Mieke rock uit. Jana du Plessis

Читать онлайн.
Название Mieke rock uit
Автор произведения Jana du Plessis
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054580



Скачать книгу

Sy gooi haar kussing en ’n slaapsak in. “Besides, dan kan die band my bietjie mis en uitgehonger raak vir my geselskap tot by die volgende pit stop.”

      Sy draai na Ben en gee vir hom haar laaste sak. “Of hoe, Bennie?”

      Hy lag, vat die sak by haar. “Ek neem aan dis julle tent wat ek moet laai. Soos altyd.”

      “Jy’s darem maar slim, my favourite drummer boy.” En sy knyp sy boud.

      Ben glimlag onderlangs vir haar, draai na Mieke. “Is julle reg om te gaan?”

      Tent? Watse tent? wil sy vra. Sy het nog nie ’n woord oor enige tentblyery gehoor nie! Maar sy kry nie kans om Kayla iets toe te snou nie, want dié het haar klaar in die passasiersitplek tuisgemaak en die motorradio aangesit.

      Mieke mik vir die motor se deur. “Dis seker nou te laat om om te draai.” Sy probeer lag, maar die klank wat uit haar mond kom, klink soos ’n papegaai wat aan ’n saadjie verstik.

      “Sien julle in Joburg, Bitches!” roep Kayla en waai vir die res van die band, wat al gereed sit in die kombi.

      Toe Mieke agter die stuurwiel inklim, sien sy hoe Thalia iets vir Ben sê en haar kop beslis skud.

      “Het jy die stuff gepak, Kay?” vra Darling.

      Mieke skakel haar karretjie aan, draai die truspieëltjie sodat sy vir Darling kan sien. “Watter stuff?”

      Darling giggel en skud Kayla se skouer. “Het jy?”

      Kayla draai halflyf in haar sitplek om. “Natuurlik, Bitch, hoe ken jy my dan?”

      “Waarvan praat julle?” Maar Mieke weet sy moenie eens vra nie. Waarvan dínk sy praat hulle? Cupcakes?

      Kayla buig vorentoe en haal ’n banksakkie en ’n tydskrif uit haar oorgroot handsak.

      “Wat’s dit daai?” vra Mieke, maar sy weet presies wat dit is.

      Toe die Rizla-papier te voorskyn kom, weet Mieke dat sy nie droom nie. Flippen Kayla gaan nou wragtig ’n zol in haar motor rol.

      “Nie in my motor nie!” probeer Mieke raas.

      Tevergeefs. Kayla is aan die rol en sy draai die radio se volume harder. Al singende steek sy die zol aan.

      “Kan jy nie wag tot ons ten minste in Johannesburg is nie, Kayla? Moet jy nóú rook?”

      “Ek wil buzzy daar aankom,” sê sy dik van die rook wat tussendeur haar tande ontsnap. Sy gee die zol vir Darling aan. “Want dis hoe ons rol.”

      Mieke draai haar venster heeltemal oop. Die dagga se soet reuk maak haar naar. Kan sy nie maar net hier omdraai en vir Kayla en Darling langs die pad aflaai nie? Hoe het sy nou gedink – dat hulle heeldag gaan kaart speel en saans gaan tee drink wanneer die band klaar opgetree het?

      Darling tik haar giggelend op die skouer. “Die bestuurder moet ook rook.”

      Mieke skud haar kop, konsentreer op die verkeer. “Nie nou nie.”

      Kayla vat die zol oor. “Les Nommer Een van road trips, Miekels, is dat jy oor niks mag worry nie.”

      Mieke kyk vlugtig na haar sussie en dan na die snelweg voor haar. Sy sê eerder niks.

      Darling gee vir hulle koeldranke aan. “My mammie het darem gesorg vir non-alkoholiese drinkgoedjies en snacks.”

      Kayla maak ’n Fanta Orange oop en gee dit vir Mieke aan. Gaskoeldrank! Jig!

      “Nee, dankie. Nie vir my nie.”

      Sy sien hoe Kayla terugsit en na haar kyk. “You need to chill out, lady.”

      “Gmf,” antwoord sy. Want wat meer moet sy sê?

