n vonnis van 25 houe met ’n stiegriem (’n verstelbare leerband met ’n gespe waaraan ’n stiebeuel hang) ontvang, met die uitsondering van Marthinus Brits, wat 20 houe sou kry. ’n Omvattende soektog na ’n geskrewe hofrekord het niks opgelewer nie. Die drastiese verskil in die vonnisse kan daarom nie verduidelik word nie, ook nie watter regsbeginsels toegepas is nie.

      Dit is onduidelik hoekom Marthinus Brits die doodstraf vrygespring het. Luidens sy latere verklaring aan die Britse owerhede het hy die Maandag voor die skietgeveg na Volksrust gegaan. Gevolglik was hy nie deel van die afvalliges se optrede teen die drie burgers wat die strooptog op die vee uitgevoer het nie. Hy vertel egter in detail hoe hy die aand aan die geveg teen die Boere-aanvalsmag deelgeneem het. Hy meld onder meer daar was ’n storing in die sluitstuk van sy geweer wat hy moes regmaak, waarna hy weer met mening op die burgers gevuur het. Frederick Koch jr. sê in sy latere verklaring hy het nie die aand op die Boere geskiet nie omdat een van die ander mans in die groep sy geweer gehad het.31 Of dít die rede was waarom hy nie die doodstraf ontvang het nie, is egter onseker.

      Die verskil in vonnisse wys nietemin die veroordeeldes is nie oor dieselfde kam geskeer nie. Die teenwoordigheid van ’n assistent-kommandant-generaal wat die vonnisse kon bekragtig en die betrokkenheid van ’n groot aantal Boereoffisiere wys daar kon op ’n hoë vlak oor die vonnisse en die uitvoering daarvan besin word.32

      In wat ’n angstige wintersnag moes gewees het, is die veroordeeldes in ’n buitegeboutjie met ’n vuurherd onder streng bewaking aangehou.

      Die Brits-broers se een suster, Susanna Salomina (Sannie) Groenewald, was teenwoordig. Haar man, Wessel Johannes Jacobus Groenewald, was die eienaar van die plaas Baltrasna. Groenewald was ook ’n lid van die Wakker­stroom-kommando en met die verhoor teenwoordig. Die onbenydenswaardige taak is aan Moerdijk opgedra om vir Sannie Groenewald van haar broers se doodstraf te vertel. “Ek het haar probeer troos so goed ek kon, maar hoe vertel jy iemand dat sy haar broers nooit weer op aarde sal sien nie?”33

      In ’n verslag wat ’n Britse offisier, kapt. MacHardy, op 5 Augustus 1901 oor die teregstellings maak, sê hy een van die Koch-broers was getroud met die suster van die voorsitter van die krygshof, kmdt. Greyling, se vrou. “The remainder are so inter-married their subsequent life would be unbearable.”34 Hy gee egter nie meer besonderhede daaroor nie.

      Benewens