Название | Wilna Adriaanse-omnibus 2 |
---|---|
Автор произведения | Wilna Adriaanse |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050698 |
“Vir jou inligting: ek het net kom kyk hoe jy die kamers verander het. Ek het vrede met jou harem wat jy hier aanhou.”
“Wat sou jy gesê het as jy in een vasgeloop het?”
“Ek het vir Drika hier gekry en sy het gevra dat ek vir jou moet wag om te sê sy moes na jou ma-hulle toe gaan. Ek is seker sy sou my ingelig het as hier iemand anders in die huis was. In elk geval, jou kos is besig om uit te droog.” Nicolene klim met lang treë die trap af en sien nie die glimlag waarmee Jacques haar agterna kyk nie.
4
Sondagoggend breek helder en sonnig aan en Lisa is al vroeg op om al die voorbereidings vir middagete af te rond. Sy het besluit dis ’n goeie geleentheid om ’n paar vriende en familielede oor te nooi. Almal is so besig met die laaste voorbereidings vir Kersfees en vakansie, en op die troue sal daar ook nie juis kuiertyd wees nie.
“Hoeveel mense het Ma genooi?” wil Nicolene van haar pa weet toe sy die soveelste stapel borde buitentoe dra.
Wilhelm du Toit skud sy kop. “Ek het nie ’n idee nie. Soos dit vir my lyk, het sy sommer al die trougaste genooi.” Toe beduie hy na een van die stoele onder die groot sambreel. “Kom sit eers bietjie by my … ek sien jou omtrent nie. Vertel my hoe dit met jou gaan.”
Nicolene gaan sit langs hom en kyk na die die sprankelende blou swembad voor hulle. “Dit gaan baie goed. Ek geniet my werk … ek woon lekker … hoewel ek nie weet hoe ek nou weer sal kan teruggaan nie. ’n Mens vergeet hoe lekker dit hier tussen al die bekendes is – en dan nog al hierdie goue sonskyndae ook.”
“En jou toekomsplanne?” Die donker oë kyk rustig na haar.
“Ek weet nie … Ek het nie ’n kontrak met die restaurant nie, maar ek sal seker nog ’n rukkie daar aanbly … miskien eendag my eie plekkie begin. Ek sal maar sien.”
“Beteken dit jy kom nie terug nie?”
Nicolene antwoord nie dadelik nie. En toe sy antwoord, is haar stem baie sag. “As Pa my ’n maand gelede dieselfde vraag gevra het, het ek sonder twyfel gesê: nee, ek kom nie weer terug nie.”
“En nou … wat het verander?”
Die diep stem spoel oor haar en sy voel hoe ’n band haar keel toetrek. “Ek het nou weer gesien wat ek alles mis … maar nou is dit ook nie meer so maklik om alles net daar te los en terug te kom nie.”
“H’m … dis maar die lewe … ’n Mens moet keuses maak en dan moet jy met jou keuses saamleef.” Hy kyk verby haar, in die rigting van die berge wat vandag bloupers in die helder oggendson staan.
Nicolene antwoord nie. Sy weet nie of daar ’n vermaning in die woorde skuil nie. Hy het hulle van kleins af toegelaat om keuses te maak, maar ook geleer om die verantwoordelikheid van jou besluit self te dra. Miskien wil hy haar net weer daaraan herinner; miskien wil hy maar net hoor of sy enigsins al oor haar toekoms gedink het.
“Nee, maggies julle twee, julle kan nie net hier sit nie!” Lisa kom op die stoep uit en begin tafeldoeke oor die tuintafels gooi.
“Lisa, weet jy dat die troue eers volgende Saterdag is?” laat Wilhelm droog hoor, terwyl hy vir Nicolene knipoog.
“Ek weet … maar die familie kla almal dat hulle nog nie vir Nicci gesien het nie en Karen en Gerrit gaan nie vir Kersfees hier wees nie.”
Lisa se hande werk onverpoos voort en Nicolene staan op om haar te help. Haar ma is gespanne … en sy weet nie waaroor nie. Sy is bekend dat sy in haar lewe al groot partytjies en funksies moeiteloos en foutloos gereël het. Sy wonder meteens waarom Andrew se besoek haar ma gespanne maak. Hulle het hom tog al ontmoet. Sy weet nie of hulle baie dol oor hom is nie, maar hulle het nog nooit regtig kommentaar gelewer nie. Miskien is dit maar net die troue. As die bruid se ma voel sy seker verantwoordelik dat alles glad moet verloop.
