Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 6
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798166119



Скачать книгу

“Hansie. Jy het geskrik.”

      Sy probeer regop kom, nie ’n maklike proses nie, so toegerol is sy in die beddegoed. “Is dit laat? Wag julle vir my?”

      “Nee, dis nog baie vroeg. Wil jy nog slaap?”

      “Nee.” Sy kom regop, kyk bysiende rond, vee haar wilde, verslaapte hare uit haar gesig en struikel oor die verfrommelde beddegoed sodat sy val, gelukkig op die komberse en nie die harde vloer nie.

      Hy spring nader, trek haar op aan haar hand en raap sommer die beddegoed ook op, wat hy op sy bed gooi. “Sit,” sê hy en gee haar skouer ’n ligte drukkie. “Hier is jou koffie.” Hy sit die beker in haar hand, loop na die kamer langsaan en kom terug met haar bril wat hy met sorg op haar neus sit. “Daar, nou kan jy weer sien.”

      Sy hou die beker met albei hande vas en drink gretig. “O,” sug sy tevrede. “Die koffie is lekker.”

      “Ek het onthou dat jy gesê het sonder koffie kan geen mens ’n dag aanvat nie,” sê hy, weer op die stoel, maar sy oë geamuseerd op haar.

      “Want dis waar.”

      “En dié keer het ek darem jou naam geken.”

      Sy frons. “Wat bedoel jy met dié keer?”

      “Die eerste keer toe jy by my geslaap het, het ek nie jou naam geken nie. Nou, die tweede keer, het ek.”

      Sy kyk na die beskuit, vat een en dompel dit in haar beker. “Mense gebruik die term saamslaap verkeerd,” sê sy streng. “Dis een van die terme wat sy oorspronklike betekenis heeltemal verloor het.”

      “Dis so,” erken hy ernstig. “Dit kan lei tot probleme.”

      “Soos?” vra sy, nou behoorlik wakker.

      “Wel,” sê hy gemaklik. “Gestel jy nooi my eendag na jou troue. Om byvoorbeeld seremoniemeester te wees. Kan jy jou indink hoe die mense sal lag as ek hulle vertel hoeveel keer die bruid by my geslaap het?”

      “Ek sal jou nie nooi om seremoniemeester te wees nie.”

      “Dis ’n tegniese punt.”

      “Dis waar reputasie inkom,” sê sy en hy verbeel hom daar is ’n glinstering in haar grys oë. “Jy sien, omdat my reputasie so ongeskonde is, sal niemand jou glo nie. Aan die ander kant, as ék nou seremoniemeester is op jóú troue, sal die mense my glo.”

      “Ek sal jou nie nooi nie!” sê hy vererg.

      “Moenie kwaad word nie,” maan sy. “Jy weet dis die waarheid. En ek weet nie of jy besef watse onguns jy jouself aangedoen het nie. Jy sal eenvoudig nooit kan trou nie.”

      Hy lig sy wenkbroue. “Waarom nie?”

      “Omdat vertroue die hoeksteen is van enige verhouding en nog meer van iets soos ’n huwelik.”

      “En jy beskou my as onbetroubaar?”

      “In die seksuele sin van die woord.”

      Hy voel dadelik weer die onredelike gevoel van skok omdat sy selfs maar so ’n woord gebruik. “Waarvan praat jy?” vra hy kortaf.

      “Jy het te veel meisies gehad,” sê sy en kyk skuldig om haar rond. “Ek weet ek het belowe, maar dis jy wat hierdie gesprek begin het. Jy sien, hoe kan iemand met jou trou en glo dat sy nou die enigste een is? Haar lewe sal ’n nagmerrie wees. Sy gaan nooit weet of jy nog van haar hou en of jou oog al klaar op iemand anders is nie.”

      “Nooit!” ontplof hy. “Liewe vader, jy hét ’n lae opinie van my. As ek met baie meisies uitgegaan het, is dit juis omdat ek soek na iemand . . . na die één . . .”

      “Ja?” moedig sy aan. “Die een wat?”

      Hy soek na die regte woorde. “Wat rég is, wat . . . alles is waarna ek gesoek het of waarop ek gehoop het.”

