Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit

Читать онлайн.
Название Tryna du Toit-omnibus 8
Автор произведения Tryna du Toit
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798159425



Скачать книгу

en ek moes alleen die spit afbyt. En Jacob word ouer en al hoe onmoontliker. Ek sien net nie kans om langer so aan te gaan nie. Ek is nog jonk. As ek wil weggaan, moet ek nou gaan. Dit help nie om te wag tot ek vaal en oud en lelik is nie. Jacob het my nie nodig nie. Hy sal my nie eens mis as ek weg is nie.”

      Ouma Visser se gesig is strak en wit, maar sy sê nie ’n woord nie. Verslae kyk Ansie na haar en dan weer na Mercia. Vyftien jaar van weelde en gerief! Die rokke wat Mercia dra, spesiaal vir haar ontwerp deur ’n bekende modehuis, die juwele wat blink teen haar bors, in haar ore, aan haar vingers; die skoonheid en weelde wat hulle omring, daar buite, in elke vertrek van die huis. Ja, dit was moeilike jare, daar was dikwels spanning en ongelukkigheid. Hoe dikwels het sy nie in die jare wat verby is, gewens Mercia sal van Jacob weggaan nie. Maar toegespin in die goue web van weelde en gerief en sosiale aansien, kon of wou sy nie wegbreek nie. Wat het nou gebeur? Waarom wil sy nóú gaan?

      “Is daar iemand anders, Mercia?” vra sy reguit.

      Sy sien dadelik dat sy reg geraai het.

      “Ja, daar is iemand anders,” sê Mercia koel. “Ek is van plan om met Frank Mentz te trou sodra ek ’n egskeiding gekry het.”

      “Frank Mentz! En sy vrou?”

      Mercia kyk haar verbaas aan.

      “Het jy nie gesien nie? Dit was in al die koerante. Frank se vrou is ’n paar weke gelede in ’n verpleeginrigting oorle­de.”

      Frank Mentz! Bekende argitek, jare lange huisvriend van die Lessings, skepper en argitek van Donkerpoort, ook van Jacob se praghuis in die stad, sy luukse strandhuis, sy fabriek, talle sa­kekomplekse en wolkekrabbers. Hy was ’n onbekende jong argitek toe oom Jacob hom ontdek het en hom ’n kans gegee het om te wys waartoe hy in staat is. Dit was die begin van ’n vrugbare en suksesvolle vennootskap. Vandag is Frank self ’n ryk man wat vir Mercia alles kan gee wat haar hart begeer, al die weelde waaraan sy gewoond geraak het.

      Frank Mentz se vrou was al die jare sieklik en neuroties, later heeltemal verslaaf aan verdowingsmiddels, en die afge­lope ses, sewe jaar was sy in ’n inrigting. Haar dood verklaar dan die nuwe ontwikkeling. Maar dink hulle werklik Jacob Lessing sal instem tot ’n egskeiding? So naïef kan hulle tog nie wees nie.

      Ansie sien hoe bleek ouma Visser is en skink vir haar ’n glas yswater in. Sy help haar om dit te drink, dan draai sy na Mercia.

      “Jy kan dit nie doen nie. Oom Jacob is oud en eensaam – om nou van hom te wil skei sal wreed wees.”

      “Ek sê jou, hy sal my nie eens mis nie. Jacob se geld, sy besittings, is al wat vir hom belangrik is. En hy kan altyd weer ’n ander vrou kry. Vir ’n man so ryk soos Jacob is dit geen pro­bleem nie.”

      Daar is ’n klank van bitterheid in haar stem wat Ansie nie dikwels by haar lughartige ma hoor nie. “Buitendien, ek is dit aan myself verskuldig. Ek kan nie sit en wag tot Jacob eendag doodgaan nie – sien hoe die beste jare van my lewe verspil word nie …”

      “Mercia,” sê ouma Visser geskok. “Jy mag nie so praat nie, my kind. Op sy manier was Jacob baie goed vir jou. Ansie is reg: Jacob is oud. Dit sal wreed wees om nou van hom weg te gaan om met ’n ander man te trou.”

      Daar is ’n koppige uitdrukking op Mercia se gesig wat Ansie goed ken.

      “Ek het klaar besluit. Ek gaan dié naweek nog met Jacob praat. Maar ek is nie van plan om hom nou te sê dat ek met Frank wil trou nie. Hulle het werk om te doen en dit sal net onnodige wrywing veroorsaak. Later, as ek die egskeiding gekry het, is dit tyd genoeg om vir hom te sê.”

      “Jy kan maar daarvan vergeet. Oom Jacob sal jou nie ’n egskeiding gee nie.”

      “Hy durf nie weier nie. Frank en ek het mekaar lief, en nou­dat sy vrou dood is, wil ons graag trou. Jacob is ’n ou man – julle sê dit self – en sy lewe is verby. Hy kan nie nou in ons pad staan nie.”

      Voor Ansie kan antwoord, word daar saggies aan die deur ge­klop. ’n Oomblik kyk hulle verskrik na mekaar, dan roep Mercia: “Kom binne!”

