Kalinda het uit Toronto gekom om navorsing te doen oor Kanadese soldate in die Anglo-Boereoorlog. Sy’s twee jaar terug van Neil geskei en het Suid-Afrika agtergelaat vir ’n nuwe lewe, maar noudat sy terug is in die land, onthou sy opnuut sy dreigende laaste woorde aan haar . . .
Maar vir eers het sy ander probleme. Soos die spook, jou wrintiewaar ’n regte-egte spook, wat in haar kar geklim het op pad na Paardeberg − én haar kantsakdoekie op die sitplek agtergelaat het.
En dan, op die plaas aangekom, het sy te kampe met die wildewragtag van ’n Zach, rekenaarspeletjie-ontwerper en opstandige asmalyer, met sy onversadigbare drang na werklik ekstreme sportsoorte − en die onverklaarbare drif wat dadelik tussen hulle posvat.
Terwyl Kalinda die geskiedenis en haar spook se spore volg, kry sake tussen haar en Zach alte vinnig koers – maar sy hoor mos van sy arrogante drie-date-reël, en sy weet haar hart het dít allermins nodig. Boonop is Neil tóg nie iets van die verlede nie . . .
Die pragtige Ezette Nel met haar blink, swart hare en besonderse turkoois oë, is ’n Afrikaans-onderwyseres by ’n hoërskool. Hoewel die skool se druk buitemuurse program baie van haar tyd in beslag neem, het sy twee groot voorliefdes: sy is hartstogtelik lief vir diere en sy wil baie graag nog ’n hele string boeke skryf.
Haar amper-verloofde, Charl Myburgh, is ’n LO-onderwyser en ’n plesiersoeker wat veel eerder rondrits as om rustig tuis te bly. Ezette het hom lief en geniet sy geselskap, maar tog wonder sy soms: Is hulle regtig geesgenote?
Dan ontmoet sy Derek Myburgh, Charl se ouer broer wat ’n veearts is en toevallig haar twee groot voorliefdes deel. Tot Ezette se groot ontsteltenis voel sy dadelik baie aangetrokke tot hom en is hy vir haar byna onweerstaanbaar aantreklik . . .
Maar sy vind gou uit dat sy nie net moet rekening hou met haar kloppende hart nie, maar ook met haar naderende verlowing, haar onderwyspos en die feit dat Derek Myburgh haar reeds soos ’n ware skoonsuster behandel . . .
Die rooikop-kunstenares Jennie Botha se lewe verander eensklaps toe sy haar ouers in ’n motorongeluk verloor. Skielik bly sy alleen agter in die imposante grasdakhuis op ’n kleinhoewe saam met haar drie blinkoog-bulterriërs, hanslam, katte, hoenders, ganse en eende.
Haar vriend Thys, ’n belowende argitek, dring daarop aan dat sy die huis verkoop sodat hy vir haar ’n modern huis in die stad kan bou sodra hulle eers getroud is. Thys hou nie van diere nie en ook nie van tuinmaak nie. Verder is die kleinhoewe te ver van alles af; te ver van sy kantoor, kliënte, kollegas en die teater . . . Hy is pynlik netjies en verkies eintlik blondines – vroulike meisies in rokke, kouse en hoëhakskoene.
Jennie maak kennis met Roux van Zyl, ’n voornemende koper vir die huis. Hy is presies die teenoorgestelde van Thys: hy het deurmekaar hare en ’n halfdag oue stoppelbaard; hy wil graag die honde afrig en hou van rooikoppe in kakiebroeke en verfbesmeerde oorhangtruie. Hoewel Jennie en Roux aanvanklik nie stryk nie, leer hulle mekaar geleidelik beter ken en voel sy baie aangetrokke tot hom.
Die sprankelende, genotvolle verhaal van ’n grasdakhuis en sy rooikop-eienares, en van die bittersoet spel van die liefde.
Toe Ila Verster op Nelspruit van die trein afklim, is dokter Johan Retief die eerste man wat sy ontmoet. Hy bied aan om haar swaar tas te dra, maar sy sê sy sal regkom, en op hierdie oomblik weet sy nie watter groot rol dokter Retief nog in haar lewe sal speel nie.
