Короткие любовные романы

Различные книги в жанре Короткие любовные романы

Louisa du Toit Omnibus 8

Louisa du Toit

In Waaisand weier jong weduwee Berna om aan die eise van haar wellustige werkgewer toe te gee. Sy word afgedank, en terwyl sy nog wonder waar sy en haar tweelingkleuters ’n nuwe heenkome moet vind, loop sy byna onder ’n voertuig in. Dié gebeurtenis plaas haar nietemin op die eerste tree van ’n nuwe pad, waarvan sy die verloop en afloop in haar wildste drome nie sou kon voorsien nie.
In Oorkant op die eiland vertrek Gert en Corrie Pullen oorsee, en hul dogter Janetta gaan kuier saam met haar kêrel, Isidor, by sy ouerhuis teen die Oranjerivier. Corrie is bekommerd om haar dogter na totale vreemdelinge te stuur. In die weke wat volg, sou Janetta meermale wonder of haar ma ’n voorgevoel gehad het, want op Stroomlangs is daar gesindhede en duisterhede wat haar mateloos ontstel. Boweal is daar die moontlikheid dat haar lewe in gevaar is. . .
En in Die uurgals wentel worstel die inwoners van Victorina, die ietwat verwaarloosde maar steeds sierlike woning, met intense problem soos drankmisbruik, buite-egtelike verhoudings en familietwiste. Dan word die uurglas omgekeer, en saam daarmee almal se lewens.

Elza Rademeyer Omnibus 7

Elza Rademeyer

In Storms van die liefde ontvou ’n liefdesverhaal by Mosselbaai se groot olieboorprojek. Die tergende vraag ontstaan: waar sal Esbeth geluk vind – by Richard, haar vermiste man; by die charismatiese, ryk Gustav; of by De Wet, die verliefde diamantsmokkelaar?
In Die seewind se lied besluit Elmien Maritz sy gaan Hartenbos toe. Nie om vakansie te hou nie, maar om die duistere verlede van Schalk Schoeman, die man met wie haar ma kort tevore halsoorkop getroud is, te ondersoek. Sy is nie voorbereid op wat volg nie ¬– ’n ongewone vakansieromanse, propvol spanning, liefdesintrige en humor.
En in Spoelklippies in stormwater weet Karlientjie Strauss nie dié kant toe of daai kant toe nie. Sy staan op trou met Willem Potgieter, die nuwe eienaar van hul buurplaas, maar dan verskyn Hugo Burger, haar tante se deksels aantreklike stiefseun, op die toneel . . .

Ena Murray Keur 2

Ena Murray

In Oos na die son word daar op die argeologiese ekspedisie na Paaseiland meer as ’n paar geheime van die Polinesiërs se moai en die verborge ana oftewel familiegrafte oopgekrap. Dis veral die verborge geheime van die hart wat aan die lig kom – al eis die aku-aku ’n gru-offer . . .
In Reënboog van koraal sou Estelle nooit kon droom dat, toe sy in die dartelende Crystelle se plek na Inhaca moes vlieg om die kastaiings vir haar identiese tweelingsuster uit die vuur te gaan krap, dié paradys ook ’n slang het nie.
En in Tahiti, verre land vaar Weda Henkel as verpleegster saam met die toekomstige bruid van Louis de Bougainville op ’n luukse-passasiersboot na Tahiti – maar die liefde het vreemde weë . . .

Christine le Roux Omnibus 6

Christine le Roux

Die sesde omnibus van een van ons gewildste liefdesverhaalskrywers sluit een van haar heel bekoorlikste verhale in:
Die glasappel is ’n heerlike roman waarin humor en eksentrisiteit sjarmant verweef is, en waarin ons vir ’n verandering na die liefde deur die man se oë kyk. Die suksesvolle argitek Theo Senekal was tot dusver nog nooit sonder ’n mooi meisie aan sy sy nie, maar nou is daar ’n verstrooide meisie wat dink hy is ’n messelaar en wat hom heeltemal deurmekaar maak.
In die tweede verhaal, Die blou uur, besef die speurverhaalskrywer Klarissa du Toit dat haar man se werk as kriminoloog besig is om ’n wig tussen hulle in te dryf, en sy vertrek na Skotland om oor haar toekoms te dink.
In Die groen maan gaan dit oor die probleem waarvoor so baie mense te staan kom: of hulle met hul hart of hul kop moet besluit oor die liefde.

