Onrus op Oshakati. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Onrus op Oshakati
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624070511



Скачать книгу

suiwer naasteliefde – of is dit liefde vir die chirurg? – haar diens gratis aan die hospitaal bied vir operasies, is sy ’n puik beesboer. Sy is maar die een wat eintlik die boer is, hoor Linda terloops. Garth is meestal weg op safari of om grootwild te jag. Wat sy nie van ’n bees af weet nie, is nie die moeite werd nie. Verder is sy ’n strawwe mededinger vir haar broer as dit by die skiet van grootwild kom. Daar is baie mans wat sy as skut die loef sal afsteek. Sy is ook bekwaam in die kombuis, kom dit voor, te oordeel na die tert wat sy saamgebring het om by die tee te geniet. Laura Jackson is, alles in ag genome, dus so na aan volmaak as wat Louw Hoffmann is, dink Linda wrang. Geen wonder dat dié twee so goed klaarkom en dat sy die enigste meisie is in wie Louw Hoffmann belangstel nie.

      Sy voel amper bly om Garth skielik in die kantoordeur te sien verskyn. Sy het al so klein begin krimp in die teenwoordigheid van die bekwame Laura dat sy seker is sy sal ná dese aan chroniese minderwaardigheid ly. Haar glimlag vir die grootwildjagter is onnodig breed verwelkomend en dit kan haar nie skeel dat Louw Hoffmann se oë ’n oomblik fronsend op haar rus nie.

      “Ek wil net gou ’n paar mediese joernale by Louw kry, Garth, dan kan ons maar ry. Ek stap sommer saam na jou woonstel, Louw,” laat Laura hoor en verdwyn dan saam met hom by die deur uit.

      Garth sak op die stoel neer en sy oë bestudeer Linda se sedige gesiggie.

      “Wat skort? Jy het openlik verlig gelyk om my te sien. Was jy en Hoffmann weer aan die stry?” vra hy reguit en ontvang ’n koppie tee van haar.

      Sy skud haar kop en gooi vir haar ook nog ’n koppie in.

      “Nee. Dis net . . . Jou suster is ’n baie bekwame mens, nè? Dit lyk my daar is omtrent niks wat sy nie kan doen nie, van ’n regterhand by ’n operasie wees tot leeus skiet.”

      Hy lag hartlik, sy oë vonkelend.

      “O! Ek begryp. Laura het jou ’n lesing gegee oor al haar talente! Sy is ’n baie bekwame mens, maar moenie dat dit jou ontstel nie. Jy het weer ander talente wat sy nie het nie.”

      Linda kyk op. Sy het ook nogal gedink dat sy nie heeltemal onbekwaam en talentloos is nie, maar sedert ’n paar minute gelede twyfel sy daaraan. In vergelyking met Laura Jackson is sy maar ’n bra onbeholpe en hulpelose soort mens.

      “Hoekom sal dit my ontstel? Wat die talente aangaan. . .” Sy glimlag half treurig. “Dit kom my voor of ek meer in die pad is hier as wat ek tot enige hulp sal wees. Tussen dokter Hoffmann en jou suster . . .”

      Hy kyk haar liggies fronsend aan.

      “Moenie verspot wees nie, Linda. En moenie dat Hoffmann en Laura se bekwaamhede jou versmoor nie. Hoffmann hou blykbaar van die soort vrou wat my suster is. Ek verkies weer ’n minder bekwame en volmaakte vrou. Ook maar goed smaak verskil. Ek hou nie van ’n vrou wat alles kan doen nie. Ek is byvoorbeeld nooit bekommerd oor Laura wanneer ek weg is op jag of safari nie. Ek weet sy kan haarself verdedig en na haarself omsien, beter as wat ek dit kan doen. Wel, Louw Hoffmann hou blykbaar van so ’n vrou. Ek nie. As ek eendag trou, wil ek iemand hê wat na my opsien en vir wie ek moet beskerm . . . iemand soos jy.”

      Sy roer ongemaklik. Die gesprek het te ernstig geraak na haar smaak en sy hou niks daarvan dat sy gesig meteens so ernstig geword het en hy haar so diep in die oë kyk nie. Die een ding waarby sy beslis nie weer betrokke wil raak nie, is ’n verhouding met ’n man. Sy het een maal haar kop gestamp en toegelaat dat sy deur ’n man se vleitaal en gladde praatjies om die bos gelei word. Nie meer nie. Sy het geen romantiese aspirasies vir die toekoms nie, en beslis nie op Oshakati nie. Sy het hierheen gekom om alles te vergeet en vir haar ’n nuwe toekoms te bou, en in daardie nuwe toekoms gaan geen man ’n plek kry nie.

      Hy staan op.

      “Stap saam met my. Ek wil met jou praat.” Sy volg gedwee, en toe hulle langs die Land Rover tot stilstand kom, vervolg hy: “Linda, ek is al weer verleë. Wil jy nie asseblief vir my ’n klompie eerstehulp- en verdowingsmiddels laat kry nie? Ek vertrek volgende week op ’n jagtog en ek het die goed nodig. Jy het self gesien hoe skielik kan ’n ongeluk gebeur.”