Sy hoor iemand roep: “Daniela!” en swaai verskrik om. Dit is Martin Niehaus en hy sê onvriendelik: “Jou geheue is kort, liefste. Het jy vergeet ek wil jou nie op Rietendal hê nie?”
Dit blyk dat hy haar aansien vir sy stiefsuster op wie hy verlief was. Sy is bang vir hom en sy gee vinnig pad van die bewegende trein. Martin sê sy lyk presies net soos Daniela, maar sy slaag daarin om hom te oortuig dat sy nie Daniela is nie en hy doen ’n voorstel aan haar. Dit beteken dat sy Rietendal toe moet gaan, waar Daniela se pa al vyf jaar lank wag op sy dogter se terugkoms. Martin se aanbod sal vir haar baie geld in die sak bring, maar dit veroorsaak ook dat dokter Johan Retief haar verag en dít maak seer, want sy het intussen op hom verlief geraak.
Hoe kan sy Johan oortuig dat sy opreg is en dat sy nie regtig van plan is om te doen wat Martin van haar verwag nie?
Dokter Retief wil egter niks met haar te doen hê nie, al vertel sy hom wie sy werklik is en waarom sy Martin se aanbod aanvaar het. Op die ou end bevind sy haar in lewensgevaarlike omstandighede.
Die kaartehuis van Niel en Wanya Cloete stort in duie die dag toe Niel, grootbaas van Rock Trust en wonderkind van die finansiële beleggingswêreld, as swendelaar ontmasker word. Duisende beleggers, onder wie ou mense wat hul laaste bietjie spaargeld verloor, bevind hulle skielik reddeloos op straat.
Ook Wanya kom nie skotvry daarvan af nie. Terwyl Niel in die tronk sit, moet sy die gelag betaal. Sy word verder in trurat geslinger toe sy ná ’n oortreding tot gemeenskapsdiens in tant Bes se sopkombuis in Sonneblomstraat 7 gevonnis word.
Maar eintlik is dit ’n bedekte seën, want hier leer sy mense en waardes ken wat haar lewe voortaan onherroeplik sou verander . . . Onder andere Roelof Rossouw, die maatskaplike werker wat ’n ogie oor haar moet hou.
In Sonneblomstraat 7 val die meetsnoere vir baie mense tog in lieflike plekke – al kos dit meet en pas om liggaam en siel aan mekaar te hou.
Karien Saayman, wie se lewe altyd so op koers was, se kompas is aan’t wankel.
Die hospitaal waar sy verpleegsuster is, se Don Juan, dr. Arnold Lutz, het sy oog op haar en sy weet nie hoe om sy onwelkome attensies die hoof te bied nie. Selfs die feit dat sy met Hannes Eksteen, vooruitstrewende boer van die plaas Franskraal, trou, skrik die voortvarende dr. Lutz nie af nie.
Dan verskyn dr. Christian Willems, briljante chirurg, op die toneel, en in plaas daarvan dat hy vir haar uitkoms bied, word Karien se lewe net verder deurmekaar gekrap.
Uiteindelik is dit ’n terminaal siek meisietjie van vyf wat vir die erg beseerde Hannes en die ander weerlose en ontredderde grootmense die pad na herstel aanwys.
In Die uurglas loop leeg is daar veral een lewensles te leer: om voluit te leef is ’n gawe wat elkeen self moet ontdek.
Die probleem met Lizl Landman is dat sy briljant is. Beeldskoon, blond, ’n gekurfde droom . . . Maar te professioneel perfek vir Willem Claassen se ego. Die twee top mediese studente is in ewige kompetisie. En die liefde hou nie van kompetisie nie.
Lizl weier om haar toekomsdrome as dokter te verpand vir ’n tradisionele huwelikslewe. Eers ná tien jaar kruis hul paaie – en swaarde – weer wanneer Fritz Hancke, skatryk boer en pasiënt van Willem, in ’n stadshospitaal beland. Haar diagnose: kwaai griepaanval en bloeiende maagseer. Sy diagnose: Kongokoors.