      Daar is net genoeg tyd om ’n halwe hartaanval te kry oor die feit dat die Pad Partytjie saam in die mini-woonkamer van Liam se vriend moet slaap, voor die hele gespuis Cool Runnings binneval. Mieke kry nie kans om vir Kayla te verwurg nie, want dié is hoog en hand op die blaas met Darling.

      Mieke gaan sit onseker langs Ben by die groot tafel.

      “Wat drink jy?” vra hy.

      “Savanna Light, asseblief.” Haar stem klink vir haar so vreemd soos die mense tussen wie sy sit. Sy wil huil. Sy sluk vinnig.

      Hy bestel drankies vir almal om die tafel en draai na haar. “Is jy oukei?”

      Moenie huil nie. Moenie huil nie.

      Sy knik. Sluk. “Hoe laat tree julle op?”

      Hy kyk op sy horlosie. En dan vir Thalia. “Agtuur. Ons drink net een drink voor ons set-up. En ons gig net, like, twintig minute of so. Daar’s iets soos vyf bands wat vanaand optree.”

      “O.”

      Mieke kyk vir hom. Sy oë is vriendelik. Sy wens sy kan daarin klim. Verkieslik om weg te kom van haar ongemak in hierdie plek waar sy nie hoort nie.

      “Was jy al ooit by ’n live gig?” vra hy.

      Sy proeslag. “Is dit só obvious?”

      Hy lag, maar nie sarkasties nie. “Jy lyk of jy enige oomblik kan weghardloop.”

      Die drank arriveer en almal klink vrolik glase.

      Mieke vat ’n groot sluk Savanna. Sy kyk vir Kayla, wat met Darling en Thalia gesels.

      Liam drink sy drankie met een teug klaar en staan op. “As ek klaar gepis het, set ons op. Cool?”

      Thalia knik. “En moenie dink ek gaan nie weet as jy nog ’n drink by die bar gekry het nie.”

      Liam lag. ’n Rockster-lag. Diep en rokerig. “You know me too well, babe.”

      “Sien julle ná die gig, dan party ons verder,” sê Ben vir Mieke en staan op.

      “Geniet dit,” groet sy.

      Toe Siek weg is, wys Kayla sy moet nader skuif. “Jy kan nie so sour puss alleen daar sit nie.”

      Mieke skuif tot sy oorkant Kayla en Darling sit.

      “Geniet jy jouself, Mieke?” vra Darling.

      Mieke kyk vir Kayla. “Nie regtig nie.”

      “Oh no!” roep Darling uit. “Dalk moet jy iets sterker drink?” Sy wys na Mieke se Savanna.

      Mieke skud haar kop. “Nee, dankie.”

      Kayla steek sigarette vir haar en Darling aan, bied vir Mieke ook aan.

      Mieke skud steeds haar kop.

      “Waar gaan ons almal vanaand slaap?” vra sy vir Kayla. Sy probeer haar gesigsuitdrukking neutraal hou. Al wil sy oor die houtbankie klim en Kayla aan die nek beetkry.

      Darling kyk van Mieke na Kayla. “Ek gaan gou … uhm … you know…” Sy staan vinnig op en verdwyn in die rigting van die bar.

      “Kayla.” Een woord.

      “Mieke.” Een woord.

      Hulle daag mekaar uit met hulle oë.

      “Ek weier om tussen ’n spul vreemdelinge te slaap. Hoekom het jy nie vir my gesê dit gaan so wees nie?”

      Kayla lig ’n wenkbrou. “Wat presies het jy gedink, ousus? B&B’s all the way en five-star luxury? Hierdie is nie ’n Blou Bul-rugbytoer nie.”

      Mieke se oë vernou. “Moenie met my praat asof ek stupid is nie. Jy’t gesê ons gaan op ’n road trip, maar nou is daar skielik ’n tent betrokke en ’n slapery op vreemde mans se banke?”

      Kayla rol haar oë hemelwaarts. “Goeie fok, Mieke, ek het nie gedink ek sal dit hoef uit te spel nie. This is it!” Sy lig haar hande dramaties. “Ons gaan waar die wind ons waai. Kan jy nie bietjie meer open-minded probeer wees nie?”

      Mieke vererg haar bloedig. Sy is so kwaad, sy kan iets breek. Soos