Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

the prime of life.”39

      Volgens Du Plessis is Woite en Van der Linden se verraad onder meer in ’n ernstige lig beskou omdat gevrees is dat die Britte met ’n mislukking van die opstand “al onze voormannen zouden laten vangen en ophangen”. Die voorbereiding van die stryd teen ’n oorweldigende oormag moes sonder lekkasies plaasvind, skryf hy voorts. “Ja, op eene zamenkomst vol bekommerende vrees, een bijeenkomst van zulk een handje vol arme verdrukten, dáár mogten geen verraders komen en toch kwamen er twee.”40

      Na die oorlog het sommige pro-Britte groot gewag daarvan gemaak dat die Boere nie vir Woite en Van der Linden regsgeldiglik kon gefusilleer het nie omdat hulle in daardie stadium nog nie ’n wettige en erkende regering gehad het nie. Die hoofregter van die Kaapkolonie, sir Henry de Villiers, het die argument verwerp deur daarop te wys dat sowel Woite as Van der Linden deur behoorlik aangestelde krygshowe van ’n erkende Boeremag weens spioenasie verhoor is.41 Verder is geredeneer die Boere is deur die vredesverdrag tot wettige oorlogvoerders verhef en dat die burgers wat vir die teregstelling verantwoordelik was, deur die algemene amnestie beskerm word. Van Britse amptelike kant is enige omstredenheid wat daarna nog oor die teregstellings kon geheers het, nie verder gevoer nie.42

      Ander teregstellings het waarskynlik nog gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog plaasgevind. Daar is die minder bekende geval van ’n bruin man, ene Carolus, wat na ’n kort verhoor in Desember 1880 deur die Boere ter dood veroordeel en nog op dieselfde dag in ’n “vallei” buite Potchefstroom gefusilleer is. 43 Die tereggestelde het vroeër sy hulp aan die Boere aangebied met die doel om op hulle te spioeneer, waarna hy op hulle geskiet het.

      Nog ’n burger, Schalk Willem Robinson, was gelukkig om met sy lewe daarvan af te kom toe hy op 31 Desember 1880 op Potchefstroom aan hoogverraad skuldig bevind is. Hy is daarvan beskuldig dat hy in opdrag van die Britse offisiere op die dorp gepoog het om ’n rapport na die Britse mag in Pretoria te smokkel. Hy is op pad na Pretoria betrap. Hy is gevonnis tot ’n boetestraf asook verbanning uit die land met ’n verdere voorwaarde dat as hy sou terugkeer, “hy vogeling zal zijn”. Daarmee is hy voëlvry verklaar. Die Potchefstroomse krygsraad het gedurende die oorlog soortgelyke vonnisse aan etlike ander mense opgelê.44

      Op 27 Februarie 1881 behaal die Boere hul roemryke oorwinning op Majuba en verseker só dat hul onafhanklikheid aan hulle teruggegee word. Dit gee ook aan ’n ontluikende Afrikanernasionalisme ’n groot hupstoot. Tog sou die Afrikaner reeds vroeg in sy geskiedenis geteister word deur verraaiers in sy midde.

      ’n Groot aantal Boere was die Britte tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog goedgesind. Ds. N.J. van Warmelo was byvoorbeeld die enigste predikant wat die republikeinse saak openlik ondersteun het tydens die Britse annek­sasie van die Transvaalse Republiek. Op die dag wat die oorlog uitgebreek het, het die Potchefstroomse NG predikant ds. J.P. Jooste as Britsgesinde onder verdagte omstandighede op sy perd die dorp uitgevlug. Na die oorlog is hy as ’n verraaierpredikant gebrandmerk.45

      Ten spyte van steun vir die Britte, was daar teen 1881 nietemin ’n sterk gevoel onder ’n kerngroep republikeinse Afrikaners teen wat hulle as volks­verraad beskou het. Daar was duidelike polarisasie tussen Republikeins- en Britsgesinde Afrikaners. ’n Sprekende en insiggewende voorbeeld is C.N.J. du Plessis se sterk veroordeling in sy boek in 1882 van Britsgesinde Afri­kaners tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog: “De Afrikaansche loyalen [teenoor die Britse ryk] zijn de verachtelijkste schepselen die ooit in de geschiedenis der wereld zijn opgetreden. Het doet mij leed genoodzaakt te zijn zooveel uit te weiden omtrent deze personen. Zij zijn ver beneden het dierenrijk, want zelfs roof- en verscheurende dieren blijven toch hunnen aard en bloedverwantschap getrouw. Ik kan geen ander oordeel over die personen vellen, dan dat zij krankzinnig, slecht van geweten en zonder gevoel zijn, en niets ander dan de --- verdienen.”46

      Hierdie vroeë beskouing van verraad is besonder betekenisvol by die ontleding van die republikeinse vryheidsideaal. Daar is ’n besliste weersin in die optrede van afvalliges, so erg dat met ekstreme stappe teen hulle opgetree is.