      Dis mevrou Perold. Hoe lank staan sy al daar buite die deur? wonder Ansie. Hoeveel van die gesprek het sy gehoor?

      “Verskoon my, mevrou, ek het ’n boodskap vir juffrou Anna. Piet sê die perd is opgesaal. Hulle wag vir jou by die stalle.”

      “Dankie, mevrou Perold. Ek gaan net aantrek, dan kom ek dadelik.”

      Ansie is verlig om weg te kom. Mercia se onverwagte bekentenis het haar vreemd ontstel, sy weet self nie waarom nie. Jare lank het sy gehoop Mercia gaan weg van oom Jacob af. Sy hardvogtigheid, die manier waarop hy hulle lewens oorheers het – hoe het sy Jacob Lessing nie gehaat nie!

      Met die jare het daar egter groter insig en begrip gekom, het sy besef dat die skuld nie net by oom Jacob lê nie. Ouma Visser was al diep in die dertig toe Mercia gebore is. Daar was geen ander kinders nie en omdat Mercia so mooi was, het almal haar bederf, was sy gewoond om haar sin in alles te kry, dat alles haar vergewe word. Jacob Lessing was anders. Vir hom kon sy nie om haar pinkie draai nie. Hulle rusies het dikwels gespruit uit haar onvolwassenheid, die dikwels onredelike eise wat sy aan hom gestel het.

      Jacob Lessing het geweet – soos almal geweet het – dat Mercia net met hom getrou het omdat hy ’n ryk man was, omdat hy haar alles kon gee wat haar hart begeer. Hy het dit geweet, ja, maar in die stilligheid het hy seker ook verwag om iets terug te kry – ’n bietjie waardering, ’n bietjie warmte en begrip. Mercia het alles geneem, maar van haar kant het sy weinig gegee. Dis nie haar skuld nie, het Ansie gedink. Haar hele lewe het sy net ontvang. Sy het nooit geleer om te gee nie. Maar dié wete is nie goed vir ’n man se gevoel van eiewaarde nie – selfs nie ’n man soos Jacob Lessing nie. Dis dan dat hy hom op ander maniere laat geld.

      Ansie trek gou haar ryklere aan en vlug buitentoe na die stalle waar Nelson Perold, oom Jacob se stalkneg en jokkie, reeds­ vir Cognac, haar gunstelingperd, opgesaal het. Die perd is ’n goud­bruin merrie, vinnig, lewendig en goed gehumeurd, sonder die streke en grille wat baie opreg geteelde resiesperde so dikwels open­­baar.

      “Hallo, juffrou Anna,” groet Nelson beleef en raak vlugtig aan sy pet. “Ek hoop jy geniet die rit.”

      “Ek geniet dit altyd om Cognac te ry.” Sy haal ’n paar suiker­klontjies uit haar sak en gee dit vir die perd, wat dit fyntjies by haar vat. Sy streel die sierlike nek, sag en blink soos satyn. “Sy is in ’n pragtige kondisie, Nelson. Julle kyk mooi na haar.”

      Hy knik trots.

      “Dis ’n plesier om na so ’n perd te kyk. Geen nukke of fiemies soos party van die ander nie.”

      Nelson is mevrou Perold se enigste kind. Hy is omtrent twee-en-twintig, maar met sy klein, skraal liggaamsbou lyk hy veel jonger. Hy is donker soos sy ma, sy houding is uitdagend, dikwels stuurs, maar teenoor Ansie is hy altyd vriendelik. Of dit te danke is aan die ruim fooitjie wat sy hom van tyd tot tyd gee, haar vriendelike belangstelling in sy sake, of hul gemeenskaplike belangstelling in die perde – en veral in Cog­nac – weet sy nie. Watter hoë verwagtinge het mevrou Perold vir die seun gekoester toe sy hom Nelson gedoop het? het Ansie dikwels gewonder. Van haar drome en planne het egter min gekom. Nelson was lui op skool en wou nie leer nie. Hy het onder verkeerde maats verval en nadat hy ’n paar jaar rond­geval het, het Jacob Lessing hom in diens geneem. Hy het uitgevind dat Nelson ’n slag met perde het en hom as leerlingjokkie laat inskryf. Nelson het besonder goed gevaar en reeds ’n paar belangrike resies gewen. ’n Paar maande gelede het sy perd egter met hom geval en Nelson het sy been gebreek. Sedertdien het hy nog nie weer aan enige belangrike byeenkomste deelgeneem nie.

      Nelson help Ansie om op te klim, en haastig, met ’n vrolike wuif, ry sy weg. Heerlik op ’n wilde galop, asof sy van haar eie gedagtes wil wegkom, jaag sy deur die veld, voel sy hoe die wind deur haar hare waai en die ergste kommer en onrus van haar wegval. Mercia is nie meer ’n kind nie, besluit sy. As oom Jacob bereid is om haar ’n egskeiding te gee sodat sy met Frank Mentz kan trou, is dit hulle saak. As hy weier, sal Mercia haar eenvoudig daarby moet berus.

      Die goue herfsmiddag