Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse

Читать онлайн.
Название Wilna Adriaanse-omnibus 2
Автор произведения Wilna Adriaanse
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050698



Скачать книгу

huis ook gaan kyk. Ek hoor dis enige vrou se droom.” Die spotlaggie lê weer in haar oë toe sy na hom kyk en sy kan die verskuilde waarskuwing agter die donker oë sien.

      Nadat hulle die kuiermense by die motor afgesien het, stap Nicolene saam met haar ouers terug huis toe. Nicolene vryf haar arms asof sy koud kry.

      Lisa raak aan Nicolene se vel. “Jy moet versigtig wees in die son; jou vel is nie meer aan soveel son gewoond nie.”

      “H’m …” is al wat Nicolene sê voordat sy in die gang na haar kamer afdraai. Sy het steeds hoofpyn en sy voel rusteloos. Dis asof sy net té veel ervaar. Asof al haar sintuie gebombardeer word met herinneringe … en gevoelens.

      3

      “Wanneer gaan jy jou strooimeisierok vir ons wys?” Karen het vir Nicolene ’n skinkbord met ontbyt gebring en sit nou by haar suster op die bed.

      “Ek weet nie of ek moet nie. Ek het nie die energie om nou ’n rok te gaan soek as jy nie met hierdie een tevrede is nie.” Nicolene neem ’n sluk van die yskoue lemoensap en sit weer terug teen die kussings.

      “Maggies, Nicci, jy kan darem nie verwag ek moet my strooimeisie se rok die dag van die troue sien nie! Gewoonlik is dit die bruid wat besluit hoe die strooimeisie moet lyk!” Karen skink vir haar tee en roer met vinnige hale die melk in.

      “Jy het gesê die rok moet oranje wees en dit moet lank wees … en dit is presies wat ek gekoop het,” verdedig Nicolene tussen happe roosterbrood.

      “Oranje en lank! Dit sê niks! Ek wil nie enige oranje rok hê nie. Dit moet ’n spesifieke oranje wees.” Karen skud haar kop. “Jy sal maar daardie rok moet uithaal en as dit nie reg is nie, sal ons twee baie vinnig ’n ander plan moet maak. Ek gaan nie vir die res van my lewe na my troufoto’s kyk en ril nie!”

      Nicolene sug. “Wanneer ek die dag trou, moet dit sommer vinnig en informeel wees. Ek sien nie kans vir soveel reëlings en besluite nie.”

      “Vergeet dit! Nie met ons ma in die rondte nie.”

      “As ek in Engeland trou, sal sy nie veel kan doen nie …” Nicolene kyk peinsend deur die venster en Karen laat haar teekoppie stadig sak.

      “Jy kan dit nie aan haar doen nie.”

      “Karen, jy ken nie vir Andrew nie … As hy nie ’n tradisionele troue wil hê nie, sal niemand hom anders kan oortuig nie. Jy moet onthou hy het heeltemal anders as ek grootgeword. Hy sien sy familie net dan en wan en dan praat niemand eintlik met mekaar nie. En hy gaan ook nie kerk …” Sy bly meteens stil en sluk die laaste bietjie vrugtesap af.

      Karen antwoord nie dadelik nie, sit en kyk net ’n lang oomblik na Nicolene.

      “Dis anders daar …” begin Nicolene skielik verduidelik. “Die lewe is anders. Daar is nie sulke sterk familiebande nie. ’n Mens lewe maar so half op jou eie.”

      “Nicci … jy moet mooi dink … Dit maak miskien nie nou vir jou saak as hy nie kerk toe gaan nie, maar wanneer jy eendag kinders het, gaan jy anders hieroor voel. En daarmee sê ek geensins dat die kerk van jou ’n goeie of beter mens maak nie, maar daar bly sekere lewenswaardes wat jy graag aan jou kinders sal wil oordra, en dit gaan moeilik wees as dit nie julle albei se waardes is nie.”

      “Is ék nie veronderstel om vir jóú raad oor die lewe te gee nie?” Nicolene glimlag terwyl sy die laken van haar afgooi en haar bene van die bed afswaai. “In elk geval het ek beslis nie op die oomblik trouplanne nie.”

      Karen antwoord haar nie.

      Nicolene maak die kas oop en laat oor haar skouer hoor: “Maak toe jou oë.”

      Karen gehoorsaam en toe Nicolene sê sy kan maar kyk, maak sy haar oë stadig oop. Haar mond gaan oop.