      “Ek sien.” Sy drink haar laaste koffie klaar, stik effens in die beskuitkrummels wat onderin was en sit dit neer. “Dan voel ek meer gerus en ek hoop jy kry haar eendag. Sy sal . . . uitsonderlik moet wees. Feitlik ’n godin as sy die beste aspek van elkeen van jou meisies moet hê.” Sy kyk na hom en druk haar vinger teen haar lippe. “Nie ’n verdere woord nie. Meisies is ’n verbode onderwerp. Wat doen ons nou?”

      “Jy trek aan,” sê hy suur.

      Sy kantel haar kop. “Ek wou jou nie kwaad gemaak het nie,” sê sy spytig. “Dit was so geweldig . . . e . . . troostend om hier op jou matjie te lê.” Sy glimlag komplimenterend. “Jy snork nie, jou asemhaling is net . . . gerusstellend. Ek het geweet Hansie of sy gesinslede sal nie naby my kom solank ek hier lê nie.”

      Teen sy sin begin hy lag. “Dink jy ek sal jou nou vergewe?”

      “Ek hoop so. Ek wil nie regtig met jou baklei nie.”

      “Nou toe nou,” sê hy sardonies. “Dit sou ek nou nie kon raai nie.”

      Sy kyk na die berge beddegoed. “Sal ek gou die beddens opmaak?”

      Hy wys na die badkamerdeur en staan op. “Nee, trek aan, ek sal dit doen.”

      “Kan jy?”

      Moedeloos gooi hy eers haar beddegoed van sy bed af en begin syne opmaak. “Ek het my eie huis, wie dink jy maak my bed op – die voëltjies?”

      Sy gee ’n laggie, stap tot by hom en sit een sagte hand op sy arm. “Kan ons miskien ’n ent gaan ry?” vra sy. “Miskien ’n paar diere sien?”

      Hy kyk af na haar, knip sy oë hard en glimlag. “Dis presies wat ons gaan doen as jy net aangetrek kan kom.”

      Hoofstuk 9

      Teen die tyd dat die beddens opgemaak is, hoor Theo Therese nog sing in die badkamer, dus loop hy terug kombuis toe, waar sy ma net die fles koffie in ’n mandjie pak.

      “Ek het gedink jy neem haar na die rivier,” sê sy. “Dis nog vroeg genoeg as julle by die watergat wil gaan sit, en as julle honger word, is ontbyt reg.”

      Hy soen haar op haar kroontjie. “Jy’s ’n liewe ding, Ma, maar skeep ons jou nie af nie?”

      “Ek het baie om te doen vanoggend en sy wil tog so graag die diere sien.”

      “O, het sy vir Ma gesê?”

      Sy kyk vinnig na hom en weer af na die mandjie. “Servette,” mymer sy en druk ’n hand vol in. “Is sy aangetrek?”

      “Amper. Sy het ’n onrustige nag gehad. Spinnekoppe. Ons moet nou ’n plan maak en ’n plafon laat insit.”

      “Ja, almal kla,” sê sy ingedagte.

      “Ek gaan solank die bakkie uittrek,” sê Theo. “Ons kan nie in haar kar op daardie pad rivier toe ry nie. Sy gaan ontsteld raak van die gestamp.”

      “Therese skrik tog nie vir ’n slegte pad nie?” vra sy ma.

      “Ek praat nie van Therese nie,” sê hy en loop uit.

      Hy het net die bakkie buite die kombuisstoep getrek toe hy Therese sien aankom oor die grasperk. Hy stap haar tegemoet en bly dronkgeslaan staan.

      Sy dra ’n regte bosuitrusting: ’n nousluitende kakiebroek, bruin stewels en ’n kakiekleurige trui, maar nie groot en los soos die kabeltrui nie. Dis nousluitend en gerib, dit pas om haar lyf soos ’n tweede vel. Hy is nie net uit die veld geslaan deur die moderniteit van die uitrusting nie, hy is geskok om te sien sy het ’n figuur nes enige ander meisie, net beter.

      “Jy gaan koud kry,” sê hy dadelik. “Jy sal iets bo-oor moet aantrek.”

      Sy is nog besig om die gespe van ’n baie elegante leergordel vas te maak en kyk afgetrokke op. “Dink jy so?”

      “Ja. In die kombuis is baie baadjies, jy kan sommer een daar vat.”

      Sy loop inskiklik saam, groet