Boereverraaier. Albert Blake

Читать онлайн.
Название Boereverraaier
Автор произведения Albert Blake
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624051206



Скачать книгу

reeds onherstelbaar beskadig. Dit sal jammer wees as daardie tasbaarhede verdwyn en nie vir die breë nageslag bewaar bly nie. Dit is onlosmaak­lik deel van ons land se geskiedenis en behoort deel van almal se erfenis te wees.

      ’n Oorsig van die oorlog word nie gegee nie omdat talle werke daaroor al verskyn het. Die bespreking van die teregstellings is ook nie in ’n chronologiese volgorde nie.

      Om verwarring uit te skakel, word deurgaans na die oorspronklike plek­name verwys soos dit bekend gestaan het tydens die tydperk waarin die gebeure afgespeel het. Alle aanhalings word ongeredigeer in die oorspronklike vorm weergegee, wat ter wille van historiese konteks soms rasverwysings insluit wat vandag as onaanvaarbaar beskou word. Die algemene benaming van die oorlog as die Anglo-Boereoorlog word aanvaar. Die begrippe “Afrikaner” en “Boer” word in hierdie werk as sinonieme gebruik.

      Die gebeure word noodwendig beoordeel in die lig van die heersende norme van die tydperk waarbinne dit afgespeel het. Die uitgangspunt is dat die Transvaalse en Vrystaatse burgers wat, om watter rede ook al, hul rug op die republikeinse stryd gekeer het deur dit aktief teen te staan, hulle aan verraad skuldig gemaak het. Daar sal aangetoon word retrospektiewe argumente wat aanvoer die afvalliges se optrede was geregverdig, is onhistories en spekulatief. Dat daar in hierdie werk van tyd tot tyd na die afvalliges as verraaiers, joiners, troueloses ensovoorts verwys word, moet in dié lig beskou word. Daarmee word geensins te kenne gegee dat die werk met ’n voor­opgestelde partydigheid aangebied word nie. Die doel is om al die omstrede fasette van die gebeure sover moontlik en sonder enige voorbehoud tot op die been te ontbloot, maar terselfdertyd die vertolking ewewigtig te hou.

      1

      Geheueverlies

      Die teregstelling van Boereverraaiers in die oorlog is ’n tragedie sonder weerga in die Afrikaner se geskiedenis.

      So ontvang ’n jong Afrikanervrou van Wakkerstroom in Oos-Transvaal byvoorbeeld einde Julie 1901 die skrikwekkende tyding dat haar man en haar vier broers deur hul voormalige kommando-kamerade weens verraad gefusilleer is. Hulle is almal saam in een graf begrawe. Haar vyfde broer, wat die doodstraf vrygespring het, is met lyfstraf afgeransel en moes doelbewus wegkyk om nie te sien hoe sy broers tereggestel word nie.

      Vroeër dieselfde jaar tref ’n soortgelyke tragedie ’n ander jong Afrikaner­vrou van Hartbeesfontein in Wes-Transvaal toe haar man saam met haar pa en swaer as verraaiers voor ’n vuurpeloton sterf. Die jong burgers wat deel van die vuurpeloton was, was so senuweeagtig dat hulle een van die veroordeeldes gewond het, wat toe weer geskiet moes word. In Oktober dieselfde jaar moes ’n bittereinderpa sy twee verraaierseuns by Hoopstad in die Vrystaat gaan groet voordat hulle gefusilleer is – deur burgers van dieselfde kommando waaraan hy behoort het.

      Kort tevore is twee verraaiers suid van Heidelberg tereggestel. Van die vuurpelotonlede en die tereggesteldes was bloedverwant. Een van die tereg­gesteldes het as onderwyser vir byna die helfte van die lede van die vuurpeloton skoolgehou.

      En daar was nog verskeie ander soortgelyke tragedies. In die lig van die magdom publikasies wat die afgelope 11 dekades oor die oorlog verskyn het, is dit verstommend dat sulke ingrypende gebeure grootliks onbekende geskiedenis gebly het.

      Hoekom het dit skynbaar uit die Afrikaner se historiese geheue verdwyn, terwyl die meeste ander fasette van die oorlog redelik volledig opgeteken is?

      Daar is komplekse oorsake vir dié historiese geheueverlies. Op merkwaardige wyse het die Afrikaner die teregstellings reeds kort na die beëin­di­­ging van die oorlog in 1902 bewustelik en onbewustelik uit sy geheue begin werk, totdat die gebeure grootliks aan die vergetelheid prysgegee is. Die Afrikaner wou om verstaanbare redes na sy folterende ervaringe in die konsentrasiekampe en ander beproewinge nie aan nog onaangename traumas van die oorlog herinner word nie. Daarvoor het die oorlog genoeg smart meegebring en niks betreffende die fusillerings doen enige van die betrokke partye eer aan nie.

