Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 6
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798166119



Скачать книгу

dankie.”

      “Hou jy nie van restaurante nie?” vra hy ergerlik. “Of net nie van my nie?”

      “’n Bietjie van beide.”

      Hy is teen sy beterwete so seergemaak dat hy net vir haar sit en kyk. Sy leun effens vooroor asof sy dit besef en glimlag soos ’n onderwyseres wat ’n kind se lelike kleifiguur tog moet prys.

      “Jy wil tog nie jou tyd met my mors nie,” sê sy vriendelik. “Spaar jou kragte vir Jenny en die ander. Ek gaan nooit in die aande uit nie, veral nie in die winter nie.”

      “Hoekom nie?”

      “Dis te koud en dis veel, veel lekkerder om in die bed te klim met ’n boek. Ek het ’n elektriese kombersie,” sê sy asof geen verdere verduideliking nodig is nie.

      “Ek sien. En oor ’n naweek? Sê nou maar volgende naweek in die middel van die dag – Saterdag of Sondag. Of lê jy heel naweek ook in jou warm bed?”

      Sy vee afgetrokke oor die tafeldoek. “Ek wil liewer wildtuin toe gaan. Die winter is goed vir twee dinge: om in die bed te lê en om wildtuin toe te gaan. Die hele winter lank het ek ’n verlange na dié twee.”

      Hy drink ’n sluk wyn en herinner homself daaraan dat hy ’n rasionele mens is. “’n Ete in ’n restaurant is nie dieselfde as ’n kuier in die wildtuin nie.”

      “Nee,” stem sy saam. “Die wildtuin is beter. En volgende naweek is ’n langnaweek.”

      “Dis waar,” onthou hy. “Miskien moet ek huis toe . . .” Hy kyk haar skerper aan. “Ek woon in die Bosveld. Wel, nie meer nie, maar my ma is nog daar.”

      Haar oë agter die lense rek wyer, sy kyk hom opgetoë aan. “Is daar diere? Wilde diere?”

      “Ja. Nie leeus nie, maar min of meer al die ander.”

      “Wat maak jou ma met hulle?” vra sy ademloos.

      “Niks nie. Die een helfte van die plaas is ’n gewone plaas, die res is afgekamp. Dis waar die diere is, maar ons ry vrylik tussen die twee rond.”

      “Is jou ma die boer?”

      Hy lag weer. “Nee. Ná my pa se dood het sy verseg om dorp toe te trek en alleen kon sy nie alles behartig nie. Daar is nou ’n man wat dit doen.”

      Sy kyk in die verte asof sy die plaas klaar voor haar kan sien en daarvan hou. Dan gee sy ’n suggie en kom terug na die hede. “Weet sy wat jy doen?”

      “Natuurlik,” sê hy verbaas. “Liewe hemel, sy het vir my studies betaal en sy het al kom kuier en . . .”

      “Nie jou werk nie, jou meisies.”

      “Is ons terug daarby?” vra hy.

      “Wel, dis tog waar jy die meeste van die tyd is,” sê sy redelik.

      “Ja, sy weet,” sê hy kortaf.

      “Van die meeste,” sê sy. “Sy kan onmoontlik van almal weet – of bel jy haar elke week om haar op hoogte te hou?”

      “Ek bel haar elke week, ja, maar nié om haar van my meisies te vertel nie.”

      “Maar ek is seker sy kan raai,” meen sy wys. “Ma’s weet mos sulke goed.”

      Hy vryf weer met sy vingers oor sy neusbrug, want hy is seker sy hoofpyn kom terug. “Aangesien dit ’n langnaweek is,” sê hy stadig, met klem op elke woord, “sal ek miskien huis toe gaan. Ek was Kersfees laas daar. Wil jy saamgaan? Jy kan met die wilde diere speel terwyl ek met my ma gesels.”

      Sy vou haar skraal hande op die tafeldoek en sit hom lank en aankyk. “Dis dalk nie ’n slegte plan nie,” sê sy peinsend. “Ek het juis vanoggend die gevoel gekry dat sy gefrustreerd is.”

      Hy kyk haar verstom aan “Wie – Jenny? Sandra?”

