Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

die misdade van die vaders.”13 In Op die Transvaalse front verswyg E.J. Weeber om ’n soortgelyke rede die naam van ’n vooraanstaande verraaierpa wat voor die oorlog ’n lid van die Transvaalse volksraad was: “Ek wil sy naam nie noem nie omdat sy seuns flukse vegsmense was en getrou by die kommando gebly het.” Volgens Weeber het die pa se verraad “ ’n liederlike naklank gehad, maar daaroor sal ek liewer swyg ter wille van die oorlewendes”.14

      In E. Neethling se Mag ons vergeet? word die ondervindinge van ’n aantal Boerevroue gedurende die oorlog weergegee. Volgens Neethling het feitlik elke vrou van die “valsheid en wreedheid” van verraaiers gepraat, maar nietemin nie hul name genoem nie. “Laat ons liewers probeer om die breuk te heel en geen Kaïnsmerk op een van ons broers te sit nie.”15

      Dekades na die oorlog was daar steeds dié sensitiwiteit rondom die bekendmaking van verraaiers se name. In Buurman se Oorlogswolke oor die republieke: die herinneringe van ’n Boere-offisier wat in 1944 verskyn, lui die voor­woord reeds: “In sommige gevalle is dit nie wenslik geag om die regte name van persone te laat verskyn nie.” Selfs in J.F. van Wyk se oorlogsherinneringe, wat so laat as 1971 as Die Mauser knal verskyn, is dié opmerking voor­in die boek: “Om verstaanbare redes is die name van sommige mense in hierdie werk verander.”16 Die veldprediker R.D. McDonald gee ’n aandoen­like beskrywing van hoe hy ’n oudstudentemaat van Stellenbosch op die slagveld as ’n sterwende joiner ontmoet het, sonder om sy naam te noem.17

      Dit is opvallend dat skuilname in ’n hele aantal gepubliseerde herinneringe van oudstryders en inwoners van konsentrasiekampe gebruik word om na troueloses te verwys wat waarskynlik nog in daardie stadium gelewe het of dalk om hul familielede te beskerm. J.N. Brink gee in Oorlog en ballingskap ’n omvattende beskrywing van kmdt. S.G. Vilonel se verraad, maar verwys deurgaans na hom as “X”.18 Ook Sarah Raal verwys in Met die Boere in die veld na ’n afvallige as “X”.19 In haar herinneringe, Uit die donker woud, verwys G.E. Bezuidenhout na ’n “groot joiner” as “W”,20 terwyl McDonald van ’n spesifieke manteldraaier as “T” in sy In die skaduwee van die dood praat.21

      Die verraaiers se name is in sommige gevalle as ’n gebaar van minagting gewoon verswyg. Okkie de Villiers het in sy oorlogsherinneringe, Met Steyn en De Wet in het veld (1903), sy afsku oor ’n Kaapse Afrikanerverraaier so verwoord: “Ik zal zijn naam niet noemen; niet, omdat ik hem sparen wil, maar omdat ik mijn boek te goed acht, om er den naam in te noemen van zoo ’n slechten Afrikaander.”22

      Die Boereleiers het ook nie in hul herinneringe oor die teregstelling van verraaiers uitgewei nie. Christiaan de Wet, wat ’n duidelike afsku in enige vorm van verraad gehad het, maak behalwe vir ’n enkele voetnoot in sy bekende De strijd tusschen Boer en Brit nie melding van enige teregstellings van verraaiers waarby hy betrokke was nie.23 Net so swyg genls. De la Rey en Jan Smuts in hul herinneringe grootliks oor die onderwerp, behalwe vir terloopse verwysings sonder noemenswaardige detail. Nêrens word byvoorbeeld in gepubliseerde werke genoem dat een van die mees gedugte Vrystaatse generaals, Antonie Michael (Rooi Magiel) Prinsloo,24 se swaer tereggestel is nie.25 In dié opsig bly die generaals se versuim om die gebeure te vermeld ’n raaisel. Dalk lê ’n verklaring daarin dat die teregstelling van verraaiers beskou is as só ’n verleentheid, in wese ’n skandaal wat toege­smeer moes word, dat hulle hul herinneringe as’t ware nie daarmee wou besmet nie.

      Dit is aangehelp deur Afrikanernasionalisme wat na die oorlog al hoe krag­tiger geword het en hard gewerk het om ’n trotse Afrikanerverlede te gedenk. Daar is immers niks te vier of om trots op te wees as van jou eie mense verraad pleeg nie. Mettertyd het Afrikanernasionalisme die Anglo-Boereoorlog vir homself as ’n heroïese stryd toegeëien en die oneervolle verlede weggevee. Meer as net die name van die verraaiers is verswyg. Daar was ’n besliste mening dat dit beter was om hul dade en invloed heeltemal van die nageslag te weerhou.