Saal B3 word onder kwarantyn geplaas, so ook Lizl. Een verkeerde diagnose, en skoppensboer se lag klink skel in haar hospitaal, haar gewete, haar hart. Soveel lewens kom op die spel . . .
In Die dae van ons nietigheid moet ook Willem en Lizl leer: Met tyd speel jy nie – ons lewe in die dae van nietigheid.
In Die goue gerf bepaal die pragtige Elizabeth Bornman haar by haar mediese studies. Sy moes as kind met die vernedering saamleef dat sy ’n aangenome en dus heel moontlik ’n buitegtelike kind is en nou het sy haar voorgeneem om na haarself om te sien. Die man wat haar verower sal iemand moet wees na wie sy werklik kan opsien. Ryk Malan vind Elizabeth onweerstaanbaar, maar hoe moet ’n warmbloedige man met so ’n ysprinses maak? Wanneer Elizabeth na haar werklike ouers begin soek raak sy met die Hugo’s bevriend, min wetend waar sy uiteindelik haar antwoorde gaan vind.
"Die liefde praat met baie stemme in ’n mens se hart, het Beamari eens op ’n tyd besef, en soms moet jy diep luister om die boodskap te kan hoor. Partykeer praat die liefde met ’n fluisterstem en soms is dit soos die druising van ’n stormwind op see. Maar haar lewe is so besig dat sy nie altyd ewe goed ingestem is op fyn vibrasies en nuanses nie. Naudésrust, die piesangplaas aan die KwaZulu-Natalse Suidkus waar sy en haar rugbyman swoeg om vooruit te kom, verg meer arbeid as wat hulle kan bybring. Die diereherberg op die werf het heeltydse sorg nodig. Boonop maak die hondeskool en -salon wat sy beplan nie voorsiening vir aandagtig luister na die taal van jou hart nie. Die noodlot gryp egter in, een Saterdagmiddag in Durban op pad na ’n rugbywedstryd. En skielik, sonder waarskuwing, is daar twee nuwe stemme – een stug en befoeterd, die ander nostalgies verlief – wat haar hart laat luister. Beamari moet ’n keuse maak wat haar lewe en dié van haar kind gaan verander.
Die liefde praat met baie stemme in ’n mens se hart, het Beamari eens op ’n tyd besef, en soms moet jy diep luister om die boodskap te kan hoor. Partykeer praat die liefde met ’n fluisterstem en soms is dit soos die druising van ’n stormwind op see. Maar haar lewe is so besig dat sy nie altyd ewe goed ingestem is op fyn vibrasies en nuanses nie. Naudésrust, die piesangplaas aan die KwaZulu-Natalse Suidkus waar sy en haar rugbyman swoeg om vooruit te kom, verg meer arbeid as wat hulle kan bybring. Die diereherberg op die werf het heeltydse sorg nodig. Boonop maak die hondeskool en -salon wat sy beplan nie voorsiening vir aandagtig luister na die taal van jou hart nie. Die noodlot gryp egter in, een Saterdagmiddag in Durban op pad na ’n rugbywedstryd. En skielik, sonder waarskuwing, is daar twee nuwe stemme – een stug en befoeterd, die ander nostalgies verlief – wat haar hart laat luister. Beamari moet ’n keuse maak wat haar lewe en dié van haar kind gaan verander. "
As Ansa maar net nooit haar vrouwees in ’n swart nonnegewaad probeer verskuil het nie; as sy net nie ’n leuenweb oor Braam Venter geweef het nie . . . Maar dit was ter wille van suster Theresa, ter wille van oorlewing. Want hoe moes hulle anders uit die verlate spookdorp Meob by die beskawing uitkom?
Louw Greyling het net een doelwit – vergelding en om Braam Venter en sy diamante te kry. Suster Ansa is die padkaart na daardie skat. Min kon hy droom dat daar ook ’n roete na sy hart is . . .