      Die enkele fusillerings van verraaiers gedurende die Eerste Anglo-Boere­oorlog was maar net ’n voorskou van wat twee dekades later in ’n veel droe­wiger tydperk op ’n groter skaal in Afrikanergeledere sou plaasvind.

      Die weg daarvoor was egter voorberei.

      3

      Vier broers, een skandegraf

      Die winter van 1901 was buitengewoon koud op die Hoëveld. Die Anglo-Boereoorlog het reeds die vorige jaar sy guerrillafase betree met bittereinder­burgers van Transvaal en die Vrystaat wat geweier het om die stryd gewonne te gee. Die sterftesyfer in die konsentrasiekampe was die hoogste ooit, plase in vele distrikte en baie dorpe byna heeltemal verwoes.1 Net die merkwaardige wilskrag van ’n handjievol onversetlike Afrikaners het die stryd teen die Britse oormag aan die gang gehou.

      Daar was egter ook ’n groot aantal Boere wat besluit het om die wapen neer te lê. Sommige het verder gegaan en besluit om die Britse magte aktief te steun deur self die wapen teen hul eie mense op te neem. So gebeur dit dat Lea Sofia Koch (gebore Brits) van Wakkerstroom in Oos-Transvaal aan die einde van Julie 1901 die hartverskeurende tyding ontvang dat haar man én vier van haar broers weens verraad deur van hul voormalige kommandolede gefusilleer is. Die tereggesteldes het voorheen almal aan dieselfde kommando van Wakkerstroom behoort as waarvan hul tereg­stellers lid was. Boonop was sommige van die vervolgers en die tereggestel­des familie van mekaar.2

      H.J.S. KOCH, G.P. BRITS, P.M. BRITS, O.J. BRITS, C.J. BRITS

      † 26 Julie 1901, Baltrasna, Amersfoort

      Die aanloop tot die gebeure was dat al die mans van die Brits-familie van die plaas Schurvepoort in die distrik Wakkerstroom hul wapens in Septem­ber 1900 neergelê het.3 Met die uitbreek van die oorlog was hulle ’n vermoënde en vooruitstrewende familie. Die bejaarde ouers, Gert Pieter en Susanna Salomina, het verskeie plase en dorpseiendom in die distrikte Amersfoort, Lydenburg, Vryheid en Wakkerstroom besit. Sommige van hul 14 kinders het op van die plase geboer.4 Klaarblyklik het die meeste van die kinders met hul gesinne die lyding in die konsentrasiekampe vrygespring – met ’n rede.

      Vyf van die broers is nogtans deur die Britte gevange gehou en na ’n militêre aanhoudingskamp by Ladysmith in Natal oorgeplaas. Die pa, wat nie deur Britse troepe weggevoer is nie, is daarna deur republikeinse burgers gevange geneem en van ontrouheid aangekla. Hy is vrygelaat nadat hy met £100 beboet is.5 Hy sterf egter op 25 Mei 1901 in die ouderdom van 69 jaar aan natuurlike oorsake te Zandspruit in die distrik Wakker­s­troom.6 Daardeur is hy die noodlottige gebeure wat sou volg, gespaar gebly.

      Die Britte het die vyf Brits-broers etlike maande lank in die militêre kamp op Ladysmith aangehou, waar hulle alles in hul vermoë gedoen het om vry­gelaat te word. Die afleiding kan gemaak word dat hulle toe al voorkeur­behandeling van die Britse militêre owerhede ontvang het, want hulle is nie as krygsgevangenes oorsee of elders gestuur nie. Die broers se ontrouheid aan die vryheidstryd word geïllustreer in ’n brief van 2 Februarie 1901, waar­in hulle die Britse bevelvoerder op Ladysmith vir sekere vergunnings vra en onomwonde hul onderdanigheid aan Britse beheer toon:

      We, the undersigned, desire respectfully to bring to your notice, that we have surrendered voluntarily to the British military authorities for protection, and that we are anxious to have also our families & stock placed fully under British protection. We wish you kindly to assist us in having this done, & would therefore respectfully suggest not only but request that you release one of us on parole, & allow him to return to Volks Rust for the purpose of bringing the families & stock of all of us across into the British lines. We are willing to comply with any reasonable conditions that you may deem requisite for such a release. We trust sincerely, Sir, that you will assist us in this matter, & grant our humble request and have the honor to be, Sir, your obedient servants.

      Die brief is deur vyf broers onderteken: Gert Pieter (35), Pieter Mathys (32), Okkert Johannes (26), Cornelius Johannes (22) en die enigste van die vyf broers wat die dood sou vryspring, Marthinus.7 Met hul versoek het die broers gepoog om nie net hul vrouens en kinders uit die konsentrasiekampe te hou nie, maar ook hul eiendom te beskerm. Met die voortsetting van die oorlog het hulle die gevaar geloop om al hul aardse besittings te verloor. Nie