Wanneer passie blom. Madelie Human

Читать онлайн.
Название Wanneer passie blom
Автор произведения Madelie Human
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624067986



Скачать книгу

aan kant gemaak en die wasgoed gewas het. Dan Kiets Cat se sandbak skoonmaak voordat ek kan waag om aan die slaap te raak voor die TV.” Onvergenoeg gryp sy die sak blare en stingels en gaan sit dit in die groot drom waar die skoonmakers dit kan kry.

      Janie kan voel hoe haar vriendin se spekulerende blik haar volg en weet sy wil haar aanpraat oor iets. “Sarkasme is mos nie jou ding nie, Janie. Hoe het ek dit nou met jou?” Sy wys met ’n skraal vinger na Janie toe. “Jy, my maatjie, het ’n liefdeslewe nodig. Dis tyd dat jy jou droomman ontmoet.”

      Janie sug. Al weer die ou storie. Sy kyk skoon anderpad en swyg liewer. Droomman? Die beeld van ’n lang, donkerige man met helder blou oë flits deur haar brein, maar sy ignoreer dit doelbewus. Ryno Bruwer is nie haar idee van ’n droomman nie. Sy het hoeka weke lank al nag­merries oor die moontlikheid dat hy hulle gaan verplig om hul winkeltjie te skuif.

      “Gaan net saam met Neil iewers heen en geniet sy geselskap. Hy’s nie so onaardig nie, hy’s immers ’n gesiene prokureur hier in Krugersdorp. Hy ry ten minste met ’n ordentlike kar. Ek sal nie omgee om in daai sportmotor van hom vir ’n spin te gaan nie.”

      “Geleerdheid of ’n kar maak nie die man nie. Ek soek ’n ordentlike man, nie een wat bo blink en onder stink is nie.” Janie hou haar besig met die afvee van die werkoppervlakke.

      “Hoekom sê jy hy’s bo blink en onder stink?” Thea leun nader en bekyk haar met daai skerp oë wat niks mis nie.

      “Die hele dorp weet as jy iets onder die tafel deur gedoen wil hê, is Neil Botha die prokureur daarvoor. Dis einste hy wat my tannie gehelp het om oom Gert so onderdeur te spring met die skeisaak. Dit het hom finansieel uitgeroei en uiteindelik sy dood veroorsaak. Dis ook einste hy wat die nuwe eienaar gehelp het om die plaas vir ’n fraksie van die waarde te bekom. Hy is ’n geslepe jakkals. Dit is nie die soort man wat ek wil hê nie.”

      Agge nee, waar is die wag voor haar mond wanneer sy hom dringend nodig kry? Nou gaan Thea haar woorde teen haar hou. Jip, hier kom dit. Kyk net hoe blink haar oë skielik.

      “Aaa . . . jy erken darem jy wil ’n man hê. Dis nuus, baie interessante nuus. Ek dog dan jy sê altyd jy wil nie een hê nie?” Byna triomfantelik gryp Thea ’n besem en begin met energieke bewegings vee.

      “Ja, maar ek’s net moeg vir almal wat vir my ’n ander helfte soek. As daar te soeke is, sal ek dit liewer self doen.” Thea hoef nie te weet wat die eintlike rede is nie.

      “Hoog tyd dat jy een kry, sou ek sê. Wat van die nice ou wat in die woonstel daar langsaan jou ingetrek het? Hy lyk nie te sleg nie en hy het beslis ’n ogie op jou.” Thea is nou ooglopend ingenome met die gedagte. Miskien moet sy keer voor haar vriendin weer op loop gaan met ’n idee.

      “Thea Viviers, jy klink nou nes die aanbieder van die TV-program wat vir die boere vroue soek. Ek sal self besluit wanneer ek gereed is vir ’n verhouding.” ’n Paar saffierblou oë doem weer voor haar geestesoog op. Sy onderdruk die beeld summier. So nooit as te nimmer. Die rak vol blomhouers word afgestof asof haar lewe daarvan afhang.

      Janie gooi die verestoffer skielik neer en pluk haar handsak uit die diep laai van die lessenaar in die hoek. “Ek dink ek het vanoggend die nuwe eienaar van Bloemendal ontmoet. Miskien moet ons ons liewer oor hom bekommer as oor ’n man vir my,” verander sy die onderwerp.

      Thea kom verbaas nader. “En jy sê my nou eers? Hoe lyk hy? Seker ’n boepens-trol. Dink jy hy sal ons hier laat aanbly?”

      “Hy is jonk, aantreklik en so ongeskik soos tien.” Hy was nie werklik ongeskik nie, maar dit pas haar om so aan hom te dink. Die vyand kan eenvoudig nie aantreklik en nog gaaf ook wees nie. Sy haak die band van haar handsak oor haar skouer.

      “Ongeskik? Het jy hom weer die josie in gemaak? Dis hoekom jy nie ’n man in jou lewe het nie. Jy’s alewig op jou perdjie wanneer enigeen van die manlike spesie dit net naby jou waag.” Thea tel die stoffer wat Janie neergesit het op en gaan voort met afstof waar sy opgehou het.

