Sonneblomstraat 7 Die kaartehuis van Niel en Wanya Cloete stort in duie die dag toe Niel, grootbaas van Rock Trust en wonderkind van die finansiële beleggingswêreld, as swendelaar ontmasker word. Duisende beleggers, onder wie ou mense wat hul laaste bietjie spaargeld verloor, bevind hulle skielik reddeloos op straat. Ook Wanya kom nie skotvry daarvan af nie. Terwyl Niel in die tronk sit, moet sy die gelag betaal. Sy word verder in trurat geslinger toe sy ná ’n oortreding tot gemeenskapsdiens in tant Bes se sopkombuis in Sonneblomstraat 7 gevonnis word. Maar eintlik is dit ’n bedekte seën, want hier leer sy mense en waardes ken wat haar lewe voortaan onherroeplik sou verander . . . onder andere Roelof Rossouw, die maatskaplike werker wat ’n ogie oor haar moet hou. In Sonneblomstraat 7 val die meetsnoere vir baie mense tog in lieflike plekke – al kos dit meet en pas om liggaam en siel aan mekaar te hou.
Die dae van ons nietigheid Die probleem met Lizl Landman is dat sy briljant is. Beeldskoon, blond, ’n gekurfde droom . . . maar te professioneel perfek vir Willem Claassen se ego. Die twee top mediese studente is in ewige kompetisie. En die liefde hou nie van kompetisie nie. Lizl weier om haar toekomsdrome as dokter te verpand vir ’n tradisionele huwelikslewe. Eers ná tien jaar kruis hul paaie – en swaarde – weer wanneer Fritz Hancke, skatryk boer en pasiënt van Willem, in ’n stadshospitaal beland. Haar diagnose: kwaai griepaanval en bloeiende maagseer. Sy diagnose: Kongokoors. Saal B3 word onder kwarantyn geplaas, so ook Lizl. Een verkeerde diagnose, en skoppensboer se lag klink skel in haar hospitaal, haar gewete, haar hart. Soveel lewens kom op die spel . . . In Die dae van ons nietigheid moet ook Willem en Lizl leer: Met tyd speel jy nie – ons lewe in die dae van nietigheid.
Die uurglas loop leeg Karien Saayman, wie se lewe altyd so op koers was, se kompas is aan’t wankel. Die hospitaal waar sy verpleegsuster is, se Don Juan, dr. Arnold Lutz, het sy oog op haar en sy weet nie hoe om sy onwelkome attensies die hoof te bied nie. Selfs die feit dat sy met Hannes Eksteen, vooruitstrewende boer van die plaas Franskraal, trou, skrik die voortvarende dr. Lutz nie af nie. Dan verskyn dr. Christian Willems, briljante chirurg, op die toneel, en in plaas daarvan dat hy vir haar uitkoms bied, word Karien se lewe net verder deurmekaar gekrap. Uiteindelik is dit ’n terminaal siek meisietjie van vyf wat vir die erg beseerde Hannes en die ander weerlose en ontredderde grootmense die pad na herstel aanwys. In Die uurglas loop leeg is daar veral een lewensles te leer: om voluit te leef is ’n gawe wat elkeen self moet ontdek.
Wanneer Irene Basson, ’n bekwame jong psigiater van Kaapstad, deur haar baas, Nicholas Barton, kleinseun van die skatryk Georgios Nikos, gevra word om ’n posisie te aanvaar by sy familie se nuwe luuksekliniek op ’n Griekse eiland, stem sy ná oorweging in – wie sal só ’n glansryke lewe nou versmaai? Aanvanklik is sy en Nicholas op formele voet. Wanneer hy egter vir Irene vra om sy halfbroer Gary, wat met skisofreniese steuring gediagnoseer is, te behandel, leer sy hom en die glansryke Nikos-familie beter ken. Dan daag Irene se voormalige pasiënt, die oorlogskorrespondent Bob Butcher, by die kliniek op. Nét Irene mag sy behandeling vir posttraumatiese stres verder hanteer, en hy is duidelik persoonlik te geheg aan haar. Terwyl Bob struweling tussen Irene en Nic veroorsaak, leer Irene ook meer van die Nikos-clan se troebel familieverhoudinge. En móét daar tog soveel vroue om die aantreklike Nic draai? Wanneer Irene hom verdink van ’n affair met ’n bekende aktrise en pasiënt, struikel die nuwe verhouding tussen haar en Nic byna. Sal hierdie haakplek, en Bob se voorbarigheid, nie dalk genoeg wees om sake tussen hulle twee te laat skipbreuk ly nie? En dan’s daar nog Georgios Nikos se familiedinge …