      “Hoe sal ek weet of hulle gefrustreerd is?” vra sy. “Ek ken jou nie so goed dat ek kan oordeel hoe doeltreffend jy is met die bevrediging van . . .”

      “Hou op!” bulder hy. “Van wie het jy gepraat?”

      “My motor.”

      Hy lig albei sy hande en vryf stadig met sy vingertoppe oor sy slape. “En sy is gefrustreerd?” vra hy.

      “Ja.”

      “Mag ek vra hoekom?”

      “Sy wil nie net hier in die stad ry nie. Sy word die hele tyd ingehok deur ander motors.”

      Teen sy wil en sin is hy gefassineer. “En sy hou nie daarvan nie?”

      “Nee, siestog, sy is nog splinternuut. Sy het nog skaars leer ry en nou moet sy so stadig tussen ander motors rondploeter. Sy wil op die oop pad ry. Vinnig.”

      “Ek sien.” Hy sien niks nie, maar hy weet nie wat om anders te sê nie.

      “Dis waarom ek die appel vir jou gegee het,” verduidelik sy. “Nie soseer vir die gasvryheid nie, want daar wás nie veel daarvan nie, maar vir die feit dat jy my attent gemaak het op my posisie. Uitgelewer aan ander mense se buie en besluite. Noudat ek haar het, weet ek sy het net vir my gestaan en wag. As ek langer gewag het, het iemand anders haar gekoop en sou sy bitter ongelukkig gewees het.”

      “Sou sy?”

      “Ja,” antwoord sy beslis en skink vir haar nog wyn.

      Hy trek sy hande deur sy hare sodat dit wild orent staan, besef dan dat sy deurmekaar hare onplesierig vind en druk dit met sy hande plat. “Maar ek het gedink . . . as ons gaan, ry jy saam met my. Dis tog onsinnig om in twee motors te ry.”

      Sy bestudeer sy gesig en dis vir hom duidelik dat sy hom opweeg. “Jy mag haar bestuur,” sê sy dan.

      “Mag ek?”

      Sy knik. “Ek het eenkeer iets gelees van mans en motors. Mans en meisies. Daar is ’n ooreenkoms, maar ek weet nou nie presies wat dit is nie. Behandel julle julle motors soos julle meisies of andersom?”

      Hy antwoord nie omdat hy nie weet wat om te sê nie.

      “Het jy al soveel motors gehad soos jy meisies gehad het?” vra sy.

      “Nee. Die motor wat ek nou het, het ek al agt jaar lank. My droom was – ís – om een soos joune te kry.”

      “Nou toe,” sê sy asof alles meteens opgeklaar is. “Jy mag haar bestuur en so ’n idee kry van hoe sy ry. Miskien hou jy nie daarvan nie – en jy moet natuurlik in ag neem dat joune, al is dit dieselfde model, nie dieselfde sal wees as myne nie.”

      “Ek is seker,” sê hy. “Hoe dink jy sal hulle verskil?”

      “Ander persoonlikhede,” sê sy ferm. “Myne is baie inskiklik.”

      “Goed,” sê hy. “As jy so sê. Vrydag is die vakansiedag. Hoe laat kom jy van die werk af? Ons kan direk ná werk ry, dis nie só ver nie en dan het ons twee volle dae daar.”

      “Dis goed,” knik sy. “Ek sal my tas werk toe neem en sommer direk na jou huis ry. Dan mag jy oorneem.”

      “Dankie,” sê hy wrang. “En ek sal my ma bel. Sy gaan bly wees.”

      “Maak net baie duidelik dat ek nie een van jou meisies is nie,” sê sy saaklik. “Ek sal dit haat om as sodanig bekend te staan.”

      “Ek neem nie só dikwels meisies huis toe nie,” sê hy.

      “Nietemin. Sorg dat jou ma weet.” Sy begin die borde bymekaarmaak. “En as Jenny saamgaan, sit sy op die agterste sitplek. Ek gee nie my posisie prys nie.”

      Hy begin kwaad word. “Ek was nie van plan om haar saam te neem nie! Ek mag gewetenloos en beginselloos wees, maar ek het nog nooit met twee meisies weggegaan nie.”

      “Jy gaan ook nie saam met mý weg nie,” wys sy hom tereg. “Ek ry net saam omdat ek ’n behoefte het