      Met die oplewing van publikasies oor die oorlog gedurende die 1930’s het feitlik net populêre gebeurtenisse en nie die skandes nie aandag gekry.26 Tog vertel Hendrina Rabie-Van der Merwe van ’n joiner wat ’n Afrikanerseuntjie buite die konsentrasiekamp op Bethulie doodgeskiet het, maar sê sy kan nie die verraaier se naam onthou nie. “Ek wens dat ek die ellendeling se naam onthou het om dit hier te kan noem.” 27

      ’n Eeu na die oorlog meld die historikus Albert Grundlingh in die voor­woord tot die tweede uitgawe van sy werk Die“Hendsoppers” en “Joiners” dat die Nasionale Party-regering van die 1970’s dit goed gedink het om ’n verbod te plaas op die bekendmaking van die name van burgers wat aan Britse kant geveg het. Die verbod sou eers in 2000 verstryk het. Grundlingh is derhalwe nie in die 1970’s toegelaat om die materiaal vir sy navorsing in die Vrystaatse Argief te besigtig nie.28 Met my besoek daar in 2009 het ek afgekom op aantekeninge op die omslag van die betrokke lêers wat destyds insae daarin beperk en later verbied het. ’n Aantekening van 1966 lui: “Hierdie lêers is onttrek en is nie vir die publiek toeganklik nie.”29

      Byna ’n dekade later, in 1975, word die toegang tot die lêers met die vol­gende opdrag opgeskort: “Die Minister van Nasionale Opvoeding het beslis dat hierdie C.O. lêers (394/02 en 2796/02) nie voor die jaar 2000 aan navorsers beskikbaar gestel mag word nie. Die direkteur van Argiewe het gevra dat die lêers verseël word. Die Hoof van hierdie bewaarplek het op 17 Mei 1975 beslis dat hierdie lêers in sy brandkluis bewaar moet word.”30

      Die minister se verbod maak nie regtig sin nie, want ander lyste met die joiners se besonderhede is in Pretoria gevind, sonder enige beperking daarop.31 Daar was ook nie beperkinge op die lys name van potensiële joiners in die krygsgevangenekampe op Bermuda en St. Helena wat hulle bereid ver­klaar het om na Suid-Afrika terug te kom en aan Britse kant te veg nie. 32

      ’n Mens kan maar net bespiegel oor wat senator J.P. van der Spuy, des­tyds minister van nasionale opvoeding, beweeg het om inligting 73 jaar na die einde van die oorlog so te beperk.

      Daar was in meer onlangse tye ’n bewering in ’n Beeld-artikel dat ’n Fouché-familie van Rouxville tydens die oorlog na die destydse Basoetoland (nou Lesotho) gevlug het en hulle daar ryk geboer het. Beweringe is gemaak dat dit familie van die voormalige staatspresident Jim Fouché was en dat die beperking daarom ingestel is.33 Dié gerug kon nie geverifieer word nie, want geen Fouché van Rouxville verskyn op die lys nie. Dit wys nietemin hoe aktueel en sensitief die onderwerp van verraad steeds na meer as sewe dekades vir sekere Afrikaners was.

      Prof. Andries Raath van Brandfort het ’n ander, soortgelyke naamlys van joiners wat sedert die 1960’s by die departement van onderwys bewaar is, waarskynlik ook met die doel om toegang daartoe te beperk.34

      Die historiese geheueverlies oor verraad is aangehelp deur die ontwikke­ling van die partypolitiek na die oorlog. Met die eenstroombeleid van Botha en Smuts is versoening en samewerking nie net tussen die voorheen strydende taalgroepe nagestreef nie, maar ook tussen die bittereinders en die ontroues. Botha en Smuts wou klaarblyklik nie ou wonde oopkrap nie. Dit is insiggewend dat die verraaierkwessie ook nie ’n noemenswaardige of openlike rol in die Nasionale Party gespeel het nie. Dit is waarskynlik doel­bewus vermy, ondanks die feit dat dié party die kampvegter van Afrikaner­nasionalisme was. Onderlinge verwyte tussen politici was die enigste gereelde herinnering aan die voorvalle van verraad. Tydens verkiesingsveldtogte is die verraaierkwessie by tye met besondere venyn opgeroep. Individuele kandi­date wie se optrede gedurende die oorlog verdag was, is dikwels in politieke moddergooiery daaroor geteiken.

      Algaande sou die geheues van dié wat nog gelewe het, ook geleidelik verdof. Met die afsterwe van die betrokkenes het van die inligting saam met hulle na die graf gegaan.

      Dit is insiggewend dat geen Afrikaanse of Engelse historici tot op hede die saak uit die verraaiers se oogpunt gestel het nie.35 In nie een van die vertol­kings wat in die eeu na die oorlog verskyn het, is probeer om die verskynsel van verraad onder Afrikaners te probeer regverdig nie. Die seun van genl. Hendrik Schoeman het wel in 1950 ’n boek getitel Genl. Hendrik Schoeman: was hy ’n verraaier? gepubliseer waarin hy sy pa se afvallige optrede probeer verduidelik het, maar dié werk is nie ’n analitiese ontleding van die ver­skynsel van verraad nie. Die waarde daarvan lê eerder daarin dat dit uitwys watter pynlike nagevolge verraad vir die verraaier se nageslag meebring.36

      Op die Afrikaanse akademiese