Wag-'n-bietjie-liefde

Susan Pienaar

Alex was Amber se hoërskool-crush. Dié ouer broer van haar vriendin Mandie was egter ver buite haar bereik, en in elk geval: “Pasop vir mooi mans,” só het Amber se hartseer ma haar geleer. Nou, jare later, is Alex weer in die prentjie. As Amber geweet het hy is op pad terug Suid-Afrika toe, sou sy nie as sy broer Kobus se au pair begin werk het nie. Sy moet saam met Mandie en albei haar broers op vakansie gaan, en het te kampe met Alex se sjarme – maar genade, die man kan ook ’n buffel wees! – en Kobus se meisie, wat ’n ogie op Alex het. Wanneer Amber in die hospitaal beland, word die ding tussen haar en Alex op die spits gedryf . . . Maar wat is daar tussen hom en sy sekretaresse, Liefie?

Wanneer passie blom

Madelie Human

Dís nou nie wat Janie in gedagte gehad het met haar bedelbriefies aan Kupido nie! Sy’t dan so mooi gevra: Net ’n gewone man, seblief. Hy hoef glad nie so danig aantreklik te wees nie. Sy’t nié gevra vir Ryno Bruwer nie: Gans en al te mooi vir ’n mens, ongeskik en seksisties daarby, en om alles te kroon die nuwe eienaar van háár familieplaas Bloemendal, en dus in staat om haar en Thea uit hul blomwinkeltjie op die plaas te skop! The Daisy Chain is Janie se lewe, dít en haar orgideë – en nou moet hulle geepad van die plaas af en sal hulle nooit weer ’n bekostigbare perseel vind nie. Sy behoort die man nooit te vergewe nie . . . Maar hier gaan sy dan nou op ’n afspraak saam met hom! Hulle kan nie ophou stry nie, en tog . . . Hy’s nog meer van ’n orgideë-liefhebber as Janie . . . en daardie oë! Wanneer Ryno haar die eerste keer soen, weet Janie hier’s groot moles. Want wat sy voel en wat sy wéét – Ryno is die allerlaaste man vir haar – klop net nie. Wat is hier aan die blom: ’n eendagmooi bloeiseltjie of ’n langlewe-orgidee?

Ridder in 'n wit jas

Amelia Strydom

Carli het die werk by die mobiele kliniek bitter nodig. Haar suster en swaer se dood beteken sy moet baie vinnig werk en goedkoop blyplek vind, en die Karoo bied albei. Dít en herstelkans van die trauma van haar suster se “ongeluk”. Maar op die plaas Sielerus aangekom, loop dinge dadelik skeef. Dodelik aantreklike dokter Eben Greyling was ’n manlike kollega te wagte en wil absoluut nié ’n vrou daar hê nie. Boonop kom daar ’n onwelkome oproep van die fertiliteitskliniek waar Carli voor die ongeluk as surrogaat wou optree vir haar suster. Sy móét hierdie werk behou, en teen sy beterwete bied Eben ’n proeftydperk aan. Sal Carli die skanse rondom sy hart afbreek en haarself onmisbaar maak – in sy kliniek én sy lewe? Of gaan haar geheim ’n wig tussen hulle indryf?

Winde van herinnering

Susanna M. Lingua

Winde van herinnering, waarin Thea Strassheim tydens haar gedwonge verblyf op die landgoed Hamilton Estate moet besluit: sal sy haar lewe op die altaar lê in ruil vir kortstondige geluk saam met die man wat sy meer as haar eie lewe bemin?

Die groot legkaart

Susanna M. Lingua

Die groot legkaart, waarin Tina Eksteen se kortstondige maar idillies gelukkige huwelik beëindig word en sy boonop van haar pasgebore seuntjie beroof word. Maar net toe dit lyk of die noodlot haar opnuut wil teister, begin die stukkies van die legkaart uiteindelik pas . . .

Die kralebruid

Sarah du Pisanie

In Die kralebruid word Isa deur die Ouni-stam op ’n eiland grootgemaak en aan ’n ontdekkingsreisiger gegee in ruil vir krale. Hy besef nie hy is volgens tradisie nou met haar getroud nie en sy verstaan nie hoekom hy afsydig is teenoor haar nie. Boonop lyk dit of hy in die beeldskone Belinda belangstel . . .