Toe die kuiergaste begin arriveer, kan Nicolene en Karen net hulle koppe skud, want dit lyk werklik of haar ma die hele dorp én omstreke genooi het.
Gideon en Christa Roux daag eerste op, saam met hulle dogters en dié se mans. Daar word uitbundig heen en weer gegroet. Die uitgebreide familie van ooms en tannies, niggies en neefs, en later vriende en bure daag in hulle hordes op. Nicolene is besig om Paul en Annemie met hulle twee seuntjies te groet, toe sy Jacques en die blonde meisie op die stoep gewaar, en sy staar onbeskaamd en wonder wat dit met hom en blondines is. Sy kan nie onthou of daar ooit een was wat nié so gelyk het nie. Hulle maak in elk geval ’n mooi prentjie en behoort pragtige kinders te hê.
Sy besef hy kyk vir haar met opgetrekte wenkbroue en sy knip vir hom oog voordat sy omdraai om nog iemand te groet, maar oomblikke later raak iemand aan haar arm.
“Nicci … kan ek jou voorstel? Dis Mariaan Vermaak.” Jacques beduie na die meisie langs hom en Nicolene steek haar hand uit terwyl sy breed glimlag.
“Hallo, ek is bly om jou te ontmoet.”
’n Glimlag kom lê om die rooi mond. “Nou kan ek ook uiteindelik sien hoe die vrou lyk wat veronderstel was om Jacques voor die kansel te kry.” Die fletsblou oë gaan geamuseerd oor Nicolene. “Ek kan nog nie besluit of jy slim of dom was om hom te laat wegkom nie.”
“Miskien moet jy nie so vinnig in die verlede tyd praat nie … ’n mens weet nie wat kan gebeur nie.” Nicolene glimlag grootoog op na Jacques. Sy sien die frons wat tussen sy oë saamtrek en sy is dankbaar toe iemand aan haar arm trek en vra of sy nie weet waar nog koeldrank is nie. Sy maak vriendelik verskoning en stap haastig die huis binne.
Nicolene huiwer in die skemerte van die spens. Sy hou nie van die meisie nie en sy is baie jammer daaroor. Sy het haar voorgeneem sy sal eendag van sy vrou hou … net soos sy graag sal wil hê hy moet van … Andrew hou.
“En wat het daardie opmerking beteken?”
Die stem agter haar laat haar omswaai en toe draai sy weer terug en maak die yskas se deur oop.
“Watter opmerking?” Sy staan met haar rug na hom toe.
“Jy weet goed waarvan ek praat.”
“Nee … ek is jammer, ek weet nie.” Sy hou twee bottels koeldrank na hom uit. “Neem dit asseblief buitentoe.”
“Waarom het jy jou so vir haar opmerking vererg? Dit was bedoel om ’n grap te wees.” Hy bly in die deur staan en keer dat sy verbykom.
“Wat wil jy hê moes ek gesê het?” Sy fladder haar wimpers op na hom toe. “Ja, ek moes eintlik sy bruid gewees het en my hart is gebreek noudat jy hom by my gesteel het.”
Sy plathand brand op haar sitvlak. “Moenie kinderagtig wees nie.”
Nicolene glip onder sy arm deur en laat oor haar skouer hoor: “En hou op om so senuweeagtig oor jou meisie te wees. Sy lyk vir my heeltemal in staat om haar eie gevegte te hanteer.”
Hy haal haar in en sy stem is by haar oor toe hulle op die stoep uitloop. “Wil jy met haar baklei?”
“Net as sy eerste baklei.”
Gelukkig is daar soveel mense dat Nicolene nie nodig het om haar vreeslik oor Jacques of sy meisie te bekommer nie. Sy help later kos aandra en wil net lag toe sy sien hoe haar ma trots vertel dat dit alles resepte is wat Nicolene vir die restaurant ontwikkel het.
Toe almal ná ete lui terugsit, is daar van die jongeres wat in die swembad duik en Nicolene laat haar nie twee maal nooi nie. Die hitte is besig om haar ’n hoofpyn te gee en sy kan voel hoe sy begin ontspan toe die koel water om haar vou. Sy het ’n mooi, kuise tweestuk aan, maar sy kan sien hoe ’n paar van die ouer mense se oë kort-kort na die naeltjieringetjie gaan.
Iemand gaan later ’n bal haal en toe begin ’n rumoerige stryd. Karen en Gerrit is in teenoorgestelde spanne en daar word hartlik heen en weer uitdagings geslinger. Nicolene word in ’n stadium daarvan bewus dat Jacques ook in die water is, maar met ’n vinnige blik na die stoep sien