      Nicolene draai voor die spieël in die rondte. Die materiaal is ’n diep oranje sy wat om haar rondings vou en van haar heupe af effens na onder uitklok. Drie dun veterbandjies oor elke skouer hou die rok bo. Die halslyn is laag gesny, maar nie onbehoorlik laag nie en bedek beslis al die nodige kurwes. Selfs haar ma sal nie kan kla nie. ’n Lang sjaal van dieselfde materiaal hang in die waaie van haar arms. Die kontras met haar donker vel en haarkleur was een van die redes waarom sy op dié rok besluit het en as sy nog ’n paar dae in die son kan lê, sal dit hopelik nog beter lyk.

      “Nee maggies, Karen! So lelik is die rok beslis nie …” Nicolene draai na Karen wat steeds doodstil sit.

      “Ek wonder net of ek jou enigsins naby my bruidegom kan toelaat. Jy het jouself oortref, maar ek wil asseblief net nie weet wat hierdie skepping jou gekos het nie. Ook maar goed Andrew gaan hier wees. Jy gaan die Suid-Afrikaanse manne se bloeddruk laat styg … en die arme Jacques wat saam met jou voor die kansel moet staan, gaan moeite hê om die ring te onthou.”

      “Wat gaan Jacques voor die kansel maak? Ek dag ek is die enigste gevolg.”

      “Gerrit het besluit hy het morele ondersteuning nodig, en blykbaar het hulle al op universiteit mekaar belowe dat, wie ook al eerste trou, die ander een sal strooijonker wees. Ek dog ek het jou gesê.”

      Nicolene skud haar kop ingedagte terwyl sy die rok uittrek. “Nee, jy het nie. Maar dit maak nie saak nie. Dit gaan nogal pret wees: ek en Jacques saam voor die kansel.”

      “Ai, ek kan nou al sien hoe Ma en tannie Christa met trane in hulle oë vir julle sal kyk. Maar nou ja, as dit dan nou die enigste manier is hoe ons julle twee saam voor die kansel sal kry, laat dit dan so wees.”

      Nicolene gooi ’n kussing na haar suster. “Moenie vir my sê jy koester ook nog al die jare sulke drome nie?”

      “Wie van ons doen dit nie? Ek dink die hele dorp het hulle hart daarop gesit. Maar die liefde laat hom nie voorsê nie – daarvan het ek eerstehandse kennis. Sedert ek en Gerrit ernstig begin uitgaan het, sou ek beslis ook na niemand anders geluister het nie. My hart het net een taal gepraat.”

      “As ek jou ’n geheim vertel, sal jy belowe om dit nooit te herhaal nie?” Nicolene sak weer op die bed neer en moet lag toe sy sien hoe Karen se oë rek en sy afwagtend na haar kyk.

      “Ek was, seker vandat ek verstand gekry het, op Jacques verlief, maar hy het altyd met ouer meisies uitgegaan en ek het nooit kans gesien vir die vreeslike kompetisie nie … ek weet nie of enige vrou ooit seker sal wees dat sy die enigste een in sy lewe is nie.”

      “Het jy dit ooit vir hom gesê?” Karen se oë is nou koeëlrond.

      “Moenie laf wees nie! Kan jy dink hoe hy my sou gespot het? En in elk geval het hy my altyd as ’n suster gesien.”

      “Het jy nooit eers gewonder of hy nie dieselfde oor jou voel nie?” Karen skud haar kop stadig heen en weer asof sy dit nie kan glo nie.

      “Jy moet onthou ons praat nou van jeugdige verliefdheid. ’n Mens is uiters weerloos en broos en my ego sou beslis nie so ’n teleurstelling kon hanteer nie. En in elk geval was dit baie minder gekompliseerd om sy vriendin te wees. Ek dink ek het hom meer gesien as wat sy meisies hom gesien het en ons het heerlike tye gehad, veral die tye wat hy nie meisies gehad het nie. Op universiteit het die kompetisie net sterker geword en gaandeweg het ek besluit dat dit wat tussen ons is, honderd maal beter is as wat die meisies kry.”

      “Is dit die rede waarom jy weggegaan het?”

      “Nee, goeiste! Ek het beslis nie as gevolg van ’n verlore liefde en ’n gebroke hart Engeland toe gegaan nie. En ek ly beslis ook nie nou aan ’n gebroke hart nie. Dit was sommer kalwerliefde … en moet asseblief nou nie jou kop hieroor breek, of dit vir iemand vertel nie. Ek het geen romantiese versugtinge oor Jacques Roux nie.” Nicolene kyk waarskuwend na die ander meisie.

      “Miskien was hy ook op jou verlief en jy sal dit nooit weet nie.” Karen se stem is droomverlore en Nicolene bars uit van die lag.

      “En die maan is van kaas gemaak. Asseblief! Dink maar net ’n bietjie terug: almal was mooi, selfversekerd, jy kon hulle altyd deur ’n ring trek. Hy val nie vir ’n rabbedoe wat saam