      Genoegsame getuienis is egter gevind dat die trauma van die gebeure permanente letsels by die naasbestaandes van die tereggesteldes én by die teregstellers gelaat het. Meer as vyf dekades na die teregstelling van ’n verraaier is daar nog tekens van trauma by ’n bejaarde oudstryder wat as ’n jong burger in 1901 lid van ’n vuurpeloton was. In ’n ander geval vertel die eens jong bevelvoerder van ’n vuurpeloton nog ses dekades na die voorval vir sy familielede die dag van die teregstelling was “die swaarste” van sy lewe. Verskeie naasbestaandes kon nie die dood van die tereggesteldes verwerk nie.1 Nie een van die betrokkenes het berading ontvang nie, soos dit trouens ook die geval met die konsentrasiekamp-inwoners en ander slag­offers van die oorlog was.

      Gebrekkige optekening van die gebeure rondom die teregstellings kan minstens deels daaraan toegeskryf word dat die gebeure vir die betrokkenes te pynlik was om gedurig in herinnering te roep. Dit was natuurlik veel makliker om heldedade op die slagveld en elders te gedenk.

      Afrikanergemeenskappe was ten tyde van die oorlog maar klein. Die verraad wat tot die doodstraf aanleiding gegee het, is meestal in die omgewing gepleeg waaruit die verraaiers gekom het. Dikwels was die tereggesteldes goeie vriende met of selfs familie van die burgers wat met hul teregstelling belas was. Soms was dit selfs ’n geval van die spreekwoordelike broer teen broer.

      Dit is opvallend in die enkele gevalle waar herinneringe oor die teregstellings wel gepubliseer word, daar nie sprake van bravade is nie. Ondanks ’n diepe weersin in verraad is daar gereeld ook medelye met die finale lot van die tereggesteldes.2

      Reeds gedurende die oorlog is daar tekens dat die gewone burger die teregstellings met omsigtigheid bejeën het. Een van die eerste vermeldings van ’n moontlike teregstelling van ’n verraaier kom in die oorlogdagboek van die Duitse vrywilliger Oskar Hintrager voor. Hintrager, wat aan Boere­kant geveg het, maak op 30 Julie 1900 dié inskrywing: “In die laer doen die gerug die rondte dat Erasmus wat weens hoogverraad veroordeel is, doodgeskiet is. Vir die Boere met hulle sagte, bedagsame aard bly dit in elk geval ’n geheim.”3

      Waarskynlik was dit nie in die aard van die gewone burgers om dié soort traumatiese gebeure op skrif te verwoord nie.

      Waar die teregstellings wel in enkele gepubliseerde werke aandag kry, is dit opvallend dat die name van die tereggesteldes dikwels doelbewus ver­swyg word. Wanneer ds. J.D. (Vader) Kestell in 1932 in sy biografie oor Abraham Kriel4 dié veldprediker aan die woord stel oor die laaste oomblikke van die verraaier Lambert Colyn, word die tereggestelde nooit by die naam genoem nie.5 Naas Raubenheimer, ’n latere parlementslid en senator wat as ’n jong Kaapse rebel met die teregstelling van vier verraaiers in Wes-Transvaal teenwoordig was, het in 1939 ’n aangrypende weergawe van die gebeure aan die historikus Scheepers Strydom gegee. Sy beskrywing word herhaaldelik gepubliseer ­– sonder die name van die tereggesteldes.6 In 1944 gee die oudstryder Jack van den Heever in sy oorlogsherinneringe, Op kommando onder kommandant Buys, een van die volledigste gepubliseerde ooggetuiebeskrywings van ’n fusillering van verraaiers, maar verswyg die name van die tereggesteldes.7

      Dit was gevolglik nie net weens die trauma dat die gebeure rondom die teregstellings nie volledig opgeteken of later ontleed is nie. Die verraad was ook ’n diepe verleentheid vir die meeste Afrikaners.

      Reeds kort na die oorlog was daar ’n doelbewuste poging om die name van die lewende joiners stil te hou. Kapt. J.J. Naudé,8 hoof van die republikeinse magte se spioenasiediens in Transvaal, het destyds aangevoer hy het ’n volledige lys name van die National Scouts (joiners in Transvaal). Die latere premier van Suid-Afrika en eertydse bevelvoerder van die Transvaalse magte, kmdt.genl. Louis Botha,9 het hom kort na die vredesluiting gevra om die lys vir hom te gee sodat hy dit vir genls. Christiaan de Wet10 en Koos de la Rey11 kon wys. Kort voor die drie generaals se vertrek na Europa in 1902 het Botha Naudé meegedeel hy het in oorleg met die ander twee besluit om die lys te vernietig, “want vir die nageslag van die National Scouts is dit beter dat die name nie bekend bly nie”.12

      In die dekades na die oorlog word die name van die tereggesteldes, en trouens alle verraaiers, in gepubliseerde werke deurlopend doelbewus weg­gelaat by die beskrywing van oorloggebeure. Die baasverkenner kapt. Henri Slegtkamp het in 1935 die volgende aan sy biograaf voorgeskryf: “Vertel hulle die naakte waarheid . . . maar moenie die name van die mense wat gewankel het, in