Annemé het voor De Wet se oë grootgeword. Eens was sy bloot die skattige nuwe buurdogtertjie, veel jonger as hy, maar met die jare het sy gevoelens vir haar verdiep. Nou is Annemé ’n volwasse vrou . . . ’n Volwasse vrou wat wil trou. Haar eie huislike omstandighede – met dikwels afwesige, koel ouers en sonder broers of susters – was nie wat sy as kind wou hê nie, en sy’s nou meer as gereed om haar eie gesin te begin. Tot dusver het sy self maar vrot gekies onder die manne, en wie beter om vir haar ’n gawe bruidegom te vind as haar ou-ou vriend, haar amper-ouboet, De Wet? Onder sy pelle moet daar mos ’n goeie kandidaat wees, en Annemé weet presies watter een sy eerste op die proef wil stel. Wanneer De Wet besef dat Annemé ernstig is, moet hy alles uithaal om te keer. Hy’t al foute gemaak, en Annemé ook – daar is mislukte verlowings en egskeidings in hul onderskeie verledes – maar as sy darem met dáárdie vent deurmekaar moet raak, sal dit haar grootste fout nóg wees. Nee, De Wet kan dink aan ’n beter bruidegom vir Annemé…
Twee jaar gelede was Lukas die onweerstaanbare dosent wat Leila se hart gebreek het. Sy was naïef en onervare genoeg om in sy bed te beland en die reëls van die spel tussen hulle verkeerd te verstaan. Vandag is sy ’n sterker, wyser vrou, en van Lukas het sy al amper vergeet, baie dankie. So iets sal nie weer met haar hart gebeur nie.
Tot sy in haar nuwe werkplek instap en sien die meneer Strauss wat haar nuwe baas moet word, is inderwaarheid niemand anders nie as einste Lukas, die man wat haar hart onder sy hak vermorsel het. Sommer met die intrapslag al spat die vonke, en gou is Leila weer besig om ’n sensuele spel van lus en passie te speel – maar sal haar hart hierdie keer as oorwinnaar uit die stryd kan tree?
Reëls van die spel was die naaswenner in NB-Uitgewers se Ultrasatyn-wedstryd vir superstomende liefdesverhale wat die sensuele besing.
Op sewe-en-twintig moet Sophie dit nou eenmaal erken: sy benodig sekslesse. Sy’t dan nog nooit die groot O gevoel nie, nog nie eens naastenby nie! Dan gebeur drie dinge byna tegelyk: Sophie kom in kontak met ’n skrywer van witwarm hygromans, raak lus om te begin blog soos in Julie & Julia, én trek in ’n nuwe woonstel in – langs haar broers se pel Derek. Ja, die een wat soos haar amper-ouboet is . . . Maar ook só glad nie!
Sophie verbrand haar vingers met Derek, want van hartsake weet sy so min as van kosmaak, en mens kan van albei ’n liederlike brouspul maak. Derek weet veel meer van sensuele sake, en saam-saam beproef hulle allerlei resepte wat hy reeds vervolmaak het. Teen die muur . . . In ’n restaurant . . . In ’n bewegende motor . . . Sophie kan nie uitgeproe raak nie, maar haar seks-blog is ’n bestanddeel wat Derek nie verwag het nie, en die lewe dreig om Sophie alleen voor haar rekenaarskerm te laat . . .
Sophia en Sophia was die wenverhaal in NB-Uitgewers se Ultrasatyn-wedstryd vir superstomende liefdesverhale wat die sensuele besing.
Iets anders! François Bloemhof slaan ’n nuwe rigting in met ’n roman gebaseer op ’n draaiboek deur die bekende akteurs Ivan Botha en Donnalee Roberts. Hulle speel in die gelyknamige rolprent en dié pad van liefde het meer as net ’n paar kinkels en draaie. Basson is ’n verwaande jong man wie se pa aan hom ’n lys uitdagende opdragte bemaak as hy die familiebesigheid wil oorneem. Hy het boonop min tyd. Wanneer Basson ’n sorgvrye meisie met haar eie lys onafgehandelde sake ontmoet, gaan sy dinge vir hom makliker of moeiliker maak? Kom vind die antwoord – en jóú ware noord.