      Janie bekyk haar dierbare vriendin. Soos altyd vul hulle mekaar aan sonder om eens twee maal daaroor te dink, maar oor hierdie een ding kan hulle maar nie saamstem nie. “Stadig nou. Dis nie ek wat die man omgekrap het nie, dit was jóú skuld,” onthou sy skielik.

      “My skuld? Hoe werk jy dit uit? Ek was nie eens daar naby nie.”

      “Daisy het vanoggend sonder brandstof by die plaas se hek gaan staan net toe hy agter my indraai met sy lorrie.”

      Toe Thea haar net onbegrypend aankyk, maak sy groot oë vir haar vennoot. “Daisy . . . onse kombi – die ene wat jy Saterdag met brandstof moes laat volmaak het – het sonder ’n druppel brandstof in die tenk soos ’n steeks donkie hier by die plaashek gevrek. Ek was verplig om meneer die nuwe plaaseienaar om hulp te vra.” Janie se wysvinger beskuldig haar vriendin van hoogverraad.

      Uiteindelik is Thea by. Sy het darem die ordentlikheid om bloedrooi van verleentheid te word en ’n hand oor haar mond te sit. “Oepsie. Ek was haastig. Jaco het gewag sodat ek saam met hom na een van sy rugbyvriende se verjaardagpartytjie toe kon gaan. Askies, hoor,” vra sy om verskoning, maar peper haar vriendin met vrae. “En toe? Hoe lyk hy? Jy sê hy’s aantreklik? Wat sê hy?” Haar skuldgevoel verdwyn soos gewoonlik gou toe nuuskierigheid ooglopend die oorhand kry.

      “Hy lyk soos ’n bleddie filmster, ’n arrogante een wat weet alle vroue swymel voor sy voete.”

      “Oe la laaaa . . . dink jy hy’s getroud?”

      “Ek weet nie, Thea. Genade, ek het drie woorde met die man gepraat. Ek het hom beslis nie na sy huwelik­status uitgevra nie. Hy was buitendien so meerderwaardig oor vroumense wat te dom is om te weet wanneer ’n voertuig volgemaak moet word en oor ons kombi wat, volgens hom, net ’n stuk blik is dat ek beslis nie praatjies met hom sou maak nie.”

      “Pleks jy als uitvind wat ons wil weet. Wat gaan ons maak as hy sou besluit hy wil nie ’n sukkelende blomwinkeltjie op sy plaas hê nie?”

      “Miskien bekommer ons ons verniet. Moontlik is ons ooreenkoms met oom Gert nog van krag. Hoekom het ons nie aangedring op ’n skriftelike kontrak nie? Dalk sou dit ons nou kon red. Ek weet nie hoe boedelsake werk nie. Kom ons wag maar en sien. Intussen wag my kat en my wasgoed. Ek moet ry. Dis jou beurt om toe te sluit.” Met ’n vingerwaai vir haar vriendin tel sy haar motor­tjie se sleutels op en maak die winkel se agterdeur oop.

      Dis ’n onverwags ysige wind wat met sy snerpende asem haar lang krulhare rondpluk en geniepsig in die gesig klap toe sy uitstap. Hierdie buitengewoon koel Hoë­veldse weer is goed om blomme vars te hou, maar vir haar gaan dit net ’n rooi neus en die snuffels besorg. Dít nogal aan die begin van Januarie wat veronderstel is om hoogsomer te wees.

      Met ’n suggie skakel sy haar motortjie aan en ry om die gebou in die rigting van die hoofpad. Langs die blom­skuur staan Ryno Bruwer se bakkie lewensgroot. Janie gluur vir die ding.

      2

      Beste meneer Kupido,

      Het jy ooit my vorige brief gekry? Blykbaar nie, want die enigste man wat ek sedertdien ontmoet het, is die allerlaaste man vir my. Ek praat nou van Ryno Bruwer van die blommeplaas. Ryno Bruwer! Die man wat my familie verneuk het, die een wat met ’n klap van sy vingers alles waarvoor ek en Thea die afgelope jare bitter hard gewerk het, ongedaan kan maak.

      Het jy hom dalkies op my pad gestuur net om my te toets of om met my die spot te dryf? Is dit jou idee van ’n grap? Wel, ek het nuus vir jou. Dit gaan nie werk nie, hoor. Ek gaan nie vir hom of sy soort val nie. Jy weet presies waarvan ek praat.

      Die man is ’n seksis wat dink vroue is hulpelose goed wat gered behoort te word. Hy kom daar met sy groot wit lorrie aan – mens sou sweer dis ’n wit perd en hy is die ridder wat die arme, hulpelose, vroulike wesentjie te hulp moet snel. Ja, ek weet ek kon die kombi nie self uit die pad gestoot en brandstof te voet kilometers ver gaan haal het nie, maar nietemin.

      Dan is hy nog meerderwaardig ook en lag vir my of ek ’n kind is. Nee wat, as dit die man is na wie jy die pyl met my naam op gemik