      Sy kyk hom stip aan. Iets trek styf binne-in haar en sy hoop maar hy kom nie agter dat hy haar met sy versoek ontstel het nie.

      “Jy sal dit vir dokter Hoffmann moet vra. Hy is die baas hier.”

      “Hy sal dit nie vir my gee nie. Jy sien mos self die man kan my nie verdra nie. Hy verduur my ter wille van Laura, maar dis al. Jy is tog ook ’n dokter hier. Jy kan tog seker van die goed bekom?”

      Linda frons hewig en kyk weg. Weer is dit of iets haar intuïtief waarsku teen hierdie man, hoewel sy dit nie kan begryp nie. Sy versoek is tog heeltemal normaal. Sy verduideliking hoekom hy die goed wil hê, is heeltemal aanneemlik. Dis heeltemal verstaanbaar en net verstandig as ’n mens op ’n jagtog gaan dat jy sorg dat daar eerstehulpmiddels en so aan onder die voorrade is.

      Maar sy hou nie van sy gunsvraery nie. Dis nou die tweede keer binne ’n kort tydjie. Gisteraand was dit die beseerde Ovambo. Vandag is dit weer verdowingsmiddels. En in albei gevalle moes sy in die geheim optree. Sy hou nie daarvan nie en sê dit ook.

      “Dis byna onmoontlik dat ek sulke voorrade uit die apteek kan verwyder sonder dat dokter Hoffmann daarvan uitvind, Garth. Veral van verdowingsmiddels word streng voorraad gehou en aantekeninge gemaak. Nee, ek is bevrees . . .”

      “Ag, jy sal darem seker die boeke so kan dokter dat hy niks agterkom nie? Asseblief, Linda. Hier is ’n lys wat ek nodig het.” Hy oorhandig vinnig ’n stukkie wit papier aan haar en sorg dat sy rug na die gebou gekeer is, sy oë pleitend. “Dink net hoeveel ek daardie Ovambo sou kon gehelp het. Ek sou sy pyn draaglik kon gemaak het as ek ’n bietjie voorraad by my gehad het. Dis net menslik om dit vir my te laat kry. Ek belowe jou ek aanvaar volle verantwoordelikheid as jy in die moeilikheid mag kom. Toe. Asseblief!”

      Sy aarsel nog. As dit enigiets anders was, maar verdowingsmiddels . . . Sy probeer nog wegskram.

      “Ek sal self vir dokter Hoffmann vra . . .”

      “Nee! Jy weet so goed soos ek dat hy dit nie vir jou sal gee nie. Hy het blykbaar net so min ooghare vir jou as vir my. Asseblief, Linda,” pleit hy opnuut en dringend toe die ander twee hul verskyning maak en in die rigting van die Land Rover aangestap kom.

      Linda kan nie verder weerstand bied nie en sê dan gedemp, en duidelik gespanne: “Nou goed. Ek sal kyk wat ek kan doen.”

      Sy glip die lysie in haar sak en Garth lê sy hand ’n oomblik dankbaar en liefkosend op haar bruin hare. Dan is die ander twee by en Laura laat vriendelik hoor: “Ek het vir Louw gesê julle moet môreaand by ons kom eet. Die hospitaal kan darem so ’n rukkie sonder julle klaarkom.”

      “Dankie, suster Jackson.”

      “Ag, noem my gerus Laura. Ons is te min hier op Oshakati om formeel met mekaar te wees. Nou goed. Ons sien julle môreaand – as daar nie onverwagse operasies voor daardie tyd opduik nie.”

      “Tot siens, Linda, Hoffmann. Sien julle môreaand, en dankie vir die tee, Linda.”

      Hulle vertrek in ’n stofwolk en Linda wil terugdraai hospitaal toe, maar dan ontmoet sy Louw Hoffmann se fronsende blik. Móét die man altyd frons wanneer hy na my kyk? dink sy selfbewus.

      “Dokter, ek het natuurlik niks met jou private lewe uit te waai nie, maar selfs op Oshakati is dit verstandig om mense maar eers ’n bietjie beter te leer ken en goed deur te kyk voordat jy besluit of jy van hulle hou of nie.”

      Sy vererg haar onmiddellik. Watter reg het hy om so iets vir haar te sê?

      “Dis net so ’n goeie lewensfilosofie om altyd te doen wat jy predik, dokter Hoffmann. Dit help nie om te preek en dan net die teenoorgestelde te doen nie. Dan dra dit geen krag nie.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Net wat ek sê. Jy het van die eerste oomblik af dat jy jou oë op my gelê het, besluit jy hou nie van my nie. Jy het my nog geen kans gegee om te bewys waartoe ek in staat is nie. Ek is nog nie eens ’n volle dag hier nie en jy het my klaar gevra wanneer ek