Jacki loer skelm na trourokke, maar sy’s nie desperaat nie, nooit! Wanneer sy en Pulani Facebook inspan om haar verloofde (en baas) Gary te ontbloot vir die flippen fake wat hy is, raak sake lelik. Nou sit Jacki sonder iemand om te cuddle, sonder ’n werk en sonder ’n bed. Tamatiestraat. Haar ma het kinders by dosyne en is te weird vir woorde, en haar broer wil Gary donner, maar dit gaan Jacki nie help nie. En die poste wat in die koerant geadverteer word, is nie geskik vir ’n meisie wat darem half en half ordentlik is nie. Toe ’n verruklike man met Einstein-hare haar ’n werk aanbied, vermoed sy daar’s ’n ding in die drinkwater. ’n Musikant in ’n tux wat funky vioolmusiek maak, is ’n alte mooie ding, maar Jacki self sing vreeslik vals en pas nie in by die hemelse musiek wat Giovanni Ignacio Mancini uit sy Stradivarius tower nie. Sy wil op ’n hoë noot leef, maar dit voel vir haar of sy heeltemal van haar wysie af is. Want nie alleen maak Giovanni musiek wat ’n standbeeld sal meevoer nie, hy kan ook ’n vrou behoorlik vasvat en van haar voete af soen . . .
’n Nuwe geval in Keerboomstraat, H.A. van der Merwe, keer Lisbe Erwee se geordende bestaan as maatskaplike werker omver. Hoekom groef daar soveel harde, bitter lyne op die man se gesig? Hoekom moes ’n jong ma sterf en tweelingseuntjies wees agterlaat? Die wag-’n-bietjiebos by die voorhekkie van Helm se huis is vir hom simbool van sy lewe. Bid dat jou eie lewe nie in ’n wag-’n-bietjiebos vasgevang word nie, waarsku Helm vir Lisbe. ’n Mens het altyd raad vir ander totdat jou eie lewe skielik in die dorings van hoekoms en waaroms verstrengel raak. Wanneer Lisbe op ’n dag self letterlik verstrik raak in daardie bos, word dit ook simbool van die vangtakke waaruit sy haar nie kan ontwar nie. Want êrens langs die pad het sy haar hart verloor. En nes Helm, weet sy nie hóé om te ontsnap uit die takke van die wag-’n-bietjiebos van die lewe nie.
Op sy eerste huweliksnag fuif Louis Mocke saam met sy vriende in die hotelkroeg. Was sy erfporsie tog die lokaas vir sy blitshuwelik met Santie Marais? Jaag sy broer, Darius, net spoke op wanneer hy haar waarsku om haar goed te vat en te loop? Wanneer Dottie Willemse, Louis se eertydse liefde, terugkeer met ’n seuntjie aan die hand, ruik Eloffsdal nog ’n Mocke-skandaal waaroor hulle die mond kan uitspoel. Want Darius waarsku Louis: “As ek jou naby haar vang, breek ek jou nek.” Uit flardes skinderstories en dreigemente probeer Santie sin maak uit die Mocke-raaisel. Waar pas Tanja, Darius se gewese vrou, in? Wat het van haar en Ferdi, haar minnaar en Dottie se broer, geword? Wie is die pa van Dottie se kind? Sy ontken dat dit Louis is . . . Maar voor Santie al die legkaartstukkies sorgvuldig inmekaar kan skuif, tref ’n ramp die Eloffdallers wat geen mens se lewe onaangeraak laat nie. Ook nie haar en Louis s’n nie . . .
’n Skaduwee skuif oor Bokkie en Tokkie se sorgelose kaalvoetlewe, waarin sokkerspel saam met die dorpseuns die hoogtepunt van pret is. En die rede? Ontluikende vroulikheid . . . ’n vloekwoord en blykbaar ’n ongeneeslike siekte. Dis veral juffrou Estelle Huizeman se arendsoog wat dié dinge opmerk. Nog meer, daardie fyn oog bespeur ook die manlikheid van hul wewenaar-pa en skoolhoof, Henk Beukes. Die tweeling besef gou hulle sal ’n blink plan moet smee as hulle nie juffrou Huizeman as hul nuwe ma wil hê nie. Want dis duidelik sy het haar visier ingestel op dié aantreklike wewenaar van Jagershoek. Die oplossing: hulle soek eerder self ’n moeder so na hul hart. En die aangewese plek is Soek en Vind, tydskrifhoekie vir eensames. So word Eensaam op Wegdraai geskep – eensame, aantreklike wewenaar van sewe en dertig, op soek na ’n vrou wat raad kan gee met dertienjarige tweelingdogters. Al wat Bokkie en Tokkie nou moet doen, is om uit al die aansoeke die régte een te vind. Iemand wat ’n eie ma vir hulle kan wees. Want só ’n vrou sal tog hul pa se hart ook steel, of hoe?